Van ons lesers
Moses Ek het so pas die reeks “Moses—Mens of mite?” (8 April 2004) gelees. Ek moet erken dat ek nie verwag het om so baie inligting te sien in antwoord op die bewerings van geleerdes dat Moses nie werklik bestaan het nie! Ek is seker dat dit vir dié wat opreg is, genoeg sal wees om net een deel van hierdie reeks te lees om hulle geloof in Jehovah te versterk.
J. M., Rusland
Tyd Baie dankie vir die artikel “Wees stiptelik!” (8 April 2004). Om in die gemeente te dien, ’n gesinshoof te wees en sekulêr te werk, vereis baie van my tyd. Ek het al vorige wenke in die tydskrifte toegepas, maar dit is goed om weer ’n artikel soos hierdie te sien. Ek het veral gehou van die stelling “Ons Skepper wou hê dat ons tydsbewus moet wees”. Dit help ’n mens om dinge in die regte perspektief te sien. Hou asseblief aan om praktiese artikels soos hierdie te skryf.
J. S., Verenigde State
Ek los dinge gewoonlik tot op die nippertjie, en alhoewel ek nie ’n laatslaper is nie, verslaap ek wel soms. Ek het al talle noue ontkomings gehad juis omdat ek jaag. Hierdie artikel het my aangemoedig om te probeer om myself ’n bietjie meer tyd toe te laat om dinge te doen.
J. W., Japan
Ek is 18 jaar oud. Aangesien ek ’n voltydse evangeliedienaar is en ook skoolgaan, is ek altyd besig. Ek het tyd nodig vir die predikingswerk, vir huiswerk en vir persoonlike studie. Die artikel het my gehelp om my tyd beter te benut sodat ek betyds vir Christelike vergaderinge, ander aktiwiteite en die skool kan wees. Ek wil nie meer laat wees nie. Baie dankie!
J. H., Verenigde State
Ek was altyd laat vir vergaderinge. Ek het daaroor gebid en ek is bly dat Jehovah my gebed verhoor het. Ek het die wenke in die artikel probeer toepas en dinge het goed uitgewerk. Nou is ek betyds. Ek besef dat liefde jou stiptelik maak.
J. A., Nigerië
Slegte gewoontes Ek moes net skryf en my waardering uitspreek vir die artikel “Die Bybelse beskouing: Is dit moontlik om slegte gewoontes te bowe te kom?” (8 April 2004). Ek sukkel al ’n geruime tyd met ’n gewigsprobleem. Ek het al gewig verloor, maar dit dan net weer opgetel. Alhoewel die artikel nie spesifiek oor daardie probleem gehandel het nie, kon ek die inligting toepas. Dit het my gehelp om my slegte gewoontes te ondersoek en te sien hoe dit tot my gewigsprobleem bydra. Baie dankie dat julle ons herinner het dat Jehovah bewus is van die persoonlike probleme waarmee ons worstel en besorg is daaroor.
M. S., Verenigde State
Kusduine Baie dankie vir die artikel “Pole se uitsonderlike kusduine” (22 Maart 2004). Aangesien ek al dikwels die Słowiński- Nasionale Park besoek en bewonder het, het die artikel my diep geraak. Jehovah verdien om geloof te word omdat hy sulke merkwaardige natuurwonders vir ons voorberei het. Die artikel het spesiale betekenis vir my gehad omdat my moeder net ’n paar kilometer van die park gebore is.
I. L., Duitsland
Hierdie artikel het my gehelp om te besef hoeveel ek na die toestande in God se nuwe wêreld uitsien. In my geestesoog kan ek na die Słowiński- Nasionale Park gaan en, soos die artikel dit genoem het, die “natuur se terapie vir gespanne senuwees” vind. Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal die hele planeet so ’n kalmerende uitwerking op ons hê! Baie dankie vir hierdie pragtige artikel!
J. G., Pole