Jongmense vra . . .
Waarom voel ek dat ek volmaak moet wees?
“Aangesien my pa ’n onderwyser was, het almal verwag dat ek onderskeidings in al my vakke kry. Partykeer het ek my aan die slaap gehuil.”—Leah.a
“Ek is ’n perfeksionis. Ek moet die beste in alles wees of dinge heeltemal anders as die res doen, anders is dit nie die moeite werd om dit te doen nie.”—Caleb.
VOEL jy dat jy altyd volmaak moet wees? Is jy altyd bekommerd dat jy nooit goed genoeg is nie, al probeer jy hoe hard? Vind jy dit moeilik om enige kritiek te aanvaar? Gee jy jouself die skuld wanneer dinge skeef loop en dink jy dan dat jy dom, minderwaardig of niks werd is nie? Dink jy dat as jy iets reg gedoen wil hê jy dit self moet doen? Is jy soms so bang dat jy sal misluk dat jy dinge uitstel of nie in staat is om enigiets te doen nie?
Wat van jou verhoudings met ander? Vind jy dat jy nie vriende het nie omdat niemand rondom jou volmaak genoeg is nie? Is jy behep met die swakhede en tekortkominge van ander? As jy ja antwoord op enige van hierdie vrae, dan worstel jy heel waarskynlik met iets wat perfeksionisme genoem word. En as dit die geval is, is jy beslis nie die enigste een nie. Dit is iets algemeens onder jongmense—veral onder jongmense wat begaaf is of uitblink.b
Wat gee aanleiding tot perfeksionisme? Navorsers het net teorieë hieroor. Die boek Perfectionism—What’s Bad About Being Too Good? sê: “Perfeksionisme is nie ’n siekte nie; jy het dit nie opgedoen nie. Perfeksionisme is nie oorerflik nie; jy is nie daarmee gebore nie. Hoe het jy dan ’n perfeksionis geword? Sommige deskundiges meen dat perfeksionisme gedurende die kinderjare ontwikkel. Gesinsdruk, selfopgelegde druk, sosiale druk, mediadruk en onrealistiese rolmodelle is saam ’n kragtige invloed wat sommige mense hulle hele lewe lank bekommerd maak, skuldig laat voel en te hard laat werk.”
Wat ook al die oorsaak is, dit kan skadelik vir jou wees as jy voel dat jy altyd volmaak moet wees. Kom ons kyk ’n bietjie na perfeksionisme en waarom dit jou kan benadeel.
Wat is perfeksionisme?
Perfeksionisme behels meer as om net te streef na voortreflikheid of om trots te wees op werk wat goed gedoen is. Trouens, in Spreuke 22:29 prys die Bybel die man wat “vaardig is in sy werk”. Die Bybel praat ook gunstig van ’n aantal persone wat uiters bedrewe geword het in verskeie vaardighede (1 Samuel 16:18; 1 Konings 7:13, 14). Dit is dus goed om na voortreflikheid te streef, om hoë maar realistiese doelwitte te stel. Sodoende kan ’n mens ‘jou siel die goeie laat sien weens jou harde werk’.—Prediker 2:24.
Die perfeksionis ondervind egter nie hierdie bevrediging nie. Sy beskouing van wat dit beteken om te presteer, is glad nie gesond nie. Volgens sommige deskundiges behels perfeksionisme “onbereikbare doelwitte (d.w.s. volmaaktheid) en ’n voortdurende ontevredenheid ongeag hoe hy presteer”. Gevolglik is perfeksionisme “’n chroniese bron van spanning wat die persoon dikwels laat voel dat hy/sy ’n mislukking is”. Een bron definieer perfeksionisme dus as “die onredelike oortuiging dat jy en/of jou omgewing volmaak moet wees”. Dit is “’n allesoorheersende gesindheid dat alles wat jy aanpak tot in die fynste besonderhede volmaak moet wees, sonder enige afwykings, foute, flaters of teenstrydighede”.
Maar het Jesus nie gesê: “Julle moet dan volmaak wees, soos julle hemelse Vader volmaak is” nie? (Matteus 5:48). Ja, maar Jesus het nie gesê dat ’n mens in die absolute sin volmaak kan wees nie. Die Bybel leer immers dat ‘almal gesondig het en te kort skiet aan die heerlikheid van God’ (Romeine 3:23). Wat het Jesus dan bedoel? In die Bybel dra die woord “volmaak” die gedagte van volkomenheid oor (Matteus 19:21). Toe Jesus gesê het dat ons volmaak moet wees, het hy liefde bespreek en sy volgelinge aangemoedig om meer volkome in hulle liefde te wees. Hoe? Deur selfs hulle vyande lief te hê. Die Bybelskrywer Lukas haal Jesus soos volg aan: “Hou aan om barmhartig te word, net soos julle Vader barmhartig is.”—Lukas 6:36.
Maar perfeksioniste is onder die wanindruk dat dit moontlik is om in die absolute sin volmaak te wees. Derhalwe stel hulle dalk hoë eise aan ander mense. Volgens die boek Never Good Enough—Freeing Yourself From the Chains of Perfectionism is perfeksioniste “mense wat gefrustreerd is deur die manier waarop ander blykbaar hulle werk doen . . . Volgens hulle gee die mense rondom hulle nie om of hulle goeie werk doen nie en is hulle ook nie trots op hulle werk nie.”
Carly doen byvoorbeeld goed op skool en is by ’n program vir begaafde leerlinge ingeskryf. Maar in persoonlike verhoudings is sy nie so suksesvol nie. Omdat sy wil hê dat alles volmaak moet wees, het sy die meeste van haar vriende verloor. “Ek dink dat hulle te onvolmaak was”, verduidelik sy.
Ander verwag dalk volmaaktheid van hulleself, nie van ander nie. Die boek Never Good Enough verduidelik dat sulke mense voel dat “hulle as persoon of wat hulle doen nie goed genoeg is nie . . . , en [hulle] is veral besorg oor wat ander van hulle dink”.
Waarom perfeksionisme ’n probleem is
Die strewe na volmaaktheid is glad nie gesond of nuttig nie, maar is dikwels ongesond en skadelik. En in plaas van voortreflikheid te bevorder, lei dit dikwels tot mislukking. ’n Christenman genaamd Daniel onthou hoe hy lank en hard gewerk het aan ’n mondelinge aanbieding wat hy in ’n klas by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies moes gee. Baie mense in die gehoor het hom geprys vir die mooi toespraak wat hy gehou het. Daarna het die instrukteur taktvol vir Daniel ’n paar wenke gegee. Die Bybel moedig ons aan om ‘na raad te luister en dissipline te aanvaar’ (Spreuke 19:20). Maar in plaas daarvan dat Daniel die opbouende kritiek verwelkom het, het hy soos ’n mislukking gevoel. “Ek wou in ’n gat inkruip”, vertel hy. Hy het weke lank slaaplose nagte gehad.
Perfeksionisme kan dus die leerproses belemmer. In ’n artikel wat op ’n webwerf vir jongmense verskyn het, het ’n jong meisie genaamd Rachel geskryf: “Toe ek hoërskool toe gegaan het, was ek vasbeslote om goed te doen. Ek het altyd net onderskeidings in my vakke gekry en ek het geen rede gesien waarom dit moes verander nie.” Maar Rachel het gou uitgevind dat sy met algebra sukkel en het “net” ’n B-plus gekry. “Vir al die ander was dit ’n goeie punt”, sê Rachel, “maar vir my . . . was dit ’n vernedering. Ek het paniekerig en bekommerd begin raak . . . Ek was bang om my onderwyser te vra om my met my huiswerk te help, want deur dit te doen, het ek gedink, erken ek as ’t ware dat ek nie die werk verstaan nie. . . . Partykeer het ek myself amper oortuig dat dit beter sou wees om dood te gaan as om te faal.”
Sommige jongmense was so bang dat hulle sal misluk dat hulle dit selfs oorweeg het om selfmoord te pleeg. Gelukkig oorweeg die meeste jongmense nie so ’n drastiese stap nie. Maar soos die geestesgesondheidsdeskundige Sylvia Rimm opmerk, sal hulle dalk mislukking probeer vermy deur dit glad nie eens te waag nie. Volgens Rimm “handig [sommige perfeksioniste] nie hulle take in nie, is hulle nie trots op hulle werk nie, vergeet hulle hulle huiswerk of maak hulle verskonings”.
Aan die ander kant gaan ander jongmense dalk tot uiterstes om te verseker dat hulle sukses behaal. “Ek het tot laat in die nag wakker gebly en aan skoolprojekte gewerk om dit nét reg te kry”, erken Daniel. Die probleem is dat sulke uiterstes gewoonlik teenproduktief is. ’n Lomerige leerling is meer geneig om swak te presteer.
Dit is dus geen wonder nie dat perfeksionisme al met chroniese woede, ’n swak selfbeeld, skuldgevoelens, pessimisme, eetversteurings en depressie verbind is. Maar die ergste van alles is dat perfeksionisme ’n mens se geestelikheid kan benadeel. Die Bybel beveel Christene byvoorbeeld om hulle geloof voor ander te betuig (Romeine 10:10; Hebreërs 10:24, 25). Maar ’n jong meisie genaamd Vivian het gehuiwer om by Christelike vergaderinge kommentaar te lewer omdat sy bang was dat sy haar dalk verkeerd sal uitdruk. ’n Jong vrou genaamd Leah het soortgelyke vrese uitgespreek. Sy sê: “As ek die verkeerde ding sê, sal ander die verkeerde indruk van my kry. Daarom hou ek my gedagtes vir myself.”
Dit is dus duidelik dat dit skadelik en ongesond is om volmaak te wil wees. En as jy enige van die neigings het wat in hierdie artikel beskryf word, besef jy dalk dat jy ’n paar veranderinge in jou denkwyse moet aanbring. ’n Toekomstige artikel sal bespreek hoe jy dit kan doen.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Volgens een studie het 87,5 persent van die begaafde leerlinge van een skool perfeksionistiese neigings gehad.
[Prent op bladsy 12]
Vrees vir mislukking weerhou sommige jongmense daarvan om hulle take te voltooi
[Prent op bladsy 13]
Perfeksionisme kan tot depressie en ’n swak selfbeeld lei