Die doedelsak se lang geskiedenis
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
DIE doedelsak van die Skotse Hooglande soos ons dit vandag ken—wat in Brittanje, Kanada, die Verenigde State en ander Engelssprekende lande bespeel word—is skaars 300 jaar oud. Maar ons kan die oorsprong van die instrument duisende jare terugvoer na die antieke stad Ur, die tuiste van Abraham, en ook na eertydse Egipte. In albei plekke is eenvoudige rietpype gevind wat volgens geleerdes die voorlopers van die moderne doedelsak is. Ons weet egter nie wanneer en deur wie die lugsak bygevoeg is nie.
In die Bybelboek Daniël, wat meer as 500 jaar voor die geboorte van Jesus Christus geskryf is, word ses Babiloniese musiekinstrumente spesifiek gemeld (Daniël 3:5, 10, 15). Hierdie lys bevat die Aramese woord soem·pon·jahʹ, wat in baie Bybelvertalings met “doedelsak” vertaal word.
Hoewel ons nie met sekerheid kan sê hoe hierdie eertydse Babiloniese musiekinstrument gelyk het nie, het dit waarskynlik soos een van die doedelsakke gelyk wat nog in die Ooste gevind word. Verslae toon dat verskillende soorte doedelsakke in Persië (Iran), Indië en China bespeel is, waarvan party nog bestaan.
Internasionale verskeidenheid
Die Romeinse keiser Nero het gedurende sy bewind in die eerste eeu G.J. belowe dat hy die “waterorrel, fluit en doedelsak die een na die ander” sou speel as hy op die troon bly, het die Romeinse geskiedskrywer Suetonius geskryf. Sowat 50 jaar voor Nero se geboorte in 37 G.J. het ’n gedig wat aan Vergilius toegeskryf is, gepraat van “die pyp wat soet kwetter”.
Van die vroegste tye af het Duitsland, Frankryk, Ierland, Italië, Pole en Spanje almal doedelsakke gehad, asook die Balkan en Skandinawië. Hoe het die doedelsak in Brittanje uitgekom? Dit is ’n bekende feit dat migrerende Kelte om en by 500 v.G.J. ’n soort doedelsak daarheen geneem het en dat baie graafskappe in Engeland, net soos in Skotland, vroeg reeds hulle eie verskillende soorte doedelsakke gehad het. Volgens The Oxford Companion to Music is dit selfs moontlik dat “die doedelsak ’n paar eeue voordat dit in Skotland gewild geword het, reeds in Engeland gewild was”.
Romeinse voetsoldate het hulle doedelsakspelers gehad, maar niemand kan met sekerheid sê of die Romeine die doedelsak na die Britse Eilande gebring het nadat hulle dit in 43 G.J. verower het en of hulle net bygedra het tot wat reeds daar bestaan het nie.
As jy Skotland vandag besoek en die klank van die Hooglandse doedelsak deur die valleie hoor eggo, sal jy saamstem dat dit ’n ondervinding is wat jy nie maklik sal vergeet nie.
[Venster/Prent op bladsy 24, 25]
Duisende doedelsak- en tromspelers, wat as “die grootste doedelsakorkes tot nog toe” beskryf is, het in Augustus 2000 deur Edinburg se bekende Princesstraat geparadeer om geld vir ’n kankerliefdadigheidsorganisasie in te samel (in die foto hierbo). Doedelsakspelers het nie net van Europa, Kanada en die Verenigde State gekom om hulle by die Skotse spelers aan te sluit nie, maar selfs van Hongkong en die Pasifiese eiland Guam.
Die doedelsak van die Skotse Hooglande is die belangrikste van die verskillende soorte Skotse doedelsakke wat tot vandag toe behoue gebly het. Dit sluit die doedelsak van die Skotse Laaglande en die Skotse kleindoedelsak in. Die Northumbriese doedelsak is die enigste Engelse instrument wat nog bestaan. Die sagte klanke wat dit voortbring, is tussen dié van ’n klarinet en ’n hobo. Anders as die Hooglandse doedelsak, het elkeen van die drie doedelsakke wat so pas genoem is, ’n klein blaasbalkie, wat die speler met sy arm pomp om die sak met lug te vul in plaas daarvan om self daarin te blaas.
In The Bagpipe—The History of a Musical Instrument skryf Francis Collinson dat ’n Engelse hof in 1746 die volgende uitspraak gelewer het: “’n Regiment van die [Skotse] Hooglande het nooit sonder ’n doedelsakspeler opgetrek nie”, en “daarom was sy doedelsak, in die oë van die gereg, ’n oorlogsinstrument”. Aangesien geen clan ooit sonder ’n doedelsakspeler na die slagveld gegaan het nie, het dit daartoe gelei dat die doedelsak van die Skotse Hooglande die enigste musiekinstrument is wat as ’n oorlogswapen “verbied” is.
[Erkenning]
Colin Dickson
[Venster/Prente op bladsy 25]
Die doedelsak van die Skotse Hooglande
Die blaaspyp: Dit het ’n terugslagklep aan die onderkant van die pyp en word aan die sak verbind met ’n hol houtsok wat aan ’n gat in die sak vasgeheg is. Die doedelsakspeler blaas deur hierdie pyp die sak vol lug en druk dan die sak sodat lug deur die melodiepyp en gonspype gepers word
Riete: Die bestes word gemaak van die riet Arundo donax, wat hiervoor gekweek word in Frankryk, Italië en Spanje
Die melodiepyp: ’n Pyp waarop die melodie gespeel word met behulp van sewe vingergate en ’n duimgat aan die agterkant. Die klank word deur ’n dubbelriet voortgebring. Die lug vir die melodiepyp kom van ’n sak wat die doedelsakspeler onder sy arm hou
Die baspyp: Soortgelyk aan die tenoorpype maar is twee oktawe laer as die melodiepyp gestem
Steunringe: Dit word meestal van ivoor, walvistande of been gemaak, maar plastiek word ook vandag gebruik
Die tenoorpype: Daar is twee. ’n Enkelriet vibreer in elkeen, en hulle is op dieselfde toonhoogte ingestem, een oktaaf laer as die melodiepyp
Die sak: Word tradi-sioneel van leer ge-maak en is gewoonlik met tartan oorgetrek
Hout: Vroeër is plaaslike ligte hout—dikwels bukshout—gebruik en swart gekleur. Later het kokushout (Brya ebenus), ’n swaar hardehout van die Wes-Indiese Eilande, gewild geword, maar ander houtsoorte soos sebrahout (Dalbergia melanoxylon) word ook gebruik
[Prente]
Gonspyp
Melodiepyp
[Prent op bladsy 23]
’n Skotse doedelsakspeler in tradisionele drag
[Prent op bladsy 24]
Die oefen-melodiepyp: ’n Afsonderlike instrument waarop ’n doedelsakspeler leer speel