Hoofstuk 27
Waarom voel ek dat ek nooit ’n fout mag maak nie?
Ontstel dit jou as jy enigiets minder as volpunte in ’n toets kry?
□ Ja
□ Nee
Voel jy soos ’n algehele mislukking wanneer jy oor enigiets gekritiseer word?
□ Ja
□ Nee
Is dit vir jou moeilik om vriende te maak en vriendskappe aan die gang te hou omdat jy dink dat niemand goed genoeg is vir jou nie?
□ Ja
□ Nee
AS JY op een of meer van die vrae hierbo ja geantwoord het, het jy moontlik ’n probleem met perfeksionisme. ‘Maar wat is fout daarmee om alles altyd reg te probeer doen?’ vra jy dalk. Niks nie. Die Bybel praat met lof van die man wat “vaardig is in sy werk” (Spreuke 22:29). Maar die perfeksionis gaan te ver.
Die 19-jarige Jason erken byvoorbeeld: “Gedurende my laaste jaar op skool het ek gedink dat ek glad nie goed genoeg doen as ek nie volpunte in my toetse kry nie. Ek speel ook klavier, en ek het gevoel dat ek so goed soos ’n konsertpianis moet speel.”
Perfeksionisme kan selfs ’n negatiewe uitwerking op ’n mens se aanbidding hê. Dink wat kan gebeur met ’n jong persoon wat altyd as ’n voorbeeld vir ander voorgehou word. Omdat hy altyd in die kollig is, voel hy dalk soos ’n koordloper wat fyn dopgehou word deur almal. Christene, hetsy jonk of oud, vind natuurlik baat by goeie voorbeelde in die gemeente. Maar ’n jong persoon kan sy vreugde in God se diens verloor as hy hom altyd inspan om ’n goeie indruk te maak. As dit gebeur, het die jong persoon hulp nodig. Maar hy vra dalk nie hulp nie, omdat hy bang is dat hy diegene sal teleurstel wat baie van hom dink. Hy kom dalk selfs in die versoeking om heeltemal tou op te gooi omdat hy redeneer: ‘As ek nie die ideaal kan bereik nie, waarom moet ek dan nog probeer?’
Die stryd teen perfeksionisme
Perfeksioniste is onder die indruk dat ’n mens nooit ’n fout mag maak nie. Maar hulle misgis hulle. Die Bybel sê duidelik: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Daarom is dit onmoontlik vir enigeen van ons om nooit ’n fout te maak nie. Om die waarheid te sê, om te glo dat jy alles kan doen sonder om ooit ’n fout te maak, is so onredelik soos om te dink dat jy kan vlieg. Ongeag hoe oortuig jy daarvan is, dit gaan eenvoudig nie gebeur nie!
Hoe kan jy keer dat perfeksionisme jou lewe oorheers? Probeer die volgende:
Kry ’n ander definisie van “sukses”. Put jy jouself uit deur altyd die heel beste te probeer wees? Die Bybel toon dat dit vergelyk kan word met “’n gejaag na die wind” (Prediker 4:4). Die feit is, min mense slaag ooit daarin om “die beste” te wees. En selfs wanneer iemand dit wel regkry, is dit gewoonlik net ’n kwessie van tyd voordat iemand anders beter as hy doen. Sukses beteken om jou bes te doen—nie om beter as iemand anders te doen nie.—Galasiërs 6:4.
Wees realisties. Jou verwagtinge moet rekening hou met jou vermoëns en jou beperkings. As jy te hoog mik, kan dit ’n teken wees van onbeskeidenheid—selfs egoïsme. Die apostel Paulus gee hierdie goeie raad: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie” (Romeine 12:3). Wees dus realisties. Pas jou verwagtinge aan. Doen jou bes, maar moenie volmaaktheid probeer bereik nie.
Moenie jouself te ernstig opneem nie! Probeer iets doen wat jy nie goed kan doen nie, soos om ’n musiekinstrument te speel. Jy sal natuurlik baie foute maak. Maar probeer dié keer jou foute in ’n ander lig beskou. Die Bybel sê dat daar “’n tyd [is] om te lag” (Prediker 3:4). Probeer dus ’n lighartige benadering. Dit sal jou help besef dat dit eenvoudig deel van die leerproses is om foute te maak. Toegegee, dit sal dalk vir jou moeilik wees om iets te doen wat jy weet jy nie foutloos sal kan doen nie. Maar wend ’n doelbewuste poging aan om negatiewe, kritiese gedagtes uit jou verstand te verdryf.
Onthou altyd dat Jehovah nie verwag dat ons volmaak moet wees nie; hy verwag net dat ons aan hom getrou moet wees (1 Korintiërs 4:2). As jy probeer om altyd getrou te wees, kan jy waarlik tevrede wees met jouself—al maak jy soms foute.
Homoseksualiteit word vandag algemeen aanvaar. Hoe kan jy dit vermy? Wat kan jy doen as jy homoseksuele begeertes het?
SLEUTELTEKSTE
“Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie.”—Prediker 7:20.
WENK
Dink aan ’n taak wat jy bly uitstel net omdat jy bang is dat jy dit nie sonder enige foute sal kan doen nie. Kies dan ’n datum waarop jy dit wil afhandel.
HET JY GEWEET . . . ?
Jehovah is volmaak, maar hy verwag nie volmaaktheid wanneer hy met onvolmaakte mense te doen het nie. Hy is nie onredelik of onrealisties in wat hy van ons verwag nie.
AKSIEPLAN!
Wanneer ek onredelik krities teenoor myself begin word, sal ek ․․․․․
Wanneer ek onredelik krities teenoor ander begin word, sal ek ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Op watter gebiede van die lewe, indien enige, is jy geneig om onredelik hoë doelwitte vir jouself te stel?
● Watter Skrifgedeeltes maak dit vir jou duidelik dat Jehovah God nie volmaaktheid van sy knegte verwag nie?
● Waarom sal ander jou dalk begin vermy as jy ’n perfeksionis is?
● Hoe sal jy jou foute in die toekoms hanteer?
[Lokteks op bladsy 226]
Daar is ’n verskil tussen om jou bes te doen en om ’n perfeksionis te wees; die een is gebalanseerd, die ander een is nie.’’—Megan
[Venster op bladsy 228]
Perfeksionisme en vriendskappe
Het jy al mense uit jou lewe uitgesluit omdat hulle net nie goed genoeg is vir jou nie? Of het goeie mense al uit jou pad gebly omdat dit lyk of jou standaarde vir vriendskap te hoog is? Die Bybel gee ons hierdie raad: “Moenie alte regverdig word nie, en moet jou ook nie uitermate wys voordoen nie. Waarom sou jy verwoesting oor jouself bring?” (Prediker 7:16). Een manier waarop die perfeksionis verwoesting oor homself bring, is deur hom te vervreem van diegene wat dalk sy geselskap sou geniet. “Niemand hou daarvan om saam met mense te wees wat jou ongemaklik laat voel nie”, sê ’n meisie met die naam Amber, “en ek het al gesien hoe perfeksioniste goeie vriende oor die een of ander kleinigheid verloor.”
[Prent op bladsy 229]
Om te probeer om nooit ’n fout te maak nie, is so tevergeefs as om te probeer vlieg