Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 1/8 bl. 12-14
  • Die biblioteek van Aleksandrië herleef

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die biblioteek van Aleksandrië herleef
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe ’n legende geskep is
  • ’n Biblioteek verdwyn
  • So luisterryk soos in die verlede
  • Biblioteke—Poorte na kennis
    Ontwaak!—2005
  • Hoe om ’n teokratiese biblioteek in te rig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Hoe kan ons baat vind by die Koninkryksaal se biblioteek?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
  • Nuwe reëling vir Koninkryksaalbiblioteke
    Ons Koninkryksbediening—2003
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 1/8 bl. 12-14

Die biblioteek van Aleksandrië herleef

DIT was een van die beroemdste biblioteke van sy tyd. Dit het die stad Aleksandrië, Egipte, ’n mekka vir die wêreld se briljantste mense gemaak. Toe dit verdwyn het—niemand is seker hoe dit gebeur het nie—het werke van onskatbare waarde saam met dit verdwyn, wat ’n groot terugslag vir geleerdheid was. Nou is dit asof daardie indrukwekkende biblioteek herleef het.

Die herbouing van Aleksandrië se beroemde biblioteek het ’n gebou met ’n ongewone ontwerp opgelewer. Die hoofgebou van die Bibliotheca Alexandrina, soos die nuwe biblioteek amptelik genoem word, lyk soos ’n enorme, gekantelde drom. Die glas-en-aluminium-dak (1)—wat amper so groot is soos twee sokkervelde—het vensters wat noord wys waardeur lig in die hoofleeskamer inskyn (2). Die breë, skuinsafgesnyde silindervormige gebou huisves die vernaamste openbare areas en is gedeeltelik onder seespieël. Die gebou se plat, glinsterende oppervlak loop geleidelik af van ’n hoogte van sewe verdiepings en eindig in ’n diep watervoor. Op ’n afstand lyk die gebou soos die opkomende son wanneer die sonlig teen sy metaaloppervlak weerkaats.

Die buitekant van die sentrale drom bestaan uit ’n vertikale, wye boog van grys graniet, waarop rye letters van antieke en moderne alfabette gegraveer is (3). Die letters is trapsgewys gerangskik en is ’n gepaste simbool van die boustene van kennis.

Die binnekant van die silinder bestaan hoofsaaklik uit ’n oop, veelvlakkige leeskamer (4). Die gebou se kelderverdiepings het rakruimte vir 8 000 000 boeke. Daar is ook uitstallokale, lesingsale, spesiale voorsienings vir gesiggestremdes (5) en ’n planetarium—’n afsonderlike bolvormige struktuur wat soos ’n satelliet lyk wat in sy wentelbaan gestuit is (6). Dan het hierdie hipermoderne gebou ook nog gesofistikeerde rekenaar- en brandblusstelsels.

Hoe ’n legende geskep is

In antieke tye was die stad Aleksandrië bekend vir verlore wonders soos die Pharos—’n vuurtoring wat na bewering meer as 110 meter hoog was en as een van die sewe wonders van die antieke wêreld beskou is—en die graf van Aleksander die Grote. Die Griekse dinastie van die Ptolemeë het Egipte van Aleksander geërf en het oor die land geheers totdat Oktavianus in 30 v.G.J. vir Antonius en Kleopatra verslaan het. Onder die Ptolemeë se bewind is Aleksandrië heeltemal verander. Trouens, dit “het ’n ruk lank die kommersiële en kulturele middelpunt van die wêreld geword”, sê die Atlas of the Greek World. Gedurende sy bloeityd was Aleksandrië die tuiste van sowat 600 000 mense.

Die stad se vernaamste aantreklikheid was die koninklike biblioteek. Die biblioteek sowel as die Mouseion (Tempel van die Muse), wat vroeg in die derde eeu v.G.J. gestig is en milde finansiële ondersteuning van die Ptolemeus-familie ontvang het, het ’n sentrum van geleerdheid en uitvinding in die Helleense wêreld geword.

Daar was vermoedelik 700 000 papirusrolle in die biblioteek. In vergelyking hiermee was daar in die 14de eeu in die Sorbonne-biblioteek—wat die grootste versameling van die tyd gehad het—net 1 700 boeke. Egipte se heersers was so vasbeslote om hulle versameling te vergroot dat hulle elke skip wat daar aangedoen het, deur soldate laat deursoek het vir geskrifte. As hulle geskrifte gevind het, het hulle die oorspronklikes gehou en afskrifte teruggestuur. Toe Ptolemeus III, volgens sommige bronne, die waardevolle oorspronklike kopieë van die klassieke Griekse dramas by Atene geleen het, het hy belowe om ’n deposito te betaal en afskrifte daarvan te maak. Die koning het egter die oorspronklikes gehou, die deposito verbeur en afskrifte teruggestuur.

Die lys van groot denkers wat in die biblioteek en museum van Aleksandrië gewerk het, sluit talle genieë van antieke tye in. Groot werke op die gebied van die meetkunde, driehoeksmeting en sterrekunde, sowel as op die gebied van die taal, literatuur en geneeskunde, word aan geleerdes toegeskryf wat in Aleksandrië gewerk het. Volgens oorlewering was dit hier waar 72 Joodse geleerdes die Hebreeuse Geskrifte in Grieks vertaal het en sodoende die beroemde Septuagint die lig laat sien het.

’n Biblioteek verdwyn

Dit is ironies dat kroniekskrywers dit glad nie nodig geag het om Aleksandrië se institute in detail te beskryf nie. Atenaios, ’n derde-eeuse geskiedskrywer, het ’n tipiese gevoel uitgespreek: “Wanneer dit kom by die aantal boeke, die stigting van biblioteke en die versameling in die Saal van die Muse, is dit werklik nodig om iets daaroor te sê, want dit is alles in mense se geheues?” Hedendaagse geleerdes, wat bitter graag meer wil weet oor hierdie fassinerende antieke biblioteek, vind sulke kommentare frustrerend.

Teen die tyd van die Arabiese verowering van Egipte in 640 G.J. het die biblioteek van Aleksandrië waarskynlik nie meer bestaan nie. Geleerdes stem nie saam oor presies hoe en wanneer dit verdwyn het nie. Sommige sê dat baie van die inhoud daarvan waarskynlik in 47 v.G.J. vernietig is toe Julius Caesar ’n deel van die stad aan die brand gesteek het. Ongeag die oorsaak, die einde van die biblioteek het beteken dat ’n skat van kennis verlore gegaan het. Honderde werke van die Griekse toneelskrywers was vir ewig verlore, tesame met die geskrewe verslae van die eerste 500 jaar van die Griekse geskiedenis, met uitsondering van werke deur Herodotus, Tukidides en Xenofon.

Tussen die derde en sesde eeu G.J. was die stad Aleksandrië dikwels in beroering. Heidene, Jode en sogenaamde Christene het dikwels teen mekaar geveg asook oor geheimsinnige geloofspunte onder mekaar getwis. Die kerk self het oproermakers dikwels aangehits om heidense tempels te plunder. Tallose antieke geskrifte is in die proses vernietig.

So luisterryk soos in die verlede

Die herboude biblioteek is in Oktober 2002 geopen, en dit het sowat 400 000 boeke. ’n Gesofistikeerde rekenaarstelsel bied toegang tot ander biblioteke. Die hoofversameling fokus op die beskawings van die oostelike Mediterreense gebied. Aangesien daar rakruimte vir 8 000 000 boeke is, word daar gehoop dat die Biblioteek van Aleksandrië die aansien van hierdie antieke stad sal verhoog.

[Venster op bladsy 14]

BEROEMDES VAN ANTIEKE ALEKSANDRIË

ARGIMEDES: Wiskundige en uitvinder, derde eeu v.G.J. Talle ontdekkings en vroeë wetenskaplike pogings om die waarde van pi (π) te bereken, word aan hom toegeskryf.

ARISTARGUS VAN SAMOS: Sterrekundige, derde eeu v.G.J. Eerste persoon wat gespekuleer het dat die planete om die son wentel. Het driehoeksmeting gebruik in ’n poging om die afstand na die son en die maan en die grootte daarvan te bereken.

KALLIMAGOS: Digter en ’n hoofbibliotekaris, derde eeu v.G.J. Het die eerste indeks vir Aleksandrië se biblioteek opgestel, ’n werk wat die kanon van die klassieke Griekse literatuur geword het.

CLAUDIUS PTOLEMEUS: Sterrekundige, tweede eeu G.J. Sy aardrykskundige en sterrekundige geskrifte was standaardtekste.

ERATOSTENES: Het ensiklopediese kennis gehad en was een van die eerste bibliotekarisse van Aleksandrië, derde eeu v.G.J. Het die aarde se omtrek redelik akkuraat bereken.

EUKLIDES: Wiskundige, vierde eeu v.G.J. Die vader van die meetkunde en ’n pionier in die studie van die optika. Sy werk Elements is tot in die 19de eeu as die standaardteks vir meetkunde gebruik.

GALENUS: Geneesheer, tweede eeu G.J. Sy 15 boeke oor die geneeskunde het vir meer as 12 eeue die standaardteks geword.

[Foto-erkenning op bladsy 13]

Alle foto’s, albei bladsye: Courtesy of the Bibliotheca Alexandrina: Mohamed Nafea, Photographer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel