Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/08 bl. 16-19
  • Liefde kragtiger as ’n orkaan!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Liefde kragtiger as ’n orkaan!
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “’n Hoogtepunt in my lewe”
  • Hy het hoendervleis gekry
  • ‘Ons het gesien hoe God vir gebroke siele sorg’
  • “Trots om een van Jehovah se Getuies te wees”
  • ‘Hulle geloof het ons harte geraak’
  • Die noodlenigingsbediening
    God se Koninkryk regeer!
  • Liefde in aksie—’n Maraton-noodlenigingspoging
    Ontwaak!—2002
  • Slaan ag op waarskuwings—Dit maak ’n verskil
    Ontwaak!—2006
  • Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 8/08 bl. 16-19

Liefde kragtiger as ’n orkaan!

Toe die orkane Katrina en Rita die Golfkus van die Verenigde State in 2005 getref het, het dit ontsettende skade en groot lewensverlies veroorsaak. Onder die slagoffers was daar duisende Getuies van Jehovah.

Noodlenigingskomitees onder leiding van die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Verenigde State het aan die werk gespring. In Louisiana het hulle 13 noodlenigingsentrums, 9 pakhuise en 4 brandstofdepots opgerig. Die gebied waarin hulle noodlenigingswerk moes doen, was ongeveer 80 000 vierkante kilometer groot. Byna 17 000 Getuie-vrywilligers uit alle dele van die Verenigde State en van 13 ander lande het ingestroom om met noodleniging en herbouingswerk te help. Die resultate het getoon dat die kragte van die natuur nie naastenby so kragtig is soos Christelike liefde nie.—1 Korintiërs 13:1-8.

Die vrywilligers het herstelwerk gedoen aan meer as 5 600 huise van medegelowiges en 90 Koninkryksale, die vergaderplekke van Jehovah se Getuies. Dit verteenwoordig feitlik al die huise en Koninkryksale van die Getuies wat beskadig is. In ooreenstemming met Galasiërs 6:10, wat Christene aanspoor om “aan almal goed [te] doen”, het Jehovah se Getuies ook etlike ongelowiges gehelp.

DIEGENE wat aan die noodlenigingswerk deelgeneem het, moes persoonlike opofferings maak; nietemin het hulle baie belonings ontvang. Kyk na die kommentare van sewe Getuies wat toesig gehou het oor verskeie aspekte van die werk.

“’n Hoogtepunt in my lewe”

Robert: Dit was ’n hoogtepunt in my lewe om op ’n noodlenigingskomitee te dien. Op 67-jarige ouderdom is ek die oudste lid van die komitee. Ek het saam met ’n menigte vrywilligers gedien wat talle uitsonderlike jong, geestelikgesinde Getuies ingesluit het. Dit is so bemoedigend om te sien hoe die jongmense selfopofferende liefde vir Jehovah en vir mede-Christene toon!

My vrou, Veronica, was ’n wonderlike hulp. Sodat ons onsself beskikbaar kon stel, het sy my besluit ondersteun om ’n werk op te gee wat ek meer as 40 jaar lank geniet het om te doen. Ons maak nou een aand per week kantore skoon. Ons het geleer om met minder klaar te kom en geniet ’n eenvoudiger lewe. Die geestelike milieu waarin ons werk, het ons gehelp om ’n beter begrip te hê van wat dit beteken om God se Koninkryk eerste in ons lewe te stel (Matteus 6:33). Ons het herhaaldelik gesien dat Jehovah goed vir sy knegte sorg.

Frank: Ek dien as opsiener van die voedselafdeling by die Baton Rouge-noodlenigingsentrum. Aanvanklik moes ons elke dag van die week tussen 10 en 12 uur werk om die vrywilligers van kos te voorsien. Daar was egter baie seëninge, soos om die krag van Christelike liefde eerstehands te sien.

Baie vrywilligers wat ’n week of twee met die kos gehelp het, het gevra om terug te kom, en deur middel van poskaarte en telefoonoproepe het sommige hulle hartgrondige waardering uitgespreek vir die voorreg om te kon help. Ek en my vrou, Veronica, is waarlik deur hulle selfopofferende gees geraak.

Hy het hoendervleis gekry

Gregory: Ek en my vrou, Kathy, het ons huis in Las Vegas, Nevada, verkoop en ’n bakkie sowel as ’n woonwa gekoop, wat ons tuiste geword het. Omdat ons ons lewe vereenvoudig het, het dit ons in staat gestel om meer as twee jaar lank aan die noodlenigingswerk in Louisiana deel te neem. Ons leer nou self, meer as ooit tevore, die waarheid van die Bybel se woorde in Maleagi 3:10: “‘Stel my asseblief . . . op die proef’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘[en kyk] of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie.’”

Dit laat ons dikwels glimlag wanneer mense sê: “Julle is darem maar baie selfopofferend!” Dertig jaar gelede wou ek en Kathy by die Verenigde State se takkantoor van Jehovah se Getuies dien, maar ons het kinders gehad om groot te maak. Noodlenigingswerk het ons begeerte bevredig om meer in God se diens te doen. Nog ’n voorreg was om saam met mede-Getuies te werk, van wie party baie talentvol is. Een van ons kokke was byvoorbeeld ’n sjef in ’n puik restaurant, en ’n ander een het vir twee Amerikaanse presidente gekook.

Vir baie vrywilligers was noodlenigingswerk ’n ondervinding wat hulle lewe verander het. Een 57-jarige het hoendervleis gekry toe hy sy werk met orkaanslagoffers beskryf het. Selfs party Getuies wat nie kon kom nie, was ’n bron van bemoediging. Byvoorbeeld, twee vrywilligers wat geboue behandel het om muf te verwyder, het aan ons ’n banier oorhandig wat gemaak en geteken is deur almal—ook die kinders—in drie gemeentes in hulle tuisstaat Nebraska.

‘Ons het gesien hoe God vir gebroke siele sorg’

Wendell: Die dag nadat Louisiana en Mississippi deur Katrina getref is, is ek deur die takkantoor in die Verenigde State gevra om die skade aan Koninkryksale en huise van Jehovah se Getuies in hierdie gebied vas te stel. Dit was die begin van ’n toewysing, maar ook ’n verrykende ervaring. Omdat ons 32 jaar lank in ’n gebied gewoon het waar Koninkryksverkondigers dringend nodig was, het ek en my vrou, Janine, gesien hoe Jehovah vir sy knegte sorg. Maar nou het ons God se sorg op ’n baie groter skaal gesien.

Ek het die voorreg om as voorsitter op die Baton Rouge-noodlenigingskomitee te dien. Hoewel dit ’n uitdaging is, put ek groot bevrediging uit hierdie toewysing. Trouens, ons komitee het gedurende hierdie noodlenigingspoging honderde kere gesien hoe God probleme oplos, deure open en vir gebroke siele sorg op maniere wat slegs ’n liefdevolle, almagtige Vader dit kon doen.

Baie het al gevra: “Hoe is dit vir jou en jou vrou moontlik om ná meer as twee jaar nog steeds noodlenigingswerk te doen?” Dit was nie altyd maklik nie. Ons moes heelwat aanpassings in ons lewe maak. Maar aan die positiewe kant het ons die voordele gesien wat dit inhou as ’n mens jou ‘oog eenvoudig’ hou.—Matteus 6:22.

Met ons eerste soek-en-red-operasies in New Orleans het ons maar min rus gekry. Ons taak is moeiliker gemaak, aangesien die stad feitlik onder krygswet was vanweë die chaos wat geheers het en die geweld wat oral op straat gepleeg is. Dit was maklik om oorweldig te voel deur die ontsaglike taak waarvoor ons te staan gekom het.

Ons het met duisende Getuies vergader wat skade gely het. Ons het saam met hulle gebid en hulle probeer vertroos. Dan, met Jehovah se hulp, het ons aan die werk gespring. Soms voel dit of ek twee leeftye in die twee jaar wat ek hier is, geleef het.

Telkens, wanneer ek gedink het dat ek liggaamlik en emosioneel te uitgeput is om voort te gaan, het ’n nuwe groep vrywilligers opgedaag—party om ’n paar maande te help, ander langer. Om soveel vreugdevolle en gewillige helpers te sien, waaronder talle jongmense, was ’n aanmoedigende ondervinding.

Jehovah het ons dikwels gehelp. Aan die begin het ons byvoorbeeld uitgevind dat daar bome op meer as 1 000 huise van ons broers geval het. Omdat ons geen toerusting of personeel gehad het om die gevaarlike werk te doen om die bome te verwyder nie, het ons komitee oor die saak gebid. Die volgende dag het ’n broer met ’n vragmotor en die presiese toerusting wat ons nodig gehad het, sy dienste aangebied. By ’n ander geleentheid is ons gebed binne 15 minute verhoor, en ’n ander keer was die toerusting waarvoor ons gebid het, op pad nog voordat ons amen gesê het! Ja, Jehovah is voorwaar die “Hoorder van die gebed”.—Psalm 65:2.

“Trots om een van Jehovah se Getuies te wees”

Matthew: Die dag nadat Katrina die gebied getref het, het ek gehelp om te reël dat 15 ton voedsel, water en ander benodigdhede in die verwoeste gebied afgelewer word. Jehovah se volk het beslis bewys dat hulle vrygewig is!

Sodat ons meer kon vermag, het ek en my vrou, Darline, na ’n gebied verhuis wat minder as twee uur se ry van die rampgebied af was. ’n Plaaslike Getuie het vir ons deeltydse sekulêre werk gegee sodat ons die meeste van ons tyd kon gebruik om met die noodlenigingspoging te help. ’n Ander Getuie het vir ons ’n woonstel aangebied. Om deel van so ’n liefdevolle broederskap te wees, vul my hart met waardering en maak my trots om een van Jehovah se Getuies te wees.

Ted: Kort ná die orkaan Katrina het ek en my vrou, Debbie, aangebied om met die noodlenigingspoging te help. Binne ’n paar dae het ek ’n tweedehandse, nege meter lange woonwa gevind wat lig genoeg was om met ons bakkie te sleep en wat ook die helfte van sy boekwaarde gekos het—heeltemal binne ons begroting en ’n antwoord op ons gebede. Hierdie woonwa is al langer as twee jaar ons tuiste.

Gedurende ’n stil tyd by die werk het ons ons huis en die meeste van ons besittings verkoop, wat dit vir ons moontlik gemaak het om verdere werk in New Orleans te doen, waar ek as ’n projekkoördineerder dien. ’n Hoogtepunt van ons ondervinding was om te sien hoe Jehovah “die God van alle vertroosting” vir sy aanbidders was. Baie het nie net hulle huise en Koninkryksale verloor nie, maar ook, as gevolg van die ontruiming, hulle gemeentes en selfs die hele gebied waarin hulle die goeie nuus verkondig het.—2 Korintiërs 1:3.

‘Hulle geloof het ons harte geraak’

Justin: In Oktober 2005 is daar ’n beroep op vrywilligers gedoen om aan die Golfkus met noodleniging te help. Ek en my vrou, Tiffany, het dadelik ons aansoekvorms ingegee, en in Februarie 2006 is ons genooi om by die dakspan aan te sluit wat vanaf die Kenner-noodlenigingsentrum naby New Orleans gewerk het.

Ons het elke dag aan ’n huis gewerk en die plaaslike Getuies ontmoet, wie se geloof en vertroue in God ons harte geraak het. Ons is ook daagliks daaraan herinner hoe dwaas dit is om op materiële dinge te vertrou. Die vreugde wat ons daaruit geput het om te sien wat Jehovah sy knegte in staat stel om te vermag en om mede-Christene te kan help, is onbeskryflik.

[Venster/Prent op bladsy 18]

’n Dag by ’n noodlenigingsentrum

Die kombuisspan se werksdag by ’n noodlenigingsentrum begin om ongeveer 04:30. Om 07:00 kom die hele gesin werkers in die eetlokaal bymekaar om voor ontbyt ’n tien minute lange bespreking van ’n Bybelteks te geniet. Die voorsitter kan dan ook die geleentheid gebruik om nuwe aankomelinge te verwelkom en ’n onlangse bemoedigende ondervinding te vertel.

Ná ’n dankgebed geniet almal ’n stewige ontbyt, en dan gaan hulle werk toe. Party bly by die sentrum agter, moontlik om in die kantore, wassery of kombuis te werk. Die kokke berei wegneemetes voor wat vir middagete kom haal word deur ’n verteenwoordiger van elke span wat in die gebied werk.

Elke Maandagaand kom die “gesin” bymekaar vir ’n Bybelstudie wat gebaseer is op ’n artikel in Die Wagtoring, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Hierdie studies help almal om geestelik sterk te bly—wat die geheim is om met vreugde te volhard en jou werk in die regte lig te sien.—Matteus 4:4; 5:3.

[Venster op bladsy 19]

‘Ek het my misgis met julle mense’

’n Vrou in New Orleans het ’n bordjie op haar deur gehad wat gesê het: “Jehovah se Getuies—nie welkom nie.” Toe, op ’n dag, het ’n span vrywilligers ’n huis oorkant die straat begin herstel wat deur die orkaan beskadig is. Dag ná dag het sy die hartlike, vriendelike gees van die werkers gesien. Haar nuuskierigheid het gou die oorhand gekry, en sy het oorgestap om te kyk wat aangaan. Toe sy uitvind dat die vrywilligers Jehovah se Getuies is, het sy gesê dat niemand van haar kerk haar sedert die orkaan eers gebel het nie. “Dis duidelik dat ek my misgis het met julle mense”, het sy gesê. Die gevolg? Sy het die bordjie afgehaal en die Getuies genooi om haar te besoek.

[Prent op bladsy 16, 17]

Robert en Veronica

[Prent op bladsy 16, 17]

Frank en Veronica

[Prent op bladsy 17]

Gregory en Kathy

[Prent op bladsy 17]

Wendell en Janine

[Prent op bladsy 18]

Matthew en Darline

[Prent op bladsy 18]

Ted en Debbie

[Prent op bladsy 18]

Justin en Tiffany

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel