Hoe siek is ons planeet?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE FILLIPYNE
Die pasiënt se toestand is kritiek. Sy simptome is ernstig. Sy asem ruik sleg. Hy het ’n koors, hoër as ooit tevore. Pogings om dit af te bring, werk nie. Gifstowwe is in sy liggaamsvloeistowwe gevind. Wanneer simptome in een liggaamsdeel behandel word, kom daar selfs meer in ander liggaamsdele voor. As dit ’n gewone pasiënt was, sou dokters seker gesê het dat die veelvuldige kwale chronies en terminaal is. Omdat hulle nie weet wat om verder te doen nie, sou hulle net hulle bes doen om die pasiënt tot die einde toe so gerieflik moontlik te hou.
MAAR ons praat nie van ’n menslike pasiënt nie. Ons praat van ons tuiste—die aarde. Die bogenoemde beskrywing lig goed toe wat met ons planeet gebeur. Vuil lug, aardverwarming, besoedelde water en giftige afvalstowwe is maar ’n paar van die kwale wat ons siek aarde teister. Soos die dokters wat hierbo genoem is, sit die deskundiges met hulle hande in hulle hare.
Die media vestig gereeld die aandag op die aarde se swak gesondheid met opskrifte en byskrifte soos: “Plofvissery verander seebodem in slagveld.” “’n Miljard Asiate versmag moontlik oor 24 jaar van die dors.” “Veertigmiljoen ton giftige afval word jaarliks wêreldwyd verkoop.” “Bykans twee derdes van die 1 800 waterputte in Japan is vergiftig.” “Osoongat oor Antarktika groter as ooit.”
Party mense raak gewoond aan die gereelde berigte oor gevare vir die omgewing en dink moontlik selfs: ‘Solank dit my net nie raak nie, is dit nie juis van groot belang nie.’ Maar of ons dit nou besef of nie, die grootskaalse vernietiging van die aarde se omgewing raak die oorgrote meerderheid van die mensdom. Aangesien die besoedeling van ons planeet nou so wydverspreid is, het dit waarskynlik reeds ’n uitwerking op meer as een aspek van ons lewe. Almal moet dus besorg wees oor die gesondheid en bewaring van ons tuiste. Waar anders kan ons immers lewe?
Hoe wydverspreid is die probleem nou eintlik? Hoe siek is die aarde? Hoe raak dit mense se lewens? Kom ons kyk na net ’n paar faktore wat ons sal help om te verstaan waarom ons aarde nie net effens olik is nie, maar eerder ernstig siek is.
◼ DIE SEE: Groot dele van die oseaan word oorbevis. Volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram word “70 persent van mariene visgebiede so oorbenut dat die visse glad nie of beswaarlik vinnig genoeg kan voortplant”. Byvoorbeeld, in die Noord-Atlantiese Oseaan het bevolkings van kabeljou, stokvis, skelvis en botvis tussen 1989 en 1994 met tot 95 persent afgeneem. Wat sal dit vir miljoene mense beteken wat hoofsaaklik van die see afhanklik is vir hulle voedsel, as hierdie situasie voortduur?
Daarbenewens word daar jaarliks ’n geskatte 20 miljoen tot 40 miljoen ton seelewe gevang en in die see teruggegooi—gewoonlik beseer of dood. Waarom? Dit word saam met die teikenvis gevang, maar die vissers wil dit nie hê nie.
◼ WOUDE: Ontbossing het talle negatiewe gevolge. ’n Verlies aan bome lei tot ’n afname in die aarde se vermoë om koolstofdioksied te absorbeer, en dit is glo een van die oorsake van aardverwarming. Sekere plantsoorte, die potensiële bron van lewensreddende geneesmiddels, sal verdwyn. En tog gaan woudvernietiging onverpoos voort. Trouens, die vernietigingstempo het in die afgelope paar jaar toegeneem. Party gesaghebbendes voel dat tropiese woude binne ongeveer 20 jaar sal verdwyn as dit so voortgaan.
◼ GIFTIGE AFVALSTOWWE: Die storting van skadelike stowwe op land en in die see is ’n ernstige probleem wat groot gevaar vir miljoene mense kan inhou. Radioaktiewe afvalstowwe, swaarmetale en die neweprodukte van sekere soorte plastiek is van die elemente wat misvormdheid, siektes of die dood van mense en diere kan veroorsaak.
◼ CHEMIESE STOWWE: Gedurende die afgelope 100 jaar het mense bykans 100 000 nuwe chemiese stowwe begin gebruik. Hierdie chemiese stowwe beland in ons lug, grond, water en kos. Betreklik min daarvan is getoets om te sien watter uitwerking dit op mense se gesondheid sal hê. Daar is egter bevind dat ’n aansienlike aantal van dié wat getoets is, kankerverwekkend is of op ander maniere siektes veroorsaak.
Daar is baie ander dinge wat ons omgewing bedreig: lugbesoedeling, onbehandelde rioolvullis, suurreën, ’n gebrek aan skoon water. Die paar wat reeds genoem is, is al genoeg om te wys dat die aarde werklik siek is. Kan die pasiënt gered word, of is dit reeds ’n verlore stryd?