Reënwoude—Kan ons dit benut sonder om dit te vernietig?
DINK jy dat die bosboubedryf die reg het om die wêreld se tropiese reënwoude te vernietig? Jy antwoord waarskynlik nee! Maar party ekoloë voel sterk daaroor dat baie wat nee sou sê, in werklikheid reeds ja gesê het—deur byvoorbeeld meubels te koop wat van pragtige en gewilde tropiese hout gemaak is en uit reënwoude in plaas van plantasies kom.
Vir baie mense is houtkappery en ontbossing een en dieselfde ding. En dit is so dat baie woude deur houtkappery vernietig word. Maar daar word beweer dat ander woude met net geringe skade geoes is. Kan tropiese reënwoude en die dierelewe daarin behoue bly ondanks houtkappery? Kom ons ondersoek eers hoe houtkappery ’n woud kan vernietig.
Hoe houtkappery woude en dierelewe kan vernietig
Hier is een scenario: Stootskrapers begin om paaie tot diep in ’n woud oop te stoot. Werkers met kettingsae volg kort op hulle hakke. Die bosboumaatskappy het slegs ’n korttermynpermit om hout te kap, en daarom word die werkers aangesê om alles van waarde af te kap. Terwyl die bemarkbare bome val, beskadig of vernietig hulle aangrensende bome waaraan hulle met rankplante verbind is. Daarna breek swaar rusperbandvoertuie ’n pad deur die digte plantegroei oop om die hout uit te sleep en trap dit die dun lagie grond so vas dat dit feitlik nutteloos is.
Bosbouwerkers eet gewoonlik meer vleis as die plaaslike inwoners. Die woud word vir wild gefynkam; dikwels word meer diere doodgemaak as wat werklik nodig is. Die paaie wat die bosbouwerkers agterlaat, stel ’n gebied oop wat vroeër ontoeganklik was. Jagters kan nou met hulle voertuie en vuurwapens kom en die wild skiet wat oorgebly het. Strikspanners vang die kleiner diere en voëls vir die winsgewende troeteldierhandel. Dan kom die grondlose duisende wat hulle daar vestig en ’n bestaan in die pas oopgestelde gebied probeer maak. Die oorblywende bome verdwyn weens hulle kap-en-brand-boerderymetode, en wanneer dit swaar reën spoel die dun lagie bogrond weg.
Die woud is in werklikheid kaalgestroop. Houtkappery was net die eerste stap. Maar moet die benutting van tropiese reënwoude so vernietigend wees?
Lae-impakhoutkappery
In onlangse jare was daar hernieude belangstelling in die konsep van lae-impakhoutkappery en volhoubare bosbestuur. Die doel is om hout op so ’n manier te oes dat dit net geringe skade vir die woud en die diere daarin tot gevolg het. Die woud herstel geleidelik sodat bome weer ’n paar dekades later daar geoes kan word. Weens die druk van bewaringsgesindes adverteer sommige handelaars nou hulle hout as produkte wat uit volhoubaar bestuurde woude kom. Kom ons kyk wat lae-impakhoutkappery behels.
’n Bosbouer en ’n groep helpers stoot ’n pad deur die onderbos oop. Hulle is een van verskeie groepe wat ongeveer ses maande in die woud sal deurbring om ’n woudinventaris op te stel. Die bosboumaatskappy het ’n langtermynkonsessie hier, en daarom het die werkers die tyd om hierdie boomopname te doen sodat die woud vir toekomstige benutting bewaar kan word.
Die bosbouer merk elke boom met ’n registrasienommer en identifiseer die spesie. Daar is honderde variëteite, en daarom moet hy ’n kenner op sy gebied wees. Maar die volgende stap vereis moderne tegnologie.
Met behulp van ’n handtoestel wat met satelliete van die Globale posisiebepalingstelsel (GPS) kommunikeer, sleutel die bosbouer die boomgrootte, spesie en registrasienommer in. Dan stuur hy al die besonderhede van daardie boom, insluitende sy presiese posisie, met die druk van ’n knoppie van die woud na ’n rekenaar in ’n bedrywige stad ver daarvandaan.
Later druk die woudbestuurder ’n kaart uit met die besonderhede van elke boom in die woud wat kommersiële waarde het. Hy kies presies watter bome volgens amptelike regulasies gekap mag word. Met baie spesies spesifiseer die konsessie dat net 50 persent van die bome wat groter as ’n sekere deursnee is, gekap mag word. Die oudste en gesondste bome moet as saaddraers agtergelaat word.
Maar hoe kan ’n mens bome afkap sonder om die woud te beskadig? Ontwaak! het hierdie vraag aan Roberto gestel, die bosbouer wat in die vorige artikel gemeld is. Hy het verduidelik: “Die kaart is die sleutel. Met die boomkaart kan ons die oes beplan sodat daar so min as moontlik skade aan die woud gedoen word. Selfs die rigting waarin die bome val, kan beplan word sodat skade aan ander bome tot ’n minimum beperk word.
“Ons kan ook beplan om die hout met katrolle uit te sleep in plaas daarvan om stootskrapers te gebruik om ’n pad na elke boom oop te breek. Voordat houtkappers ’n boom afkap, sny hulle eers rankplante af wat bome aan mekaar verbind—weer eens om onnodige skade te verminder. Ons werk die konsessie volgens ’n rotasiestelsel, wat beteken dat ons elke jaar ’n sekere gebied karteer en oes sodat ons nie voor ten minste 20 jaar weer na dieselfde plek sal terugkeer nie. Vir party woudgebiede is dit 30 jaar.”
Maar Roberto werk vir ’n bosboumaatskappy. Ontwaak! het hom dus gevra: “Hoe belangrik is die beskerming van die natuurlewe werklik vir houtkappers?”
Hoe hulle die diere beskerm
“Jy kan nie ’n gesonde woud sonder diere hê nie”, sê Roberto. “Hulle is noodsaaklik vir bestuiwing en saadverspreiding. Ons doen alles in ons vermoë om nie die wilde diere te versteur nie. Ons beplan toegangspaaie byvoorbeeld op so ’n manier dat daar nie te veel van hulle is nie. Waar dit hoegenaamd moontlik is, maak ons paaie smal genoeg sodat daar nie ’n opening in die blaredak is nie. Dit stel diere soos luidiere en ape in staat om die paaie oor te steek sonder om grond toe te kom.”
Roberto wys na ’n paar gekleurde gebiede op sy kaart. Hierdie dele moet onaangeraak bly. ’n Beskermde strook aan weerskante van elke stroom laat diere byvoorbeeld toe om van een gebied na ’n ander in ononderbroke woud te beweeg.
“Buiten die lewensbelangrike habitats langs die strome”, verduidelik hy, “beskerm ons ook grotte, klipbanke, ou bome met holtes, bome wat vlesige vrugte dra—trouens, enige gebied wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van ’n sekere spesie. Om onwettige jagtery te voorkom, verbied ons ons werkers om vuurwapens te hê, en ons bring beesvleis en hoender per vliegtuig na die houtkapperskamp sodat hulle nie wildsvleis nodig sal hê nie. Dan, wanneer ons klaar is met ’n gebied, maak ons seker dat ons die paaie versper of die toegang tot daardie paaie beheer om te keer dat jagters of onwettige houtkappers in die woud kom.
“Ek is heel gelukkig om dit alles te doen omdat dit vir my belangrik is om God se skepping te bewaar. Maar byna al die maatreëls wat ek beskryf het, word deur internasionale regulasies vereis voordat ’n woud as ’n volhoubaar bestuurde gebied gesertifiseer kan word. Om ’n sertifikaat te kry, moet ’n maatskappy inspekteurs van internasionale organisasies tevrede stel.”
Is woude wat volhoubaar bestuur word, winsgewend? Behalwe vir ’n paar entoesiaste soos Roberto is houtkappers oor die algemeen nie baie entoesiasties oor planne om die natuurlewe te bewaar nie. Sulke beperkings word dikwels beskou as iets wat die winste verminder.
Nietemin het studies wat in die laat 1990’s in die oostelike Amasonegebied gedoen is, bevind dat die koste wat daaraan verbonde is om bome te karteer, rankplante te sny en stompe volgens ’n plan uit te sleep meer as teruggewin word omdat hierdie metodes doeltreffender is. Minder stompe is byvoorbeeld verloor. Sonder sulke kartering sal ’n kettingsaagspan dikwels ’n boom vel wat die uitsleepspan nie in die digte woud kan vind nie.
Verder kan dit makliker wees om hout te verkoop wat deur ’n onafhanklike liggaam gesertifiseer is as ’n produk wat uit ’n volhoubaar bestuurde woud kom. Maar word biodiversiteit werklik deur lae-impakhoutkappery beskerm? Hoeveel van die natuurlewe oorleef wanneer ’n reënwoud geoes word?
Kan die dierelewe houtkappery oorleef?
Tropiese reënwoudekosisteme is weliswaar delikaat en kompleks. Maar dit kan onder sekere omstandighede verbasende herstelvermoë hê. As daar byvoorbeeld ongeskonde woud naby ’n geoeste gebied is, sal jong boompies van die geoeste spesies mettertyd opkom om die openinge toe te groei wat in die blaredak agtergelaat is. Maar wat van die diere, voëls en insekte?
Houtkappery het ’n uiters negatiewe uitwerking op ’n paar spesies, en gewoonlik neem die aantal voël- en dieresoorte in die gebied af. Maar die uitwerking van lae-impakhoutkappery op die meeste spesies is dikwels baie klein. Trouens, dit kan in sommige spesies se guns tel wanneer openinge in die blaredak gemaak word. Volgens onlangse navorsing kan die teenwoordigheid van mense—selfs wanneer party van hulle selektiewe houtkappery doen—moontlik die biologiese diversiteit van reënwoude vergroot.
Daar is dus baie bewyse wat daarop dui dat tropiese reënwoude op ’n verantwoordelike manier geoes kan word, sonder om permanente skade aan die diversiteit van lewe te doen. Londen se Economist het gesê: “Net 10% van die oorblywende woud, as dit volhoubaar bestuur word, kan in die huidige vraag na tropiese hardehout voorsien. Houtkappery kan dan heeltemal verbied word in ’n groot deel van wat oorbly.”
’n Voorbeeld van ’n gebied wat algehele beskerming geniet, is die woud wat in die eerste artikel genoem is. Ramiro beskerm dit omdat wetenskaplikes verskeie bedreigde spesies daar geïdentifiseer het. Sulke wolkwoude is seldsaam en die diversiteit van lewe daarin is buitengewoon groot. “Die sleutel tot bewaring is voorligting”, verduidelik Ramiro. “Toe die plaaslike mense eers besef dat hulle van die woud afhanklik is vir water, wou hulle dit bewaar.”
Ramiro voeg by: “Ekotoerisme is ook belangrik omdat besoekers leer waarom die verskillende bome en plante wat hulle sien, beskerm moet word. Ná hulle besoek het hulle ’n groter waardering vir die woud en die dierelewe daarin.”
Ramiro en Roberto se voorbeeld toon dat die mens die tropiese reënwoud kan benut sonder om dit en die dierelewe daarin te vernietig. Maar die feit dat dit gedoen kan word, beteken nie dat dit noodwendig gedoen sal word nie. Vandag kan sommige mense seker maak dat die tropiese hout wat hulle koop uit gesertifiseerde woude kom wat volhoubaar bestuur word. Maar ander kan nie. Sal bewaringspogings dus die woude se ryk diversiteit van lewe red?
[Kaarte op bladsy 7]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BOLIVIA
Die kaart aan die regterkant gee besonderhede van elke boom; soos hierbo gesien kan word, verteenwoordig die kaart slegs ’n klein deel van Bolivia
[Erkenning]
Alle kaarte behalwe bo links: Aserradero San Martin S.R.L., Bolivia
[Prente op bladsy 7]
Elke boom word individueel genommer en volgens spesie geïdentifiseer. Dan word sy presiese posisie met behulp van ’n GPS-monitor (bo) opgeteken
[Prent op bladsy 7]
‘Die woud se inventariskaart is die sleutel tot die beplanning van ’n woudoes wat die woud of die dierelewe daarin nie permanent sal beskadig nie.’—Roberto
[Prent op bladsy 8, 9]
“Die sleutel tot bewaring is voorligting.”—Ramiro
[Foto-erkenning op bladsy 9]
Foto: Zoo de Baños