’n Boot vir die oop see—van riete!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BOLIVIA
STEL jou voor jy onderneem ’n lang seereis van duisende kilometers. Maar in plaas daarvan dat jy uitvaar op ’n sterk passasierskip met al die geriewe van ’n moderne hotel, is dit ’n skynbaar onstabiele vaartuig wat gemaak is van riete en met toue saamgebind is! En al weeg die boot miskien nagenoeg 50 ton, hoe gerus sal jy voel wanneer jy byvoorbeeld in die middel van die Stille Oseaan is en groot golwe teen die vaartuig slaan?
Dit klink miskien verbasend, maar ’n hele paar van hierdie soort reise is al aangepak. Hoewel baie onsuksesvol was, het dit ten minste een ding bewys—dat hierdie bote besonder sterk is, al is hulle net van riete gemaak. Wil jy graag sien hoe hierdie vaartuie gemaak word? Kom dan saam met ons op ’n besoek aan ’n skeepswerf wat wêreldbekend is vir die vervaardiging van hierdie bote.
’n Besoek aan die Titicaca-meer
Ons reis neem ons hoog op in die Andesgebergte van Suid-Amerika na die Titicaca-meer. Op ’n hoogte van 3 810 meter is Titicaca die hoogste bevaarbare meer in die wêreld. Terwyl ons al langs die meer ry, sien ons kleihuisies met grasdakke wat aan die plaaslike mense, die Aymaras, behoort, waarvan party meesterbouers van rietbote is. Wanneer ons die huisies nader, word ons gegroet deur twee vroue wat besig is om pragtige, swaar wolmateriaal te weef wat bedoel is vir die lewe op die koue Altiplano. Die vroue hou op weef en stel ons aan hulle mans voor.
Nadat die mans ons hartlik verwelkom het, nooi hulle ons om saam met hulle in hulle motorboot na die oorkant van die meer te gaan. Terwyl ons al met die kant van die meer langs vaar, sien ons groot lappe biesies. Hierdie riete, wat tot twee meter hoog groei, is nouliks dikker as ’n potlood, buig maklik en is volgens ons gidse uiters waterbestand. Al hierdie kenmerke maak die biesies ideaal vir rietbote, en dit is waarom die Titacaca-meer so ’n aantrekkingskrag het vir mense wat sulke bote wil bou.
“Etlike van ons bote het al duisende kilometers op see afgelê”, vertel ons Aymara-gashere ons met trotse glimlagte terwyl hulle vir ons modelle en foto’s van hulle werk wys. Hoe kry hulle die bote by die see? As die boot nie te groot is nie, vervoer hulle die klaargeboude boot per vragmotor na die Stille Oseaan. Anders neem hulle die boumateriaal na die kus en bou hulle die boot daar. Omdat die Aymara-skeepsbouers sulke bedrewe werkers is, is hulle selfs al genooi om in Marokko, Irak en op Paaseiland rietbote te bou—maar met riete wat in hierdie plekke groei.
Ons vind uit dat ’n enkele boot uit tonne riete kan bestaan, veral as dit ’n lang reis moet aflê. Waarom? Omdat riete geleidelik water absorbeer. Hoe langer die voorgenome reis dus is, hoe meer riete is nodig en hoe groter moet die boot wees. Byvoorbeeld, ’n vaartuig wat omtrent sewe ton weeg, behoort nagenoeg twee jaar lank te kan dryf. “Maar hoe”, vra ons, “kan bote wat basies van droë stingels gemaak is, die meedoënlose aanslae van die oop see weerstaan?”
’n Wonder van riete, toue en bamboes
Die sterkte van rietbote lê nie net in die verborge krag van die boustowwe nie, maar ook in die vindingryke manier waarop dit gebou word om die finale produk te vorm—’n kuns wat van geslag tot geslag oorgedra is. Ons gids, wat ’n poncho en ’n wolmus met oorklappe dra om hom teen die koue te beskerm, het ons van party van hierdie ou vaardighede vertel.
Die eerste ding wat die bouers doen, het hy verduidelik, is om riete in bondels saam te bind wat so lank soos die beplande boot is. (Sien foto’s 1 en 2.) Daarna pak hulle ’n hele paar hiervan saam om twee baie groot bondels te vorm wat een of meer meter in deursnee kan wees. Dan lê hulle hierdie twee bondels langs mekaar om ’n dubbele romp te vorm—’n besonder seewaardige struktuur.
Terselfdertyd lê hulle ’n derde, dunner bondel tussen en onder die twee groteres. Die groter bondels word dan afsonderlik aan hierdie derde bondel vasgemaak met ’n lang tou wat al in die lengte van die skip om die twee bondels van verskillende groottes gedraai word. (Sien foto 3.) Tot 12 mans trek die tou styf en pers sodoende die riete saam in twee stywe, stewige rompe wat nou saamgebind is. (Sien foto 4.) Ja, die tou is so styf dat jy nie eens ’n vinger tussen die tou en die riete kan inkry nie—’n ontwerpkenmerk wat waterbestandheid verbeter.
Wanneer die romp klaar is (sien foto 5), voeg die mans die kiel by, asook die stuurrieme, dubbele maste (elk in die vorm van ’n smal omgekeerde V wat aan die twee rompe vasgemaak is), gaffelseile en gewoonlik ’n dolboord, wat ook van riete gemaak is. Laastens rig hulle ’n bobou van bamboes en palmtakke op om die bemanning teen die elemente te beskerm. (Sien foto 6.) Verbasend genoeg bevat die finale produk nie ’n enkele stukkie metaal nie!
Nadat die boot te water gelaat is, swel die riete in die reeds styf gedraaide tou en maak dit die romp nog fermer. Die eindresultaat is ’n baie sterk boot. Dit bring ons by die belangrike vraag: Wat probeer die mense bewys wat hierdie primitiewe vaartuie vandag op lang seereise neem?
Die raaisels van migrasie
Die rietbote van die Titicaca-meer en die sekelvormige rietvaartuie wat in antieke Egiptiese kuns uitgebeeld word, lyk verbasend eenders. Party van daardie rietvaartuie lyk selfs of hulle sterk genoeg was om op die oop see te vaar. Is hierdie ooreenkomste ’n blote toeval, of was daar in vroeë tye kontak tussen die twee volke? Hoewel dit moeilik is om vas te stel wanneer rietbote hulle verskyning in Suid-Amerika gemaak het, dui die bewyse daarop dat dit voor die koms van die Spaanse veroweraars was.
Dit is te verstane dat migrasieteorieë aanleiding gegee het tot bespiegeling oor die verhouding tussen die kulture van Suid-Amerika, die Middellandse See en Polinesië—veral aangesien hulle so ver van mekaar af is. “Daar was ’n vaste handelsroete tussen Peru en Panama”, het ’n hedendaagse ontdekkingsreisiger gesê. “Waarom dan nie tussen Suid-Amerika en Polinesië nie?”
Die Noorse ontdekkingsreisiger Thor Heyerdahl se teorieë het nie by baie mense ingang gevind nie. Al toon hedendaagse seevaarders dat die ou volke met rietbote na vergeleë plekke kon geseil het, soos Heyerdahl met die Aymara-rietboot Ra II gedoen het, bly die vraag: Het hulle? Die tyd sal dalk meer lig op hierdie interessante raaisel werp. Hoe dit ook al sy, die nederige rietboot toon dat ’n sterk vaartuig selfs met die eenvoudigste materiaal gebou kan word.
[Prente op bladsy 22]
Dwarsdeursnee van die romp
Voordat die tou styf getrek is
Nadat die tou styf getrek is
Dolboord en dek word bygevoeg
[Erkenning]
Bron van sketse: Dominique Görlitz, www.abora2.com
[Prente op bladsy 23]
RIETBOOT WORD GEBOU
[Erkennings]
Foto: Carmelo Corazón, Coleccion Producciones CIMA
Stappe 1, 2, 5 en 6: Tetsuo Mizutani (UNESCO); Stap 4: Christian Maury/GAMMA
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Bo: Tetsuo Mizutani (UNESCO)
[Foto-erkenning op bladsy 22]
Foto: Carmelo Corazón, Coleccion Producciones CIMA