’n Goue geskenk uit die verre Noorde
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWEDE
‘Wat sal ons as ’n geskenk saamneem wat tipies van ons land is?’ het ek en my vrou gewonder voordat ons uit Swede vertrek het om by vriende in Engeland te gaan kuier. Ons wou ons geskenk van tuisgemaakte Nordiese bergbraambessiekonfyt opvoedkundig maak, en daarom het ons ’n leersame etiket ontwerp wat hoofsaaklik op ons eie waarnemings en party plaaslike naslaanwerke gebaseer is. Wat hierna volg, is die resultaat van ons navorsing.
Wat is bergbraambessies?
Die bergbraambessie, in Latyn Rubus Chamaemorus, groei aan plante wat minder as 30 sentimeter hoog is. Elke plant dra slegs een wit blom en een bessie. Die onryp bessie is rooi en hard, maar wanneer dit ryp word, word dit goudgeel of amberkleurig en ook sag en sappig. In Noord-Engeland groei bergbraambessies op berge waar lae wolke vorm. Jy sal hulle ook in vogtige gebiede vind, hoofsaaklik in die toendra en in moerasse dwarsdeur die suidelike deel van die Noordpoolstreek. In Swede word hulle gewoonlik in Augustus ryp, vroeg in die Nordiese herfs.
Die goud van die moerasse
Die boorlinge van Lapland pluk al eeue lank bergbraambessies vir kos in die winter. Dit is ryk aan vitamien C asook ander vitamiene, en aangesien bergbraambessies ’n natuurlike preserveermiddel bevat, sal dit jare lank vars bly indien dit koel gehou word. Omdat vroeë setlaars in hierdie noordelike streke hoofsaaklik van vleis en vis gelewe het, het bergbraambessies ’n noodsaaklike aanvulling van vitamiene geword. Geen wonder dat dit al die goud van die moerasse genoem is nie!
Deesdae word groot hoeveelhede bergbraambessies vir supermarkte en nywerhede gepluk. Byvoorbeeld, in Swede hanteer die mark moontlik meer as ’n duisend ton bergbraambessies—elkeen met die hand gepluk! Ywerige bergbraambessieplukkers, dikwels skoolkinders wat met vakansie is, kan ’n bietjie sakgeld op dié manier verdien, wat altyd welkom is. Die Finne het selfs die bergbraambessie vereer deur dit op hulle nuwe twee-euro-muntstuk te laat aanbring!
’n Smaaklike ervaring
Die bergbraambessie het ’n verkwikkende, soetsuur smaak. Bergbraambessiekonfyt of ingelegde bergbraambessies en selfs likeure met ’n bergbraambessiegeur kan in delikatesse- of ander winkels in groot stede in Europa en die Verenigde State gevind word. Bergbraambessieroomys-parfait het al dikwels op die spyskaart verskyn by die jaarlikse galadinee vir Nobelprys-wenners in Stockholm, Swede. Eksklusiewe restaurante bedien moontlik die warm konfyt saam met vanieljeroomys. Daarbenewens gaan die konfyt baie goed saam met Sweedse kaaskoek of gebraaide camembertkaas en is dit ook ’n heerlike tertvulsel. Bergbraambessielikeur word in Finland gemaak en bergbraambessiewyn is onlangs op die Sweedse wynmark bekend gestel.
As jy ooit in die omgewing is waar bergbraambessies groei, pluk hulle gerus en eet hulle vars, verkieslik met ’n bietjie strooisuiker en ’n lekker skep geklitste room bo-oor. Jy sal vind dat hulle hulle gewig in goud werd is—en dit sal jou heel moontlik beweeg om jou Skepper vir hierdie heerlike geskenk te dank.