Waarom die siektes terugkeer
SOWAT 40 jaar gelede is daar gedink dat algemene insekverspreide siektes soos malaria, geelkoors en dengue byna uitgeroei is in groot dele van die wêreld. Maar toe het die onverwagte gebeur—insekverspreide siektes het weer begin kop uitsteek.
Waarom? Een rede is dat sommige van die insekte en die mikrobes wat hulle in hulle dra, weerstand opgebou het teen die insekdoders en geneesmiddels wat gebruik is om hulle onder beheer te hou. Hierdie natuurlike aanpassingsproses is nie net aangehelp deur die oormatige gebruik van insekdoders nie, maar ook deur die verkeerde gebruik van geneesmiddels. “In te veel arm huishoudings”, sê die boek Mosquito, “kry mense die medisyne, gebruik hulle net genoeg om die simptome te verlig en hou hulle dan wat oorbly vir wanneer hulle weer siek word.” Omdat mense nie heeltemal gesond word nie, word die sterker mikrobes in hulle liggaam moontlik nie vernietig nie en bring dit ’n nuwe geslag mikrobes voort wat teen geneesmiddels bestand is.
’n Verandering in die klimaat
Iets wat baie bygedra tot die terugkeer van insekverspreide siektes, is veranderinge—in die natuur en in die mensegemeenskap. ’n Goeie voorbeeld hiervan is wêreldwye klimaatsveranderinge. Party wetenskaplikes verwag dat ’n warmer wêreldklimaat daartoe sal lei dat siektedraende insekte se habitats tot in gebiede sal uitbrei wat tans koeler is. Daar is bewyse dat dit moontlik reeds gebeur. Dr. Paul R. Epstein van die Sentrum vir Gesondheid en die Wêreldomgewing, Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit, sê: “Volgens verslae wat vandag ontvang word, kom insekte sowel as insekverspreide siektes (insluitende malaria en denguekoors) in hoërliggende gebiede in Afrika, Asië en Latyns-Amerika voor.” In Costa Rica het dengue oor die berge versprei, wat tot onlangs die siekte tot die Pasifiese kus beperk het, en nou kom dit oor die hele land voor.
Maar warmer weer kan meer as dit doen. In sommige gebiede verander dit riviere in waterplasse, terwyl dit op ander plekke tot reënbuie en vloede lei wat stagnante poele agterlaat. In albei gevalle dien die stilstaande water as ’n ideale broeiplek vir muskiete. Warmer weer verkort ook die muskiet se broeisiklus, wat hulle voortplantingstempo versnel, en dit verleng die muskietseisoen. Muskiete is meer aktief in warmer weer. Warmer weer verhoog selfs die temperatuur in die muskiet se ingewande sodat siekteveroorsakende mikrobes vinniger voortplant, wat sodoende die moontlikheid vergroot dat ’n enkele byt infeksie sal veroorsaak. Maar dit is nie al wat kommerwekkend is nie.
’n Gevallestudie
Veranderinge in die mensegemeenskap kan ook tot insekverspreide siektes bydra. Om te verstaan hoe dit kan gebeur, moet ons die rol van insekte van naderby beskou. By baie siektes is ’n insek dalk net een van ’n reeks skakels in die siekteoordragproses. ’n Dier of ’n voël kan ’n siektedraer wees as daar insekte op sy liggaam of mikro-organismes in sy bloedstroom is. As die gashere ten spyte hiervan aan die lewe kan bly, kan hulle ook ’n besmettingsbron word.
Neem byvoorbeeld Lyme-siekte, wat in 1975 geïdentifiseer en na Lyme, Connecticut, VSA, vernoem is waar dit vir die eerste keer waargeneem is. Die bakterie wat Lyme-siekte veroorsaak, het dalk ’n honderd jaar gelede met rotte of vee op skepe van Europa na Noord-Amerika gekom. Nadat ’n klein Ixodes-bosluis die bloed van ’n besmette dier uitgesuig het, bly die bakterieë in die bosluis se ingewande. Wanneer die bosluis later ’n ander dier of ’n mens byt, kan dit die bakterieë na die slagoffer se bloedstroom oordra.
In die noordoostelike Verenigde State is Lyme-siekte endemies—dit kom al lank daar voor. Die vernaamste besmettingsbron van die Lyme-siektebakterie in hierdie gebied is die witvoetmuis. Die muise dien ook as gasheer vir die bosluise, veral bosluise in hulle ontwikkelingstadium. Volwasse bosluise maak hulle gewoonlik tuis op herte, waar hulle bloed suig en voortplant. Wanneer die volwasse bosluiswyfie vol bloed is, val sy grond toe om haar eiers te lê, waaruit larwes spoedig verskyn om weer die siklus te begin.
’n Verandering in omstandighede
Patogene leef al baie jare lank saam met diere en insekte sonder dat dit siektes by mense veroorsaak het. Maar ’n verandering in omstandighede kan ’n endemiese siekte in ’n epidemie verander—’n siekte wat baie mense in ’n gemeenskap aantas. Wat het in die geval van Lyme-siekte verander?
In die verlede het roofdiere gehelp om die kontak tussen hertbosluise en die mens te beperk deur die hertbevolking onder beheer te hou. Toe vroeë Europese setlaars woude vir boerderydoeleindes skoongekap het, het die hertbevolking selfs verder afgeneem en het die hert se natuurlike vyande ook weggetrek. Maar gedurende die middel van die negentiende eeu het baie boere hulle plase verlaat omdat die landbou weswaarts geskuif het, en die woud het weer begin groei. Die herte het teruggekom, maar die roofdiere het nie. Die hert- sowel as die bosluisbevolking het dus geweldig toegeneem.
’n Ruk later het die bakterie wat Lyme-siekte veroorsaak, sy verskyning gemaak en dekades lank in dieregashere gelewe voordat dit ’n bedreiging vir mense geword het. Maar toe woonbuurte op die rand van die woud gebou is, het baie meer kinders en volwassenes in die bosluis se gebied begin inkom. Die bosluise het mense begin byt, en die mense het Lyme-siekte gekry.
Siekte in ’n onstabiele wêreld
Die scenario wat hierbo beskryf is, is slegs een van die baie maniere waarop siektes versprei en slegs een voorbeeld van hoe menslike aktiwiteite die verskyning van ’n siekte beïnvloed. “Die mens se inmenging is verantwoordelik vir byna al die siektes wat in ’n nuwe, sterker vorm teruggekeer het”, skryf die omgewingsdeskundige Eugene Linden in sy boek The Future in Plain Sight. ’n Paar ander voorbeelde is: Die gewildheid en spoed van moderne vervoermiddele kan patogene en hulle draers regoor die aarde versprei. Wanneer die habitats van diere, hetsy groot of klein, beskadig word, bedreig dit biodiversiteit. “Die lug en water word besoedel”, sê Linden, “wat die immuunstelsels van diere en mense verswak.” Hy voeg dr. Epstein se opsomming by: “Die mens se inmenging in die ekologie het in werklikheid die aarde se immuunstelsel verswak, wat gunstige toestande vir mikrobes skep.”
Politieke onstabiliteit lei tot oorloë wat ekosisteme beskadig en die infrastruktuur vernietig waardeur gesondheidsorg en voedselverspreiding moontlik gemaak word. Die Biobulletin van die Amerikaanse Natuurhistoriese Museum sê verder: “Vlugtelinge, wat ondervoed en swak is, word dikwels gedwing om in kampe te bly waar die oorbevolkte en onhigiëniese toestande mense aan ’n verskeidenheid van infeksies blootstel.”
Mense migreer weens ekonomiese onstabiliteit oor en binne landsgrense en hoofsaaklik na oorbevolkte stadsgebiede. “Patogene hou van oorbevolkte plekke”, verduidelik die Biobulletin. Wanneer daar ’n bevolkingsontploffing in stadsgebiede is, “kan noodsaaklike openbare gesondheidsmaatreëls, soos basiese opvoeding asook voedings- en inentingsprogramme, dikwels nie byhou nie”. Oorbevolking plaas ook ’n groter las op water-, riool- en afvalverwerkingstelsels, wat sanitasie en persoonlike higiëne moeilik maak en terselfdertyd ideale toestande vir insekte en ander siektedraers skep. Maar die situasie is nie hopeloos nie, soos die volgende artikel sal toon.
[Lokteks op bladsy 11]
“Die mens se inmenging is verantwoordelik vir byna al die siektes wat in ’n nuwe, sterker vorm teruggekeer het”
[Venster/Prent op bladsy 7]
Die Wes-Nyl-virus versprei na die Verenigde State
Die Wes-Nyl-virus, wat hoofsaaklik deur middel van muskiete na die mens oorgedra word, is vir die eerste keer in 1937 in Uganda geïsoleer en later in die Midde-Ooste, Asië, die Suidsee-eilande en Europa waargeneem. Die virus is eers in 1999 in die Westelike Halfrond waargeneem. Maar sedertdien is meer as 3 000 infeksies in die Verenigde State aangemeld en meer as 200 mense het al gesterf.
Die meeste besmette mense is nooit bewus daarvan dat hulle die infeksie het nie, hoewel party griepagtige simptome kry. Maar ’n klein persentasie mense word ernstig siek en kry onder meer ensefalitis en rugmurgvliesontsteking. Daar bestaan nog nie ’n voorkomende entstof of spesifieke behandeling vir die Wes-Nyl-virus nie. Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming waarsku dat mense die Wes-Nyl-virus ook deur orgaanoorplantings of besmette skenkerbloed kan kry. “Daar is tans geen manier om bloed vir die Wes-Nyl-virus te toets nie”, het die Reuters-nuusdiens in 2002 berig.
[Erkenning]
CDC/James D. Gathany
[Venster/Prente op bladsy 8, 9]
Hoe Kan Jy Jou Beskerm? ’n Paar moets en moenies
Ontwaak! het met inwoners van insek- en siektegeteisterde gebiede oor die wêreld gepraat vir wenke oor hoe om gesond te bly. Jy sal hulle raad dalk nuttig vind waar jy woon.
Sindelikheid—Jou eerste linie van verdediging
◼ Hou jou huis skoon
“Hou voedselhouers toe. Bedek gaargemaakte voedsel totdat dit bedien word. Voedsel wat gemors is, moet dadelik opgevee word. Moenie vuil skottelgoed oornag laat staan of voedselafval buite gooi en dit eers in die oggend verwyder nie. Bedek of begrawe dit, aangesien insekte en knaagdiere in die nag uitkom om kos te soek. ’n Dun sementvloer maak dit ook makliker om die huis skoon en insekvry te hou.”—Afrika.
“Moenie vrugte of enigiets anders wat insekte lok in die huis hou nie. Moenie plaasdiere—bokke, varke, hoenders—in die huis toelaat nie. Bedek buitetoilette. Begrawe diereuitwerpsels dadelik of gooi kalk daaroor om vlieë weg te hou. Al doen jou bure dit nie, sal jy dalk die aantal insekte onder beheer kan hou en ook ’n goeie voorbeeld stel.”—Suid-Amerika.
[Prent]
As jy nie kos of vullis bedek nie, nooi jy insekte in werklikheid om saam met jou te eet
◼ Persoonlike higiëne
“Seep is bekostigbaar. Was jou hande en klere dus dikwels, veral ná kontak met mense of diere. Moenie aan dooie diere raak nie. Probeer om nie aan jou mond, neus en oë met jou hande te vat nie. Klere moet gereeld gewas word, selfs al lyk dit skoon. Maar vermy seep en ander reinigingsmiddels wat gegeur is, aangesien sekere geure insekte lok.”—Afrika
Voorkomende maatreëls
◼ Elimineer muskietbroeiplekke
Bedek watertenks en wasbakke. Raak ontslae van alle oop houers wat water opvang. Moenie dat water in potplanthouers staan nie. Muskiete kan in enige waterplas broei wat langer as vier dae staan.—Suidoos-Asië.
◼ Beperk blootstelling aan insekte
Vermy die tye wanneer en die plekke waar insekte gewoonlik kos soek. Omdat die son in die trope vroeg ondergaan, doen mense baie van hulle dagtake in die donker, wanneer baie insekte meer aktief is. Wanneer insekverspreide siektes algemeen voorkom, loop jy groter gevaar om dit te kry as jy buite sit en slaap.—Afrika.
[Prent]
As jy in ’n muskietgebied buite slaap, nooi jy muskiete in werklikheid om aan jou te kom smul
Dra klere wat soveel van jou vel as moontlik bedek, veral wanneer jy in die bos is. Smeer insekmiddels aan jou klere en vel; volg altyd die instruksies op die etiket. Kyk of jy en jou kinders bosluise opgetel het nadat julle in die veld was. Hou jou troeteldiere gesond en insekvry.—Noord-Amerika.
Beperk kontak met plaasdiere, aangesien insekte siektes van die diere na mense kan oordra.—Sentraal-Asië.
Gebruik muskietnette—verkieslik dié wat met insekmiddels behandel is—vir die hele gesin. Gebruik gaasskerms voor die vensters, en hou die skerms in ’n goeie toestand. Seël openinge onder daklyste waar insekte kan inkom. Hierdie soort voorkomende maatreëls kos geld, maar jy gaan selfs meer geld verloor as jy ’n kind hospitaal toe moet neem of as ’n broodwinner te siek word om te werk.—Afrika.
[Prent]
Muskietnette wat met insekdoder behandel is, is goedkoper as medisyne en hospitaalrekeninge
Moenie insekte wegkruipplek in jou huis gee nie. Pleister mure en plafonne, en maak krake en gate reg. Bedek die binnekant van ’n grasdak met insekbestande lap. Verwyder onnodige voorwerpe—soos opgestapelde papier of lappe of baie prente teen die mure—waar insekte wegkruip.—Suid-Amerika.
Sommige mense beskou insekte en knaagdiere as gaste in hulle huis. Hulle is nie! Hou hulle buite. Gebruik insekmiddels en -doders—maar slegs volgens die instruksies. Gebruik vlieëvangers en vlieëslaners. Wees vindingryk: Een vrou het ’n langwerpige lapsak gemaak, dit met sand gevul en dit onder teen die deur gesit om insekte uit te hou.—Afrika.
[Prent]
Insekte behoort nie gaste in ons huis te wees nie. Raak ontslae van hulle!
◼ Voorkomende geneesmiddels
Bou jou weerstand op deur gesond te eet en genoeg rus en oefening te kry. Verminder spanning.—Afrika.
Reisigers: Kry vooraf die jongste inligting oor die gevare. Inligting is beskikbaar by openbare gesondheidsdepartemente en op regeringswebwerwe. Voordat jy op reis gaan, tref gepaste voorsorgmaatreëls vir die gebied wat jy gaan besoek.
As jy siek voel
◼ Kry onmiddellik mediese hulp
Die meeste siektes is makliker om te genees wanneer dit vroeg gediagnoseer word.
◼ Wees versigtig vir ’n verkeerde diagnose
Gaan na dokters wat vertroud is met vektorverspreide siektes en met tropiese siektes as jy in die trope was. Beskryf al jou simptome aan die dokter en sê vir hom watter plekke jy besoek het, selfs in die verlede. Gebruik slegs antibiotika as dit nodig is, en voltooi die kursus.
[Prent]
Insekverspreide siektes kan maklik met ander siektes verwar word. Gee jou dokter al die inligting wat hy nodig het
[Erkenning]
Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Venster/Prent op bladsy 10]
Versprei insekte MIV?
Ná meer as ’n dekade van navorsing het insektekundiges en mediese wetenskaplikes geen bewyse gevind dat muskiete of enige ander insekte MIV—die vigs-virus—oordra nie.
Byvoorbeeld, muskiete se monddele is nie soos ’n spuit met ’n enkele opening waardeur bloed teruggespuit kan word nie. Wat eerder gebeur, is dat muskiete bloed deur een opening opsuig en speeksel deur ’n ander een afskei. Daarna, verduidelik Thomas Damasso, ’n MIV-spesialis met die Streeksgesondheidsorgspan in Mongu, Zambië, breek die muskiet se spysverteringstelsel die bloed af, wat die virus vernietig. MIV word nie in insekuitwerpsels gevind nie. En anders as malariaparasiete dring MIV nie die muskiet se speekselkliere binne nie.
Om met MIV besmet te word, moet ’n mens aan ’n groot hoeveelheid besmette partikels blootgestel word. As ’n muskiet se maaltyd onderbreek word en dit reguit na ’n ander slagoffer vlieg, sal enige bloed wat op die monddele agterbly, te min wees om enige besmetting oor te dra. Selfs as ’n mens ’n muskiet wat vol MIV-positiewe bloed is, op ’n oop wond doodslaan, sal dit volgens deskundiges nie ’n MIV-infeksie veroorsaak nie.
[Erkenning]
CDC/James D. Gathany
[Prente op bladsy 7]
Die hertbosluis (vergroot in foto, regs) versprei Lyme-siekte na mense
Links na regs: Volwasse wyfie, volwasse mannetjie en nimf, almal werklike grootte
[Erkenning]
Alle bosluise: CDC
[Prente op bladsy 10, 11]
Vloede, onhigiëniese toestande en menslike migrasie dra by tot die verspreiding van insekverspreide siektes
[Erkenning]
FOTO UNACIONES (from U.S. Army)