Ons beskou die wêreld
Dronk diere
Volgens verslae van regoor die wêreld is mense nie die enigstes wat die bedwelmende uitwerking van alkohol ondervind nie. Onlangs het ’n trop besope olifante amok gemaak en geboue vernietig nadat hulle bier in ’n dorpie in Assam, Indië, ontdek het. ’n Beer in Bosnië het ’n smaak aangeleer vir oorskietbier in weggegooide blikkies en het begin bedel om nog te kry. Die dorpsbewoners het moeg geword vir die beer se oproerigheid en besluit om alkoholvrye bier vir hom te los. Dit het die ding gedoen. Die beer geniet nog steeds sy drank maar is nie meer aggressief nie. Voëls wat dronk was van gegiste bessies van struike wat langs die pad groei, het motors in die noorde van Kalifornië aangeval. Die oplossing was om die struike af te kap. Gegiste nektar veroorsaak dat bye in bome vasvlieg of sommer net op die grond val en nie hulle pad terug na die byekorf kan vind nie. Dronk bye wat dit wel tot by die huis maak, het nog ’n probleem—kwaai bye wat die korf bewaak en vasbeslote is om te keer dat die hele kolonie dronk word.
Dit reën visse
Honderde vissies wat moontlik uit die sproeireën van die Dojran- of Korónia-meer kom, is in die dorpie Koróna gevind, het die Griekse koerant Eleftherotypia berig. “Die dorpsbewoners het oral vissies gevind wat uit die lug geval het.” Volgens Christos Balafoutis, hoof van die weerburo in Tessalonikí, is sulke gevalle nie ongewoon nie. Stormwolke in laedrukweerstelsels veroorsaak warrelwinde wat water, tesame met vissies en paddas, van die meeroppervlak opsuig. “Die warrelwind kan hulle hoog in die lug opneem en baie ver dra”, sê die berig. Later val die vissies wanneer die warrelwind gaan lê.
Tieners se werklike probleme
“Ouers is so bekommerd dat hulle tienderjarige kinders dwelms sal begin gebruik dat hulle nalaat om die ernstige emosionele en geestesgesondheidsprobleme van hulle kinders raak te sien”, sê The Times van Londen. ’n Opname onder meer as 500 ouers en meer as 500 tieners toon dat 42 persent van ouers glo dat dwelmmisbruik die grootste probleem is waarmee hulle kinders te kampe het. Maar slegs 19 persent van tieners stem hiermee saam. Een-en-dertig persent van tieners is meer bekommerd oor verhoudings met vriende en familie, en 13 persent oor afknouery. Justin Irwin, hoof van die noodlyndiens Get Connected, die organisasie wat die studie laat doen het, het veral kommer uitgespreek oor die neiging van ouers om hulle tieners se sielkundige en emosionele probleme oor die hoof te sien. Hy spoor ouers aan: “Hou op om veronderstellings te maak. Wees eerder realisties.”
Skadelike gevolge van slaapverlies
“Nege persent van Pole slaap minder as vyf uur per nag”, berig die Warskouse weekblad Wprost. “Onder Amerikaners en Britte slaap 1 uit 3 niks meer as 6,5 uur per nag nie.” Volgens Michał Skalski van ’n slaapversteuringskliniek in Pole “is iemand wat min slaap voortdurend onder spanning”. Japannese navorsing toon dat “die risiko om ’n hartaanval te kry 50 persent hoër is onder diegene wat vyf uur of minder per dag slaap as onder diegene wat agt uur per nag slaap”, berig Wprost. Daarbenewens toon Amerikaanse studies dat ’n gebrek aan slaap met suikersiekte en ander gesondheidsprobleme verbind kan word. Slaapverlies het nie net “veranderings in glukosemetabolisme tot gevolg” nie, maar hou ook verband met “’n groter risiko om oorgewig te raak”, sê die berig. “Wanneer jy moeg is, probeer jou liggaam vir die tekort aan energie vergoed”, verduidelik die tydskrif American Fitness. “Mense wat nie genoeg slaap kry nie, is geneig om meer te eet en te drink om wakker te voel. As jy ’n paar kilogram verloor het en dit nie weer wil optel nie, moet jy dus ’n bietjie meer slaap.”
’n Dag op kantoor
In ’n opname deur London Magazine is 511 mense oor ’n gewone dag in hulle lewe gevra. Amper die helfte het tydens werksure alkohol gebruik, 48 persent het gesteel en amper ’n derde het dwelms misbruik, berig die Londense koerant The Daily Telegraph. Boonop het 42 persent “lus gehad om hulle baas dood te maak”, het amper ’n derde “na pornografie op die Internet gekyk”, “is 62 persent deur ’n kollega gevra om geslagsomgang te hê en het bykans ’n vyfde in die kantoor geslagsomgang gehad”. Ses-en-dertig persent van hierdie werknemers het op hulle CV’s gelieg, 13 persent het gesê dat hulle by hulle baas sal slaap om bevordering te kry en 45 persent sal ’n kollega in die rug steek om vooruit te kom. Volgens die psigoterapeut Philip Hodson spruit baie van hierdie gedrag uit afkeer vir mense in magsposisies. Hy het gesê: “Ons sal enigiets doen om die hoogste sport te bereik. Titels, posisie en status is vir ons baie belangrik.”
Skielike sterftes in sport
Toe drie mans in hulle vyftigerjare aan hartaanvalle gesterf het nadat hulle in verskillende dele van Japan langafstandwedlope gehardloop het, het sportdokters waarskuwings uitgereik. Dr. Masatosji Kakoe, voorsitter van die Kobe-sportakademie en self ’n dokter, skryf in die koerant Asahi Sjimboen: “Ongeveer 80 persent van skielike sterftes hou met hartprobleme verband. . . . Meer as 90 persent van die slagoffers van skielike sterftes is mense wat heeltemal gesond verklaar is.” Dr. Kakoe beveel aan dat elektrokardiogramtoetse gedoen word terwyl die persoon oefen en nie net terwyl hy lê nie. Hy beveel ook aan dat mense hulle nie moet ooreis of moet oefen as hulle enigsins koorsig, naar of duiselig voel nie. “Dit is nie ’n skande om jou halfpad deur ’n wedstryd of wedloop te onttrek nie”, sê dr. Kakoe. Hy voeg by: “Atlete is geneig om te veel waarde daaraan te heg om die wedloop te voltooi, maar wanneer dit nodig is, moet jy dink of dit werklik die moeite werd is.”
Die behoefte aan gesprekke in die gesin
“Gesprekke in die gesin het in ’n ‘daaglikse gebrom’ ontaard wat daartoe lei dat jong kinders hulle nie behoorlik kan uitdruk nie”, berig The Times van Londen. Alan Wells, hoof van die regering se Buro vir Basiese Vaardighede, wat vir die handhawing van opvoedkundige standaarde in Brittanje verantwoordelik is, skryf die agteruitgang toe aan die feit dat kinders “voor die televisie en rekenaar sit en dat gesinne min tyd saam om die etenstafel deurbring”. Wells blameer ook ’n toename in enkelouergesinne sonder grootouers, asook die feit dat min ouers deesdae vir hulle kinders lees. Hy glo dat hierdie faktore help om te verduidelik hoekom kinders wat op vier- of vyfjarige ouderdom skool toe gaan, “nie so duidelik praat nie en hulle nie so goed kan uitdruk” soos kinders in die verlede nie. Wells beveel programme aan om ouers te leer hoe om met hulle kinders te gesels.
’n Meer gebalanseerde lewe
Volgens ’n opname deur die Australië-instituut, ’n onafhanklike navorsingsorganisasie, “het 23 persent van Australiërs tussen die ouderdomme van 30 en 59 in die afgelope 10 jaar inkomste opgeoffer om ’n meer gebalanseerde lewe te lei”, berig The Sydney Morning Herald. Die verskynsel, wat navorsers afskaling noem, kom voor onder baie mense wat hoop om hulle gevoel van welsyn te verbeter en om meer tyd saam met hulle kinders deur te bring. Hierdie werkers “skakel oor na ’n minder veeleisende en minder lonende werk, verminder hulle werksure of hou op werk”, sê die Herald. Dr. Clive Hamilton, uitvoerende hoof van die Australië-instituut, het gesê: “Hulle stel lewens voor inkomste. Hierdie mense beskou hulleself beslis nie as uitsakkers nie; hulle is gewone mense uit die hoofstroom, wat oormatige verbruik verwerp en doelbewus hulle inkomste verminder in die strewe na ’n meer gebalanseerde lewenswyse.”