Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 2/8 bl. 22-24
  • “Dr. Livingstone, neem ek aan?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Dr. Livingstone, neem ek aan?”
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie was Livingstone?
  • Die soektog
  • Ná die ontmoeting
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Asemrowende watervalle
    Ontwaak!—2004
  • Geestelike lig vir die “Donker Vasteland”?
    Ontwaak!—1994
  • Die Maanberge
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 2/8 bl. 22-24

“Dr. Livingstone, neem ek aan?”

Deur Ontwaak!-medewerker in Tanzanië

“Onder die mangoboom wat destyds hier gestaan het, het Henry M. Stanley en David Livingstone mekaar ontmoet, 10 November 1871.”—Gedenkplaat by die Livingstone-monument in Ujiji by die Tanganjikameer, Tanzanië.

MEER as ’n eeu gelede het Stanley hierdie bekende woorde gesê: “Dr. Livingstone, neem ek aan?” Buite Tanzanië sal min mense waarskynlik die belangrikheid van hierdie ontmoeting besef.

’n Besoek aan die Livingstone-gedenkmuseum in Tanzanië sal dus insiggewend wees. Ons gids, mnr. Mbingo, verwelkom ons hartlik. “Op die plek waar die monument opgerig is”, verduidelik hy, “het daar vroeër ’n groot mangoboom gestaan, waaronder Stanley en Livingstone mekaar ontmoet het.” Nou staan daar twee tamaai mangobome. “Julle sien”, gaan hy voort, “in die 1920’s het dit duidelik geword dat die oorspronklike mangoboom besig was om dood te gaan. Pogings om die boom te red, het misluk. Daarom is twee geënte boompies naby die monument geplant.”

Wie was Livingstone?

Terwyl ons in die skadu van een van die mangobome sit, verduidelik mnr. Mbingo dat David Livingstone in 1813 in Blantyre, ’n klein dorpie in Skotland, gebore is. “Hoewel hy in armoede grootgeword het, het hy gewerk om vir sy skoolopleiding te betaal en is hy as dokter en as sendeling opgelei.” Ons hoor dat die Londense Sendinggenootskap Livingstone na Afrika gestuur het, waar hy 30 jaar van sy lewe deurgebring het en naam gemaak het as ’n ontdekkingsreisiger en sendeling.

“Dr. Livingstone het drie keer na Afrika toe gekom”, sê ons gids. “Hy het die eerste keer in 1841 na Suid-Afrika toe gekom. In 1845 is Livingstone getroud met Mary Moffat, die dogter van ’n medesendeling, Robert Moffat.” Livingstone en Mary het vier kinders gehad. En hoewel sy hom op baie van sy reise vergesel het, het Livingstone weens sy geesdrif vir ontdekkingsreise nie veel tyd vir ’n gesinslewe gehad nie. Mary Livingstone het in 1862 aan malaria gesterf terwyl sy saam met hom op een van sy ekspedisies was.

The New Encyclopædia Britannica sê: “Livingstone was gereed om die Christelike godsdiens, die handel en die beskawing—die drie-eenheid wat volgens hom Afrika sou ontsluit—noordwaarts uit te brei oor die grense van Suid-Afrika tot in die hartjie van die vasteland. In 1853 het hy sy voorneme met hierdie bekende woorde duidelik gemaak: ‘Ek gaan ’n pad oopmaak tot in die binneland, al kos dit my lewe.’” Die doel van Livingstone se reise was dus nie net om die evangelie te verkondig nie. Hy het hom vurig beywer vir die afskaffing van die slawehandel. Hy het ook ’n geesdriftige ontdekkingsreisiger geword en hom dit ten doel gestel om die oorsprong van die Nyl te ontdek.

Later het Livingstone egter besef dat die taak te groot is vir hom alleen. In 1857 het hy vir ’n groep jong manne by die Universiteit van Cambridge gesê: “Ek weet dat ek oor ’n paar jaar sal sterf in daardie land, wat nou oop is; moenie toelaat dat dit weer toegemaak word nie! Ek gaan terug na Afrika om ’n weg te probeer baan vir die handel en die Christelike godsdiens; [sal] julle die werk voortsit waarmee ek begin het? Ek laat dit aan julle oor.”

Hoe dit ook al sy, Livingstone het die hele Sentraal-Afrika deurkruis. Hy het onder meer die ontsaglike waterval in die Zambezirivier ontdek, wat hy na koningin Victoria vernoem het. Later het hy die waterval beskryf as ‘die wonderlikste skouspel wat hy in Afrika gesien het’.

Die soektog

“Livingstone het in 1866 op sy laaste reis vertrek”, verduidelik ons gids. Maar daar het probleme onder sy huurlinge ontstaan. Van hulle het hom in die steek gelaat en na Zanzibar teruggekeer, waar hulle die gerug versprei het dat Livingstone dood is. Maar Livingstone het verder gereis. By Ujiji, aan die oostelike oewer van die Tanganjikameer, het hy ’n basis vir sy ekspedisies gestig.

“Maar Europa het ongeveer drie jaar lank nie van Livingstone gehoor nie. Hulle het gedink hy is dood. Die uitgewer van die koerant die New York Herald het dus ’n verslaggewer, Henry Morton Stanley, gestuur om Livingstone te vind—lewend of dood. Livingstone was natuurlik allesbehalwe dood. Maar hy het voorraad dringend nodig gehad en was ernstig siek. In November 1871 het een van Livingstone se huurlinge na sy huis toe gekom en geroep: ‘Mzungu anakuja! Mzungu anakuja!’” Dit is Swahili vir “’n Wit man is op pad!”

Stanley het toe al amper agt maande lank na Livingstone gesoek. Hy het eers oor Indië na Afrika gereis en op 6 Januarie 1871 op die eiland Zanzibar aan land gegaan. Op 21 Maart 1871 het hy vanaf die stad Bagamoyo aan die ooskus met ses ton voorraad en 200 gehuurde manne vertrek. Die ongekarteerde ekspedisie van 1 500 kilometer was lewensgevaarlik! Weens swaar reëns was die riviere in vloed. Stanley en sy manne het aan malaria, ander siektes en uitputting gely. Al die riviere was vol krokodille; Stanley het ontsteld toegekyk terwyl ’n krokodil een van sy laaste donkies onder die water intrek. By ’n ander geleentheid het Stanley self ’n paar krokodilkake net-net vrygespring! Stanley was nietemin vasbeslote om sukses te behaal. Berigte dat ’n baie ou wit man in die omgewing van Ujiji woon, het hom aangespoor.

Toe Stanley Ujiji nader, het hy hom vir die ontmoeting voorberei. Die boek Stanley, deur Richard Hall, sê: “Stanley was uitgeteer en uitgeput, maar hy het gemeen dat hy dapperder as [vorige ontdekkingsreisigers] kon lyk wanneer hy die dorp instap. Dit sou per slot van rekening ’n geskiedkundige oomblik wees—en hy sou nie net ’n aandeel daaraan hê nie, maar dit ook opteken. Almal in die ekspedisie het die beste klere wat hulle oorgehad het, aangetrek. Stanley het ’n nuwe band om sy topi [helmhoed] gedraai, ’n skoon wit langbroek aangetrek en sy stewels goed laat olie.”

Stanley vertel wat daarna gebeur het: “Uiteindelik kom die ekspedisie tot stilstand . . . Daar is ’n groep baie netjiese Arabiere; en wanneer ek nader stap, sien ek die wit gesig van ’n ou man tussen hulle. . . . Ons lig ons hoede en ek sê: ‘Dr. Livingstone, neem ek aan?’ en hy sê: ‘Ja.’”

Ná die ontmoeting

Stanley was aanvanklik van plan om net lank genoeg te bly om ’n onderhoud te voer en sy storie te skryf. Maar Livingstone en Stanley het gou vriende geword. Ons gids vertel: “Stanley het etlike weke by Livingstone gebly, en saam het hulle die Tanganjikameer verken. Stanley het Livingstone probeer oorreed om na Europa terug te keer, maar Livingstone was vasbeslote om te bly en die oorsprong van die Nyl te vind. Stanley en Livingstone was dus emosioneel toe hulle op 14 Maart 1872 afskeid geneem het. Stanley het na die kus teruggekeer, waar hy voorraad gekoop het en dit na Livingstone gestuur het. Daarna is Stanley Europa toe.”

Wat het met Livingstone gebeur? Ons gids vertel: “In Augustus 1872 het Livingstone sy soektog na die oorsprong van die Nyl voortgesit. Hy het suid gereis na Zambië. Maar uitputting en siekte het hulle tol geëis. Op 1 Mei 1873 is hy dood aangetref. Sy huurlinge. . . het sy liggaam gebalsem en sy hart en ingewande daar in die Afrikagrond begrawe. Livingstone se oorskot is toe sowat 2 000 kilometer ver na Bagamoyo gedra, waar sendelinge dit ontvang het. Reëlings is getref om hom per skip na Zanzibar en daarvandaan na Brittanje te neem. Sy oorskot het op 15 April 1874 in Londen aangekom en is drie dae later in die Westminster-abdy begrawe. Dit het byna ’n jaar geduur voordat Livingstone se liggaam uiteindelik ter ruste gelê is.”

Stanley het na Afrika teruggekeer om Livingstone se werk voort te sit. Stanley het ekspedisies gelei wat die gebiede om die Victoria- en Tanganjikameer en die loop van die magtige Kongorivier verken het.

’n Mens kan nie anders nie as om die moed en deursettingsvermoë van manne soos Livingstone en Stanley te bewonder. Die Britannica sê van Livingstone: “Sy ontdekkings—op geografiese, tegniese, mediese en maatskaplike gebied—het ’n magdom ingewikkelde kennis voorsien wat nou nog bestudeer word.” En hoewel Livingstone en Stanley vandag as ontdekkingsreisigers onthou word en nie as ’n prediker en ’n verslaggewer nie, het hulle werk wel gehelp om dit moontlik te maak dat Bybelkennis dekades later wyd versprei kon word.

Sendelinge van Jehovah se Getuies kon dus honderdduisende mense van Afrika help om Bybelwaarhede aan te neem. Trouens, in Ujiji, waar Stanley en Livingstone mekaar die eerste keer ontmoet het, is die Getuies se predikingswerk so bekend dat plaaslike inwoners dikwels vir Getuies wat aan hulle deur klop, vra: “Jehovah se Getuies, neem ek aan?”

[Kaart op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Victoriameer

Livingstone se ekspedisies

Kaapstad

Port Elizabeth

Kuruman

Ngami-meer

Linyanti

Luanda

Victoriawaterval

Quelimane

Mosambiek

Mikindani

Zanzibar

Chitambo

Tanganjikameer

Nyangwe

Ujiji, waar die twee mans ontmoet het

Stanley se soektog na Livingstone in 1871

Zanzibar

Bagamoyo

Ujiji, waar die twee mans ontmoet het

[Erkenning]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 22, 23]

David Livingstone

[Erkenning]

Livingstone: From the book Missionary Travels and Researches in South Africa, 1858

[Prent op bladsy 22, 23]

Henry M. Stanley

[Prent op bladsy 23]

Victoriawaterval

[Prent op bladsy 24]

Een van Jehovah se Getuies wat Bybelwaarheid in Ujiji verkondig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel