Ons beskou die wêreld
“Die onbekende planeet”
Drie aapspesies, wat voorheen onbekend was, is binne net twee jaar in die Amasonereënwoud gevind. Daar word jaarliks gemiddeld drie nuwe voëlspesies oor die hele wêreld ontdek. Ongeveer 1 200 kewerspesies is tydens ’n studie van 19 bome in Panama gevind, en 80 persent van hulle was nie voorheen bekend nie. Die tydskrif UNESCO Sources sê: “Daar is tallose lewensvorme waarmee ons steeds onbekend is.” Byvoorbeeld, “na raming moet 40 persent van Suid-Amerika se varswatervisse nog geklassifiseer word. . . . En wat sal ons in die grootliks onverkende dieptes van die oseaan vind?” Die probleem vergroot as ’n mens die tallose kleiner lewensvorme in ag neem: die bakterieë, fungi, nematodes, spinagtiges, insekte en plante wat nog ontdek moet word. Net “een gram tropiese grond kan byvoorbeeld tot 90 miljoen bakterieë en mikrobes bevat”. Volgens UNESCO Sources skat party dat daar “tot 200 miljoen” spesies op die aarde kan wees. Ondanks omvattende verkenning is die aarde steeds “die onbekende planeet”.
Die vinnige verandering van waardes in Kanada
The Toronto Star berig: “Kanadese—Engels- sowel as Franssprekendes—het binne die bestek van een geslag die gesag van die kerk, die staat en die monopolieë en oligopolieë verwerp wat voorheen tot gerustheid en orde in die handelswêreld en in die gemeenskap bygedra het.” Waarom? Hulle wil onmiddellike materiële bevrediging hê. Hulle probeer ‘alles nóú verkry’. “Die Joods-Christelike sedewet is met sekulêre humanisme vervang en Katolieke ortodoksie met materiële hedonisme. Min is bereid om bevrediging tot die hiernamaalse lewe uit te stel, wat nog te sê tot wanneer ’n mens oud is”, sê die Star verder. God word nie meer as ’n bonatuurlike wese beskou nie. Daar is dus geen vrees en geen skuldgevoel nie. Geestelike belange ly daaronder, aangesien alles gedoen word om soveel moontlik uit die materiële wêreld te kry.
Twintigste-eeuse versiendheid
Kon enigiemand wat in die vorige eeu gelewe het hom sulke hedendaagse ontwikkelings soos motors, massavervoer, elektroniese musiek en faksmasjiene voorgestel het? In 1863 het die Franse romanskrywer Jules Verne, wat bekend is vir werke soos Around the World in 80 Days en 20,000 Leagues Under the Sea, daardie en ander ontwikkelings in ’n voorheen ongepubliseerde roman met die titel Paris in the 20th Century voorspel. Hoewel Verne se uitgewer dit verwerp het omdat dit volgens hom te verregaande en ongelooflik was, skets hierdie werk wat onlangs gevind is ’n verbasend akkurate prentjie van die lewe in ons 20ste eeu, met inbegrip van gevorderde wapens, die elektriese stoel, besoedeling en verkeersopeenhopings. Verne het ’n geteisterde bevolking vooruitgesien wat belangstelling in klassieke prestasies en kultuur van die verlede verloor het, ’n gemeenskap in die greep van kommersialisme en verslaaf aan die tegnologie. Die Paryse International Herald Tribune het gesê: “Verne het nie net baie prestasies van die moderne tegnologie voorspel nie, maar hy het ook van die skrikwekkendste gevolge vooruitgesien.”
Misdaad in Japan neem toe
Japan, wat tot onlangs toe nog as betreklik misdaadvry beskou is, ondervind ’n toename in misdaad wat die polisie toeskryf aan die resessie, ’n toename in vuurwapensmokkelary en die kwynende invloed van georganiseerde misdaad. Volgens die polisie-amptenaar Takadji Koenimatsoe het misdade met vuurwapens rekordvlakke bereik en sal dit, as dit ongehinderd voortgaan, “die fondamente van openbare orde [in Japan] skud”. Volgens die Mainichi Daily News neem misdade wat deur “gewone mense” gepleeg word ook toe, en dit word deels veroorsaak deur “die voortdurende stres van die saamgedronge stadslewe”. Om stadsbewoners dit te help oorleef, het Soesoemoe Oda, ’n professor in sosiologie, die volgende wenke gegee: Behou die basiese hoflikheidsgebare, soos om terug te groet, om “verskoon my” te sê wanneer dit gepas is en te glimlag “om enige vyandigheid wat gewaar word te verdryf”. Leer om beleefd “nee” te sê. Maak ’n gewoonte daarvan om die veiligheidskettings aan deure te gebruik. Beskou die polisie as bondgenote. En “moenie opleiding in die verweerkuns as ’n manier beskou om jou teen misdaad te beskerm nie—dit is waarskynliker dat iemand ernstig daardeur beseer sal word”.
Die risiko’s van bloedoortappings
“Kanada se bloedvoorraad kan duisend jaar van nou af getoets word en daar sal steeds bloedoortappingsrisiko’s bestaan”, sê The Toronto Star. Toe dr. William Noble van die St. Michael-hospitaal voor ’n kommissie getuig het wat die veiligheid van Kanada se bloedvoorraad ondersoek het, het hy gesê: “Dit (die risiko’s) bestaan en dit sal altyd bestaan.” Die risiko’s van bloedoortappings wissel “van allergiese reaksies tot die moontlikheid om vigs van geskenkte bloed op te doen”, sê die Star. Bloedoortappingsdeskundiges beweer dat al hoe meer pasiënte vandag bekommerd is dat hulle vigs van bloed gaan opdoen. Dr. Noble sê: “Daar gaan nie ’n dag verby dat ons nie ’n bespreking het oor: ‘Moet ek of moet ek nie ’n bloedoortapping toedien nie?’”
Beerhandel
“Die onwettige handel in swartbeerliggaamsdele uit Kanada kan winsgewender wees as om aan die internasionale dwelmhandel deel te neem”, beweer The Toronto Star. Daar is ’n ongewone aanvraag na die galblaas en pote van die swartbeer deur beoefenaars van tradisionele geneeskunde in die welvarender lande van Asië, soos China, Suid-Korea, Japan, Taiwan en Hongkong. “’n Polisiebeampte van Kalifornië het geskat dat die ‘straatwaarde’ (die koste aan die eindverbruiker) van ’n kilogram beergalblaas in Asië tot meer as $1 miljoen [R3,6 miljoen] toeneem teen die tyd dat dit met die gal van koeie of varke [verdun is]”, sê die Star verder. “In vergelyking hiermee is die geskatte straatwaarde van kokaïen in die Toronto-stadsgebied $100 000 [R360 000] per kilogram.” Carole Saint-Laurent, ’n spesialis op die gebied van bedreigde spesies, van die Wêreld-Natuurlewefonds in Kanada, sê: “Dit is ’n geweldige groot bedryf.” Daar word gevrees dat die aanvraag na beerliggaamsdele steeds sal toeneem. In Asië is die beerbevolking reeds in groot mate uitgewis.
Brasilië se bedreigde spesies
“Brasilië het drie keer soveel tropiese woude as enige ander land, is die rykste land ter wêreld wat biologiese diversiteit betref en het daarbenewens die grootste verskeidenheid soogdiere, 460 spesies, in sy gebied”, sê die koerant O Estado de S. Paulo. “Maar Brasilië is ook die land met die meeste bedreigde spesies, 310, waarvan 58 soogdiere is.” Hoewel geen soogdier tot dusver uitgesterf het nie, “word 12 persent van die Brasiliaanse soogdiere bedreig”, soos “die leeutamaryn wat net in Brasilië voorkom”. Party bedreigde spesies “leef in sulke beperkte gebiede dat enige versteuring van hulle habitat tot hulle uitwissing aanleiding kan gee”. Volgens die koerant word daar aanvaar dat ’n spesie uitgesterf het as 50 jaar verbygaan sonder dat enige spesimen in die natuur gevind word.
Mense op die planeet
Volgens statistiek deur UNFPA (Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds) was daar 5,66 miljard mense op die planeet teen die middel van 1994. Volgens projeksies gaan hierdie syfer teen 1998 tot 6 miljard styg, teen die jaar 2025 tot 8,5 miljard en teen 2050 tot 10 miljard, en byna al die groei gaan in Asië, Afrika en Latyns-Amerika plaasvind. Afrika, met ’n jaarlikse bevolkingsgroeikoers van 2,9 persent, is die gebied met die vinnigste aanwas ter wêreld. Europa is die laagste—0,3 persent. UNFPA sê ook dat die helfte van die wêreld se bevolking teen die einde van die eeu, slegs vyf jaar van nou af, in stadsgebiede sal woon. Teen daardie tyd sal 300 stede in ontwikkelende lande meer as eenmiljoen mense huisves, in vergelyking met 125 stede vandag.
Kwaliteitsverhoudings is die sleutel
Volgens The Toronto Star “is dit die soort verhoudings wat adolessente het—en nie die soort gesin nie—wat aandui of hulle dwelms gaan gebruik of gedragsprobleme gaan hê”. ’n Studie van 2 057 jongmense in Ontario wat deur die Stigting vir Verslawingsnavorsing gedoen is, het getoon dat “die aard van gesinsverhoudings ’n sterker invloed het as die gesinstruktuur self”, het die wetenskaplike Ed Adlaf gesê. Adolessente wat goeie gesinsverhoudings geniet, selfs dié wat aangeneem is of wat stiefouers of enkelmoeders het, het beter gevaar as diegene in onverbrokkelde gesinne met swak verhoudings. “Diegene wat gereeld met hulle ouers oor hulle probleme praat, is dié wat hulle die minste aan wangedrag skuldig maak”, het die Star gesê. “Oormatige alkoholgebruik, dwelmmisbruik en wangedrag was die algemeenste onder jongmense wat nooit met een van hulle ouers oor hulle probleme praat nie.” Die hoeveelheid tyd wat adolessente saam met hulle gesin deurbring, die kwaliteit van die verhoudings en of ouers weet waar hulle kinders is en wat hulle doen, is van die grootste faktore om probleme te verminder. Ed Adlaf het gesê: “Dit is belangrik om tyd saam met kinders deur te bring en tyd te maak om dit te doen.”