Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 6/22 bl. 10-11
  • Reënwoude—Wie sal dit red?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Reënwoude—Wie sal dit red?
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die grondoorsake van ontbossing
  • Watter hoop vir die reënwoude?
  • Reënwoude—Kan dit gered word?
    Ontwaak!—2003
  • Woude
    Ontwaak! – 2023
  • Het die woude ’n toekoms?
    Ontwaak!—1990
  • Die voordele van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 6/22 bl. 10-11

Reënwoude—Wie sal dit red?

ENIGIEMAND wat die probleme in verband met reënwoude wil oplos, moet eers aan die oorsake aandag skenk. Wat is dit? ’n Mens kan nie net oorbevolking die skuld gee nie. Die wêreld se bevolking—en selfs meer—kan maklik deur die vrugbare gebiede van die aarde onderhou word.

Trouens, regerings in party lande is besorg oor oorproduksie op plase, wat kospryse laat daal. Sommige regerings spoor boere aan om hulle grond in plekke vir ontspanning te omskep, soos kampeerterreine, golfbane of natuurreservate.

Waarom krimp die wêreld se woude dan? Ons moet dieperliggende oorsake ondersoek as wat ons tot dusver genoem het.

Die grondoorsake van ontbossing

Lank voor die huidige bevolkingsontploffing het baie regerings woude geplunder in hulle najaging van mag en rykdom. Die Britse Ryk se behoefte aan timmerhout het byvoorbeeld gelei tot die vernietiging van Brittanje se eie eikewoude en toe die kiaatwoude van Birma en Thailand. Dieselfde ryk het woude in Indië gestroop vir brandstof vir hulle ystergieterye. Ander woude is uitgekap om plek te maak vir rubber-, koffie- en kokaoplantasies.

Maar ná die Tweede Wêreldoorlog het kettingsae en stootskrapers dit moontlik gemaak om woude op ’n nuwe skaal te oes. Al hoe meer kwesbare woude is oorbenut as ’n bron van inkomste.

Groot maatskappye het groot stroke vrugbare land gekoop en gemeganiseerde toerusting gebruik om kontantgewasse te oes. Duisende plattelanders het hulle werk verloor en stad toe getrek. Ander is egter aangespoor om na die reënwoude te trek. Hierdie gebiede is soms geadverteer as “grond sonder mense vir mense sonder grond”. Teen die tyd dat mense besef het hoe moeilik dit is om in sulke plekke te boer, was dit dikwels te laat—’n groot deel van die woud het reeds in die slag gebly.

Korrupsie onder amptenare het ook vir baie woude die doodsvonnis gevel. ’n Houtkapperspermit beteken groot geld. Daar is gevalle van oneerlike amptenare wat korttermynkonsessies aan maatskappye gegee het. Hierdie maatskappye stroop woude sonder om eers aan bewaring te dink.

Die grootste bedreiging vir die natuurlewe in woude is egter nie houtkappery nie, maar die omskepping van bosland in landbougrond. Wanneer die grond vrugbaar is, kan so ’n stap in sommige gevalle geregverdig wees. Maar dikwels het korrupte of onbevoegde amptenare woude onnodig opgeoffer wat nooit herstel sal kan word nie.

Woude word ook deur misdadigers beskadig. Onwettige houtkappers kap kosbare bome in die geheim, selfs bome in nasionale parke. Soms saag hulle stompe sommer in die woud op—’n onwettige gebruik wat tot baie vermorsing lei. Plaaslike mense word betaal om die hout op fietse of selfs op hulle rug uit te dra. Dan neem vragmotors dit in die donker op stil bergpaaie weg om kontrolepunte te vermy.

Ontbossing en die verlies van dierelewe is dus nie die onvermydelike gevolg van bevolkingsgroei nie. Dit is dikwels die gevolg van wanbestuur, gierigheid onder sakemense, misdaad en korrupte regerings. Watter hoop is daar dan om die groot diversiteit van lewe in tropiese reënwoude te bewaar?

Watter hoop vir die reënwoude?

“Slegs ’n fraksie van die wêreld se tropiese woude word doeltreffend bestuur”, sê die boek The Cutting Edge: Conserving Wildlife in Logged Tropical Forest. Dit voeg by: “Tans word min (indien enige) woude suksesvol op ’n volhoubare manier bestuur.” Volhoubare bestuur is beslis moontlik, maar vinnige ontbossing is die werklikheid wat ons wêreldwyd in die gesig staar.

Daar is al gesê dat Bolivia ’n merkwaardige uitsondering in hierdie opsig is, aangesien 25 persent van die land se tropiese reënwoude gesertifiseer is as volhoubaar bestuurde woude. Maar wêreldwyd is die syfer dalk minder as een persent—’n teleurstellende klein persentasie. Die meeste tropiese woude word roekeloos oorbenut. Selfsug en hebsug is die ware dryfvere agter hierdie vernietiging. Hoe redelik is dit om te hoop dat die wêreld se sakemanne en politici die vernietiging sal stopsit en die mensdom se onvervangbare erfenis sal begin beskerm?

Die boek Forests of Hope sluit af met hierdie ideaal vir die mensdom: “Om ’n lewenswyse te ontdek en na te streef wat vir mense regoor die wêreld geskik is en wat nie die aarde en sy hulpbronne vernietig nie.” Dit is ’n edele doelwit—maar is dit realisties?

Wat het ons Skepper vir die aarde en die mensdom in gedagte gehad? Hy het die eerste mensepaar beveel: “Vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Genesis 1:28). God laat die mensdom dus wel toe om die skepping te benut. Maar die feit dat ons die skepping mag “onderwerp”, gee ons nie die reg om dit te vernietig nie.

Die vraag is dus: Kan die mensdom werklik sy lewenswyse op ’n wêreldskaal verander sodat hulle nie meer “die aarde en sy hulpbronne [sal] vernietig nie”? Daardie woorde impliseer ’n liefde vir ons naaste en ’n respek vir God se skepping wat in vandag se wêreld seldsaam is. Om te hoop dat die mensdom se leiers so ’n lewenswyse sal aanneem en bevorder, is wensdenkery.

God se Woord voorspel nietemin ’n tyd wanneer die aarde vol mense sal wees wat hulle medemens en hulle Skepper liefhet. Die Bybel sê: “Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek” (Jesaja 11:9; Psalm 37:29; Matteus 5:5). Let op dat God se volk “geen kwaad” doen of “enige verderf” aanrig nie omdat hulle Jehovah, die Grootse Skepper, leer ken en liefkry het. Sulke mense sal beslis nie die aarde verderf nie.

Dit is nie net ’n droom nie. Jehovah versamel nou reeds opregte mense en leer hulle. Wêreldwyd het miljoene danksy hulle studie van God se Woord ’n lewenswyse aangeneem wat op selfopofferende liefde vir ander gebaseer is (Johannes 13:34; 1 Johannes 4:21). Hierdie tydskrif sowel as sy medetydskrif, Die Wagtoring, word uitgegee om mense te help om meer te leer oor daardie lewenswyse en hoe om dit aan te neem. Ons wil jou aanspoor om aan te hou leer. Geen studieveld kan lonender wees nie.

[Prente op bladsy 10]

Die mens sal ons pragtige aarde oppas, nie verderf nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel