Jongmense vra . . .
Hoe kan ek ophou om ’n perfeksionis te wees?
“Perfeksionisme het so te sê my lewe oorgeneem.”—Carly.
PERFEKSIONISME—die oortuiging dat ’n mens heeltemal volmaak moet wees in alles wat jy doen—het ’n nadelige uitwerking op die denke van talle jongmense.
Die boek Perfectionism—What’s Bad About Being Too Good? sê: “Daar is ’n groot verskil tussen die heilsame strewe na voortreflikheid en die skadelike najaging van ’n onbereikbare ideaal. Mense wat na voortreflikheid streef, het dalk ’n groot behoefte aan ordelikheid en organisasie en verwag baie van hulleself, maar hulle aanvaar ook hulle foute en kan dit op ’n positiewe wyse verwerk. . . . Perfeksioniste is daarenteen altyd bang dat hulle foute sal maak. Hulle het uiters hoë standaarde.”
Is dit hoe jy is? As jou standaarde onbereikbaar hoog is, kan dit maklik daartoe lei dat jy tot niks in staat is nie. Jy sal dalk vind dat jy daarvan wegskram om enigiets nuuts te doen. Of miskien is jy geneig om belangrike dinge uit te stel omdat jy bang is dat jy dit nie sal regkry nie. Jy is dalk selfs geneig om enigiemand te verstoot wat nie aan jou standaarde voldoen nie, en miskien het jy geen vriende nie.
As die bogenoemde enigsins waar is van jou, kan jy kyk na die Bybel se woorde in Prediker 7:16: “Moenie alte regverdig word nie, en moet jou ook nie uitermate wys voordoen nie. Waarom sou jy verwoesting oor jouself bring?” Ja, ’n perfeksionis kan ‘verwoesting oor homself bring’! Trouens, perfeksionisme is selfs al met lewensgevaarlike eetversteurings soos anorexia nervosa en bulimie verbind.a
Gevolglik vra jy dalk: ‘Hoe kan ek ophou om ’n perfeksionis te wees?’ Dit kan weliswaar ’n uitdaging wees om ’n mens se denke in hierdie verband te verander. Maar met God se hulp kan dit gedoen word. Kom ons kyk dus na God se beskouing van perfeksionisme.
Volmaaktheid—’n Bereikbare doelwit?
Eerstens, kan jy in die absolute sin volmaak wees? Nie volgens die Bybel nie, wat sê: “Daar is nie ’n regverdige mens nie, nie eers een nie . . . Alle mense het afgewyk, hulle almal tesame het waardeloos geword” (Romeine 3:10-12). Dit laat ’n mens dink, nè? Dit toon dat enigeen wat in die absolute sin volmaak probeer wees, gaan misluk.
Kyk byvoorbeeld na die apostel Paulus, wat ongetwyfeld ’n uitstekende voorbeeld van geestelikheid was. Maar nie eers Paulus kon God dien sonder om foute te maak nie. Hy het erken: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig. Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is” (Romeine 7:21-23). Paulus kon alleenlik met God se hulp ’n getroue Christen wees.
Gelukkig eis of verwag God nie dat enigeen van ons heeltemal volmaak moet wees nie. “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Dit is net in God se nuwe wêreld dat die mensdom uiteindelik volmaaktheid sal bereik.
Veranderde verwagtinge
Intussen is dit dan onrealisties om te dink dat jy in die absolute sin volmaak kan wees. Trouens, jy moet verwag dat jy van tyd tot tyd foute sal maak (Romeine 3:23). Om die waarheid te sê, partykeer is ons nie eens bewus van ons foute nie! Psalm 19:12 sê: “Niemand kan sy eie foute sien nie” (Today’s English Version). ’n Jong man genaamd Matthew stel dit so: “Jy is nie volmaak nie—niemand op aarde is nie. As jy volmaaktheid van jouself verwag, sal jy nooit gelukkig wees nie. . . . Dit is onrealisties, dit is onmoontlik.”
Terwyl jy dit in gedagte hou, kan jy gerus party van jou verwagtinge probeer verander. Put jy jouself byvoorbeeld uit deur die heel beste in iets te probeer wees? Die Bybel toon dat so ’n vermoeiende poging in werklikheid “nietigheid en ’n gejaag na die wind” is (Prediker 4:4). Feit is dat min mense ooit daarin slaag om die beste te wees. En selfs wanneer iemand dit regkry, is dit gewoonlik net ’n kwessie van tyd voordat iemand anders weer beter as hy is.
Die apostel Paulus het die volgende raad gegee: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het” (Romeine 12:3). Wees realisties! Pas jou verwagtinge by jou vermoëns sowel as jou tekortkominge aan. Streef na voortreflikheid, maar moenie na volmaaktheid streef nie. Stel ’n spesifieke maar bereikbare doelwit.
Paulus het Timoteus byvoorbeeld aangemoedig om “’n werker [te word] wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Ja, Paulus het voortreflikheid aangemoedig, nie volmaaktheid nie. Jy moet eweneens vir jou redelike doelwitte stel. En as jy nie seker is wat “redelik” is nie, kan jy met jou ouers of ’n ander volwassene wat jy vertrou, daaroor praat.
Party stel selfs voor dat jy doelbewus dinge probeer doen waarmee jy nie goed is nie, soos om ’n nuwe sportsoort te beoefen of ’n musiekinstrument te bespeel. Wanneer jy iets nuuts leer, sal jy weliswaar baie foute maak. Maar dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Miskien sal dit jou help om te sien dat dit eenvoudig deel van die leerproses is om foute te maak.
Wat jy ook al aanpak—hetsy jy aan ’n skooltaak werk of ’n klaviersonate probeer bemeester—hier is nog raad van die apostel Paulus: “Moenie traag wees in julle bedrywighede nie” (Romeine 12:11). Ja, moenie dinge uitstel bloot omdat jy bang is dat jy dit nie sal regkry nie.
’n Jong meisie het ’n gewoonte daarvan gemaak om skooltake uit te stel en die verskoning gebruik dat sy besig is om “haar sake te organiseer”. Hoewel persoonlike organisasie ’n goeie ding kan wees, moet jy versigtig wees dat dit nie ’n verskoning is om dinge uit te stel nie. Hierdie meisie het besef dat “dit altyd beter is om ’n skooltaak in te handig waarmee jy nie heeltemal tevrede is nie as om niks in te handig nie”.
Verdryf selfverydelende gedagtes!
Ja, dit is miskien nie maklik om die gedagte te verwerk dat jy iets nie heeltemal volmaak doen nie. Kritiese, negatiewe gedagtes oorheers dalk nog jou denke. Wat kan jy doen? Dit is beslis afbrekend en selfverydelend om oor negatiewe gedagtes te tob. Wend dus ’n doelbewuste poging aan om onredelike gedagtes oor jouself uit jou verstand te verdryf. Behou ’n sin vir humor wanneer jy foute maak. Daar is immers “’n tyd om te lag” (Prediker 3:4). Onthou ook dat Jehovah nie smadende taal goedkeur nie—selfs nie wanneer ons dit tot onsself rig nie.—Efesiërs 4:31.
Moet jouself nie aanhoudend kritiseer nie, pas eerder die woorde in Spreuke 11:17 toe: “’n Man van liefderyke goedhartigheid doen goed aan sy eie siel, maar die wreedaard stort sy eie liggaam in die ongeluk.” Dink dus aan hierdie vraag: Het jou uiters hoë standaarde dit vir jou maklik gemaak om vriende te hê? Waarskynlik nie. Miskien het jy mense selfs verstoot omdat hulle nie volmaak is nie. Wat kan jy dan doen?
Pas die Bybel se bevel toe: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het” (Kolossense 3:13). Ja, as jy redeliker is in wat jy van ander verwag, sal dit vir jou makliker wees om vriendskappe te hê!
‘Waarom sal mense geneig wees om my weens my perfeksionisme te vermy?’ wonder jy dalk. Wel, dink aan die uitwerking wat dit op ander kan hê as hulle hoor hoeveel jy van jouself verwag. Die boek When Perfect Isn’t Good Enough verduidelik: “As jy te veel kla wanneer jy nie ’n A in ’n eksamen kry nie, beledig jy dalk vriende wat sukkel om ’n B of C te kry.” Probeer dus om nie so negatief en egosentries te wees nie. Dan sal mense dit baie meer geniet om in jou geselskap te wees.
Jong Carly som dit op wanneer sy sê: “Ek moet in werklikheid my perfeksionisme onderdruk.” Hoe kan jy dit doen? Peins oor God se beskouing van sake. As jy nog steeds sukkel om jou denke in hierdie verband onder beheer te hou, kan jy met jou ouers of met ’n volwasse Christen in julle gemeente praat. Bid tot God en vra hom om jou te help om jou denke te verander. Gebed kan ’n kragtige hulpmiddel wees in jou stryd teen perfeksionisme.—Psalm 55:22; Filippense 4:6, 7.
Onthou altyd dat Jehovah nie volmaaktheid vereis nie; hy verwag eenvoudig dat ons aan hom getrou moet bly (1 Korintiërs 4:2). As jy daarna streef om getrou te bly, kan jy werklik trots wees op wie jy is—selfs al is jy nie volmaak nie.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Waarom voel ek dat ek altyd volmaak moet wees?” in ons nommer van 22 Julie 2003.
[Prent op bladsy 17]
Die vrees dat jy sal misluk, kan daartoe lei dat jy tot niks in staat is nie
[Prent op bladsy 18]
As jy nuwe dinge probeer leer, kan dit jou help om foute te verwerk