Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 10/8 bl. 16-19
  • Mosaïeke—Skilderye in klip

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mosaïeke—Skilderye in klip
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ontstaan en ontwikkeling
  • Romeinse mosaïeke
  • Die mosaïeke van die Christendom
  • Moderne metodes en aanwendings
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2004
  • Lewende mosaïeke in Montreal
    Ontwaak!—2001
  • Meesterstukke “geverf” met steentjies
    Ontwaak!—2008
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 10/8 bl. 16-19

Mosaïeke—Skilderye in klip

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

MOSAÏEKKUNS is al beskryf as “’n buitengewone kunsvorm”, ’n “treffende” versieringstegniek en een van “die duursaamste vorms van sierkuns wat uit die outyd behoue gebly het”. Volgens die vyftiende-eeuse Italiaanse kunstenaar Domenico Ghirlandaio is dit die “beste manier om vir die ewigheid te skilder”. Wat jy ook al van mosaïeke dink, dit het ’n waarlik fassinerende geskiedenis.

Die mosaïekkuns kan gedefinieer word as die kuns om ’n oppervlak—soos ’n vloer, ’n muur of ’n gewelf—te verfraai met ontwerpe wat bestaan uit klein stukkies klip, glas of teël wat dig teen mekaar gelê is. Van die vroegste tye af is mosaïeke gebruik om vloere en mure te versier. Mosaïeke is ook gebruik om badhuise, dammetjies en fonteine te versier—plekke waar die voggehalte delikater kunsvorms sou beskadig.

Mosaïeke kan grootliks in voorkoms verskil; dit wissel van eenvoudige eenkleurige vloere tot swart en wit ontwerpe en van ingewikkelde veelkleurige blompatrone tot ambisieuse prente.

Ontstaan en ontwikkeling

Dit is nie duidelik wie mosaïeke uitgevind het nie. Die eertydse Egiptenare en Sumeriërs het hulle geboue met gekleurde oppervlakpatrone versier. Maar dit lyk asof die kunsvorm sonder verdere ontwikkeling uitgesterf het. Griekeland, Kartago, Klein-Asië, Kreta, Sirië, Sisilië en Spanje is al almal die geboorteplek van die mosaïekkuns genoem, wat een skrywer laat bespiegel dat die tegniek “op verskillende tye en verskeie plekke in die Mediterreense bekken uitgevind, vergeet en weer uitgevind is”.

Vroeë mosaïeke, waarvan party uit die negende eeu v.G.J. kom, is van gladde klippies gemaak wat in eenvoudige patrone gerangskik is. Die verskeidenheid kleure wat gebruik kon word, is bepaal deur die klippies wat plaaslik beskikbaar was. Die klippies was gewoonlik 10 tot 20 millimeter in deursnee, maar vir party dele waarin daar meer detail was, is klippies van net 5 millimeter gebruik. Teen die vierde eeu v.G.J. het ambagsmanne begin om klippies in kleiner stukkies te sny, wat groter detail moontlik gemaak het. Steenblokkies, of tesserae, het die klippies mettertyd vervang. Tesserae het ’n groter verskeidenheid skakerings gebied en kon makliker gelê en aangepas word by die vereiste ontwerp. Gelyke oppervlakke kon daarmee gemaak word, wat gepoleer en gewaks kon word om die glans van die kleure uit te bring. Teen die tweede eeu G.J. is klein stukkies gekleurde glas ook algemeen gebruik, wat die mosaïekwerker se palet baie vergroot het.

In die Hellenistiese tydperk (c. 300 v.G.J. tot c. 30 v.G.J.) is daar besonder kunstige mosaïekprente gemaak. “Omdat die Griekse mosaïekwerkers die grootste verskeidenheid kleure gebruik het en die tesserae tot een kubieke millimeter verklein het . . . , het hulle werke met muurskilderye begin meeding”, sê die boek Glossario tecnico-storico del mosaico (Tegniese-Geskiedkundige Woordelys van die Mosaïekkuns). Kleur is vernuftig gebruik om subtiele illusies van lig, skaduwee, diepte, volume en perspektief te skep.

’n Tipiese kenmerk van Griekse werke is die hoogs gedetailleerde sentrale insetsels, of emblema—dikwels ’n meesterlike weergawe van ’n beroemde skildery—wat omring is met ryklik versierde randstroke. In party van hierdie insetsels is daar tesserae wat so klein is en so goed pas dat dit lyk asof dit met kwashale geskep is eerder as met individuele stukkies klip.

Romeinse mosaïeke

Daar word dikwels aan die mosaïekkuns gedink as ’n Romeinse kunsvorm weens die magdom mosaïeke wat in Italië en die provinsies van die Romeinse Ryk gevind is. “Honderdduisende van hierdie soort vloere is al in geboue uit die Romeinse tydperk gevind, van Noord-Brittanje tot Libië en van die Atlantiese kus tot die Siriese Woestyn”, sê een bron. “Die unieke tegniek word in so ’n mate geassosieer met die verspreiding van die Romeinse kultuur dat dit soms as ’n teken van Romeinse teenwoordigheid in ’n gebied beskou word.”

Maar met veelkleurige mosaïekprente kon daar nie in die behoeftes van die vroeë ryk voorsien word nie. Groot stedelike uitbreiding gedurende die eerste eeu G.J. het die aanvraag na vinniger en goedkoper mosaïekwerk vergroot. Dit het gelei tot die verskyning van mosaïeke wat net uit swart en wit tesserae bestaan het. Produksie het floreer en volgens die Enciclopedia dell’arte antica (Ensiklopedie van antieke kuns) “was daar nie een welgestelde huis in enige stad van die ryk sonder ’n mosaïek nie”.

Presiese replikas van sekere ontwerpe kan in plekke wat ver van mekaar af geleë is, gevind word. Dit impliseer dat spanne ambagsmanne—of miskien boeke met mosaïekpatrone—van een bouperseel na die volgende gegaan het. ’n Ateljeevervaardigde emblema kon vooruit bestel word. Dit is op ’n marmer- of terracottabord na die bouperseel vervoer en dan gelê. Alle ander mosaïekwerk is op die perseel gedoen.

Noukeurige beplanning was nodig om die ontwerpe en randstroke in die betrokke ruimte in te pas. Die fondament en die oppervlak daarvan is met sorg voorberei om seker te maak dat dit glad en gelyk is. Dan is daar ’n dun lagie fyn messelklei (wat die setbedding genoem word) oor ’n area gesmeer wat klein genoeg was om te voltooi voordat dit droog word—moontlik kleiner as ’n vierkante meter. ’n Skets is soms op die oppervlak geteken om as ’n patroon te dien. Die tesserae is die regte grootte gesny en die ambagsman het dit begin lê.

Die tesserae is een vir een in die sement ingedruk, wat tussen die stukkies uitgepeul het. Sodra een deel klaar was, is ’n setbedding op die volgende plek gelê en dan nog een, ensovoorts. Meestervakmanne het aan die ingewikkelder dele gewerk, en dit aan hulle assistente oorgelaat om van die eenvoudiger dele te voltooi.

Die mosaïeke van die Christendom

In die vierde eeu G.J. het die Christendom se kerke mosaïeke begin gebruik. Sulke mosaïeke wat dikwels Bybeltonele uitgebeeld het, is gebruik om aanbidders te onderrig. Goue en gekleurde glastesserae wat flikkerende kerslig weerkaats het, het ’n bonatuurlike aura geskep. Storia dell’arte italiana (Die Geskiedenis van Italiaanse kuns) sê: “Die mosaïekkuns was in volmaakte harmonie met die ideologie van die tyd, wat grootliks deur . . . Neoplatonisme beïnvloed is. In die mosaïekkuns het ’n proses plaasgevind waarin materie sy dofheid verloor en verander word in suiwer geestelikheid, suiwer lig en suiwer ruimte.”a Waarlik ’n radikale afwyking van die eenvoudige vorm van aanbidding wat deur die stigter van die Christelike godsdiens—Jesus Christus—geleer is!—Johannes 4:21-24.

Daar is uitsonderlike voorbeelde van mosaïekwerke in Bisantynse kerke. In sommige plekke van aanbidding bedek tesserae amper elke sentimeter van die binnemure en gewelwe. In Ravenna, Italië, is daar so genoemde “meesterstukke van Christelike mosaïek”, met oorheersende goue agtergronde, wat goddelike lig en mistieke ontoeganklikheid afbeeld.

Die mosaïekkuns was regdeur die Middeleeue baie algemeen in Wes-Europese kerke en is meesterlik in die Islamitiese wêreld gebruik. Gedurende die Renaissance in Italië is mosaïeke deur werkswinkels gemaak wat aan groot katedrale, soos San Marco in Venesië en die St. Pieterskerk in Rome, verbonde was. In omstreeks 1775 het vakmanne in Rome geleer hoe om gesmelte glasdrade van elke denkbare kleur in klein tesserae te sny wat dit moontlik gemaak het om miniatuurweergawes van skilderye in die vorm van mosaïeke te maak.

Moderne metodes en aanwendings

Hedendaagse mosaïekkunstenaars gebruik die so genoemde omgekeerde metode. Dit behels dat tesserae in ’n werkswinkel op ’n volgrootte papierpatroon geplak word met die agterkant na bo. Die mosaïek word stuk vir stuk na die perseel geneem waar dit gelê gaan word, en daar word die agterkant van die tesserae in die setbedding ingedruk. Wanneer die messelklei droog is, word die papier en die gom afgewas, sodat die gesigkant na bo wys. Met hierdie metode word tyd en arbeid bespaar, maar die plat afwerking het nie die glans van die Middeleeuse werke nie.

Nietemin is tallose 19de-eeuse stadsale, operahuise, kerke, ensovoorts, versier deur hierdie metode te gebruik. Daarbenewens is die metode ook algemeen gebruik in museums, ondergrondse spoorwegstasies, inkopiesentrums, parke en op speelterreine, van Mexikostad tot in Moskou en van Israel tot in Japan. Gladde maar gefasetteerde mosaïekoppervlakke is ook as ideaal beskou om die groot ononderbroke voorkant van moderne geboue te versier.

Die sestiende-eeuse Italiaanse kunstenaar en kunsgeskiedkundige Giorgio Vasari het geskryf: “Mosaïeke is die duursaamste prente wat bestaan. Ander skilderye verdof met tyd, maar mosaïeke word al hoe helderder hoe ouer dit word.” Ja, die vakmanskap van baie van hierdie mosaïeke is werklik indrukwekkend. Mosaïeke is inderdaad fassinerende skilderye in klip!

[Voetnoot]

a Die onskriftuurlike Neoplatoniese filosofieë het onder andere geloof in die onsterflikheid van die siel bevorder.

[Prent op bladsy 16]

Kaart van Jerusalem (sesde eeu G.J.)

[Erkenning]

Garo Nalbandian

[Prent op bladsy 16]

Aleksander die Grote (tweede eeu v.G.J.)

[Erkenning]

Erich Lessing/Art Resource, NY

[Prent op bladsy 17]

“Dionisus”, Antiogië (omstreeks 325 G.J.)

[Erkenning]

Museum of Art, Rhode Island School of Design, by exchange with the Worcester Art Museum, photography by Del Bogart

[Prent op bladsy 17]

Rotskoepel, Jerusalem (gebou 685-691 G.J.)

[Prent op bladsy 18]

Tesserae, gekleurde glas en klippies word steeds in moderne mosaïeke gebruik

[Prent op bladsy 18]

’n Mosaïek in die Lynn Heritage State Park, Massachusetts

[Erkenning]

Kindra Clineff/Index Stock Photography

[Prent op bladsy 18]

Mosaïeke wat deur Antoni Gaudí in Barcelona ontwerp is (1852-1926)

[Erkenning]

Foto: Por cortesía de la Fundació Caixa Catalunya

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel