Abrolhos—’n onvergeetlike ondervinding
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË
IN DIE 16de eeu het matrose naby die koraalriwwe langs die kus van die staat Bahia, Brasilië, aan medematrose uitgeroep: “Abra os olhos!” (Hou julle oë oop!) Volgens tradisie het hierdie dikwels herhaalde waarskuwing die naam geword van vyf klein eilande in die gebied—die Abrolhos-eilandgroep.
Abrolhos is in die Suid-Atlantiese Oseaan geleë, net 80 kilometer van die kusdorpies Caravelas en Alcobaça. Maar dit word deur koraalriwwe omring en afgeskei. Ongekarteerde riwwe sowel as hewige Atlantiese storms sou gewoonlik genoeg gewees het om die meeste matrose van hierdie waters weg te hou as dit nie vir die boggelwalvis was nie, wat ’n groot bron van inkomste was.
Boggelwalvisse—gejag en bewonder
Die walvisse van Abrolhos het gedurende die 19de eeu ’n vername bron van inkomste vir vissersdorpies geword. Nadat jagters ’n spesiale mis bygewoon het, waartydens ’n plaaslike priester hulle oop bootjies geseën het, het hulle na die eilandgroep geroei of geseil. Hoe het hulle dit reggekry om so ’n enorme dier dood te maak? Hulle het gebruik gemaak van die walvis se moederinstink. Walvisjagters het eers ’n kalfie met ’n harpoen geskiet en dit dan gebruik om die moeder nader te lok. Die walvisse wat doodgemaak is, is na die vasteland teruggesleep en na een van Caravelas se walvisfabrieke geneem sodat hulle die waardevolle olie kon kry.
Maar met die ineenstorting van die plaaslike walvisoliemark in die middel van die 19de eeu het die walvisindustrie gekwyn. Teen die 20ste eeu het die boggelwalvis, nadat dit dekades lank gejag is, feitlik nie meer in Abrolhos kom kalf nie. Gevolglik het walvisjag om die eilande uiteindelik tot ’n einde gekom. Die laaste keer dat ’n walvis daar doodgemaak is, was in 1929.
’n Nuwe hoofstuk in Abrolhos se geskiedenis het in 1983 begin toe die eilandgroep en die Abrolhos-rif—altesaam 910 vierkante kilometer—tot ’n mariene nasionale park verklaar is. Die walvisse is 50 jaar lank feitlik nie gesien nie, maar in 1987 het navorsers berig dat hulle walvisse in die park se water gesien het, en hulle het besluit om verder ondersoek in te stel. Hulle was verbaas toe hulle ontdek dat die boggelwalvisse weer om die eilande begin kalf het.
Die nuus dat die walvisse teruggekeer het en die feit dat Abrolhos al hoe bekender geword het as ’n verlore paradys, het klein groepies besoekers begin lok. Op ’n sonnige someroggend het ’n sekere gesin in Caravelas op ’n klein vissersboot geklim en op ’n ses uur lange reis na Abrolhos vertrek. Dit is hoe een van hulle sy besoek aan die eilande beskryf het.
’n Muur van groot hoede
“Terwyl Manoel, die kaptein van ons boot, tussen die Rif van Mure deurgevaar het, het ek verstaan waarom vroeë Portugese matrose hierdie waters gevrees het. Veelkleurige koraalkolomme—tot 20 meter hoog en 50 meter breed naby die oppervlak—verrys uit die seebodem. Omdat hulle soos omgekeerde keëls lyk, noem die plaaslike mense hulle groot hoede. Onder die water het baie van hierdie kolomme saamgesmelt om enorme boë en gange te vorm, asook twintig kilometer lange mure wat as rifplatforms bo die water uitstaan. Dit is die mure van die Rif van Mure.
“Nadat ons die rif agtergelaat het, het Abrolhos op die horison verskyn. Van ver af lyk die vyf eilande soos reusagtige deurstoppe wat in die oseaan dryf. Volgens geoloë is hierdie groot blokke in die verre verlede deur stygende lawa van die oseaanvloer af opgestoot. Gevolglik is die eilande se topografie almal eenders—’n steil krans wat aan die suidoostelike kant uit die see oprys en na die suidwestelike kant geleidelik afloop na ’n nou strand.
“Ons kon nou die vuurtoring en uitgespreide dubbelverdiepinghuise op die grootste eiland, Santa Bárbara, uitmaak. Personeel van die Brasiliaanse Instituut vir die Omgewing en Hernieubare Natuurlike Hulpbronne (IBAMA) sowel as die Brasiliaanse seesoldate wat op die eiland woon, is afhanklik van ’n boot wat elke twee weke vir hulle voorraad bring. Dit is maklik om jou in te dink dat die plaaslike bokbevolking—die eilanders se noodvoedselvoorraad—ook gretig wag op die koms van die boot. Geen losieshuise, hotelle, kroeë of restaurante word toegelaat nie. Toeriste wat oornag wil bly, moet maar op bote slaap wat om die eilande vasgemeer is.
“Terwyl Manoel die anker versigtig laat sak het sodat hy nie die koraalrif beskadig nie, het twee IBAMA-bewaarders op die boot geklim en ’n paar van die park se reëls aan ons verduidelik. Toeriste mag net die twee eilande Siriba en Redonda besoek, op gemerkte wandelpaaie stap en moet altyd deur ’n bewaarder vergesel word. Niemand mag vis vang of aandenkings neem nie—nie eers ’n klippie op die strand nie. Walviskykery word ook streng beheer. Nie meer as drie bote mag naby die walvisse kom nie, en moet ten minste 100 meter van die walvisse af bly. As ’n walvis na-aan ’n boot kom, moet die enjin afgeskakel word, en dit mag net weer aangeskakel word wanneer die walvis na die oppervlak kom. Bote moet die gebied verlaat as ’n walvis enigsins onrustig raak.”
’n Voëlbevolking wat die oog vang
“Voëls floreer hier. Die pylstertseevoël, die brilmalgas, die bruinmalgas, die pragtige roofduiker en die roetsterretjie het almal broeikolonies op Abrolhos.
“Terwyl ons op die eerste dag van ons besoek op Siriba se rotsagtige strand geloop het, het Jordan, ’n IBAMA-navorser, die neste van malgasse en rooibekpylsterte vir ons uitgewys. Die malgas maak sy nes in die oopte, maar die rooibekpylstert verkies rotsskeure, wat beskerming bied teen sterk rukwinde wat sy nes kan omwaai.
“Die ster van die voëlbevolking is ongetwyfeld die roofduiker, wat omtrent so groot soos ’n hen is. Gedurende paartyd word die mannetjie se opvallende keelsak helderrooi en so groot soos ’n sokkerbal. Snaaks genoeg, die roofduiker is afhanklik van die see, maar is bang vir water. Hy het min smeerolie vir sy vere en kan dus nie vir visse duik sonder dat hy sopnat word nie.
“Die roofduiker se vliegvermoë maak egter op vir die feit dat sy vere nie waterdig is nie. Met ’n indrukwekkende vlerkspan van twee meter maak hy gebruik van warm lugstrome en bly hy byna bewegingloos in die lug, terwyl hy op die uitkyk bly vir sy onwillige vissersmaat, die malgas. Sodra die malgas iets vang, duik die roofduiker af en val hy hom met sy lang krom snawel aan. Soms ruk hy die vis reg uit die malgas se bek uit. As die verskrikte malgas sy vangs laat val, duik die roofduiker af en vang hy dit behendig voordat dit die water tref. Sê nou die malgas sluk die vis in voordat die roofduiker by hom uitkom? Soms sal die afknouerige roofduiker die malgas selfs agternasit en hom dwing om die vis op te bring!”
Onder die water
“Op die tweede dag van ons besoek het ons die wêreld onder die water verken. Die watertemperatuur om die eilandgroep daal nooit laer as 24 grade Celsius nie, en sigbaarheid kan tot 15 meter wees. ’n Mens het nie duur duiktoerusting nodig om die kalm, vlak water naby die eilande te verken nie. ’n Snorkel, ’n duikbril en paddavoete is al wat jy nodig het. Wanneer die son op hierdie onderwaterwêreld skyn, word dit weerkaats deur die skole vis, die groen, ligpers en geel koraal en die rooi sponse en alge. Ons word in veelkleurige lig gebaai. Hoewel daar min koraalsoorte is in vergelyking met ander tropiese riwwe, word party soorte slegs hier aangetref.
“Die helderblou water om die eiland wemel van meer as 160 soorte vis. Daar is diere van alle vorme en groottes: nou en dan ’n grootkopseeskilpad, die Franse engelvis, die doktervis, die naaldvis, die papegaaivis, die groot seebaars en die bontpaling. Die visse is so mak dat hulle letterlik uit jou hand eet, en wanneer die kos klaar is, knibbel hulle saggies aan jou vingers op soek na nog.”
Die walvisse keer terug
“Op die middag van die derde dag van ons besoek aan die eilandgroep het ons met gemengde gevoelens na Caravelas teruggekeer. Hoewel ons besoek aan Abrolhos ’n wonderlike ondervinding was, was ek teleurgesteld dat ons nie ’n enkele walvis gesien het nie. Maar ná sowat 30 minute op pad terug, het Manoel skielik uitgeroep: ‘Walvis, ahooi! Walvis ahooi!’ Drie boggelwalvisse—twee grotes en ’n kalfie—het sowat 200 meter van ons af verskyn. Ons kon die wit onderkant van hulle groot vinpote duidelik sien. Een van hulle wat miskien ’n bietjie nuuskierig was, het nader gekom en ’n paar minute lank langs ons geswem. Ek kon my oë nie glo toe die walvis uit die water opspring nie. Hy het sy groot liggaam halfpad uit die water gelig en toe met ’n slag op sy rug teruggeval in die water. Hy het ’n groot voor in die water gemaak! Terwyl die eilande in die verte agter ons verdwyn het, kon ons nog steeds die walvisse se stertvinne en nou en dan waterstrale bo die oppervlak sien. Ons was bly om te sien dat die boggelwalvis begin terugkeer.”
’n Onseker toekoms
Daar is dalk nie meer walvisjagters nie, maar daar is nog ander bedreigings. Dit sou onrealisties wees om te dink dat hierdie eilande nie deur omgewingsprobleme geraak kan word nie. ’n Oseanograaf het dit so gestel: ‘Dit is nie genoeg om ’n eilandgroep te bewaar en toegang daartoe te beperk as alles om dit vernietig word nie.’
Baie wetenskaplikes meen dat ’n styging in wêreldtemperature daarvoor verantwoordelik is dat die Rif van Mure verdof, ’n teken dat die klein alge aan die verdwyn is. Dit lyk onvermydelik dat ontbossing en gronderosie op die vasteland, wat veroorsaak dat riviere meer slik in die see uitspoel, uiteindelik ’n uitwerking op die eiland se koraalriwwe sal hê. En namate die aantal besoekers elke jaar toeneem, sal omgewingsbewaarders natuurlik nie hulle pogings kan verslap as hulle wil voorkom dat Abrolhos ’n slagoffer van sy eie ongerepte prag word nie.
Maar tot dusver het nie een van hierdie wolke op Abrolhos se horison ’n skaduwee op sy pragtige natuurskoon gewerp nie—sy indrukwekkende akrobatiese walvisse, fassinerende voëllewe en unieke koraalriwwe. Byna 500 jaar ná Abrolhos ontdek is, is dit nog steeds ’n lus vir die oë en ’n onvergeetlike ondervinding.
[Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BRASILIË
ABROLHOS
[Kaart op bladsy 15]
ABROLHOS-EILANDGROEP
Siriba
Redonda
Santa Bárbara
Guarita
Sueste
[Prent op bladsy 15]
Abrolhos se vuurtoring, in 1861 gebou
[Prent op bladsy 16]
Roofduiker
[Prent op bladsy 16]
Breinkoraal
[Erkenning]
Enrico Marcovaldi/Abrolhos Turismo
[Prent op bladsy 16]
Franse engelvis
[Prent op bladsy 16, 17]
Brilmalgas
[Prent op bladsy 16, 17]
Redonda
[Erkenning]
Foto da ilha: Maristela Colucci
[Prent op bladsy 17]
Bontpaling
[Prent op bladsy 17]
Doktervis
[Prent op bladsy 17]
Rooibekpylstert
[Prent op bladsy 18]
’n Boggelwalvis en haar kalfie