Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 2/22 bl. 24-27
  • Bly om meer te kan doen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly om meer te kan doen
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pogings om my doelwitte te bereik
  • ’n Onvergeetlike besoek
  • ’n Verrassende ontdekking
  • Nog ’n vreugdevolle ontdekking
  • Ek betree die voltydse diens
  • Ek het nie opgehou stap nie
  • Ek het ware rykdom in Australië gevind
    Ontwaak!—1994
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2007 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Die geheim” wat ons uit ons heilige diens geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 2/22 bl. 24-27

Bly om meer te kan doen

SOOS VERTEL DEUR CLAIRE VAVY

DIE eiland Madagaskar, wat ongeveer 400 kilometer van die Oos-Afrikaland Mosambiek is, is bergagtig en het digte reënwoude. Ek is aan die oostekant van die eiland in die klein dorpie Betoko II gebore. In 1987, toe ek 15 was, is ek na die kusdorp Mahanoro om daar skool te gaan.

In Mahanoro het ek by my ouer broer Celestin gewoon, wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Twee jaar later het ek ’n Getuie geword. Ek was vasbeslote om Jehovah God so heelhartig moontlik te dien.

Pogings om my doelwitte te bereik

Een van my eerste doelwitte was om my familie in Betoko II te help, en ek het gereeld tot Jehovah hieroor gebid. Ek kon egter slegs gedurende skoolvakansies daarheen terugkeer. Dit was ’n moeilike reis van 100 kilometer. Vir die eerste 40 kilometer kon ’n motorvoertuig gebruik word, maar die laaste 60 kilometer was ’n smal bergpaadjie en kon slegs te voet afgelê word.

Ek moes talle steil heuwels uitklim, en party dele van die hobbelrige paadjie was so nou soos die lengte van my voet. As ek vroeg in die dag in die pad geval het en tot skemer gestap het, kon ek gewoonlik sowat 40 kilometer aflê. Ek het meer as 15 kilogram bagasie saamgedra—van dit op my kop, op my rug en die res in my arms. Dit was hoofsaaklik Bybellektuur, wat ek vir my familie en ander belangstellendes geneem het. Ek het langs die pad bekend geraak as “die een met die baie bagasie”.

Aanvanklik wou my familie, ondanks my geesdrif, niks van my nuutgevonde geloof weet nie. Hulle gesindheid het egter gou verander en soveel vrae gevra dat ons soms eers twee-uur in die oggend gaan slaap het.

’n Onvergeetlike besoek

Op 24 Desember 1990 het ek op vakansie in Betoko II aangekom. My familie was bly om my te sien en het gedink dat ek gekom het om Kersfees saam met hulle te vier. Hulle vreugde het in teleurstelling verander toe ek verduidelik waarom ek nie aan hulle Kersfeesvieringe kon deelneem nie. Hulle het verleë gevoel om dit vir ander in die dorp te verduidelik, aangesien dit ’n baie hegte gemeenskap is. Ek het dus gevoel dat ek die inisiatief moes neem om dit self te doen. Maar hoe?

Ek was onseker, veral omdat ek so jonk was. Ek het gewonder of dit gepas sou wees om my oortuigings vir die dorpsmense te verduidelik wanneer hulle die volgende dag by die kerk bymekaarkom. Ek het lank en vurig tot Jehovah gebid en hom gesmeek om leiding. Daarna het ek my ouer broer Paul, wat ’n leraar in die kerk was, gevra: “Dink jy ek kan maar môre vir die mense by die kerk verduidelik waarom ek nie Kersfees vier nie?” Hy het ander daaroor gevra en hulle het ingestem.

Die volgende dag het hulle my na afloop van die kerkdiens laat roep. Nadat ek weer tot Jehovah gebid het, het ek met Bybellektuur na die kerk toe gegaan. Nadat ek aan die woord gestel is, het ek almal bedank vir die aandeel wat hulle daarin gehad het om ’n diep respek vir die Bybel by my in te skerp. Ek het verduidelik dat ek voortgegaan het om die Bybel te studeer nadat ek dorp toe getrek het. Ek het gesê dat ek baie Bybelwaarhede ontdek het wat ons nie vantevore geleer is nie.

Ek het die geleentheid gebruik om ’n verduideliking te gee van die Bybelse hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4), van waarom ’n paar getroues van die aarde af hemel toe geneem sal word (Johannes 14:2, 3; Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3) en van die Bybellering dat die dooies in ’n toestand van onbewustheid is, asof hulle slaap, en dus nie kan ly nie (Prediker 9:5, 10; Johannes 11:11-14, 38-44). Ek het ook getoon dat die vroeë Christene nie Kersfees gevier het nie en dat die viering ’n heidense oorsprong het.

Na afloop van die aanbieding het baie in die groep erken dat wat ek gesê het, die waarheid is. Party het selfs verdere vrae gevra. Daarna het ek vir hulle die publikasies gewys wat ek saamgebring het en verduidelik dat dit Bybelstudiehulpe is wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Ek het gesê dat ek bereid is om enigiemand te help wat die Bybel wou studeer. Baie het van die Bybellektuur geneem.

’n Verrassende ontdekking

’n Vrou wat ek nog nie voorheen ontmoet het nie, het my genader en gesê: “My suster, wat in ’n ander dorpie woon, is ook een van julle mense.” Ek het verbaas gevra: “Waar?”

“In Andranomafana”, het sy geantwoord. Die dorpie is sowat 30 kilometer van Betoko II af.

Ek het vir die vrou gesê dat haar suster waarskynlik aan ’n ander godsdiens behoort, aangesien al die Getuies in die gebied mekaar ken. Maar die vrou het volgehou dat haar suster haar dieselfde dinge geleer het as wat ek in my toespraak by die kerk verduidelik het. Ek het die vrou gevra om my haar suster se naam en adres te gee, gretig om sommer dadelik na daardie dorpie toe te gaan. My ma het egter by my aangedring om ’n dag of twee te wag, aangesien dit ’n vermoeiende reis was wat ek te voet moes aflê. Twee dae later het ek en my broer Charles na Andranomafana vertrek.

Toe ons daar kom, het ons dadelik vir die dorpenaars gevra: “Is daar Jehovah se Getuies hier?” Ek was teleurgesteld toe hulle antwoord: “Daar is net Katolieke, Pinkster- en Independente Kerke in hierdie dorpie.”

Toe het ’n vrou geantwoord en gesê: “As julle na Jehovah se Getuies soek, is dit heel waarskynlik Marceline en haar gesin waarna julle soek.” Dit was dieselfde naam wat vir my gegee is!

Iemand het Marceline gaan roep. Sy het gou gekom, maar het ’n bietjie skrikkerig gelyk. Die hele dorpie het begin saamdrom omdat hulle gedink het ons is amptenare wat haar wou ondervra. Ek het later gehoor dat sy en haar gesin teenstand in die dorpie ondervind het omdat sy haar ‘onortodokse godsdiens’ beoefen het.

Marceline het ons ’n entjie van die skare af weggelei sodat ons kon praat. Toe ek haar vra of sy een van Jehovah se Getuies is, het sy ja geantwoord. Daarop het sy die boekie Die waarheid wat lei tot die ewige lewe gaan haal, wat Jehovah se Getuies vroeër as ’n Bybelstudiehulp gebruik het, asook ouer nommers van Die Wagtoring. Dit was alles gehawend. “Watter tydskrif het julle verlede Sondag gestudeer?” het ek gevra.

“Ons het net hierdie nommers”, het sy geantwoord, “en ons studeer hulle oor en oor.” Toe eers het ek vir Marceline vertel dat ek ook ’n Getuie is. Sy was so bly! Toe ek sê dat ek die man wou ontmoet wat hulle vergaderinge hou, het sy verduidelik dat hy in ’n ander gebied, nog verder daarvandaan, woon.

Nog ’n vreugdevolle ontdekking

Die volgende dag het ek en Marceline die man gaan besoek. Toe ons daar opdaag, was hy baie verbaas en bly om ons te sien. Hy het gesê dat hy ’n Getuie is wat van die kusdorp Toamasina, meer as 200 kilometer noordoos daarvandaan, gekom het. Hy en sy gesin was jare vroeër verplig om hierheen terug te keer nadat hy onverwags sy werk verloor het. Met sy terugkoms het hy begin om die predikingswerk te doen en Bybelstudies en vergaderinge te hou.

Die Getuie en sy gesin was verheug om die nuutste Wagtorings te sien wat ek by my gehad het. Ek het ook vir hulle die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gewys, wat ons op daardie stadium as ons vernaamste Bybelstudiehulp gebruik het. Dit was die eerste keer dat hulle dit gesien het. Die volgende Sondag het ek na Andranomafana teruggekeer om die vergaderinge saam met hulle by te woon. Ek het hulle aangemoedig om met die takkantoor van die Getuies in die hoofstad Antananarivo in aanraking te kom, aangesien die kantoor nie van hierdie groepie geweet het nie.

Vanaf Januarie 1991 het ek byna elke maand van Mahanoro na Andranomafana gereis om vir hulle die nuutste nommers van Die Wagtoring en ander publikasies te neem. Dit was ’n reis van sowat 260 kilometer heen en weer, waarvan ek meer as 170 kilometer moes loop—op en af teen steil, ruwe heuwels, deur digte reënwoude en, wanneer dit gereën het, al sukkelend deur diep, glibberige modder.

My bagasie het swaarder geword namate al hoe meer mense lektuur en tydskrifte nodig gehad het. Maar teen die einde van elke reis het ’n gevoel van diepe bevrediging en vreugde heeltemal vergoed vir die uitputting en seer spiere. Wat ’n vreugde was dit tog om te sien hoe opgewonde die groep was oor elke nuwe publikasie wat hulle ontvang het en om hulle reaksie op Bybelwaarhede te sien!

Ek betree die voltydse diens

Op 1 September 1992 is ek as ’n pionier aangestel, soos die Getuies hulle voltydse bedienaars noem. Ek het in Mahanoro gepionier, maar per brief met my familie in Betoko II in aanraking gebly. Mettertyd het ek deur korrespondensie met hulle begin studeer, en hulle het gevra of ek na die dorpie sou terugkeer om hulle te help. Ek was bereid om dit te doen, maar ek wou eers seker maak dat hulle ernstig is oor hulle besluit om die Bybel te bestudeer en geestelike vordering te maak. Ek het dus ’n ruk lank in Mahanoro bly pionier.

Teen die einde van 1993 is ek genooi om ’n twee week lange skoolkursus vir pioniers in Antananarivo by te woon. Daarna is ek genooi om vir spesiale pionierdiens aansoek te doen, wat sou beteken het dat ek na enige plek in die land gestuur kon word. Ek het die uitnodiging egter van die hand gewys omdat ek my familie wou help wat ver van die naaste gemeente af in Betoko II gewoon het. Ek het dus na my pioniertoewysing in Mahanoro teruggekeer.

Later, toe die reisende opsiener van Jehovah se Getuies ons besoek het, het ek hom gevra of ek kon teruggaan om my familie te help. Teen daardie tyd is daar ’n gemeente in Andranomafana gestig, en hy het voorgestel dat ek soontoe gaan sodat ek by die gemeente kon wees en in Betoko II se gebied kon werk. Ek het op 1 September 1994 met die toewysing begin. Daardie selfde maand het my broer Paul, wat ’n leraar in die kerk was, ’n streekbyeenkoms saam met my bygewoon. Kort daarna het 30 mense in Andranomafana aan die predikingswerk deelgeneem, en op Sondae het gemiddeld 65 mense ons vergaderinge bygewoon.

Ek het nie opgehou stap nie

Kort nadat ek na Betoko II teruggekeer het, het vier van my vleeslike broers en susters aan die vereistes voldoen om as Jehovah se Getuies aan die bediening deel te neem, en kort daarna is hulle gedoop. Nadat ek na Betoko II teruggetrek het, het ek gereeld na Anosibe An’ala gereis om lektuur en tydskrifte te gaan haal, ’n staptog van sowat 100 kilometer heen en weer. Hoewel dit ’n uitputtende reis was, het die vreugde om die geestelike groei in die gebied te sien, dit alles die moeite werd gemaak.

Vandag is daar ’n florerende gemeente in Betoko II, met ’n gemiddelde vergaderingbywoning van ongeveer 45 op Sondae. Al my naaste familielede in die gebied is nou Getuies, en die meeste is gewone pioniers. Een van my jonger broers is ’n spesiale pionier. Op 1 November 2001 is ek ook as ’n spesiale pionier aangestel, en ek is na die dorpie Antanambao-Manampotsy gestuur. Maar ek het Betoko II met vreugde in my hart verlaat.

Toe ek in 1987 Bybelwaarhede begin leer het, was daar minder as 3 000 Getuies in Madagaskar. Nou is daar meer as 14 000. Soos soveel van hulle, is ek dankbaar vir die voorreg om meer te kan doen om ander te help. En ek dank Jehovah dat hy my pogings in hierdie verband geseën het.

[Prente op bladsy 24, 25]

Ek het dikwels meer as 15 kilogram bagasie 60 kilometer ver gedra na my tuisdorpie

[Prent op bladsy 25]

My ouer broer Paul

[Prent op bladsy 26]

My broer Charles

[Prent op bladsy 26]

Saam met lede van my familie. Almal op die foto is nou Jehovah se Getuies

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel