Jongmense vra
Is dit verkeerd om ’n bietjie privaatheid te wil hê?
Maak ’n ✔ langs die manier waarop jy heel waarskynlik sal reageer in elk van die volgende scenario’s.
1. Jy is in jou slaapkamer en die deur is toe; jou broer of suster bars in sonder om te klop.
◯ ‘Geen probleem nie . . . Ek doen dieselfde met hulle.’
◯ ‘Hoe ongeskik! Sê nou ek was besig om aan te trek?’
2. Terwyl jy met ’n vriend oor die foon praat, is jou ma binne hoorafstand en luister sy natuurlik na elke woord.
◯ ‘Geen probleem nie . . . Ek het niks om weg te steek nie.’
◯ ‘Dit laat my so ongemaklik voel! Dit voel of ek dopgehou word!’
3. Jy’s skaars by die huis, en albei jou ouers begin jou met vrae bestook. “Waar was jy? Wat het jy gedoen? Wie het saamgegaan?”
◯ ‘Geen probleem nie . . . Ek vertel hulle in elk geval gewoonlik alles.’
◯ ‘Dis so frustrerend! My ouers vertrou my eenvoudig nie!’
TOE jy jonger was, was privaatheid waarskynlik nie so belangrik nie. As jou boetie of sussie by jou kamer ingebars het, het jy hulle geselskap verwelkom. As jou ouers jou ’n vraag gevra het, het jy geantwoord sonder om te huiwer. Toe was jou lewe ’n ope boek. Nou is daar dalk tye wanneer jy wens jy kon die boek toemaak. “Ek hou daarvan om net party dinge vir myself te hou”, sê die 14-jarige Corey.a
Waarom die skielike begeerte na privaatheid? Dis deels omdat jy volwasse word. Die liggaamlike veranderinge wat gedurende adolessensie plaasvind, kan jou byvoorbeeld uiters selfbewus laat voel—selfs voor jou gesinslede. En namate jy ouer word, begin jy meer as ooit tevore die behoefte voel om privaat oor dinge na te dink. Dit is ’n teken dat jy “denkvermoë” ontwikkel—’n eienskap wat die Bybel in ’n jong persoon prys (Spreuke 1:1, 4; Deuteronomium 32:29). Selfs Jesus het na “’n eensame plek” gegaan om diep na te dink.—Matteus 14:13.
Jy is natuurlik nog steeds onder jou ouers se gesag, en hulle het die reg om te weet wat in jou lewe aangaan (Efesiërs 6:1). Maar as jy hulle behoefte om te weet, kombineer met jou behoefte om te groei, kan daar konflik wees. Hoe kan jy hierdie uitdaging die hoof bied? Kom ons kyk na twee gebiede waar probleme kan ontstaan.
Wanneer jy alleen wil wees
Daar is ’n hele paar goeie redes waarom jy moontlik alleen wil wees. Dalk wil jy net ‘’n bietjie rus’ (Markus 6:31). Of wanneer jy wil bid, wil jy dalk doen wat Jesus sy dissipels aangeraai het om te doen: “Gaan in jou binnekamer in, en nadat jy jou deur toegemaak het, bid tot jou Vader” (Matteus 6:6; Markus 1:35). Die probleem is dat jou ouers miskien nie dink dat jy bid wanneer jy die deur van jou binnekamer (as jy een het) toemaak nie! En dalk verstaan jou broer of suster dit nie wanneer jy eenvoudig alleen wil wees nie.
Wat jy kan doen. Moenie jou slaapkamer in ’n slagveld omskep nie, maar doen eerder die volgende.
● Wat jou broer of suster betref, kan jy ’n paar redelike grondreëls probeer neerlê sodat jy ’n bietjie tyd vir jouself kan hê. Indien nodig, kan jy jou ouers vra om jou hiermee te help.
● Wat jou ouers betref, moet jy hulle siening probeer verstaan. “Soms kom kyk my ouers wat ek doen”, sê die 16-jarige Rebekah. “Maar ek moet eerlik wees, as ek ’n ouer was, sou ek ook ’n oog oor my tiener gehou het—veral omdat jongmense vandag voor soveel versoekings te staan kom!” Kan jy, soos Rebekah, sien waaroor jou ouers eintlik besorg is?—Spreuke 19:11.
● Vra jou eerlik af: ‘Het ek my ouers rede gegee om te vermoed dat ek met kattekwaad besig is wanneer my deur toe is? Is ek so geheimsinnig oor my persoonlike lewe dat hulle voel dat hulle subtiele metodes moet gebruik om iets oor my uit te vind?’ Hoe openhartiger jy teenoor jou ouers is, hoe minder agterdogtig sal hulle gewoonlik wees.b
Aksieplan. Skryf hieronder neer hoe jy met jou ouers ’n gesprek oor hierdie onderwerp kan aanknoop.
․․․․․
Wanneer jy vriende maak
Dis normaal om gedurende adolessensie met mense buite die gesin vriende te maak. Dis ook normaal dat jou ouers wonder wie jou vriende is en wat jy saam met hulle doen. Jou ouers beskou dit bloot as deel van hulle werk—standaardprosedure. Maar vir jou lyk dit dalk asof jou ouers se besorgdheid aan paranoia grens. “Ek wil net my selfoon gebruik en my e-posse lees sonder dat my ouers elke tien minute oor my skouer kyk en wil weet met wie ek praat”, sê die 16-jarige Amy.
Wat jy kan doen. Moenie toelaat dat jou vriendskappe ’n muur tussen jou en jou ouers word nie, maar probeer eerder die volgende.
● Sê vir jou ouers wie jou vriende is, en sorg dat jou ouers hulle leer ken. Jy wil dalk nie hê dat jou ouers speurder speel nie, maar watter keuse het hulle nou eintlik as hulle nie weet wie jou vriende is nie? Onthou, jou ouers weet dat jou keuse van vriende ’n groot uitwerking op jou sal hê (1 Korintiërs 15:33). Hoe meer jou ouers weet van die mense saam met wie jy tyd deurbring, hoe geruster sal hulle waarskynlik wees oor jou keuse van vriende.
● Praat op ’n respekvolle manier met jou ouers oor die saak. Moenie hulle daarvan beskuldig dat hulle hulle neus in jou sake steek nie. Jy kan eerder iets sê soos: “Dit voel asof alles wat ek vir my vriende sê, ontleed en geoordeel word. Dis vir my baie moeilik om selfs net ’n gesprek te voer.” Dalk sal jou ouers jou ’n bietjie meer privaatheid gee wanneer dit by jou vriende kom.—Spreuke 16:23.
● Wees eerlik met jouself: Is dit ’n kwessie van privaatheid of geheimhouding? Brittany, 22, sê: “As jy nog in die huis is en jou ouers besorg is oor iets, behoort jy te redeneer: ‘Wat ek doen is nie verkeerd nie, waarom sou ek dit dan wegsteek?’ Aan die ander kant, as jy dit moet wegsteek, is daar iets anders aan die gang.”
Aksieplan. Skryf hieronder neer hoe jy met jou ouers ’n gesprek oor hierdie onderwerp kan aanknoop.
․․․․․
Privaatheid en jy
Nou sal jy die kans hê om aan ’n paar oplossings te dink in verband met ’n spesifieke gebied waarop jy meer privaatheid wil hê.
Stap 1: Identifiseer die probleem.
Op watter gebied sal jy meer privaatheid wil hê?
․․․․․
Stap 2: Neem jou ouers se siening in ag. Waaroor dink jy is hulle eintlik bekommerd?
․․․․․
Stap 3: Vind oplossings.
(a) Dink aan ten minste een manier waarop jy dalk onbewustelik tot die probleem bydra, en skryf dit hieronder neer.
․․․․․
(b) Watter veranderinge kan jy maak wat jou antwoord hierbo betref?
․․․․․
(c) Wat wil jy hê moet jou ouers omtrent jou probleem doen?
․․․․․
Stap 4: Praat daaroor.
Praat op ’n gepaste tyd met jou ouers oor wat jy hierbo neergeskryf het.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnote]
a Van die name in hierdie artikel is verander.
b As dit nog steeds lyk of jou ouers jou nie vertrou nie, moet jy kalm en eerbiedig vir hulle sê hoe jy voel. Luister mooi na wat hulle bekommer, en maak seker dat jy niks doen wat tot die probleem bydra nie.—Jakobus 1:19.
IETS OM OOR TE DINK
● Waarom het jou ouers die reg om te wil weet wat in jou lewe aangaan?
● Hoe kan jou pogings om beter met jou ouers te kommunikeer, jou help om later in jou lewe met ander volwassenes te kommunikeer?
[Venster/Prente op bladsy 19]
WAT JOU PORTUURS SÊ
“As jongmense openhartig met hulle ouers praat, sal ouers minder rede hê om hulle tieners se e-posse en teksboodskappe te lees om uit te vind wat in hulle lewe aangaan.”
“Ek sal nie ontsteld wees as my ouers my e-posse lees nie. As ’n werkgewer die reg het om sy werkers se e-posse te monitor, waarom kan ouers dan nie hulle kinders se e-posse monitor nie?”
“Jou ouers wil nie hê dat enigiets met jou moet gebeur nie, en soms lyk dit dalk of hulle jou privaatheid skend. Dit voel nie regverdig nie. Maar ek moet erken, as ek ’n ouer was, sou ek waarskynlik dieselfde gedoen het.”
[Prente]
Eden
Kevin
Alana
[Venster op bladsy 21]
’N WOORDJIE AAN OUERS
● Jou seun is in sy kamer, en die deur is toe. Moet jy inbars sonder om te klop?
● Jou dogter het haar selfoon by die huis gelos toe sy haastig skool toe is. Moet jy skelmpies na haar SMS’e kyk?
Dit is nie maklike vrae om te beantwoord nie. Aan die een kant het jy die reg om te weet wat in jou adolessent se lewe aangaan en ’n verpligting om hom of haar veilig te hou. Aan die ander kant kan jy nie vir ewig ’n “helikopter-ouer” wees, wat agterdogtig oor jou kind hang en elke beweging monitor nie. Hoe kan jy dan ’n balans handhaaf?
Eerstens moet jy besef dat ’n adolessent se begeerte na privaatheid nie altyd moeilikheid beteken nie. Dit is dikwels ’n normale deel van grootword. Privaatheid help adolessente ‘om hulle vlerke te toets’ terwyl hulle hulle eie vriendskappe smee en hulle “denkvermoë” gebruik om hulle probleme te deurdink (Romeine 12:1, 2). Privaatheid help adolessente ook om denkvermoë te ontwikkel—’n noodsaaklike eienskap sodat hulle later as verantwoordelike volwassenes kan funksioneer (1 Korintiërs 13:11). Dit gee hulle ook die geleentheid om na te dink oor moeilike vrae voordat hulle antwoord.—Spreuke 15:28.
Tweedens moet jy besef dat dit tot gegriefdheid en opstandigheid kan lei as jy jou adolessent se lewe probeer mikrobestuur (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21). Beteken dit dat jy hom of haar heeltemal moet uitlos? Nee, want jy is steeds die ouer. Die doel is egter dat jou kind ’n opgeleide gewete moet verkry (Deuteronomium 6:6, 7; Spreuke 22:6). Op die ou end is dit doeltreffender om leiding te voorsien as om jou kind gedurig dop te hou.
Derdens moet jy die saak met jou adolessent bespreek. Luister na wat hy of sy op die hart het. Is daar dalk tye wanneer jy toegeeflik kan wees? (Filippense 4:5). Sê vir jou adolessent dat jy hom of haar ’n mate van privaatheid sal gun, solank jou vertroue nie geskend word nie. Sit die gevolge van ongehoorsaamheid uiteen, en voer dit deur indien nodig. Wees verseker dat jy jou adolessent ’n bietjie privaatheid kan gee sonder om jou rol as ’n besorgde ouer prys te gee.
[Prent op bladsy 20]
Vertroue is soos ’n salaristjek—dit moet verdien word