Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 3/8 bl. 3-4
  • Hoeveel sintuie het ons werklik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoeveel sintuie het ons werklik?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Net vyf sintuie?
  • Die interne sintuie
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
  • Waardeer jou spesiale gawes
    Ontwaak!—2011
  • Jou smaaksin
    Ontwaak!—2008
  • Merkwaardige ontdekking in die oog
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 3/8 bl. 3-4

Hoeveel sintuie het ons werklik?

“Ons interaksie met ons omgewing is so doeltreffend en moeiteloos dat dit moeilik is om ons die ingewikkelde prosesse voor te stel wat verantwoordelik is vir selfs die eenvoudigste sintuiglike gewaarwording.”—SENSORY EXOTICA—A WORLD BEYOND HUMAN EXPERIENCE.

STEL jou voor dat jy op ’n stil plaaspad fietsry. Terwyl jy ry, stel reseptors in jou bene jou in staat om net hard genoeg te trap om jou spoed te behou. Jou ewewigsorgane hou jou regop; met jou neus ruik jy die geure in die lug; jou oë neem die natuurskoon waar; met jou ore hoor jy die getjirp van die voëls. Wanneer jy dors word, haal jy jou waterbottel uit met behulp van tasreseptors in jou vingers. Jou smaakknoppies en warm-en-koud-reseptors sê vir jou hoe die water smaak en hoe koud dit is. Reseptors in jou vel en dié aan jou liggaamshare sê vir jou hoe sterk die briesie is en, in samewerking met jou oë, hoe vinnig jy ry. Met jou vel voel jy die omringende temperatuur en humiditeit, terwyl jou bewustheid van tyd vir jou sê hoe lank jy al min of meer fietsry. Uiteindelik sal jy interne prikkels voel, wat jou laat rus en eet. Ja, die lewe is inderdaad ’n kleurvolle simfonie van sintuiglike gewaarwordings!

Net vyf sintuie?

Hoeveel sintuie gebruik jy wanneer jy so op jou fiets gaan ry—net die tradisionele vyf: gesig, gehoor, reuk, smaak en gevoel? Volgens die Encyclopædia Britannica is hierdie vyf sintuie geïdentifiseer deur die eertydse filosoof Aristoteles, wie se “invloed so sterk was dat baie mense nog steeds van die vyf sintuie praat asof dit die enigstes is”.

Maar volgens die Britannica lewer studies op die gebied van velsensitiwiteit alreeds bewys “dat mense meer as vyf sintuie het”. Hoe is dit moontlik? Sekere funksies wat vroeër as deel van die tassin geklassifiseer is, word nou as sintuie in eie reg beskou. Byvoorbeeld, pynreseptors reageer op en onderskei tussen meganiese, termiese en chemiese prikkels. Ander reseptors is verantwoordelik vir die jeuksensasie. Die bewyse dui daarop dat ons ten minste twee soorte drukreseptors het—een vir ligte aanraking en ’n ander vir diep stimulasie. Ons liggaam het ook ’n groot verskeidenheid interne sintuie. Wat is hulle rol?

Die interne sintuie

Interne sintuie neem veranderinge waar wat binne-in ons liggaam plaasvind. Dit sê vir ons wanneer ons honger, dors en moeg is, interne pyn het, moet asemhaal of toilet toe moet gaan. Interne reseptors werk saam met ons biologiese klok en laat ons moeg voel aan die einde van die dag en vlugvoos as ons oor tydsones gevlieg het. Trouens, aangesien ons kan “voel” hoe tyd verbygaan, is daar voorgestel dat bewustheid van tyd by die lys van sintuie gevoeg moet word.

Ons het ook ’n vestibulêre, of ewewigsintuig, wat in ons binneoor geleë is. Dit reageer op swaartekrag, versnelling en rotasie. En ten slotte het ons ’n kinestetiese sintuig, waarmee ons spierspanning kan waarneem en, selfs met toe oë, bewus is van die beweging en posisie van ons liggaamsdele.

Sintuiglike waarneming is natuurlik nie uniek aan mense nie. Diere het ook ’n groot verskeidenheid sintuie, wat party insluit wat waarlik ongelooflik is en wat ons nie eers het nie. In die volgende artikel sal ons sommige hiervan ondersoek. Ons sal ook nadere ondersoek instel na onsself en die unieke eienskappe wat die mens ’n spesiale plek onder die lewende dinge op die aarde gee.

[Venster/Prente op bladsy 4]

Die wonder van die mens se tassin

Die mensehand het ’n hoogs ontwikkelde tassin. Volgens die tydskrif Smithsonian het navorsers gevind dat ons hand ’n punt kan voel wat net drie mikron hoog is. (’n Mensehaar het ’n deursnee van 50 tot 100 mikron.) Maar “die navorsers het ’n tekstuur in plaas van ’n punt gebruik en gevind dat die hand grofheid kan voel wat net 75 nanometer hoog is”—’n nanometer is ’n duisendste van ’n mikron! Ongeveer 2 000 tasreseptors in elke vingerpunt is vir hierdie gevoeligheid verantwoordelik.

Ons tassin speel ook ’n sleutelrol in ons gesondheid en welsyn. “Wanneer jy deur iemand gestreel word, word hormone vrygestel wat pyn kan verlig en jou kan help om helder te dink”, sê U.S.News & World Report. Party meen dat ’n kind se ontwikkeling belemmer sal word as hy die liefdevolle aanraking van ander ontsê word.

[Foto-erkennings op bladsy 3]

Oog: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck; oor en binneoor: © 1997 Visual Language; hand: The Anatomy of Humane Bodies, with figures drawn after the life by some of the best masters in Europe . . . Oxford, 1698, William Cowper

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel