Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 4/22 bl. 4-7
  • Wanneer ’n kind te gou moet grootword

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer ’n kind te gou moet grootword
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Haastige opvoeding
  • Haastig om te wen
  • Kinders met alles behalwe hulle kinderjare
  • Wanneer hulle die ander “volwassene” is
  • Wanneer die kinderjare verlore gaan
    Ontwaak!—2003
  • Wanneer die kinderjare gekoester word
    Ontwaak!—2003
  • Enkelouers, baie uitdagings
    Ontwaak!—2002
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 4/22 bl. 4-7

Wanneer ’n kind te gou moet grootword

DAAR was ’n storm aan die kom. Die enjin van die klein eenmotorige vliegtuig op die aanloopbaan het gedreun terwyl dit versnel en opgestyg het. Daar was groot opspraak in die media oor die gebeurtenis—dit het nuusdekking ontvang, kameras het geflits, verslaggewers het vol bewondering vrae gevra en komplimente uitgedeel. Wie het al hierdie aandag getrek? Nie die enigste gelisensieerde vlieënier of die enigste passasier aan boord—’n volwasse man—nie, maar eerder die passasier se dogter. Sy was sewe jaar oud.

Die klein dogtertjie sou die vliegtuig vlieg. Daar was ’n rekord op die spel en sy moes by ’n streng skedule bly. Die media sou by die volgende landingsplek wag. Ondanks die slegte weer het die drie dus aan boord gegaan. Die kind het op ’n kussing gesit sodat sy oor die instrumentpaneel kon sien en het verlengstukke aan haar voete gehad sodat sy die pedale op die vloer kon trap.

Die vlug was gou verby. ’n Storm het uitgebreek wat die vliegtuig van koers gedwing en laat staak het, en al drie het gesterf toe die vliegtuig neerstort. Pleks van lof uit te basuin, het die media die dogtertjie se dood betreur. ’n Paar verslaggewers en redakteurs het gewonder of die media ’n rol in die tragedie gespeel het. Baie mense het daarop begin aandring dat geen kind toegelaat moet word om ’n vliegtuig te vlieg nie. In die Verenigde State is wette dienooreenkomstig uitgevaardig. Maar agter die sensasionalisme en eenvoudige oplossings het diepliggender kwessies geskuil.

Daardie tragedie het party mense ernstig laat nadink oor ’n tendens van ons tyd. Vandag word daar druk op kinders uitgeoefen om gou groot te word en om op ’n baie vroeë ouderdom die verantwoordelikhede van ’n volwassene op hulle te neem. Die gevolge is weliswaar nie altyd so dramaties of tragies nie, maar dit kan ’n ernstige en blywende uitwerking hê. Kom ons bespreek ’n paar van die maniere waarop die kinderjare kortgeknip kan word.

Haastige opvoeding

Dit is te verstane dat ouers graag wil hê dat hulle kinders suksesvol moet wees. Maar wanneer dit ’n obsessie by hulle raak, kan ouers hulle kinders oorlaai deur te gou, te veel druk op hulle te plaas. Die proses begin gewoonlik heel onskuldig. Dit word byvoorbeeld al hoe algemener vir ouers om hulle jong kinders vir naskoolse bedrywighede in te skryf, wat wissel van sport tot musiek- of balletlesse. Dikwels kry hulle ook privaat lesse.

Dit is natuurlik nie verkeerd om ’n kind aan te moedig om sy talente of belangstellings te ontwikkel nie. Maar bestaan die gevaar dat ’n mens te ver kan gaan? Ja, veral wanneer dit lyk of party kinders onder amper net soveel druk gebuk gaan as ooreiste volwassenes. Die tydskrif Time sê: “Kinders wat voorheen hulle kindwees kon uitleef, het nou leerplanne; kinders wat die lewe met die lawwe energie van die jeug behoort te geniet, tree nou met die doelgerigtheid van die werkerby op.”

Sommige ouers hoop dat hulle jong kinders loopbane as wonderkinders in die atletiek-, musiek- of toneelwêreld sal hê. Voor hulle kinders gebore word, skryf ouers hulle alreeds by kleuterskole in om hulle kanse op sukses te verbeter. Daarbenewens skryf party moeders hulle by “voorgeboortelike universiteite” in wat musiekopvoeding vir babas aanbied wat nog in die baarmoeder is. Die doel hiervan is om hulle ontwikkelende brein te stimuleer.

In sommige lande word kinders se lees- en wiskundige vaardighede getoets voor hulle ses jaar oud is. Sulke gebruike het kommer laat ontstaan oor die emosionele skade wat dit kan aanrig. Wat gebeur byvoorbeeld met ’n kind wat kleuterskool “druip”? David Elkind, skrywer van die boek The Hurried Child, sê dat skole geneig is om kinders te gou en te vroeg in ’n spesifieke kategorie te plaas. Elkind voer aan dat hulle dit om administratiewe redes doen en nie om redes wat met die doeltreffende onderrigting van kinders verband hou nie.

Is daar negatiewe gevolge wanneer druk op kinders geplaas word om voor hulle tyd as ’t ware bevoegde klein volwassenes te word? Elkind is verontrus oor die manier waarop die samelewing die idee aangeneem het om kinders bevoeg te maak om die laste van volwassenes te dra. Hy sê: “Dit weerspieël ons neiging om die toenemende en meedoënlose druk op vandag se jongmense as ‘normaal’ te aanvaar.” Ja, dit lyk of beskouings van wat normaal vir kinders is, vinnig verander.

Haastig om te wen

Baie ouers dink dat dit normaal, selfs gewens is, om hulle kinders te leer dat wen alles is—veral wanneer dit by sport kom. Olimpiese medaljes is vandag vir baie kinders ’n aansporing. Party kinders word gedryf om vinnig groot te word of selfs hulle kinderjare prys te gee sodat hulle ’n paar oomblikke van glorie kan geniet en van ’n goeie lewe as volwassenes verseker kan wees.

Neem byvoorbeeld vroulike gimnaste. Hulle begin op ’n baie jong ouderdom met ’n strawwe oefenprogram wat hulle klein liggaampies onder geweldige druk plaas. Hulle berei hulle jare lank verstandelik en fisies vir die Olimpiese kompetisies voor. Net ’n paar sal natuurlik wenners wees. Sal die verloorders voel dat dit die moeite werd was om die grootste deel van hulle jeug op te offer? Op die lange duur sal selfs die wenners moontlik hieroor twyfel.

Emosioneel word hierdie jong meisies moontlik gedryf om vinnig groot te word in ’n onverbiddelike strewe om atlete met supersterstatus te word. Maar fisies word hulle natuurlike ontwikkeling moontlik deur sulke strawwe oefening gestrem. By party word beengroei belemmer. Eetversteurings is algemeen. In sommige gevalle word puberteit vertraag—selfs jare lank. Maar baie meisies ondervind vandag die teenoorgestelde probleem: vroeë puberteit.—Sien die venster hierbo.

Kinders met alles behalwe hulle kinderjare

As jy die vermaaklikheidsmedia glo, sal jy dalk dink dat ’n kind se kinderjare ideaal is as hy met allerhande luukshede bederf word. Party ouers werk baie hard om elke moontlike materiële gerief vir hulle kinders te voorsien, insluitende ’n weelderige huis, onbeperkte vermaak en peperduur klere.

En tog misbruik heelwat kinders wat op dié manier grootgemaak word, alkohol en dwelms en is baie van hulle ongesellig en rebels. Waarom? Baie kook van gegriefdheid omdat hulle verwaarloos voel. Kinders het ouers nodig wat daar is om hulle lief te hê en vir hulle om te gee. Ouers wat te besig is om dit te doen, meen dalk dat hulle werk om hulle kinders se geluk te verseker—maar in werklikheid kan dit die teenoorgestelde uitwerking hê.

Dr. Judith Paphazy beskryf “ouers uit goeie sosio-ekonomiese groepe wat albei werk” en sê dat hulle dikwels “hulle kinders bederf omdat hulle in hulle onderbewussyn besef dat hulle ten koste van die gesin materiële dinge najaag”. Volgens haar probeer hierdie ouers “hulleself loskoop van die verantwoordelikheid om ouers te wees”.

