Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 12/15 bl. 9-13
  • Hulle het na die smal pad gesoek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle het na die smal pad gesoek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geen geweld—geen kompromis
  • ’n Blik op die verlede
  • Van eenheid tot onenigheid
  • Uitgesproke en vervolg
  • Kleredrag en persoonsversorging was my struikelblok
    Ontwaak!—2003
  • Die “Poolse Broeders”—Waarom is hulle vervolg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Keur God alle partytjies goed?
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Praag—Kom besoek ons historiese juweel
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 12/15 bl. 9-13

Hulle het na die smal pad gesoek

BYNA 550 jaar gelede het klein groepies verklaarde Christene in Praag, Chelčice, Vilémov, Klatovy en ander stede in wat nou die Tsjeggiese Republiek is, hulle huise verlaat. Hulle het hulle gevestig naby die dorp Kunwald, in ’n vallei in die noordooste van Boheme, waar hulle huisies gebou, die land bewerk, hulle Bybels gelees en hulleself die Verenigde Broeders, of Unitas Fratrum in Latyn, genoem het.

Die setlaars het uit verskillende agtergronde gekom. Hulle was kleinboere, edelmanne, universiteitstudente, ryk en arm, mans en vroue, weduwees en wese, wat almal ’n gemeenskaplike begeerte gehad het. “Ons het ons tot God in gebed gewend”, het hulle geskryf, “en Hom gesmeek om Sy grootse wil in alles aan ons te openbaar. Ons wou in Sy weë wandel.” Ja, hierdie Verenigde Broeders, of die Tsjeggiese Broeders soos hierdie gemeenskap van gelowiges later bekend gestaan het, was op soek na die ‘smal pad wat na die lewe lei’ (Matteus 7:13, 14). Watter Bybelwaarhede het hulle soeke aan die lig gebring? Hoe het hulle oortuigings verskil van dié wat in daardie tyd aanvaar is, en wat kan ons by hulle leer?

Geen geweld—geen kompromis

Verskeie godsdiensbewegings het in die middel van die 15de eeu tot die vorming van die Verenigde Broeders bygedra. Een was die Waldense, ’n beweging wat uit die 12de eeu dateer. Aanvanklik het die Waldense hulle onttrek aan die Rooms-Katolieke Kerk, die staatsgodsdiens in Sentraal-Europa. Maar later het hulle na sekere Katolieke leerstellings teruggekeer. Nog ’n invloedryke groep was die Hussiete, navolgers van Johannes Hus. Die meerderheid van die Tsjeggiese bevolking het tot hierdie godsdiens behoort, maar hulle was beslis nie verenig nie. Een faksie het oor maatskaplike geskille baklei terwyl ’n ander een godsdiens gebruik het om politieke oogmerke te bevorder. Die Broeders is ook beïnvloed deur chiliastiese groepe en deur plaaslike en buitelandse Bybelgeleerdes.

Peter Chelčický (ca. 1390-ca. 1460), ’n Tsjeggiese Bybelgeleerde en hervormer, was bekend met die leringe van die Waldense en die Hussiete. Hy het die Hussiete verwerp omdat hulle beweging gewelddadig begin raak het, en hy het die Waldense die rug toegekeer omdat hulle ontrou was aan hulle oortuigings. Hy het oorlog as onchristelik veroordeel. Hy was van mening dat “die wet van die Christus” ’n Christen moet rig, ongeag die gevolge wat dit sou hê (Galasiërs 6:2; Matteus 22:37-39). In 1440 het Chelčický sy leringe in die boek Netwerk van die geloof opgeteken.

Gregorius van Praag, ’n jonger tydgenoot van die geleerde Chelčický, was so beïndruk met Chelčický se leringe dat hy die Hussiete-beweging verlaat het. In 1458 het Gregorius klein groepies voormalige Hussiete in verskillende dele van Tsjeggië oorreed om hulle huise te verlaat. Hulle was onder diegene wat hom na die dorp Kunwald gevolg het, waar hulle ’n nuwe godsdiensgemeenskap gestig het. Later het groepe Tsjeggiese en Duitse Waldense daar by hulle aangesluit.

’n Blik op die verlede

Van 1464 tot 1467 het hierdie jong, maar groeiende groep ’n aantal sinodes in die omgewing van Kunwald gehou en verskeie resolusies aangeneem waarin hulle nuwe godsdiensbeweging omskryf is. Alle resolusies is nougeset neergeskryf in ’n reeks boeke, wat nog bestaan en nou bekend is as die Acta Unitatis Fratrum (Handelinge van die Verenigde Broeders). Die Acta gee ’n blik op die verlede en voorsien ’n duidelike beeld van wat die Broeders geglo het. Die boeke bevat briewe, geskrewe kopieë van toesprake en selfs besonderhede oor hulle geskille.

Wat die oortuigings van die Broeders betref, sê die Acta: “Ons is vasbeslote om ons administrasie uitsluitlik te grond op ‘Skriflesing’ en op die voorbeelde van ons Here en die heilige apostels, in stilte, nederigheid en lankmoedigheid, om ons vyande lief te hê, aan hulle goed te doen, hulle die goeie toe te wens en vir hulle te bid.” Die geskrifte toon ook dat die Broeders aanvanklik aan die predikingswerk deelgeneem het. Hulle het twee-twee gereis, en vroue het sukses behaal in die plaaslike sendingwerk. Die Broeders het nie ’n politieke amp beklee, ’n eed afgelê, by militêre bedrywighede betrokke geraak of wapens gedra nie.

Van eenheid tot onenigheid

Ná ’n paar dekades het die Verenigde Broeders egter nie getrou aan hulle naam gebly nie. Geskille oor hoe letterlik hulle oortuigings toegepas moes word, het tot verdeeldheid gelei. In 1494 het die Broeders in twee groepe verdeel—die Groot en die Klein Party. Terwyl die Groot Party sy oorspronklike oortuigings afgewater het, het die Klein Party verkondig dat die Broeders ferm moet bly in hulle standpunt teen die politiek en die wêreld.—Sien die venster “Wat van die Groot Party?”

’n Lid van die Klein Party het byvoorbeeld geskryf: “Mense wat op twee paaie loop, het min versekering dat hulle by God sal bly, aangesien hulle selde en net in klein dingetjies bereid is om opofferings te maak en hulle aan Hom te onderwerp, terwyl hulle in groot dinge hulle eie weg volg. . . . Ons wil graag getel word onder diegene wie se verstande nie beïnvloed is nie en wat ’n goeie gewete het—wat elke dag die Here Christus op die smal pad met hulle kruis volg.”

Lede van die Klein Party het die heilige gees beskou as God se werkende krag, sy “vinger”. Hulle begrip van Jesus se losprys was dat die volmaakte man Jesus met sy menselewe betaal het vir wat die sondaar Adam verloor het. Hulle het nie Maria, Jesus se moeder, vereer nie. Hulle het die leer herstel dat alle gelowiges tot die priesterskap behoort en die gelofte van die selibaat verwerp. Hulle het alle gemeentelede aangemoedig om aan die openbare predikingswerk deel te neem en onberouvolle sondaars uitgesit. Hulle het streng afgeskeie gebly van alle militêre en politieke bedrywighede. (Sien die venster “Wat die Broeders van die Klein Party geglo het”.) Aangesien die Klein Party streng by die resolusies in die Acta gebly het, het hulle hulleself beskou as die ware opvolgers van die oorspronklike Verenigde Broeders.

Uitgesproke en vervolg

Die Klein Party het ander godsdienste, waaronder die Groot Party, openlik gekritiseer. “Julle leer dat klein kindertjies, wat nie geloof het nie, gedoop moet word”, het hulle oor hierdie godsdienste geskryf, “en hierin volg julle die instelling van ’n biskop genaamd Dionisius, wat op aansporing van onverstandige mense kinderdoop beklemtoon het . . . Feitlik alle leermeesters en doktore hang dit aan, Luther, Melanchton, Bucerus, Korvín, Jiles̆, Bullinger, . . . die Groot Party, en hulle word almal daardeur beïnvloed.”

Dit is te verstane dat die Klein Party vervolg is. In 1524 is een van hulle leiers, Jan Kalenec, gegesel en gemartel. Later is drie lede van die Klein Party na die brandstapel gestuur. Dit wil voorkom of die Klein Party so teen 1550 van die toneel af verdwyn het, ná die dood van hulle laaste leier.

Die gelowiges van die Klein Party het nietemin hulle merk gelaat op die godsdienslandskap van Middeleeuse Europa. Aangesien “die ware kennis” nog nie oorvloedig geword het in die dae van die Klein Party nie, het hulle nie daarin geslaag om die jare lange geestelike duisternis te verdryf nie (Daniël 12:4). Maar hulle sterk begeerte om na die smal pad te soek en dit ondanks teenkanting te volg, is iets waarop Christene vandag kan let.

[Lokteks op bladsy 13]

Vyftig uit die 60 Boheemse (Tsjeggiese) boeke wat tussen 1500 en 1510 gedruk is, is blykbaar deur lede van die Verenigde Broeders geskryf

[Venster op bladsy 11]

Wat van die Groot Party?

Wat het van die Groot Party geword? Nadat die Klein Party van die toneel verdwyn het, het die Groot Party as ’n godsdiensbeweging voortbestaan, steeds bekend as die Verenigde Broeders. Mettertyd het hierdie groep sy oorspronklike oortuigings aangepas. Teen die einde van die 16de eeu het die Verenigde Broeders ’n bondgenootskap gevorm met die Tsjeggiese Utrakwistea, wat in wese Luthers was. Die Broeders het egter bedrywig gebly en die Bybel sowel as ander godsdiensboeke vertaal en gepubliseer. Dit is interessant dat die titelblaaie van hulle vroeë publikasies die Tetragrammaton bevat het, soos die vier Hebreeuse letters van God se persoonlike naam bekend is.

In 1620 is die Tsjeggiese koninkryk met dwang weer onder Rooms-Katolieke oorheersing gebring. Gevolglik het baie Broeders van die Groot Party die land verlaat en hulle bedrywighede in die buiteland voortgesit. Daar het die groep later bekend geword as die Morawiese Kerk (Morawië is deel van die Tsjeggiese lande), wat nog steeds bestaan.

[Voetnoot]

a Van die Latynse woord utraque wat “elk van twee” beteken. Anders as die Rooms-Katolieke priesters, wat gedurende die Nagmaal nie wyn aan die lekedom bedien het nie, het die Utrakwiste (verskillende groepe Hussiete) wel brood en wyn bedien.

[Venster op bladsy 12]

Wat die Broeders van die Klein Party geglo het

Die volgende aanhalings uit die 15de- en 16de-eeuse Acta Unitatis Fratrum toon wat party van die oortuigings van die Klein Party was. Die stellings, wat deur leiers van die Klein Party geskryf is, is hoofsaaklik tot die Groot Party gerig.

Drie-eenheid: “Julle kan deur die hele Bybel gaan, en julle sal nêrens vind dat God in ’n soort Drie-eenheid, drie persone by name, verdeel is soos mense versin het nie.”

Heilige gees: “Die heilige gees is God se vinger en ’n gawe van God, of ’n vertrooster, of God se Krag, wat die Vader aan gelowiges gee op grond van Christus se verdienste. Ons vind nie in die Heilige Skrif dat die heilige gees ’n God of ’n Persoon genoem moet word nie; en die apostoliese leringe toon dit ook nie.”

Priesterdom: “Hulle gee julle verkeerdelik die titel “priester”; as julle julle tonsuur en vingersalf wegneem, is julle nie verhewe bo die eenvoudigste leek nie. Sint Petrus doen ’n beroep op alle Christene om priesters te wees en sê: Julle is die heilige priesterdom wat geestelike offerandes bring (1 Petrus 2).”

Doop: “Die Here Christus het vir sy apostels gesê: Gaan die hele wêreld in, verkondig die Evangelie aan die hele skepping, aan diegene wat sal glo (Markus, hoofstuk 16). En slegs ná hierdie woorde: en nadat hulle gedoop is, sal hulle gered word. En julle leer dat klein kindertjies, wat nie geloof het nie, gedoop moet word.”

Neutraliteit: “Wat julle vroeë broers as sleg en onrein beskou het, om by die weermag aan te sluit en te moor of om met wapens op die straat te verskyn, dit alles beskou julle as goed . . . Ons voel dus dat julle, saam met ander onderrigters, net met julle linkeroog na die profetiese woorde kyk wat sê: So het hy die krag van die boog verbreek, die skild en die swaard en die stryd (Psalm 75 [Psalm 76 in die Nuwe Wêreld-vertaling]). En ook: Hulle sal nie skade of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, want die Here se aarde sal vol goddelike kennis wees, ensovoorts (Jesaja, hoofstuk 11).”

Prediking: “Ons weet goed dat vroue, aanvanklik, meer mense tot inkeer gebring het as al die priesters saam met ’n biskop. En nou is die priesters gevestig in hulle plekke en hulle toegewese pastorieë. Hoe verkeerd tog! Gaan die hele wêreld in. Preek . . . vir die hele skepping.”

[Kaarte op bladsy 10]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DUITSLAND

POLE

TSJEGGIESE REPUBLIEK

BOHEME

Elberivier

PRAAG

Vltavarivier

Klatovy

Chelčice

Kunwald

Vilémov

MORAWIË

Donaurivier

[Prente op bladsy 10, 11]

Links: Peter Chelčický; onder: bladsy uit “Netwerk van die geloof”

[Prent op bladsy 11]

Gregorius van Praag

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Alle prente: S laskavým svolením knihovny Národního muzea v Praze, C̆esko

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel