Die drywende eilande van die Titicaca-meer
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PERU
EILANDE wat dryf? Ja, sommige van die eilande in hierdie unieke meer in Suid-Amerika dryf. En mense woon daarop.
Die Titicaca-meer, wat deur Peru aan die weste en Bolivië aan die ooste begrens word, is die wêreld se hoogste meer wat deur groot skepe bevaar kan word. Dit is 3810 meter bo seevlak geleë, dit strek oor 190 kilometer in ’n noordwestelike na suidoostelike rigting en is op sy wydste punt meer as 80 kilometer breed.
Sommige van die Titicaca-meer se baie eilande is drywende matte van droë totora, ’n rietagtige papirus wat in party vlakker dele van die meer groei. Die riete groei van die bodem van die meer af opwaarts deur ’n paar meter water en steek meer as ’n meter bo die water uit. Om ’n eiland te maak, word die riete, terwyl hulle nog aan die bodem van die meer gewortel is, oorgebuig en ineengevleg om ’n strooiagtige platform of vloer te vorm wat op die oppervlak van die water dryf. Die riete word dan met modder gepak en met bykomende lengtes gesnyde riet versterk. Die inwoners woon in riethutte wat op die drywende rieteilande gebou is.
The Encyclopædia Britannica sê dat mense al lank op hierdie eilande woon. Dit sê ook: “Meerbewoners maak hul bekende balsas—bote wat van bondels droë riete gemaak is wat aanmekaargebind word en soos die sekelvormige papirusvaartuie lyk wat op eertydse Egiptiese monumente afgebeeld is.”
Jehovah se Getuies het onlangs ’n boot aangeskaf waarmee hulle die predikingswerk onder die mense op die eilande van die Titicaca-meer doen. Die boot word deur ’n buiteboordenjin aangedryf en kan 16 mense vervoer. Die Getuies sê dat die vloer effens onder hulle voete beweeg wanneer hulle van woning tot woning op hierdie rieteilande loop. Hoe wonderlik dat die boodskap van God se Koninkryk selfs die mense op hierdie afgeleë, drywende eilande bereik!