Capoeira—Dans, sport of verweerkuns?
Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië
“Die balans en soepelheid van die akrobaat, die grasie en krag van die danser, die ratsheid en bedrewenheid van die vegter en die ritme van die musiek.”
DIT is hoe een skrywer die Brasiliaanse kunsvorm capoeira beskryf het. Volgens ’n ander skrywer het capoeira “waarlik ’n wêreldwye verskynsel” geword.
Die choreograaf en navorser Edward Lunda noem dit “’n unieke samesmelting van dans, verweerkuns, sport en ritus”. The New Encyclopædia Britannica beskryf dit as ’n “volksdans”. Hoe word dit uitgevoer? Deelnemers en toeskouers vorm ’n sirkel waarin “twee mans teenoor mekaar staan en die houe en afweerbewegings van ’n ‘vegter’ naboots op die maat van die berimbau, of musiekboog”.
Hoewel daar heelwat meningsverskille bestaan oor die oorsprong van capoeira, glo die meeste navorsers dat dit in Afrikastamdanse en -ritusse gewortel is. Dit is blykbaar gedurende die tyd van die slawehandel na Brasilië gebring. Die dans is dekades lank deur slawe uitgevoer—ondanks die feit dat die Afrikakultuur deur slawe-eienaars onderdruk is.
Toe slawerny in 1888 in Brasilië afgeskaf is, het “die pas bevryde slawe”, volgens een Brasiliaanse skrywer, “nie vir hulleself ’n plek gevind in die bestaande sosio-ekonomiese orde nie”. Gevolglik het baie voormalige slawe by misdaadbendes aangesluit. Capoeira het ’n gewelddadige straatgeveg geword. Hierdie bendes, gewapen met messe en stokke, het die buurte geterroriseer.
Die tydskrif Planet Capoeira erken dat hierdie vorm van die dans “redelik rof” was. Dit verduidelik: “Dié wat dit aan ander geleer het, het al die mooi bewegings uitgehaal wat nie van veel nut in regte gevegte was nie. Skoppe was byvoorbeeld laer en is eerder na die liggaam as die kop gemik. Die hande is op verskillende maniere gebruik om teenstanders te uitoorlê, lyfhoue te gee of vingers in die oë te druk. Daar was geen musiek, wawiele en geen akrobatiese toertjies nie, buiten dié wat in ’n geveg gebruik kon word.” Dit is dus nie verbasend nie dat capoeira in 1890 landwyd verbied is. Capoeirasa wat skuldig bevind is, kon tronkstraf kry, tot 300 houe ontvang en selfs gedeporteer word.
In die 1930’s het Manuel dos Reis Machado, in capoeira-kringe bekend as Mestre Bimba, ’n skool gestig waar onderrig in dié kunsvorm aangebied is. Aangesien dit nog onwettig was, was hy natuurlik versigtig om nie openlik te sê dat hy mense capoeira leer nie. In 1937, nadat capoeira die goedkeuring van die Brasiliaanse president Getúlio Vargas ontvang het, het dit ’n eg Brasiliaanse sportsoort geword. Volgens skatting is daar vandag 2 500 000 Brasiliane wat capoeira beoefen, en dit word in talle openbare instellings, soos skole, universiteite en militêre akademies aangebied.
Volksdans of verweerkuns?
Hoewel capoeira dansbewegings insluit, beskou baie dit nog steeds as ’n vorm van verweerkuns. Augusto, wat saam met sy vader capoeira geleer het, is oortuig dat “dit geweld bevorder en beginsels van vrede en liefde skend, al is dit ’n soort dans”. Hy sê: “Dit sal maklik wees om capoeira in ’n oomblik van woede te gebruik om iemand seer te maak.” Selfs wanneer deelnemers liggaamlike kontak probeer vermy, kan verkeerde tydsberekening tot ernstige beserings lei.
Baie meen ook dat die capoeira ’n sterk godsdienstige inslag het. Pedro Moraes Trindade, ’n capoeira-meester van die staat Bahia, Brasilië, beskryf dit as “’n samesmelting van liggaam en gees”. Hy voeg by: “As ’n mens capoeira net as ’n sportsoort beskou, ignoreer jy die geskiedenis en filosofie daarvan.” Edmilson, wat capoeira agt jaar lank in Niterói, Rio de Janeiro, beoefen het, sê: “Party chulas [inleidende liedjies] en ritusse wat met capoeira gepaardgaan, hou duidelik verband met spiritisme.”
’n Deeglike ondersoek van Bybelbeginsels het Edmilson en Augusto, wat vroeër gemeld is, laat besluit om capoeira op te gee. Hulle het besef dat hulle geestelike en liggaamlike gesondheid te kosbaar is om dit in gevaar te stel. Hoewel hulle vroeër die aansteeklike ritme en grasieuse bewegings van capoeira geniet het, het hulle besluit dat dit nie versoenbaar is met die Bybel nie, wat beveel dat mense ‘nie meer moet leer om oorlog te voer nie’.—Jesaja 2:4.
[Voetnoot]
a Die Portugese woord capoeira verwys na die kunsvorm sowel as die persoon wat dit beoefen.
[Prent op bladsy 23]
“Capoeira” word uitgevoer op die maat van die “berimbau” en die “atabaque”, tradisionele Brasiliaanse musiekinstrumente