Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 12/22 bl. 19-23
  • Kleredrag en persoonsversorging was my struikelblok

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kleredrag en persoonsversorging was my struikelblok
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Huwelik en gesin
  • ’n Ondervinding in die tronk
  • Ons soeke na die ware godsdiens
  • Hoe ek oortuig is
  • Ons tree op volgens wat ons geleer het
  • Voorregte wat ons almal geniet
  • Hulle het na die smal pad gesoek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Kennis van die regte godsdiens gaan met verantwoordelikheid gepaard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 12/22 bl. 19-23

Kleredrag en persoonsversorging was my struikelblok

SOOS VERTEL DEUR EILEEN BRUMBAUGH

EK IS in die Ou Duitse Baptiste-Broeders-godsdiens grootgemaak, wat soortgelyk is aan die Amiese en Mennonitiese godsdienste. Die Broederbeweging het in 1708 in Duitsland begin as deel van die geestelike ontwaking wat die Piëtisme genoem word. The Encyclopedia of Religion sê dat die Piëtisme gekenmerk is deur ’n “visie van ’n mensdom wat die evangelie van Christus nodig het”. Daardie beskouing het tot gevolg gehad dat die beweging suksesvolle sendingveldtogte in verskeie lande onderneem het.

In 1719 het ’n klein groepie onder leiding van Alexander Mack aangekom in wat nou Pennsilvanië, in die Verenigde State, is. Van toe af het nog groepe gevorm en hulle van mekaar afgeskei. Elke groep het vasgehou aan hulle eie vertolking van die leringe van Alexander Mack. Ons kerkie het omtrent 50 lidmate gehad. Daar is klem gelê op Bybellees en die streng onderhouding van die amptelike besluite van die kerklidmate.

My familie het al ten minste drie geslagte lank by hierdie geloof en lewenswyse gebly. Ek het by die kerk aangesluit en is gedoop toe ek 13 was. Ek is van kleins af geleer om te glo dat dit verkeerd is om ’n motor, ’n trekker, ’n telefoon of selfs ’n radio of enige ander elektriese toestelle te besit of te gebruik. Die vroue onder ons het eenvoudig aangetrek, altyd ’n hoofbedekking gedra en nooit hulle hare gesny nie. Die mans het baarde gedra. Om geen deel van die wêreld te wees nie, het volgens ons beteken dat ’n mens geen moderne klere, grimering of juweliersware mag dra nie, aangesien ons dit as blyke van sondige trots beskou het.

Ons is geleer om diep respek vir die Bybel te hê, wat ons as ons geestelike voedsel beskou het. Elke oggend voor ontbyt het ons in die woonkamer bymekaargekom en geluister terwyl my pa ’n hoofstuk uit die Bybel voorgelees en daaroor kommentaar gelewer het. Dan het ons almal gekniel terwyl hy gebid het. Daarna het my ma die Onse Vader opgesê. Ek het altyd uitgesien na ons oggendgodsdiens omdat die hele gesin saam was en aan geestelike dinge aandag gegee het.

Ons het op ’n plaas naby Delphi, Indiana, gewoon, waar ons verskillende soorte gewasse gekweek het. Ons het dit met ’n perdekar dorp toe geneem en dit dan op straat of van huis tot huis verkoop. Ons het gedink dat harde werk deel was van ons diens aan God. Daarom het ons ons daarop toegelê, behalwe op Sondae, wanneer ons geen werk moes doen nie. Maar soms het ons gesin so betrokke geraak by ons plaaswerk dat dit moeilik was om ons gedagtes op geestelike dinge gerig te hou.

Huwelik en gesin

In 1963, toe ek 17 was, het ek met James, ook ’n lidmaat van die Ou Broeders, getrou. Sy familie het al vier geslagte lank aan die Ou Broeders-godsdiens behoort. Ons het albei ’n sterk begeerte gehad om God te dien en het geglo dat ons kerk die enigste ware kerk was.

Teen 1975 het ons ses kinders gehad en in 1983 is ons sewende en laaste kind gebore. Rebecca, die tweede oudste, was ons enigste dogter. Ons het hard gewerk, min geld uitgegee en ’n eenvoudige lewe gelei. Ons het probeer om dieselfde Bybelbeginsels by ons kinders in te skerp as wat ons by ons ouers en ander lidmate van die Ou Broeders geleer het.

Uiterlike voorkoms was vir die Ou Broeders baie belangrik. Aangesien niemand die hart kan lees nie, het ons gedink dat ’n mens se kleredrag toon wie hy of sy innerlik is. As ’n lidmaat haar hare te veel opgedoen het, is dit dus as ’n teken van trots beskou. As die patroon op ons eenvoudige rokke te groot was, is dit ook as ’n teken van trots beskou. Soms het hierdie kwessies selfs die Skrif oorskadu.

’n Ondervinding in die tronk

Gedurende die laat 1960’s is my man se broer Jesse, wat ook in die Ou Broeders-geloof grootgemaak is, tronk toe gestuur omdat hy geweier het om militêre diens te doen. Terwyl hy daar was, het hy Jehovah se Getuies ontmoet, wat ook voel dat dit in stryd met Bybelbeginsels is om aan oorlog deel te neem (Jesaja 2:4; Matteus 26:52). Jesse het baie Bybelbesprekings met die Getuies gehad en self gesien watter soort mense hulle is. Ná baie Bybelstudie is hy—tot ons groot ontsteltenis—as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Jesse het met my man gepraat oor die dinge wat hy geleer het. Hy het ook gesorg dat James gereeld Die Wagtoring en Ontwaak! ontvang. James het hierdie tydskrifte gelees, en dit het hom meer in die Bybel laat belangstel. Aangesien James altyd ’n begeerte gehad het om God te dien, maar dikwels gevoel het dat hy ver van Hom af was, het hy baie belanggestel in enigiets wat hom kon help om nader aan God te kom.

Ons ouderlinge het ons aangemoedig om godsdienstydskrifte van die Amiese Doopsgesindes, die Mennoniete en ander Ou Broeders-gelowe te lees, hoewel ons daardie godsdienste as ’n deel van die wêreld beskou het. Maar my pa was sterk bevooroordeeld teen die Getuies. Hy wou glad nie hê dat ons Die Wagtoring en Ontwaak! moet lees nie. Daarom was ek baie ontsteld toe ek sien dat James dit lees. Ek was bang dat hy valse leringe sou aanneem.

Maar James het al lank getwyfel aan party van die oortuigings van die Ou Broeders wat hy gemeen het in stryd met die Bybel is—veral die lering dat dit ’n sonde is om enige werk op ’n Sondag te doen. Die Ou Broeders het byvoorbeeld geleer dat jy jou diere op ’n Sondag mag water gee, maar nie ’n onkruid mag uittrek nie. Die ouderlinge kon hom nie ’n skriftuurlike rede vir hierdie reël gee nie. Mettertyd het ek ook aan sulke leringe begin twyfel.

Omdat ons lank geglo het dat ons kerk God se kerk was en besef het wat dit vir ons sou beteken as ons dit verlaat, was dit moeilik om van die Ou Broeders weg te breek. Maar ons gewete het ons nie langer toegelaat om aan ’n godsdiens te behoort wat ons gevoel het nie ten volle by die Bybel bly nie. Daarom het ons in 1983 ’n brief geskryf waarin ons verduidelik het waarom ons die kerk verlaat, en ons het gevra dat die brief vir die gemeente voorgelees moet word. Ons is uit die groep gesit.

Ons soeke na die ware godsdiens

Daarna het ons soeke na die ware godsdiens begin. Ons het gesoek na konsekwentheid, ’n godsdiens waarvan die aanhangers die vrugte dra wat hulle ander leer om voort te bring. Eerstens het ons alle godsdienste uitgesluit wat aan oorlog deelneem. Ons was nog steeds aangetrokke tot die “eenvoudige” godsdienste, want ons het gemeen dat ’n eenvoudige lewenswyse en eenvoudige kleredrag toon dat ’n godsdiens geen deel van die wêreld is nie. Van 1983 tot 1985 het ons tyd geneem om deur die land te reis en het ons die een godsdiens na die ander ondersoek—die Mennoniete, die Kwakers en ander “eenvoudige” groepe.

Gedurende daardie tyd het Jehovah se Getuies ons op ons plaas, naby Camden, Indiana, besoek. Ons het geluister en hulle gevra om net die King James-vertaling van die Bybel te gebruik. Ek het die Getuies se standpunt oor oorlogvoering gerespekteer. Maar dit was vir my moeilik om na hulle te luister, want ek het nie gedink dat hulle die ware godsdiens kon wees as hulle nie kon sien dat dit belangrik is om geen deel van die wêreld te wees deur eenvoudig aan te trek nie. Ek het gedink dat dit trotsheid is wat mense anders as ons laat aantrek. Ek het geglo dat dinge, of besittings, ’n mens trots maak.

James het begin om na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies te gaan en het van ons seuns saam met hom geneem. Ek was baie ontsteld. My man het my aangespoor om saam met hom te gaan, maar ek wou nie. Toe het hy eendag vir my gesê: “Al stem jy nie saam met al hulle leringe nie, kom kyk net self hoe hulle mekaar behandel.” Dit het hom beïndruk.

Uiteindelik het ek besluit om saam te gaan, maar om baie versigtig te wees. Ek het met my eenvoudige rok en kappie in die Koninkryksaal ingeloop. Van ons seuns was kaalvoet, en hulle klere was ook eenvoudig. Maar die Getuies het na ons toe gekom en ons liefdevol behandel. Ek het gedink: ‘Ons is anders, maar nogtans aanvaar hulle ons.’

Hulle liefdevolle gesindheid het my beïndruk, maar ek was nog steeds vasbeslote om net ’n waarnemer te wees. Ek het nie gestaan óf hulle liedere gesing nie. Ná die vergadering het ek hulle met vrae bestook en gevra oor dinge wat ek gedink het hulle verkeerd doen of oor wat die een of ander teks beteken. Al was ek nie baie taktvol nie, het elkeen wat ek gevra het, waarlik in my belanggestel. Ek was ook beïndruk omdat ek vir verskillende mense dieselfde vraag kon vra en ek dieselfde antwoord gekry het. Partykeer het hulle die antwoord vir my neergeskryf, wat baie gehelp het, want dan kon ek die materiaal later op my eie bestudeer.

In die somer van 1985 het ons gesin na ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Memphis, Tennessee, gegaan—net as waarnemers. James het nog sy baard gehad, en ons het nog steeds ons eenvoudige klere gedra. Tussen sessies was daar feitlik al die tyd iemand wat met ons gesels het. Hulle liefde, aandag en aanvaarding het ’n indruk op ons gemaak. Ons is ook deur die eenheid beïndruk, want waar ons ook al ’n vergadering bygewoon het, was die leringe dieselfde.

Die persoonlike belangstelling wat die Getuies in ons getoon het, het James beweeg om ’n Bybelstudie te aanvaar. Hy het alles noukeurig ondersoek, want hy wou seker wees van wat hy leer (Handelinge 17:11; 1 Tessalonisense 5:21). Mettertyd het James gemeen dat hy die waarheid gevind het. Maar ek was verward. Ek wou die regte ding doen, maar ek wou nie “modern raak” en as “wêrelds” beskou word nie. Toe ek aanvanklik ingestem het om die Bybelstudie by te woon, het ek die King James-vertaling op die een knie gehad en die moderne Nuwe Wêreld-vertaling op die ander een. Ek het elke vers in albei vertalings nagegaan om seker te maak dat ek nie mislei word nie.

Hoe ek oortuig is

Terwyl die Getuies met ons gestudeer het, het ons geleer dat ons hemelse Vader een God is, nie ’n Drie-eenheid nie, en dat ons siele is en nie ’n onsterflike siel het nie (Genesis 2:7; Deuteronomium 6:4; Esegiël 18:4; 1 Korintiërs 8:5, 6). Ons het ook geleer dat die hel die gemeenskaplike graf van die mensdom is, nie ’n plek van vurige foltering nie (Job 14:13; Psalm 16:10; Prediker 9:5, 10; Handelinge 2:31). Dit was ’n mylpaal om die waarheid oor die hel te leer, aangesien die Ou Broeders nie oor die betekenis daarvan kon saamstem nie.

Maar ek het nog steeds gewonder hoe die Getuies die ware godsdiens kon wees as hulle, na my mening, nog ’n deel van die wêreld was. Hulle het nie die “eenvoudige” lewe gelei wat ek gedink het so nodig was nie. Maar terselfdertyd het ek besef dat hulle Jesus se opdrag uitvoer om die goeie nuus van die Koninkryk aan alle mense te verkondig. Ek was so verward!—Matteus 24:14; 28:19, 20.

Gedurende hierdie kritieke tyd het die liefde van die Getuies my gehelp om voort te gaan met my ondersoek. Die hele gemeente het in ons gesin belangstelling getoon. Verskillende gemeentelede het ons besoek—partykeer het hulle melk en eiers by ons kom koop as ’n verskoning om te kom kuier—en ons het begin sien dat hulle werklik goeie mense is. Hulle het nie ons huis vermy omdat ’n sekere Getuie met ons gestudeer het nie. Maar wanneer mense in die gemeente ook al naby ons huis was, het hulle ingeloer. Ons het hierdie geleenthede om die Getuies te leer ken werklik nodig gehad en het hulle opregte belangstelling en liefde begin waardeer.

Hierdie persoonlike belangstelling is nie net deur die Getuies in die gemeente naaste aan ons getoon nie. Terwyl ek met die kwessie oor behoorlike kleredrag en persoonsversorging geworstel het, het Kay Briggs, ’n Getuie van ’n nabygeleë gemeente, wat verkies het om eenvoudig aan te trek en nie grimering te dra nie, my kom besoek. Sy het my op my gemak laat voel en ek kon makliker met haar gesels. Toe het Lewis Flora, wat ook in ’n “eenvoudige” godsdiens grootgemaak is, my eendag kom besoek. Hy kon op my gesig sien hoe verward ek was en het vir my ’n brief van tien bladsye geskryf om my te probeer gerusstel. Sy goedhartigheid het my tot trane geroer, en ek het sy brief oor en oor gelees.

Ek het ’n reisende opsiener, broer O’Dell, gevra om Jesaja 3:18-23 en 1 Petrus 3:3, 4 aan my te verduidelik. “Wys hierdie verse nie dat eenvoudige klere nodig is om God te behaag nie?” het ek gevra. Hy het geredeneer: “Is dit verkeerd om ’n kappie te dra? Is dit verkeerd om hare te vleg?” In die Ou Broeders het ons dogtertjies se hare gevleg, en die vroue het kappies gedra. Ek kon die inkonsekwentheid daarvan sien en was beïndruk deur die reisende opsiener se geduld en vriendelike gesindheid.

Ek het geleidelik al hoe meer oortuig geraak, maar daar was nog een kwessie wat my baie gepla het—dat vroue hulle hare sny. Christen- ouer manne het met my geredeneer dat sommige vroue se hare net tot ’n sekere lengte groei, terwyl ander se hare baie lank kan word. Beteken dit dan dat die een vrou se hare beter is as die ander een s’n? Hulle het my ook gehelp om te sien watter rol die gewete in kleredrag en persoonsversorging speel en het my geskrewe inligting gegee om huis toe te neem en te lees.

Ons tree op volgens wat ons geleer het

Ons was op soek na goeie vrugte en ons het dit gevind. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Ons was oortuig dat Jehovah se Getuies mense is wat ware liefde betoon. Dit was nietemin ’n verwarrende tyd vir ons twee oudste kinders, Nathan en Rebecca, aangesien hulle die Ou Broeder-godsdiens aangeneem het en daarin gedoop is. Hulle is uiteindelik beweeg deur die Bybelwaarhede waarvan ons hulle vertel het en deur die liefde wat die Getuies betoon het.

Rebecca het byvoorbeeld altyd daarna gesmag om ’n hegte verhouding met God te hê. Dit was vir haar makliker om tot hom te bid toe sy leer dat hy nie voorbestem het hoe mense sal optree of wat hulle toekoms sal wees nie. Sy het ook nader aan God gekom toe sy besef het dat hy nie ’n deel van ’n raaiselagtige Drie-eenheid is nie, maar dat hy ’n werklike persoon is, iemand wat sy kon navolg (Efesiërs 5:1). En sy was bly dat sy nie nodig gehad het om die verouderde taal van die King James-vertaling te gebruik wanneer sy met hom praat nie. Toe sy uitgevind het wat God se vereistes in verband met gebed is, en dat sy grootse voorneme is dat mense vir ewig op ’n aardse paradys moet lewe, het sy baie nader aan haar Skepper begin voel.—Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

Voorregte wat ons almal geniet

Ek en James en ons vyf oudste kinders—Nathan, Rebecca, George, Daniel en John—is in die somer van 1987 as Jehovah se Getuies gedoop. Harley is in 1989 gedoop en Simon in 1994. Ons hele gesin is nog steeds baie betrokke by die werk wat Jesus Christus sy volgelinge beveel het om te doen, naamlik die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk.

Ons vyf ouer seuns—Nathan, George, Daniel, John en Harley—sowel as ons dogter Rebecca—het almal by die Amerikaanse takkantoor van Jehovah se Getuies gedien. George is nou al 14 jaar daar, en Simon, wat in 2001 klaargemaak het met skool, het onlangs ook ’n lid van die takkantoorpersoneel geword. Al ons seuns is ouer manne of bedieningsknegte in gemeentes van Jehovah se Getuies. My man dien as ’n ouer man in die Thayer-gemeente in Missouri, en ek bly besig in die bediening.

Ons het nou drie kleinkinders—Jessica, Latisha en Caleb—en ons is bly om te sien dat hulle ouers liefde vir Jehovah in hulle tere hartjies inskerp. As ’n gesin is ons verheug dat Jehovah ons na hom toe getrek en ons gehelp het om sy naamvolk uit te ken aan die goddelike liefde wat hulle betoon.

Ons harte gaan uit na ander wat ’n sterk begeerte het om God te behaag, maar wie se gewete dalk deur hulle omgewing opgelei is en nie deur die Bybel nie. Ons hoop dat hulle die geluk sal smaak wat dit ons nou verskaf om van deur tot deur gaan, nie met landbouprodukte nie, maar met ’n boodskap oor God se Koninkryk en die wonderlike dinge wat dit teweeg sal bring. Trane van waardering wel in my oë op wanneer ek dink aan al die geduld en liefde wat aan ons betoon is deur die mense wat Jehovah se naam dra!

[Prente op bladsy 19]

Toe ek omtrent sewe jaar oud was, en later as ’n volwassene

[Prent op bladsy 20]

James, George, Harley en Simon in eenvoudige klere

[Prent op bladsy 21]

Hierdie foto van my waar ek landbouprodukte na die mark bring, het in ’n plaaslike koerant verskyn

[Erkenning]

Journal and Courier, Lafayette, Indiana

[Prent op bladsy 23]

Saam met ons gesin vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel