Wanneer die kinderjare gekoester word
GOEIE ouerskap bepaal grootliks of kinders hulle kinderjare sal geniet. Maar wat behels goeie ouerskap? Jy het waarskynlik al advies oor die onderwerp gehoor. Bring tyd saam met jou kinders deur. Luister na hulle. Gee hulle goeie leiding. Betoon empatie, deel in hulle vreugdes en teleurstellings. Wees ’n ware vriend vir hulle sonder om jou gesag as ouer prys te gee. Hierdie bekende beginsels sal ouers natuurlik help om hulle werk goed te doen. Maar daar is iets anders wat eerste moet kom wat eenvoudiger en belangriker is.
Miljoene ouers regoor die wêreld het gevind dat die navolging van Bybelbeginsels die sleutel tot goeie ouerskap is. Waarom? Omdat die gesinsreëling deur die wyse Outeur van die Bybel, Jehovah God, ingestel is (Genesis 1:27, 28; 2:18-24; Efesiërs 3:15). Dit is dus logies dat sy geïnspireerde Woord die beste plek is om leiding vir die grootmaak van kinders te kry. Maar hoe kan ’n boek wat so oud soos die Bybel is, lig werp op die moderne neiging om druk op kinders te plaas om vinnig groot te word? Kom ons kyk na ’n paar skriftuurlike beginsels wat hierop van toepassing is.
“Volgens die pas van die kinders”
Jakob, die seun van Isak, het meer as 12 kinders gehad. Hy en sy gesin het eenkeer op reis gegaan en volgens die Bybel het hy hierdie wyse woorde gesê: “Die kinders [is] delikaat . . . Laat my heer [Esau, Jakob se ouer broer] asseblief voor sy kneg uit trek, maar laat my die reis op my gemak voortsit . . . volgens die pas van die kinders.”—Genesis 33:13, 14.
Jakob het geweet dat sy kinders nie klein grootmense is nie. Hulle was “delikaat”—kleiner, broser en behoeftiger as grootmense. Hy het nie sy kinders gedwing om teen sy pas te reis nie, maar hy het hom eerder by hulle aangepas en stadiger gereis. In hierdie opsig het hy die wysheid weerspieël wat God teenoor sy mensekinders toon. Ons Vader ken ons beperkings. Hy verwag nie meer van ons as wat redelik is nie.—Psalm 103:13, 14.
Selfs sekere diere weerspieël sulke wysheid, want God het hulle “instinktief wys” gemaak (Spreuke 30:24). Natuurkenners het byvoorbeeld opgelet dat as daar ’n kalfie in ’n trop olifante is, die hele trop stadiger sal loop totdat hy uiteindelik kan byhou.
Party segmente van die hedendaagse samelewing het Goddelike wysheid uit die oog verloor. Maar jy hoef nie hulle voorbeeld te volg nie. Hou in gedagte dat jou kind “delikaat” is—hy of sy kan nie die laste en verantwoordelikhede van ’n volwassene dra nie. As jy byvoorbeeld ’n enkelouer is wat met ’n moeilike persoonlike probleem worstel en in die versoeking kom om met jou kind daaroor te praat, moet jy teen die drang stry. Soek eerder ’n volwasse ouer vriend wat jou kan help om die probleem op te los—verkieslik een wat jou sal help om die Bybel se wyse raad toe te pas.—Spreuke 17:17.
Jy moet ook nie toelaat dat jou kind se lewe so gejaagd, so georganiseerd, so rigied word dat daar nie tyd is vir jeugdige pret nie. Pleks dat jy die pas van vandag se wêreld slaafs navolg, moet die pas wat jy aangee, reg wees vir jou kind. Die Bybel se wyse raad is: “Moenie dat die wêreld om julle, julle in sy vorm druk nie.”—Romeine 12:2, Phillips.
“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”
’n Ander wyse Bybelbeginsel sê: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel.” Daar is natuurlik ’n tyd om te werk. Kinders het baie werk om te doen—insluitende skoolwerk, takies by die huis en geestelike bedrywighede. Maar volgens dieselfde Skrifgedeelte is daar ook “’n tyd om te lag” en “’n tyd om rond te huppel”.—Prediker 3:1, 4.
Kinders het ’n spesiale behoefte om op ’n betreklik sorgvrye manier te speel, te lag en van hulle jeugdige energie ontslae te raak. As elke oomblik van hulle lewe beplan is, gevul met skoolwerk, naskoolse aktiwiteite sowel as ander ernstige verantwoordelikhede, sal hulle behoefte om te speel dalk nie vervul word nie. Dit kan weer daartoe lei dat hulle vertoornd, selfs mismoedig, raak.—Kolossense 3:21.
Dink aan hoe dieselfde Bybelbeginsel ook op ander maniere toegepas kan word. Byvoorbeeld, aangesien daar ’n tyd vir alles is, gee dít nie te kenne dat die kinderjare ’n tyd is om kind te wees nie? Jy sal heel waarskynlik ja antwoord, maar jou kinders sal moontlik nie altyd saamstem nie. Klein seuntjies en dogtertjies wil dikwels doen wat hulle grootmense sien doen. Klein dogtertjies wil hulle dalk soos groot vroue aantrek en mooimaak. As puberteit vroeg begin, kan daar groter druk op hulle wees om ouer te lyk.
Verstandige ouers sien die gevare in so ’n neiging raak. In hierdie verdorwe tyd waarin ons lewe, dra die reklame- en vermaaklikheidswêreld soms die boodskap oor dat kinders bewus van hulle seksualiteit en vroeg ryp is. Grimering, juweliersware en verleidelike klere word al hoe algemener onder kinders. Maar waarom sou jy jou kinders aanlokliker wou maak vir perverse mense wat hulle seksueel wil uitbuit? Deur kinders te help om op ’n manier aan te trek wat by hulle ouderdom pas, tree ouers in ooreenstemming met nog ’n Bybelbeginsel op: “Die skerpsinnige wat die rampspoed gesien het, het hom verberg.”—Spreuke 27:12.
Nog ’n voorbeeld: As jy toelaat dat sport ’n kind se eerste prioriteit word, kan dit tot ’n ongebalanseerde lewe lei waarin daar nie meer ’n vasgestelde tyd vir alles is nie. Die Bybel vermaan wyslik: “Liggaamlike oefening het min voordeel; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe.”—1 Timoteus 4:8.
Moenie jou kinders toelaat om die “wen is alles”-mentaliteit te begin glo nie. Baie ouers haal al die pret uit sport en speletjies deur hulle kinders te dryf om supermededingend te wees en ten alle koste te wen. Party kinders voel dus dat hulle moet kul of ander spelers moet beseer sodat hulle kan wen. Om te wen, is beslis nie soveel werd nie!
Leer hulle selfbeheersing
Dit is dikwels moeilik vir kinders om te leer dat daar ’n tyd vir alles is. Dit is nie maklik vir hulle om geduldig te wag as hulle iets wil hê nie. Om sake te vererger, lyk dit of die samelewing onmiddellike bevrediging najaag. Die vermaaklikheidsmedia dra dikwels die boodskap oor: “Kry wat jy wil hê en kry dit nou!”
Moenie voor sulke invloede swig deur jou kinders te pamperlang en te bederf nie. “Die vermoë om bevrediging uit te stel, is ’n belangrike aspek van emosionele intelligensie”, sê die boek The Child and the Machine. “Selfdissipline en sosiale harmonie voorsien ’n kragtige teenmiddel vir die toenemende geweld wat binne sowel as buite die skool onder kinders voorkom.” Die Bybel bevat hierdie nuttige beginsel: “As ’n mens sy kneg van jongs af bederf, sal hy in sy latere lewe ’n ondankbare word” (Spreuke 29:21). Hoewel hierdie vers regstreeks van toepassing is op hoe jong knegte behandel moet word, het baie ouers gevind dat dieselfde beginsel hulle kinders tot groot voordeel strek.
Iets wat kinders baie nodig het, is wat die Bybel “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” noem (Efesiërs 6:4). Liefdevolle dissipline help kinders om eienskappe soos selfbeheersing en geduld aan te kweek. Hierdie eienskappe sal hulle regdeur hulle lewe help om geluk en bevrediging te vind.
Wanneer die kinderjare nie meer bedreig sal word nie
Maar dalk wonder jy: ‘Het die wyse, liefdevolle God wat hierdie nuttige beginsels geïnspireer het, werklik bedoel dat ons wêreld so moet wees? Wou hy hê dat kinders in ’n wêreld moes grootword waar hulle dikwels meer bedreig as gekoester word?’ Jy sal dit moontlik bemoedigend vind om te weet dat Jehovah God en sy Seun, Christus Jesus, tere liefde vir die mensdom het, insluitende kinders van alle ouderdomme. Hulle gaan binnekort al die goddeloses van die aarde verwyder.—Psalm 37:10, 11.
Wil jy graag ’n voorskou van daardie vreedsame, gelukkige tyd hê? Stel jou net hierdie toneel voor, wat so pragtig in die Bybel beskryf word: “Die wolf sal ’n ruk by die lam bly, en die luiperd sal by die boklam gaan lê, en die kalf en die jong maanhaarleeu en die vetgevoerde dier almal bymekaar; en ’n blote seuntjie sal hulle lei” (Jesaja 11:6). In ’n wêreld wat die kinderjare so dikwels wreed beëindig of genadeloos verhaas, is dit bemoedigend om te weet dat God so ’n wonderlike toekoms vir die mensdom op die aarde belowe! Dit is duidelik dat die Skepper nie wil hê dat die kinderjare verlore moet gaan of kortgeknip moet word nie—maar net geseën en gekoester moet word.
[Prent op bladsy 8]
Moenie jou kind met persoonlike probleme belas nie, maar neem eerder ’n ander volwassene in jou vertroue
[Prent op bladsy 8, 9]
Kinders moet speel