Ons beskou die wêreld
Rooftog deur Internet gefnuik
Mauricio, wat in Uruguay woon, het deur middel van ’n Internetrekenaarkamera (webkamera) met sy vriendin in Brasilië gepraat toe sy die videogesprek onderbreek om te gaan kyk wie by die deur is. Ná ’n rukkie het twee onbekende mans in die beeld verskyn, en een van hulle het ’n vuurwapen gehad. Mauricio het in afgryse toegekyk terwyl die rowers, onbewus dat hy hulle van ver af dophou, sy vriendin se besittings begin bymekaarmaak. Toe hy besef wat aangaan, het Mauricio ’n familielid in Sao Paulo gebel. Die familielid het die polisie in kennis gestel, en hulle het die huis omsingel. Nadat die rowers drie uur lank vasgekeer was, het hulle hulle aan die polisie oorgegee sonder om enigiemand leed aan te doen.
Die kloof tussen mense en ape
’n Onlangse ontleding van die DNS van sjimpansees en orangoetangs, sowel as dié van resusape en sekere ander ape, het aan die lig gebring dat hulle genetiese samestelling nie so soortgelyk aan die mens s’n is as wat wetenskaplikes vroeër gedink het nie. “Die verskille in DNS wat ape van mense sowel as van mekaar onderskei, is definitief nie klein nie”, sê die Britse tydskrif New Scientist. “Daar is oral in die chromosoom groot dele wat ontbreek en ingelas is”, verduidelik Kelly Frazer van Perlegen Sciences, die maatskappy in Kalifornië, VSA, wat die ontleding gedoen het. New Scientist het die verskille as ’n “reusekloof tussen ons en ape” beskryf.
Vermiste familielede
Derduisende families regoor die wêreld weet nie wat van hulle familielede geword het wat tydens oorlog of burgerlike onrus verdwyn het nie. ’n Onlangse konferensie in Genève, Switserland, met die tema “Die vermistes” het die benarde situasie van die families van vermiste persone bespreek, soos daar in Duitsland se Frankfurter Allgemeine Zeitung berig is. Volgens Sophie Martin, hoof van die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis se “Vermiste persone”-projek, “kan [familielede] jare nadat die gevegte opgehou het, nog angstig wees”. In baie gevalle voel die slagoffers se families dat “hulle nie met hulle lewens kan aangaan of met die genesingsproses kan begin nie”. Voormalige vegtende partye wil dikwels nie hulle samewerking gee om vermiste persone op te spoor nie. Die rede daarvoor is dalk nie soveel hulle onvermoë as hulle onwilligheid nie. Soos een deskundige gesê het, kan die waarheid oor die omstandighede waarin vermiste persone gesterf het, gruweldade wat in oorlogstyd gepleeg is, aan die lig bring.
Borsbabas—slimmer en gesonder
“Navorsers in Queensland wat amper 4 000 kinders van Brisbane ondersoek het, het gevind dat dié wat geborsvoed is, oor die algemeen hoër IK’s het”, sê The Daily Telegraph van Sydney, Australië. Professor Jake Najman van die Universiteit van Queensland het gesê: “Hoe langer ’n ma geborsvoed het, hoe hoër is die intelligensie van die kind. Kinders wat geborsvoed is, het nie net ’n klein voorsprong nie—dit is omtrent agt IK-punte, wat aansienlik hoër is. Dit is die verskil tussen ’n gemiddelde kind en ’n redelik intelligente kind.” Nog ’n moontlike voordeel van borsvoeding is dat dit dalk ’n faktor is wat die kanse dat ’n kind oorgewig sal word, met tot 30 persent verminder, sê ’n verslag in Sydney se Sunday Telegraph. Volgens soogkonsultant Joy Heads, “is daar baie min waardelose elemente in borsmelk, wat amper heeltemal benut word. Jy kan ’n groot, mollige borsbaba hê sonder dat daar enigiets met hom fout is. Maar ’n vet, bottelbaba staan ’n groter kans om later in sy lewe oorgewig te wees.”
Langafstand-kliëntediensoproepe
Iemand in Philadelphia, in die Verenigde State, skakel ’n plaaslike kliëntediensnommer. Hoewel die jong dame wat die telefoon antwoord haarself as Michelle identifiseer, is haar regte naam Meghna, en is sy in Indië, waar dit die middel van die nag is. Meer as 100 000 mense werk by hierdie Indiese inbelsentrums om al die “agter die skerm”-kantoorwerk vir buitelandse maatskappye, soos American Express, AT&T, British Airways, Citibank en General Electric te behartig. Hierdie werk is na Indië oorgeplaas weens bekostigbare internasionale telefoonkoste en die oorvloed opgevoede, Engelssprekende werkers in Indië, “wat 80 persent minder verdien as mense wat dieselfde werk doen in westerse lande”, berig die tydskrif India Today. Om so Amerikaans moontlik te klink, ontvang telefoniste soos Meghna maande lange opleiding, en dit sluit in dat hulle “Hollywoodtreffers kyk om die groot verskeidenheid Amerikaanse aksente aan te leer”. Meghna se rekenaar sê selfs vir haar hoe die weer in Philadelphia is, sodat sy iets daaroor kan sê. En sy sluit af deur te sê: “Geniet die dag.”
Loodgietery onder die see
Daar is gevind dat twee onderwatervulkane wat naby die kus van Kanada se Vancouver-eiland ontdek is, as ’n massiewe loodgietersisteem dien wat onder die oseaanbodem vloei, berig die tydskrif Canadian Geographic. Wetenskaplikes weet al lank dat seewater onder die oseaanbodem sirkuleer. “Die probleem is dat die grootste deel van die seebodem nie baie blootgestelde rotse het waardeur water kan dring nie”, verduidelik Andrew Fisher, ’n hidrogeoloog aan die Universiteit van Kalifornië in Santa Cruz. Fisher en sy kollegas het gevind dat seewater ingetrek word in ’n vulkaniese onderwaterberg, wat bo die ondeurdringbare kleibedekking van die oseaanbodem uitsteek. Die water kom dan by ’n ander onderwaterberg uit, meer as 50 kilometer verder. Fisher hoop dat hierdie ontdekking tot ’n beter begrip van die chemiese samestelling van seewater sal lei, sowel as van die mikrobes wat in die oseaankors lewe.
Nooit te oud om te leer nie
In Nepal, waar ongeletterdheid algemeen voorkom, het ’n bejaarde man met meer as 12 kleinkinders beroemdheid verwerf vir sy pogings om geleerdheid te kry. Bal Bahadur Karki, wat as Skrywer Baje bekend staan, is in 1917 gebore en het in die Tweede Wêreldoorlog geveg. Op die ouderdom van 84 het hy, ná vier pogings, sy senior sertifikaat ontvang. Nou, op die ouderdom van 86, volg hy ’n kollegekursus. Hy neem Engels as hoofvak en gee selfs privaat lesse in die taal. Hy sê dat dit hom laat vergeet hoe oud hy is en weer jonk laat voel as hy by ’n lessenaar sit en deur jongmense omring word. Met sy laaste besoek aan die hoofstad, Katmandoe, het hy pryse ontvang en is hy dawerend toegejuig vir sy prestasies. Hy het ander aangemoedig om nie moed op te gee net omdat hulle oud is nie. Maar Skrywer Baje het ’n klagte gehad. Hy moes drie dae lank loop om ’n bus te haal omdat hy nie afslag op sy vliegtuigkaartjie gekry het nie en nie die gewone prys kon bekostig nie. Hy het vir The Kathmandu Post gesê: “Die lugrederye moet vir my ’n studenteafslag gee, want ek is mos ook ’n student.”
Geestesiektes onder kinders
“Twee-en-twintig persent van kinders en adolessente in Spanje lei aan die een of ander geestesiekte”, berig Spanje se koerant ABC. “Die algemeenste is gedragsversteurings, angs, depressie en eetversteurings”, sê die kinderpsigiater María Jesús Mardomingo. Gedurende die laaste 30 jaar het spesialiste ’n opvallende toename in hierdie gevalle gesien, wat hulle tot die slotsom laat kom het dat emosionele probleme dikwels met ekonomiese vooruitgang gepaardgaan. Hulle sien byvoorbeeld dramatiese veranderinge in sosiale en kulturele waardes, insluitende ’n aansienlike afname in ouerlike gesag. “Hoewel ons weet dat onbuigsaamheid en gesagsmisbruik afbrekend is,” sê Mardomingo, “is dit belangrik dat liefde met gesag gekombineer word.”