Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 5/8 bl. 5-11
  • Die uitdagings van behandeling

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdagings van behandeling
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom ernstig
  • Dieet en oefening
  • Insulienbehandeling
  • Hou aan leer
  • Die belangrikheid van gesinsondersteuning
  • Diabetes—Kan jy die gevaar verminder om dit te kry?
    Ontwaak!—2014
  • “Julle dogter het diabetes!”
    Ontwaak!—1999
  • Suikersiekte—“Die stille doder”
    Ontwaak!—2003
  • Hoe die Bybel suikersiektelyers kan help
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 5/8 bl. 5-11

Die uitdagings van behandeling

“Alle gevalle van suikersiekte is ernstig. Dit is altyd gevaarlik.”—Anne Daly, Amerikaanse Diabetesvereniging.

“VOLGENS jou bloedtoetse is daar groot fout. Jy moet onmiddellik behandeling kry.” Die dokter se woorde het Deborah soos ’n hamer getref. “Daardie aand het ek bly dink dat die laboratorium ’n fout moes gemaak het”, sê sy. “Dis onmoontlik, het ek vir myself gesê, ek kan nie siek wees nie.”

Soos baie mense het Deborah gedink dat sy redelik gesond is, en daarom het sy die knaende simptome geïgnoreer. Sy het die antihistamiene wat sy gebruik het, die skuld gegee vir haar onlesbare dors. Haar oormatige urinering het sy toegeskryf aan al die water wat sy drink. En die moegheid—wel, watter werkende moeder word nie moeg nie?

Maar toe het ’n bloedtoets bevestig dat suikersiekte die oorsaak is. Deborah het dit moeilik gevind om die diagnose te aanvaar. “Ek het vir niemand van my siekte vertel nie”, sê sy. “Snags, wanneer die gesin geslaap het, het ek in die donkerte ingestaar en gehuil.” Wanneer party uitvind dat hulle suikersiekte het, ervaar hulle, soos Deborah, ’n vloed van emosies, insluitende depressie en selfs woede. “Ek het deur ’n tyd van ontkenning gegaan en baie gehuil”, sê Karen.

Dit is ’n natuurlike reaksie op wat na ’n onregverdige slag lyk. Maar met ondersteuning kan suikersiektelyers die nodige aanpassings maak. “My verpleegster het my gehelp om my toestand te aanvaar”, sê Karen. “Sy het my verseker dat dit normaal is om te huil. Hierdie emosionele uitlaatklep het my gehelp om aan te pas.”

Waarom ernstig

Suikersiekte is al “’n versteuring van die enjin van die lewe” genoem, en met goeie rede. Wanneer die liggaam nie glukose kan metaboliseer nie, kan ’n aantal belangrike liggaamsfunksies ingee, soms met lewensgevaarlike gevolge. “Mense sterf nie aan suikersiekte as sodanig nie”, sê dr. Harvey Katzeff, “hulle sterf weens komplikasies wat daarmee gepaardgaan. Ons is suksesvol wanneer dit by die voorkoming van komplikasies kom, maar onsuksesvol wanneer ons dit moet behandel.”a

Is daar hoop vir suikersiektelyers? Ja—as hulle besef hoe ernstig die siekte is en die voorgeskrewe behandeling volg.b

Dieet en oefening

Hoewel Tipe 1-diabetes nie voorkom kan word nie, bestudeer wetenskaplikes die genetiese risikofaktore en probeer hulle maniere vind om ’n immuunaanval te onderdruk. (Sien die venster “Die rol van glukose” op bladsy 8.) “Met Tipe 2-diabetes is die situasie baie meer belowend”, sê die boek Diabetes—Caring for Your Emotions as Well as Your Health. “Baie mense wat moontlik geneties vatbaar is, vertoon nie enige simptome van hierdie siekte nie omdat hulle eenvoudig ’n gebalanseerde dieet volg en gereeld oefen; sodoende bly hulle fisies gesond en hou hulle hulle gewig normaal.”c

’n Verslag oor ’n omvattende studie onder vroue wat in die Journal of the American Medical Association verskyn het, beklemtoon die waarde van oefening. Die studie het gevind dat “’n enkele sessie van fisiese inspanning insulienbemiddelde glukose-opname [deur die liggaamselle] meer as 24 uur lank verhoog”. Die verslag kom dus tot die gevolgtrekking dat “stap sowel as fisiese inspanning verband hou met ’n noemenswaardige vermindering in die risiko van tipe 2-diabetes onder vroue”. Die navorsers beveel ten minste 30 minute van matige fisiese inspanning aan op die meeste of selfs alle weeksdae. Dit kan eenvoudige oefening soos om te stap, insluit, wat volgens die American Diabetes Association Complete Guide to Diabetes “waarskynlik die beste, veiligste en goedkoopste vorm van oefening is”.

Maar suikersiektelyers moet onder toesig van ’n mediese deskundige oefening doen. Een rede hiervoor is dat suikersiekte die bloedvatstelsel en senuwees kan beskadig, wat bloedsirkulasie kan belemmer en gevoelloosheid kan veroorsaak. ’n Klein skrapie op die voet kan dus ongemerk bly, besmet raak en ’n seer vorm—’n ernstige toestand wat tot amputasie kan lei as dit nie onmiddellik behandel word nie.d

’n Oefenprogram kan ’n mens nogtans help om met suikersiekte saam te leef. “Hoe meer navorsers die voordele van gereelde oefening bestudeer”, sê die ADA Complete Guide, “hoe beter lyk die resultate.”

Insulienbehandeling

Baie suikersiektelyers moet nie net hulle dieet dophou en ’n oefenprogram volg nie, maar moet ook elke dag hulle glukosevlak toets en veelvuldige insulieninspuitings kry. Party mense met Tipe 2-diabetes se gesondheid het in so ’n mate verbeter danksy hulle dieet en ’n goeie oefenprogram dat hulle insulienbehandeling ten minste ’n ruk lank kon staak.e Karen, wat Tipe 1-diabetes het, het gevind dat oefening die insulien wat sy inspuit, beter laat werk. Gevolglik kon sy haar daaglikse insulieninname met 20 persent verminder.

Maar as ’n suikersiektelyer insulien nodig het, hoef hy glad nie ontmoedig te voel nie. “Die feit dat ’n mens insulien moet begin gebruik, beteken nie dat jy misluk het nie”, sê Mary Ann, ’n geregistreerde verpleegster wat vir verskeie suikersiektelyers sorg. “Ongeag watter soort suikersiekte jy het, as jy sorg dat jou bloedsuiker reg bly, sal jy ander gesondheidsprobleme wat later kan kop uitsteek, tot ’n minimum beperk.” Trouens, ’n onlangse studie het getoon dat daar ’n “drastiese vermindering in die voorkomssyfer van diabetiese oog-, nier- en senuweesiektes was” onder mense met Tipe 1-diabetes wat hulle bloedsuikervlak streng beheer. Die risiko om oogsiekte (retinopatie) te kry, het byvoorbeeld met 76 persent gedaal! Diegene met Tipe 2-diabetes wat hulle bloedsuikervlak streng monitor, geniet soortgelyke voordele.

Om insulienbehandeling makliker en minder traumaties te maak, het spuite en insulienpenne—die gebruiklikste toestelle—superdun naalde wat minimale ongerief veroorsaak. “Die eerste inspuiting is gewoonlik die ergste”, sê Mary Ann. “Daarna sê die meeste pasiënte dat hulle amper niks voel nie.” Ander inspuitmetodes sluit outomatiese inspuiters in wat ’n naald pynloos in die vel inskiet, straalinspuiters wat insulien letterlik in ’n fyn straal deur die vel skiet en pompe met ’n kateter wat twee of drie dae lank gebruik word. Die insulienpomp, wat ongeveer so groot soos ’n klein selfoon is, het in onlangse jare baie gewild geword. Met behulp van hierdie programmeerbare toestel word ’n vasgestelde hoeveelheid insulien volgens die liggaam se daaglikse behoeftes deur ’n kateter toegedien, wat insulientoediening akkurater en geriefliker maak.

Hou aan leer

Onthou egter dat daar nie een soort behandeling vir suikersiekte is wat in alle gevalle werk nie. Wanneer iemand behandeling oorweeg, moet hy ’n aantal faktore in ag neem sodat hy ’n persoonlike besluit kan neem. “Al word jy deur ’n mediese span behandel”, sê Mary Ann, “moet jy die besluite neem.” Trouens, die tydskrif Diabetes Care sê: “Die mediese behandeling van suikersiekte sonder stelselmatige opleiding in selfbestuur kan as substandaard- en onetiese behandeling beskou word.”

Hoe meer suikersiektelyers oor hulle siekte leer, hoe beter toegerus sal hulle wees om na hulle gesondheid om te sien en om hulle vooruitsigte op ’n langer, gesonder lewe te verbeter. Maar doeltreffende opleiding verg geduld. Die boek Diabetes—Caring for Your Emotions as Well as Your Health verduidelik: “As jy alles op een slag probeer leer, gaan jy waarskynlik verward raak en nie die inligting doeltreffend gebruik nie. Baie van die nuttigste inligting wat jy nodig gaan hê, word buitendien nie in boeke of pamflette gevind nie. Dit hou verband met . . . hoe jou bloedsuikervlak na gelang van jou roetine wissel. Dit kan slegs met verloop van tyd en deur eksperimentering geleer word.”

Deur noukeurige te let op jou liggaam se reaksies leer jy byvoorbeeld hoe jou liggaam op spanning reageer, wat jou bloedsuikervlak kan laat opskiet. “Ek lewe al 50 jaar lank met hierdie diabetiese liggaam”, sê Ken, “en ek weet wat dit vir my sê!” Die feit dat Ken na sy liggaam “luister”, het vrugte afgewerp, want hy kan nog voltyds werk—al is hy oor die 70 jaar oud!

Die belangrikheid van gesinsondersteuning

Iets wat nie in die behandeling van suikersiekte oor die hoof gesien moet word nie, is die ondersteuning van ’n mens se gesin. Trouens, een naslaanwerk sê dat “die gehalte van hulle gesinslewe moontlik die belangrikste enkele faktor is” in die behandeling van suikersiekte by kinders en jong volwassenes.

Dit is goed wanneer gesinslede oor suikersiekte leer en selfs beurte neem om saam met die lyer te gaan wanneer hy die dokter besoek. Kennis sal hulle help om ondersteunend te wees, belangrike simptome te identifiseer en te weet wat om te doen. Ted, wie se vrou sedert vierjarige ouderdom Tipe 1-diabetes het, sê: “Ek kan sien wanneer Barbara se suikervlak te laag daal. Sy raak stil in die middel van ’n gesprek. Sy sweet baie en raak om geen rede kwaad nie. En sy begin alles stadig doen.”

Net so ook wanneer Catherine, Ken se vrou, sien dat Ken bleek en sweterig begin raak en dat sy gemoedstemming verander, vra sy hom ’n eenvoudige wiskundevraag. Ken se verwarde antwoord sê vir Catherine dat sy hom nie moet toelaat om enige besluite te neem nie en gou iets aan die situasie moet doen. Ken en Barbara is baie dankbaar dat hulle ingeligte huweliksmaats het vir wie hulle lief is en wat hulle ten volle vertrou.f

Besorgde gesinslede moet ondersteunend, liefdevol en geduldig wees—eienskappe wat ’n siek persoon kan help om die lewe se uitdagings die hoof te bied en hulle gesondheid selfs kan verbeter. Karen se man het haar van sy liefde verseker, wat ’n groot verskil gemaak het. Karen vertel: “Nigel het vir my gesê: ‘Mense het kos en water nodig om te lewe, net soos jy kos en water—en ’n bietjie insulien—nodig het.’ Hierdie liefdevolle, en tog praktiese woorde, was net wat ek nodig gehad het.”

’n Mens se gesin en vriende moet ook verstaan dat suikersiekte skommelinge in die bloedsuikervlak veroorsaak, wat jou gemoedstemming kan beïnvloed. “Wanneer ek neerslagtig is omdat my suikervlak laag is”, sê een vrou, “raak ek baie stil, buierig, maklik ontsteld en gefrustreerd. Dan voel ek baie sleg omdat ek so kinderagtig was. Maar dit help wanneer ek weet dat ander die rede vir hierdie gevoelens verstaan—wat ek probeer in toom hou.”

Suikersiekte kan suksesvol behandel word, veral as die suikersiektelyer die samewerking van sy vriende en gesinslede het. Bybelbeginsels kan ook help. Hoe?

[Voetnote]

a Komplikasies sluit in hartsiekte, beroerte, swak nierwerking, perifere vaskulêre siekte en senuweebeskadiging. Swak bloedsirkulasie na die voete kan tot die vorming van sere lei, wat in ernstige gevalle vereis dat die aangetaste ledemaat afgesit moet word. Suikersiekte is ook die algemeenste oorsaak van blindheid onder volwassenes.

b Ontwaak! staan nie enige spesifieke behandeling voor nie. Diegene wat vermoed dat hulle suikersiekte het, moet ’n dokter raadpleeg wat ondervinding het in die voorkoming en behandeling van die siekte.

c Oortollige vet om die middelrif (die appelvormige liggaam) hou blykbaar groter gevaar in as vet om die heupe (die peervormige liggaam).

d Rokers loop selfs groter gevaar, want hulle gewoonte beskadig die hart en bloedsomloopstelsel, en dit vernou bloedvate. Een naslaanwerk sê dat rokers 95 persent van diegene uitmaak wat suikersiekteverwante amputasies ondergaan.

e Sommige van hierdie mense is deur mondelikse medikasie gehelp. Dit sluit geneesmiddels in wat die pankreas stimuleer om meer insulien vry te stel, ander wat die toename in die bloedsuiker vertraag en nog ander wat insulienweerstand verlaag. (Mondelikse medikasie word nie gewoonlik vir Tipe 1-diabetes voorgeskryf nie.) Tans kan insulien nie mondeliks geneem word nie, aangesien hierdie proteïen tydens vertering afgebreek word voordat dit die bloedstroom bereik. Insulienbehandeling en mondelikse medikasie is nie plaasvervangers vir oefening en ’n gesonde dieet nie.

f Mediese deskundiges beveel aan dat suikersiektelyers altyd ’n identifikasiekaart en identifiserende juweliersware dra. In ’n krisis kan dit hulle lewe red. Wanneer iemand se suikervlak laag is, kan die simptome byvoorbeeld verkeerd geïnterpreteer word as ’n ander mediese toestand of selfs as ’n alkoholprobleem.

[Venster/Prent op bladsy 6]

’n Jongmenssiekte?

Suikersiekte “word ’n jongmenssiekte”, sê dr. Arthur Rubenstein, ’n vooraanstaande endokrinoloog en dekaan by die Mount Sinai- Mediese Fakulteit in New York. Die gemiddelde ouderdom waarop mense suikersiekte kry, is inderdaad besig om te daal. “Tien jaar gelede het ons mediese studente geleer dat hierdie siekte nie by mense onder 40 voorkom nie”, sê dr. Robin S. Goland, ’n suikersiektespesialis, oor Tipe 2-diabetes. “Nou sien ons dit by mense onder 10.”

Waarom is daar ’n toename in suikersiekte onder jongmense? Soms hou dit verband met genetiese vatbaarheid. Maar gewig en die omgewing kan ook ’n rol speel. Die aantal kinders wat oorgewig is, het gedurende die afgelope twee dekades verdubbel. Wat is die rede hiervoor? “Daar was oor die afgelope 20 jaar ’n aantal veranderinge in eetgewoontes en bedrywigheidspatrone”, sê dr. William Dietz van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming. “Dit sluit in dat al hoe meer mense van kos afhanklik is wat buite die huis geëet word, dat al hoe meer mense nie ontbyt eet nie, dat al hoe meer koeldrank en kitskos gedrink en geëet word, dat minder [liggaamlike opvoeding] in skole gegee word en dat skole nie meer pouses het nie.”

Suikersiekte kan nie genees word nie. Dit is dus verstandig om die raad te volg van ’n tienderjarige suikersiektelyer wat eenvoudig sê: “Moenie gemorskos eet nie en bly fiks.”

[Venster/Prent op bladsy 8, 9]

Die rol van glukose

Glukose is soos brandstof vir die liggaam se triljoene selle. Maar om in die selle in te kom, het dit ’n “sleutel” nodig—insulien, ’n chemiese stof wat deur die pankreas vrygestel word. By Tipe 1-diabetes is insulien eenvoudig nie beskikbaar nie. By Tipe 2-diabetes produseer die liggaam insulien, maar gewoonlik nie genoeg nie.g Daarbenewens wil die selle nie insulien inlaat nie—’n toestand wat insulienweerstand genoem word. By albei vorme van suikersiekte is die gevolg dieselfde: honger selle en gevaarlike bloedsuikervlakke.

By Tipe 1-diabetes val die persoon se immuunstelsel sy insulienproduserende betaselle in die pankreas aan. Tipe 1-diabetes is dus ’n outo-immuunsiekte en word soms immuniteitsbemiddelde diabetes genoem. Virusse, giftige chemiese stowwe en sekere geneesmiddels is van die faktore wat tot ’n immuunreaksie kan lei. Oorerflikheid kan ook ’n rol speel, want Tipe 1-diabetes kom dikwels in sekere families voor, en dit is die algemeenste onder Kaukasiërs.

By Tipe 2-diabetes speel die genetiese faktor ’n selfs groter rol, maar die voorkomssyfer is hoër onder nie-Kaukasiërs. Van die hoogste voorkomssyfers is onder die Australiese en Amerikaanse inboorlinge; die laasgenoemde groep het die hoogste voorkomssyfer van Tipe 2-diabetes in die wêreld. Navorsers bestudeer die verwantskap tussen oorerflikheid en vetsug, sowel as die manier waarop oortollige vet blykbaar insulienweerstand in geneties vatbare mense bevorder.h Anders as Tipe 1-diabetes kom Tipe 2-diabetes hoofsaaklik onder diegene voor wat ouer as 40 is.

[Voetnote]

g Ongeveer 90 persent van suikersiektelyers het Tipe 2-diabetes. Dit is vroeër “insulienonafhanklike” suikersiekte of suikersiekte “van volwasse aanvang” genoem. Hierdie terme is egter nie akkuraat nie, want tot 40 persent van Tipe 2-suikersiektelyers moet insulien neem. Daarbenewens word ’n kommerwekkende aantal jongmense—waarvan party nog nie eers tieners is nie—met Tipe 2-diabetes gediagnoseer.

h Daar word gesê dat ’n persoon aan vetsug ly as hy 20 persent of meer oor sy ideale liggaamsgewig is.

[Prent]

Glukose- molekuul

[Erkenning]

Courtesy: Pacific Northwest National Laboratory

[Venster op bladsy 9]

Die rol van die pankreas

Die pankreas is ongeveer so groot soos ’n piesang en lê net agter die maag. Volgens die boek The Unofficial Guide to Living With Diabetes “handhaaf die gesonde pankreas voortdurend ’n fyn balans in die liggaam, aangesien dit die bloedsuikervlak gelyk en stabiel hou deur net die regte hoeveelheid insulien vry te stel namate glukosevlakke gedurende die dag styg en daal”. Betaselle in die pankreas produseer die hormoon insulien.

Wanneer betaselle nie genoeg insulien produseer nie, styg die glukosevlak in die bloed, wat tot hiperglukemie lei. Die teenoorgestelde toestand—lae bloedsuiker—word hipoglukemie genoem. Die lewer help die pankreas om die bloedsuikervlak te beheer deur oormatige glukose in die vorm van glikogeen te berg. Die pankreas sê vir die lewer wanneer om glikogeen weer in glukose om te sit sodat die liggaam dit kan gebruik.

[Venster/Prent op bladsy 9]

Die rol van suiker

Baie mense dink verkeerdelik dat ’n hoë suikerinname tot suikersiekte lei. Mediese getuienis toon dat vetsug—ongeag van suikerinname—die risiko onder geneties vatbare persone vergroot. Dit is nietemin ongesond om te veel suiker te eet, aangesien dit min voedingswaarde het en tot vetsug bydra.

’n Ander wanopvatting is dat suikersiektelyers ’n abnormale begeerte na suiker het. Maar hulle hou in werklikheid net soveel van lekkergoed as die meeste ander mense. Wanneer ’n lyer nie sy siekte onder beheer hou nie, sal hy dalk ’n hongergevoel hê—maar dit beteken nie noodwendig dat hy lus is vir suiker nie. Suikersiektelyers kan lekkergoed eet, maar hulle moet hulle suikerinname in ag neem wanneer hulle hulle dieet beplan.

Onlangse studies het getoon dat ’n dieet ryk aan fruktose—suiker wat in vrugte en groente voorkom—tot insulienweerstand en selfs suikersiekte in diere kan bydra, ongeag hulle gewig.

[Diagram/Prente op bladsy 8]

Suikersiekte vereenvoudig

PANKREAS

Gesonde persoon

Ná ’n maaltyd reageer die pankreas op die toename van glukose in die bloed deur die regte hoeveelheid insulien vry te stel

Insulienmolekules heg hulle aan reseptore op spierselle sowel as ander selle. Dit aktiveer weer openinge wat glukosemolekules in staat stel om in die selle in te gaan

Glukose word deur spierselle geabsorbeer en verbrand. Sodoende keer die glukosevlak in die bloedstroom terug na normaal

Tipe 1-diabetes

Die insulienproduserende betaselle in die pankreas word deur die immuunstelsel aangeval. Gevolglik word insulien nie geproduseer nie

Sonder insulien kan die glukosemolekules nie in die selle ingaan nie

Tipe 2-diabetes

In die meeste gevalle produseer die pankreas ’n beperkte hoeveelheid insulien

As die reseptore nie behoorlik op die insulien reageer nie, word die openinge, wat nodig is om glukose uit die bloed te absorbeer, nie geaktiveer nie

Die glukosevlak in die bloedstroom neem toe, wat lewensbelangrike prosesse belemmer en vaatwande beskadig

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SEL

Reseptor

Opening

Insulien

Kern

Glukose

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BLOEDVAT KERN

Rooibloedselle

Glukose

[Erkenning]

Man: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

[Prent op bladsy 7]

’n Gesonde dieet is noodsaaklik vir suikersiektelyers

[Prente op bladsy 10]

Suikersiektelyers kan aan normale aktiwiteite deelneem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel