Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 1/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Europese mans en persoonsversorging
  • Te veel beroepsmense
  • Motors versus fietse in China
  • Goed om vir pasgebore babas te lees
  • Onbeskermde spesies aan die verdwyn
  • Pas op vir gedokterde drankies
  • Hoop vir die aarde se osoonlaag?
  • Wanneer ons atmosfeer beskadig word
    Ontwaak!—1994
  • Ons planeet—Die stryd om dit te red
    Ontwaak!—1996
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 1/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Europese mans en persoonsversorging

“Oor die afgelope vyf jaar het die tyd wat mans aan persoonsversorging bestee toegeneem, tot gemiddeld 3,1 uur per week—in vergelyking met gemiddeld 2,5 uur onder vroue”, berig die Londense koerant The Daily Telegraph. Die toenemende belangstelling in persoonlike voorkoms word weerspieël in die groeiende mark vir reukmiddels en produkte vir velsorg, haarsorg en persoonlike higiëne wat spesifiek vir mans bedoel is en “verlede jaar [’n waarde van] £13,6 miljard [R162,2 miljard]” gehad het “en na verwagting teen 2008 tot £16,1 miljard [R192,1 miljard] sal styg”. Die bestuurder van ’n skoonheidsalon vir mans het vir die koerant gesê: “Besigheid floreer, en kliënte spandeer gereeld tot £200 [R2 386] aan gesigsmassering, handversorging en voetversorging.” Daarbenewens sê die koerant dat “60 persent van reukmiddels vir mans nou direk aan mans verkoop word en nie meer aan nooiens of vrouens nie”.

Te veel beroepsmense

“Die feit dat iemand ’n graad verwerf het, is nie vandag ’n waarborg dat hy werk gaan kry nie”, sê die koerant El Universal van Mexiko-stad. ’n Onlangse studie wat in Mexiko gedoen is, het aan die lig gebring dat “40 persent van beroepsmense tussen 1991 en 2000 werk moes aanvaar wat glad nie met hulle graadkursus verband gehou het nie”. Dit beteken dat ongeveer 750 000 universiteitsgegradueerdes werk doen waarvoor ’n mens nie ’n graad nodig het nie, deur byvoorbeeld as “telefoonoperateurs, voertuigbestuurders, kulkunstenaars, narre [en] kroegmanne” te werk. Teen 2006, skat die verslag, sal daar 131 000 meer administrateurs, 100 000 meer boekhouers, 92 000 meer rekenaaringenieurs, 92 000 meer laerskoolonderwysers en 87 000 meer regsgeleerdes in Mexiko wees as wat daar werksgeleenthede in hierdie beroepe is.

Motors versus fietse in China

Namate die Chinese ekonomie groei, verkies al hoe meer mense om eerder ’n motor te bestuur as om fiets te ry. Byvoorbeeld, slegs 25 persent van Beijing se inwoners gebruik nou fietse as hulle vernaamste vervoermiddel, in vergelyking met 60 persent net tien jaar gelede. “In Beijing alleen”, sê die Kanadese koerant Toronto Star, “neem die aantal voertuie op die pad jaarliks met meer as 400 000 toe.” Gevolglik “is die gemiddelde spoed op die paaie [in daardie stad] net 12 kilometer per uur”. Die National Geographic berig dat daar gedurende 2003 in China “meer as tweemiljoen motors—70 persent meer as in 2002—opgeraap is deur beroepsmense wat kort tevore welvarend geword het”. Dit voeg by dat pendelaars se groeiende afhanklikheid van motors eerder as van fietse beteken dat “China Japan moontlik reeds verbygesteek het en die wêreld se tweede grootste olieverbruiker geword het”. Maar volgens skatting is daar nog steeds 470 miljoen fietse in China.

Goed om vir pasgebore babas te lees

“Om vir jong kinders te lees, het so ’n kragtige uitwerking op die res van hulle lewe dat deskundiges nou aanbeveel dat ouers dit begin doen wanneer hulle babas net ’n paar uur oud is”, sê The Toronto Star. Dr. Richard Goldbloom, wat die eerste geletterdheidsprogram vir pasgebore babas twee jaar gelede in Kanada gelei het, sê: “Een van die dinge wat ons geleer en waargeneem het, is dat babas baie vroeg reeds werklik aandag skenk wanneer jy vir hulle lees. Hulle luister.” Navorsing toon dat kinders se woordeskat en leesvaardighede verbeter word deur bloot vir hulle van ’n vroeë ouderdom af boeke te gee. Volgens die koerant “is die doel hiervan nie om kleuters te dwing om te leer lees nie, maar om hulle aan genoeg goeie taal bloot te stel sodat hulle ’n woordeskat kan opbou en letters en klanke kan begin herken—en uiteindelik werklike leesvaardighede kan aanleer”.

Onbeskermde spesies aan die verdwyn

In onlangse jare het bewaringsgesindes dit reggekry om meer as 10 persent van die aarde se oppervlak te beskerm, sê die koerant El Comercio van Peru. Ondanks hierdie prysenswaardige poging “word ten minste 300 soorte voëls, soogdiere, skilpaaie en amfibieë wat as ernstig bedreig beskou word”, glad nie deur huidige natuurbewaringstelsels beskerm nie. Die probleem, sê Gustavo Fonseca, uitvoerende visepresident van programme en wetenskap van Conservation International, is dat huidige bewaringsdoelwitte onvoldoende is, al is dit dalk “polities aantreklik”. “Ons moet spesifiek aandag skenk aan die bewaring van plekke waar ons die hoogste konsentrasie van bedreigde inheemse spesies vind”, sê hy. Die koerant het nog ’n gevaar vir bedreigde spesies genoem en berig dat die handel in bedreigde spesies, na die dwelm- en wapenhandel, een van die grootste onwettige handelsbedrywighede op die planeet is. Byna die helfte van alle dierspesies wat op die internasionale swartmark verkoop word, kom uit Suid-Amerikaanse woude.

Pas op vir gedokterde drankies

In Australië “word tot vyf persone elke dag seksueel aangerand nadat hulle drankies in kroeë, klubs en by private partytjies gedokter is”, waarsku die koerant The Australian. Drankies word gedokter wanneer alkohol of dwelms daarby gevoeg word sonder dat die persoon dit weet. Sommige van die dwelms wat gebruik word, is kleurloos, smaakloos en reukloos. Slagoffers kan gedisoriënteerd of geïmmobiliseerd raak of hulle bewussyn verloor. Party het al gesterf. ’n Landwye studie deur die Australiese Instituut vir Kriminologie het aan die lig gebring dat “sowat 4500 mense se drankies elke jaar gedokter word en dat tot 40 persent van hulle seksueel aangerand word”, sê die koerant. Wanneer die uitwerking van die gedokterde drankies verdwyn, onthou mense soms nie eers wat met hulle gebeur het nie.

Hoop vir die aarde se osoonlaag?

“Vlakke van chloorfluoorkoolstowwe (CFK’s) in die atmosfeer het uiteindelik begin daal”, berig die tydskrif ECOS, wat uitgegee word deur die Wetenskaplike en Industriële Navorsingsorganisasie van die Australiese Gemenebes (CSIRO). CFK’s in die atmosfeer beskadig die aarde se beskermende osoonlaag. Die hoeveelheid CFK’s in die bo-atmosfeer het meer as 50 jaar lank, tot die jaar 2000, geleidelik toegeneem. Sedertdien het die CFK-konsentrasie “met byna een persent per jaar gedaal”, sê ECOS. Hierdie afname, sê die verslag, “dui daarop dat die gat in die osoonlaag teen die middel van hierdie eeu kan toegaan”. Maar hierdie chemiese stowwe rig nog steeds skade aan. Die verslag sê: “Ondanks die afname het die gat in die osoonlaag bo Antarktika vanjaar . . . byna 29 miljoen vierkante kilometer bereik, meer as drie keer die oppervlak van Australië.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel