Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 11/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Motor wat op afval loop
  • Hoe miere oorstromings oorleef
  • Strawwe drinkery eis sy tol
  • Spanning en siekte
  • Kinders en sang
  • Kaggelveiligheid
  • Winter en vitamien D
  • Suid-Afrika se jong drinkers
  • Drankmisbruik—’n Maatskaplike ramp
    Ontwaak!—2005
  • Drankmisbruik en gesondheid
    Ontwaak!—2005
  • Praat met kinders oor alkohol
    Hulp vir die gesin
  • Behou ’n gebalanseerde beskouing van die gebruik van alkohol
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 11/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

’n Motor wat op afval loop

’n Plaaseienaar in Finland het nou ’n motor wat loop op die gas wat deur verrottende afval afgegee word. “Die motor word aangedryf deur biogas wat vervaardig word van afval wat in ’n biogasreaktor op die motoreienaar se plaas skoongemaak en onder druk geplaas word”, berig die Finse tydskrif Suomen luonto. Van al die voertuigbrandstof wat vandag gebruik word, brand biogas die skoonste, en aangesien dit tydens die hersirkulering van vullis vervaardig kan word, is dit baie omgewingsvriendelik. Trouens, een van die neweprodukte van biogasvervaardiging is nuttige landboukunsmis. Motors wat reeds ontwerp is om aardgas te gebruik—ongeveer tweemiljoen wêreldwyd—kan ook op biogas loop. In Swede word baie stadsbusse deur biogas aangedryf, en by van die vulstasies is daar, benewens ander brandstowwe, ook reeds biogas beskikbaar. Die artikel noem ’n laaste voordeel: “Biogas is baie goedkoper as petrol of diesel.”

Hoe miere oorstromings oorleef

Wat doen miere wanneer dit reën? Nie alle miersoorte bly onder die grond nie, maar party wat wel daar bly, gebruik buitengewone tegnieke om oorstromings te oorleef, sê The New York Times. Sekere miere in tropiese woude “reageer op selfs net een druppel [water] wat in die ingang van die nes gesit word, deur in die nes rond te hardloop om alarm te maak, en hulle kom dan dikwels by ander ingange uit”, verduidelik die mierkenners dr. Edward O. Wilson en Bert Holldobler. “Hulle gebruik reukspore om ander miere in die nes na die tonnels van die onversperde ingang en soms heeltemal uit die nes uit te lei.” Hulle kan die meeste van die kolonie in minder as 30 sekondes aan die gang kry. En sekere brandmiere in die suidweste van die Verenigde State en die noorde van Suid-Amerika beweeg volgens The Times “op deur die nes na grondhoogte, vorm groot massas wat volgroeide miere, die koningin en haar broeisel insluit, en dryf op die stygende water. Baie oorleef dit . . . Die vlot anker hom uiteindelik aan gras of bossies, en wanneer die water gesak het, kan die oorlewendes na die nes toe terugkeer.”

Strawwe drinkery eis sy tol

“Strawwe drinkery onder vroue en jongmense het tot ’n groot toename in alkoholverwante sterftes in Brittanje gelei”, berig die Londense koerant The Independent. “Sterftes weens drankmisbruik het oor 20 jaar verdubbel, hoofsaaklik weens chroniese lewersiekte en sirrose.” En die slagoffers word al hoe jonger. “’n Dekade gelede het mans sowel as vroue hoogstens tot hulle vroeë sewentigerjare gelewe. Volgens die jongste syfers vir 1998-2000 lewe hulle nou hoogstens tot hulle laat vyftigerjare”, sê die berig. Maar siektes is nie die enigste gevolge van drankmisbruik nie. In Frankryk “is alkohol klaarblyklik regstreeks verantwoordelik vir 10 tot 20 persent van alle ongelukke by die werk”, berig die koerant Le Monde. Wat meer is, in Frankryk is daar elke jaar 2 700 mense wat in drankverwante padongelukke sterf asook 24 000 wat beseer word, en alkohol is betrokke by sowat 30 persent van alle gewelddade. Drankmisbruik eis ook ’n ontsaglike finansiële tol. Le Monde sê dat drankmisbruik in 1996 in Frankryk ’n geskatte finansiële verlies van 17,6 miljard euro’s (161 miljard rand) tot gevolg gehad het.

Spanning en siekte

Volgens ’n Nederlandse studie van meer as 8 000 werknemers, waaroor die Nederlandse Organisasie vir Wetenskaplike Navorsing verslag gedoen het, “maak spanning by die werk en moegheid mense vatbaarder vir akute infeksies soos verkoues, griepagtige siektes en gastroënteritis. . . . Die studie het getoon dat werknemers in baie veeleisende poste 20 persent meer dikwels verkoue gekry het as werknemers in minder veeleisende poste.” Ander faktore wat tot ’n groter gevaar van infeksie bygedra het, het nagwerk en onsekerheid weens maatskappyherorganisering ingesluit. “Werknemers wat skofte werk, loop groter gevaar om infeksies te kry as dié wat in die dag werk”, sê die verslag.

Kinders en sang

Sang is “’n belangrike manier om aan gevoelens uiting te gee wat help om kinders se persoonlikheid te ontwikkel”, skryf ’n oor-neus-en-keel-spesialis van die Universiteit van Leipzig, dr. Michael Fuchs, in die Duitse gesondheidstydskrif Gesundheit. Maar Fuchs betreur die feit dat “kinders se stemomvang oor die afgelope 20 jaar beslis kleiner geword het. Die klank van hulle stem het ook verander.” Fuchs gee twee moontlike redes hiervoor. Eerstens, “vandag se kinders sing minder by die huis. Vroeër het gesinne gewoonlik gedurende hulle vrye tyd gesing en musiek gemaak, maar nou sit hulle saam voor die televisie en luister hulle na musiek sonder om daaraan deel te neem.” Tweedens, wanneer kinders wel sing, is hulle geneig om die skor stemme van rock- en popsangers na te boots. “Kinders vereis te veel van hulle stemorgane wanneer hulle hierdie sterre probeer naboots”, skryf Fuchs. As hulle dit doen, kan dit hulle strottehoof en nekspiere gespanne maak. Die bykomende spanning kan ook knoppies op hulle stembande laat ontstaan, wat die stemgehalte nog verder verswak.

Kaggelveiligheid

“’n Vuur in ’n kaggel of ’n houtstoof kan ’n bron van besoedeling binne en buite die huis asook ’n moontlike brandgevaar wees”, sê die UC Berkeley Wellness Letter. Die Wellness Letter gee die volgende wenke om mense te help om gesondheidsprobleme wat dikwels met kaggelbesoedelstowwe verband hou sowel as brandgevare te voorkom:

● “Hou die skoorsteen in ’n werkende toestand . . . , skoon en heel.”

● “Dink daaraan om ’n koolstofmonoksiedverklikker te installeer . . . veral as jou huis dig verseël is.”

● “Maak eerder ’n klein, warm vuurtjie as ’n groot vuur wat baie rook.”

● “Gebruik beleë hout—hout wat minstens ses maande lank gebêre en gedroog is. Hardehoutsoorte maak beter vure wat langer brand.”

● “Maak ’n venster ’n paar sentimeter oop vir vars lug.”

● “Maak seker dat jou houtstoof reg ingesit is, minstens ’n meter van brandbare mure en meubels af.” Gebruik ’n “hitteskerm om die vloer te beskerm”.

● “Moenie behandelde timmerhout, laaghout, brokkiesbord, geverfde of verniste hout, gekleurde papier of plastiek brand nie. Dit kan giftige dampe afgee.”

● “Gebruik altyd ’n vuurskerm voor ’n oop vuur.”

Winter en vitamien D

“Vitamien D is nodig sodat kalsium in been opgeneem kan word en die gebeente teen breuke kan versterk”, verduidelik die Tufts University Health & Nutrition Letter. “Oor die algemeen word 90 persent van die vitamien D in ons liggaam in ons vel gemaak wanneer dit aan sonlig blootgestel word. Maar gedurende die wintermaande is die son se strale in noordelike streke nie sterk genoeg om vitamien D-sintese aan die gang te sit nie. Die situasie word vererger omdat feitlik niemand wat middeljarig of ouer is, die 10 persent van die vitamien D inneem wat ons dieet veronderstel is om te voorsien nie.” Die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstitute beveel gevolglik aan dat veral mense oor die 50 gedurende die winter op die noordelike breedtes meer vitamien D moet inneem deur voedselsoorte soos vetterige vis te eet en lewertraan te gebruik of deur vitamien D-aanvullings te neem, maar dat dit nie 2 000 internasionale eenhede, 50 mikrogram, per dag moet oorskry nie.

Suid-Afrika se jong drinkers

“Suid-Afrika is dalk besig om ’n nasie van dronkaards voort te bring, aangesien kinders van ’n baie vroeë ouderdom af drank begin misbruik”, waarsku die koerant The Star van Johannesburg. Kinders wat maar net nege jaar oud is, kom glo soms met ’n kwaai babbelas by die skool aan, en die misbruik bly toeneem. Waarom is daar so ’n drankprobleem? Volgens die polisie is dit omdat “advertensieveldtogte ’n lewenstyl uitbeeld wat vir tieners aantreklik is”. Ander redes wat die koerant gee, is die toeganklikheid van alkohol, die feit dat dit sosiaal aanvaarbaar is, ouerlike permissiwiteit en die vryheid en geld wat kinders nou het. “Daar is ook ’n gebrek aan ouerlike toesig en aan respek vir gesag—in wese ’n algehele ineenstorting van die maatskaplike struktuur”, sê ’n kliniese sielkundige.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel