Merkwaardige ontdekking in die oog
WETENSKAPLIKES weet al lank dat soogdiere se oë ligsensitiewe neurone bevat wat die liggaam se interne, of sirkadiese, horlosie reguleer. Daar is lank aangeneem dat hierdie liggewaarwordingsfunksie verrig is deur bekende selle in die oog wat stafies en keëltjies genoem word. Maar in 1999, berig die tydskrif Science, het navorsers gevind dat “gemuteerde muise wat glad nie stafies en keëltjies het nie [en dus funksioneel blind is], nog steeds liggevoelige horlosies het”. Dit het navorsers tot die gevolgtrekking laat kom dat “daar ander selle in die oog moet wees wat op lig reageer”.
Die lang soektog na hierdie ligsensors het nou tot ’n einde gekom. Hoewel die sensors tussen die beeldvormende stafies en keëltjies voorkom, vorm dit “’n aparte optiese baan, wat parallel loop met hierdie beeldvormende optiese stelsel”, verduidelik Science. Die pas ontdekte baan is onder meer verantwoordelik vir die regulering van die pupilgrootte en melatonienvrystelling, asook die sinchronisasie van die liggaam se interne horlosie met die siklus van lig en donker. Dit kan selfs ’n rol speel in gemoedsveranderinge.
Interessant genoeg, die ligsensors reageer nie op kort ligflitse nie, aangesien dit die liggaam se horlosie sou verwar, maar reageer net op langer veranderinge in ligvlakke. Een wetenskaplike het die ontdekking as “merkwaardig” beskryf en bygevoeg dat “dit die grootste deurbraak tot nog toe is in die vraag oor wat die fotoreseptors in soogdiere is”.
Dit is duidelik dat hoe meer ons van die lewende wêreld leer, hoe meer sien ons bewyse van ontwerp wat moontlik nie onmiddellik opvallend is nie, maar tog van groot vindingrykheid getuig. Sulke ontdekkings beweeg baie mense om die Bybel se woorde van lof aan die Skepper te beaam: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet.”—Psalm 139:14.