Die kinders betaal dikwels ’n hoë prys. Hoewel hulle dalk baie materiële luukshede het, het hulle nie die noodsaaklikste bestanddele van ’n goeie kinderlewe nie: hulle ouers se tyd en liefde. Sonder leiding en dissipline, kom hulle te gou, met min of geen voorbereiding nie, voor vrae te staan waarvoor hulle nog lank nie gereed is nie. ‘Moet ek dwelms neem? Moet ek seks hê? Moet ek gewelddadig raak wanneer ek kwaad is?’ Hulle sal waarskynlik hulle eie antwoorde vind by hulle portuurs, by TV-karakters of karakters in rolprente. Dit het dikwels tot gevolg dat hulle kinderjare skielik, selfs tragies, eindig.

Wanneer hulle die ander “volwassene” is

Wanneer ’n twee-ouergesin skielik ’n enkelouergesin word, of dit nou weens die dood, skeiding of egskeiding is, ly die kinders dikwels emosioneel daaronder. Baie enkelouergesinne is natuurlik suksesvol. Maar in party word druk op die kinders geplaas om vinnig groot te word.

Dit is te verstane dat ’n enkelouer soms eensaam sal voel. Party laat gevolglik toe dat ’n kind—dikwels die oudste—die rol van die ander “volwassene” in die gesin aanneem. Die ouer kan, miskien uit desperaatheid, ’n jong seun of dogter in sy of haar vertroue neem en die kind met probleme belas wat die kind nog nie gereed is om te dra nie. Party enkelouers word emosioneel te afhanklik van ’n kind.

Ander ouers kom glad nie hulle verantwoordelikhede na nie, wat ’n kind dwing om die rol van die volwassene in die gesin aan te neem. Carmen en haar suster, wat vroeër genoem is, het so ’n situasie agtergelaat toe hulle hulle tot die strate gewend het. Hoewel hulle nog self maar net kinders was, moes hulle vir hulle jonger boeties en sussies sorg. Die las was vir hulle te swaar.

Dit is ongetwyfeld baie gevaarlik om kinders se kinderjare kort te knip, iets wat ten alle koste vermy moet word. Maar daar is goeie nuus: Volwassenes kan positiewe stappe neem om te verseker dat hulle kinders jare lank genot daaruit sal put om kind te wees. Watter stappe? Kom ons ondersoek ’n paar beproefde antwoorde.

[Venster op bladsy 6]

Die uitdagings van vroeë puberteit

Begin puberteit vandag vroeër by meisies? Onder wetenskaplikes is dit ’n kontroversiële vraag. Party sê dat meisies in die middel van die 19de eeu gemiddeld 17 jaar oud was toe puberteit begin het, terwyl dit vandag onder 13 is. Volgens ’n studie wat in 1997 onder 17 000 meisies gedoen is, het ongeveer 15 persent van die wit meisies en 50 persent van die swart meisies in die Verenigde State vroeë tekens van puberteit op agtjarige ouderdom getoon! Maar party dokters betwis hierdie bevindinge en waarsku ouers om dit nie as “normaal” te aanvaar as hulle dogters baie vroeg ontwikkel nie.

Hoe dit ook al sy, hierdie situasie skep ’n uitdaging vir ouers sowel as kinders. Die tydskrif Time sê: “Wat selfs meer kommerwekkend is as die fisiese veranderinge, is die moontlike sielkundige uitwerking van vroeë seksuele ontwikkeling op kinders wat eintlik nog veronderstel is om sprokiesverhale te lees, nie om wolwe af te weer nie. . . . Die kinderjare is reeds kort genoeg.” Die artikel opper hierdie verontrustende vraag: “Wat sal vir ewig verlore gaan as jong meisies se liggame hulle soos volwassenes laat lyk voor hulle harte en verstande gereed is daarvoor?”

Wat dikwels verlore gaan, is onskuld—as gevolg van seksuele uitbuiting. Een ma sê reguit: “Meisies wat ouer lyk as wat hulle is, is soos heuning [vir ’n by]. Hulle trek ouer seuns aan.” Meisies betaal ’n hoë prys as hulle op ’n vroeë ouderdom voor die druk swig om seksueel aktief te word. ’n Jong meisie kan haar selfrespek, skoon gewete en selfs haar fisiese en emosionele gesondheid verloor.

[Prent op bladsy 5]

’n Oorvol program kan probleme veroorsaak

[Prent op bladsy 7]

As druk op kinders uitgeoefen word om supermededingend te wees, kan dit al die pret uit sport en speletjies haal

[Prent op bladsy 7]

Materiële besittings is nie ’n plaasvervanger vir goeie ouerskap nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel