Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 1/22 bl. 5-8
  • Die privaatheidsparadoks

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die privaatheidsparadoks
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Privaatheid teenoor veiligheid
  • Skrik kameras misdadigers af?
  • Hoe kan ek ’n bietjie privaatheid kry?
    Jongmense vra
  • Is dit verkeerd om ’n bietjie privaatheid te wil hê?
    Ontwaak!—2010
  • Is dit verkeerd om ’n bietjie privaatheid te wil hê?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • ’n Redelike beskouing van privaatheid
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 1/22 bl. 5-8

Die privaatheidsparadoks

“DIE ARMSTE MAN KAN IN SY HUIS SY VERSET UITSPREEK TEENOOR AL DIE MAG VAN DIE KROON.”—WILLIAM PITT, BRITSE POLITIKUS, 1759-1806.

PITT se woorde impliseer dat elkeen die reg behoort te hê tot ’n mate van privaatheid, om ’n skans om ’n sekere deel van sy lewe te bou sodat dit nie ongenooid ondersoek kan word nie.

Privaatheid kan verskillende dinge vir mense van verskillende kulture beteken. Op die Pasifiese eiland Samoa het huise byvoorbeeld dikwels geen mure nie, en die meeste gesinsbedrywighede in die huis kan maklik van buite af gesien word. Maar selfs daar word dit as slegte maniere beskou om ongenooid in ’n huis in te stap.

Mense besef al lank dat ’n mate van persoonlike privaatheid nodig is. Duisende jare voor William Pitt se bekende stelling het die Bybel getoon dat die privaatheid van ander gerespekteer moet word. Koning Salomo het geskryf: “Sit jou voet selde in die huis van jou medemens, sodat hy nie genoeg van jou kry en jou beslis haat nie” (Spreuke 25:17). Die apostel Paulus het gemaan: ‘Stel julle dit ten doel om julle met julle eie sake te bemoei.’—1 Tessalonisense 4:11.

Die reg op privaatheid is so belangrik dat The UNESCO Courier dit “die grondslag van burgerregte” noem. ’n Invloedryke Latyns-Amerikaanse politikus het eweneens gesê: “In sekere sin is alle menseregte aspekte van die reg op privaatheid.”

Maar in vandag se klimaat van toenemende misdaad en wêreldwye terrorisme meen regerings en wetstoepassingsinstansies al hoe meer dat hulle deur die verskansings van privaatheid moet breek om hulle burgers te beskerm. Waarom? Omdat kriminele elemente in die samelewing die reg op privaatheid as ’n dekmantel gebruik om kwaad te doen. Daar is dus ’n stryd om ’n balans te vind tussen ’n regering se verantwoordelikheid om sy burgers te beskerm en ’n individu se reg op privaatheid.

Privaatheid teenoor veiligheid

Die wêreldskokkende terreuraanvalle op 11 September 2001 het baie mense se beskouing verander van die regering se reg om inbreuk te maak op party aspekte van persoonlike privaatheid. “11 September het dinge verander”, het ’n voormalige Amerikaanse federale handelskommissaris vir BusinessWeek gesê. Hy het opgemerk: “Terroriste beweeg rond in ’n samelewing waarin hulle privaatheid beskerm word. As skendings van privaatheid soms nodig is om hulle aan die kaak te stel, sal die meeste mense sê: ‘Goed, doen dit maar.’” Die tydskrif berig: “Meningspeilings sedert 11 September toon dat 86% van Amerikaners ten gunste daarvan is dat gesigsherkenningstelsels meer gebruik word; 81% wil hê dat bank- en kredietkaarttransaksies strenger gemonitor moet word en 68% is ten gunste van ’n nasionale identiteitskaart.”

Die soort identiteitskaarte wat sommige Westerse regerings oorweeg, sal die vermoë hê om die kaarthouer se vingerafdrukke en retinale aftasbeeld te stoor en toegang tot enige kriminele en finansiële rekords te gee. Tegnologies is dit moontlik om inligting op ’n identiteitskaart te koppel aan kredietkaartinligting en te vergelyk met inligting van waarnemingskameras wat gesigsherkenning doen. Sodoende kan misdadigers in hegtenis geneem word nadat hulle goedere vir hulle kriminele bedrywighede gekoop het.

Al probeer misdadigers bomme, vuurwapens of messe onder hulle klere, of selfs agter die soliede mure van ’n huis, wegsteek, kan hulle nog steeds gevang word. Toestelle wat party sekuriteitsagentskappe tot hulle beskikking het, kan beelde vertoon van wat jy ook al onder jou klere het. Pas ontwikkelde radartoestelle stel die polisie in staat om te sien of mense in ’n aangrensende vertrek beweeg of selfs net asemhaal. Maar lei verbeterde waarnemingstelsels noodwendig tot laer misdaadsyfers?

Skrik kameras misdadigers af?

Toe die misdaadsyfer in Bourke, ’n dorp in Australië se Agterveld, die hoogte begin inskiet het, is vier geslotekringtelevisiekameras (GKTV) geïnstalleer. Die gevolg was ’n drastiese afname in die misdaadsyfer. Maar dit is nie oral die geval nie. In ’n poging om die misdaadsyfer in Glasgow, Skotland, te verminder, is 32 GKTV’s in 1994 geïnstalleer. ’n Studie deur die Skotse Kantoor se Sentrale Navorsingseenheid het bevind dat sekere soorte misdade in die jaar ná die installasie afgeneem het. Die verslag het egter gesê: “Sedemisdrywe, insluitende prostitusie, het met 120 toegeneem; misdade wat oneerlikheid behels, het met 2 185 toegeneem en allerlei ander oortredings (insluitende dwelmoortredings) het met 464 toegeneem.”

Al laat waarnemingstelsels misdaad in een gebied afneem, sal dit dalk nie die algehele misdaadsyfer laat daal nie. The Sydney Morning Herald het die aandag gevestig op ’n verskynsel wat die polisie en kriminoloë “verplasing” noem. Die koerant het gesê: “Wanneer misdadigers sien dat hulle gevang kan word deur middel van ’n kamera of deur polisie wat ’n sekere gebied patrolleer, beweeg hulle na ’n ander gebied om ’n misdaad te pleeg.” Dit laat jou moontlik dink aan iets wat die Bybel lank gelede gesê het: “Hy wat veragtelike dinge beoefen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy werke nie tereggewys sal word nie.”—Johannes 3:20.

Die uitdaging waarvoor wetstoepassingsinstansies te staan kom, is dat selfs die gevorderdste radar- of x-straal-waarnemingstelsel nie kan sien wat in ’n mens se verstand en hart is nie, en tog is dít waar misdaad, haat en geweld eintlik bestry moet word.

Maar daar bestaan reeds ’n vorm van waarneming wat baie deurdringender is as enige tegnologie wat tot dusver deur die mens ontwikkel is. Hierdie vorm van waarneming en die positiewe uitwerking wat dit op mense se gedrag kan hê, sal in die volgende artikel bespreek word.

[Lokteks op bladsy 6]

“Terroriste beweeg rond in ’n samelewing waarin hulle privaat-heid beskerm word”

[Venster/Prent op bladsy 7]

Hoe Vertroulik Is Jou Mediese Verslae?

Baie mense dink miskien dat die vertroulikheid van hulle mediese verslae—die beskrywing van die interaksie tussen hulle, hulle dokter en hospitaal—gewaarborg is. Maar soos Privacy Rights Clearinghouse, ’n organisasie wat mense se privaatheid beskerm, waarsku, “het jy dalk ’n valse gevoel van veiligheid”. In sy boek Database Nation—The Death of Privacy in the 21st Century sê Simson Garfinkel: “Vandag het mediese verslae ’n uitgebreide rol . . . Dit word deur werkgewers en versekeringsmaatskappye gebruik om te besluit wie in diens geneem en verseker moet word. Dit word deur hospitale en godsdiensorganisasies gebruik om donasies te vra. Mediese verslae word selfs deur bemarkers gekoop wat op soek is na maniere om goedere te bemark.”

Garfinkel sê ook: “Wat die vertroulikheidsproses verder bemoeilik, is die feit dat tussen 50 en 75 mense toegang tot ’n pasiënt se lêer moet hê tydens ’n tipiese geval waar iemand in die hospitaal opgeneem word.” In sommige plekke gee pasiënte self onwetend hulle reg op vertroulikheid prys deur algemene vrywarings- of toestemmingsvorms te onderteken wanneer hulle in ’n hospitaal opgeneem word. Deur hierdie vorms te onderteken, “gee jy die gesondheidsorgverskaffer die reg om jou mediese inligting aan versekeringsmaatskappye, staatsinstansies en ander beskikbaar te stel”, sê Privacy Rights Clearinghouse.

[Venster/Prente op bladsy 8]

Privaatheid Teenoor Kommersiële Belange

Mense wat die Internet gebruik, is veral kwesbaar vir ongenooide waarneming. Privacy Rights Clearinghouse sê: “Daar is feitlik geen Internetbedrywighede of -dienste wat ’n absolute reg op privaatheid waarborg nie. . . . Internetgebruikers kan inligting of dokumente van webwerwe aflaai . . . , of gebruikers ‘snuffel’ dalk net deur hierdie dienste sonder enige ander interaksie. Baie gebruikers dink dat sulke bedrywighede anoniem geskied. Dit is nie so nie. Dit is moontlik om talle Internetbedrywighede aan te teken, insluitende watter nuusgroepe of lêers ’n intekenaar oopgemaak het en watter webwerwe ’n intekenaar besoek het. . . . Verslae van intekenaars se ‘snuffelpatrone‘ . . . kan ’n waardevolle bron van inkomste wees . . . Hierdie inligting is nuttig vir direkte bemarkers wat dit gebruik om lyste van spesifieke teikengroepe op te stel uit Internetgebruikers met soortgelyke voorkeure en gedragspatrone.”

Op watter ander maniere kan jou naam op direkte bemarkers se poslyste beland? Jou naam kan bygevoeg word wanneer jy enige van die volgende dinge doen:

◼ Waarborg- of produkregistrasiekaarte invul.

◼ By klubs, organisasies of liefdadigheids-verenigings aansluit of geld daaraan skenk.

◼ Op tydskrifte inteken, by boek- of musiekklubs aansluit.

◼ Jou naam en adres in die telefoonboek laat plaas.

◼ Vir loterye of ander kompetisies inskryf.

Wat meer is, wanneer jy kruideniersware koop en dit vir die prys geskandeer word, sal die maatskappy jou naam en adres moontlik kan koppel aan die lys kruideniersware as jy ’n debiet-, krediet- of ander kaart gebruik om daarvoor te betaal. ’n Uitvoerige databasis van jou koopgewoontes kan sodoende saamgestel en moontlik vir bemarkingsdoeleindes gebruik word.a

[Voetnoot]

a Aangepas uit inligting van Privacy Rights Clearinghouse se webwerf.

[Prente op bladsy 6, 7]

Laat waarnemingstelsels misdaad afneem?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel