Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 12/8 bl. 16-17
  • Wat jy van Kersfees moet weet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat jy van Kersfees moet weet
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verbod op Kersfees
  • Die oorsprong van Kersfees
  • “Leë bedrog”
  • Moet jy Kersfees vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Wat het geword van die tradisionele Kersfees?
    Ontwaak!—1993
  • Waarom Christene nie Kersfees behoort te vier nie
    Ontwaak!—1991
  • Kersfees—Waarom so gewild in Japan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 12/8 bl. 16-17

Die Bybel se beskouing

Wat jy van Kersfees moet weet

WÊRELDWYD maak miljoene mense hulle gereed om die Kerstyd van 2002 te geniet. Miskien is jy een van hulle. Aan die ander kant is dit dalk nie jou gewoonte om aan die godsdiensaspekte van hierdie gewilde viering deel te neem nie. Hoe dit ook al sy, jy sal waarskynlik nie die invloed van Kersfees kan vermy nie. Die handels- en vermaaklikheidswêreld is deurtrek daarvan, selfs in nie-Christelike lande.

Wat weet jy van Kersfees? Steun die Bybel die viering van Christus se geboorte? Wat is die agtergrond van hierdie gewilde viering wat elke jaar op die 25ste Desember gehou word?

’n Verbod op Kersfees

As jy ’n paar minute neem om navorsing oor hierdie onderwerp te doen, sal jy vind dat Kersfees glad nie sy oorsprong in die ware Christelike godsdiens het nie. Baie Bybelgeleerdes van verskillende kerke erken dit. In die lig hiervan moet dit jou nie verbaas dat Cromwell se Parlement in Engeland in 1647 verorden het dat Kersfees ’n dag van boetedoening moet wees en dit toe in 1652 heeltemal verbied het nie. Die Parlement het van 1644 tot 1656 elke jaar doelbewus op 25 Desember vergader. Volgens die geskiedskrywer Penne L. Restad “het geestelikes wat oor die geboorte van Christus gepreek het, die gevaar geloop om opgesluit te word. Kosters is beboet as hulle hulle kerke versier het. Winkels moes volgens wet op Kersfees oopbly asof dit ’n gewone werksdag is.” Waarom is sulke streng maatreëls ingestel? Puriteinse hervormers het geglo dat die kerk nie tradisies moet inbring wat nie in die Skrif bestaan nie. Hulle het Kersvierings in hulle preke veroordeel en ook lektuur versprei wat dit gedoen het.

Soortgelyke gesindhede het in Noord-Amerika bestaan. Tussen die jare 1659 en 1681 is Kersfees in die kolonie Massachusetts Bay verbied.a Volgens die wet wat destyds uitgevaardig is, moes Kersfees op geen manier gevier word nie. Oortreders is beboet. Nie net Puriteine in Nieu-Engeland was onwillig om Kersfees te vier nie, maar ook party groepe in die middelste kolonies. Kwakers van Pennsilvanië was net so onversetlik soos die Puriteine in hulle beskouing van die viering. ’n Bron sê dat “Elizabeth Drinker, wat self ’n Kwaker was, inwoners van Philadelphia in drie klasse verdeel het kort nadat die Amerikaners hulle onafhanklikheid verkry het. Daar was Kwakers wat ‘dit [Kersfees] soos enige ander dag beskou het’, dié wat godsdienstig was en die res wat ‘dit in swelgery en buitensporigheid deurgebring het’.”

Henry Ward Beecher, ’n welbekende Amerikaanse prediker wat in ’n streng Calvinistiese huis grootgeword het, het min van Kersfees geweet totdat hy 30 jaar oud was. “Vir my was Kersfees ’n onbekende dag”, het Beecher in 1874 geskryf.

Die vroeë Baptiste- en Kongregasionalistiese kerke het ook geen skriftuurlike grond gevind om Christus se geboorte te vier nie. Volgens een bron het die Baptistekerk van Newport [Rhode-eiland] Kersfees vir die eerste keer op 25 Desember 1772 gevier. Dit was ongeveer 130 jaar nadat die eerste Baptistekerk in Nieu-Engeland gestig is.

Die oorsprong van Kersfees

Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die datum van Christus se geboorte is nie bekend nie. Die evangelies verstrek nie die dag of die maand nie . . . Volgens die hipotese wat deur H. Usener aan die hand gedoen is . . . en vandag deur die meeste geleerdes aanvaar word, is die datum van die wintersonstilstand (25 Desember in die Juliaanse kalender, 6 Januarie in die Egiptiese) vir die geboorte van Christus bepaal omdat die heidense aanbidders van Mitra die dies natalis Solis Invicti (geboortedag van die onoorwinlike son) op hierdie dag gevier het wanneer die son na die noordelike hemele begin terugkeer het. Op 25 Des. 274 het Aurelianus die songod tot die vernaamste beskermheer van die ryk uitgeroep en ’n tempel in die Campus Martius aan hom toegewy. Kersfees het ontstaan op ’n tyd toe die sonkultus in Rome besonder sterk was.”

M’Clintock en Strong se Cyclopædia sê: “Die viering van Kersfees is nie ’n goddelike instelling nie en dit het ook nie sy oorsprong in die N[uwe] T[estament] nie. Die geboortedag van Christus kan nie uit die N[uwe] T[estament] of uit enige ander bron vasgestel word nie.”

“Leë bedrog”

Moet ware Christene in die lig van die bogenoemde aan Kerstradisies deelneem? Behaag dit God as sy aanbidding vermeng word met die godsdiensopvattings en -gebruike van mense wat hom nie aanbid nie? Die apostel Paulus het in Kolossense 2:8 gewaarsku: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”

Die apostel het ook geskryf: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis? En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial [Satan]? Of watter aandeel het ’n getroue met ’n ongelowige?”—2 Korintiërs 6:14, 15.

In die lig van die onweerlegbare bewyse wat beskikbaar is, neem Jehovah se Getuies nie aan Kersvierings deel nie. In ooreenstemming met die Skrif probeer hulle “die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God . . . rein en onbesmet is”, beoefen deur hulle “sonder vlek van die wêreld te bewaar”.—Jakobus 1:27.

[Voetnoot]

a Die kolonie Massachusetts Bay is in 1628 deur Engelse Puriteine gestig en was die grootste en suksesvolste vroeë nedersetting in Nieu-Engeland.

[Lokteks op bladsy 16]

Engeland se Parlement het Kersfees in 1652 verbied

[Lokteks op bladsy 17]

“Vir my was Kersfees ’n onbe-kende dag”—HENRY WARD BEECHER, AMERIKAANSE GEESTELIKE

[Prent op bladsy 17]

Heidense aanbidders van Mitras en die songod (in vlakreliëf getoon) het 25 Desember gevier

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel