Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 4/8 bl. 24-25
  • Ontmoet “die ou dame van Threadneedlestraat”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ontmoet “die ou dame van Threadneedlestraat”
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Behoefte aan ’n nasionale bank
  • Goeie en slegte tye
  • Die “ou dame” bly besig
  • Deel 3—Hebsugtige handel wys sy kleure
    Ontwaak!—1992
  • Die blywende aantrekkingskrag van goud
    Ontwaak!—2005
  • Saadbanke—’n Wedloop teen die tyd
    Ontwaak!—2002
  • Goud—die geheimsinnige bekoring daarvan
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 4/8 bl. 24-25

Ontmoet “die ou dame van Threadneedlestraat”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

YSLIKE vensterlose mure omsluit haar indrukwekkende woning. Deurwagte, uitgevat in pienk swaelstertbaadjies, rooi onderbaadjies en swart keile, hou wag by die ingange. Kameras monitor haar besoekers onopsigtelik. Wie is “die ou dame van Threadneedlestraat”, en waarom het sy soveel beskerming nodig?

Die “ou dame” is een van die vernaamste finansiële instellings ter wêreld—die Bank van Engeland. Maar waar het ’n bank so ’n vreemde naam gekry? Threadneedlestraat is in ’n deel van Londen waar talle gildes vroeër gefloreer het, en die straatnaam kom waarskynlik van die drie naalde op die wapenskild van die Naaldmakersmaatskappy. Ongeveer honderd jaar nadat die bank gestig is, het die politikus en dramaturg Richard Sheridan in die Parlement daarna verwys as “’n bejaarde dame in ’n welvarende en gevestigde stad”. Die spotprenttekenaar James Gillray het kort voor lank gebruik gemaak van die idee dat ’n bank soos ’n ou dame is, en van toe af het dit algemeen bekend gestaan as “die ou dame van Threadneedlestraat”.

Behoefte aan ’n nasionale bank

In die 17de eeu het goudsmede die meeste van die geldhandel in Londen beheer. Hierdie reëling het redelik goed gewerk totdat die konings van die Stuart-vorstehuis geld begin leen het sonder om dit terug te betaal. Vername goudsmid-geldhandelaars het uiteindelik bankrot geraak, en die regering het dringend finansiering nodig gehad vir sy oorlog teen Frankryk.

Teen die tyd dat Willem III en Maria II die troon in 1689 bestyg het, was daar dringende versoeke dat ’n nasionale bank gestig word om as die regering se bankier en fondsinsamelaar te dien. Uit ’n verskeidenheid voorstelle wat ingedien is, het die parlement uiteindelik dié van die Skotse handelaar William Paterson aanvaar, ondanks sterk teenkanting. Die inwoners van Londen is gevra om geld aan die bank te leen, wat hopelik altesaam 1 200 000 pond sou wees. Die regering sou dan die bydraers 8 persent rente betaal en hulle inkorporeer as die Goewerneur en Vereniging van die Bank van Engeland. Binne twee weke is die geld bymekaargemaak, en in 1694 het die Bank van Engeland begin sake doen.

Veertig jaar later het die bank na ’n perseel in Threadneedlestraat verskuif. Die huidige gebou, wat uit die 1930’s dateer, is sewe verdiepings hoog met groot ondergrondse kluise. Dit beslaan ’n hele blok van 1,2 hektaar.

Goeie en slegte tye

Eers het die bank handgeskrewe kwitansies op bankpapier uitgereik aan kliënte wat hulle ponde, sjielings en pennies vir veilige bewaring gedeponeer het. Hierdie note kon weer vir goud of munte geruil word deur enigiemand wat dit as betaling aanbied. As almal natuurlik hulle geld op dieselfde tyd wou hê, sou die bank die gevaar loop om bankrot te speel. Dit het ’n paar keer amper gebeur. Byvoorbeeld, in 1797 het oorlog teen Frankryk die land weer amper bankrot laat raak. Toe beleggers in paniek hulle spaargeld onttrek het, het die bank se kontant opgeraak en moes hulle gevolglik die volgende 24 jaar note met ’n lae nominale waarde pleks van goud uitreik. Dit was gedurende hierdie “beperkingstyd” dat die bank die bynaam “die ou dame van Threadneedlestraat” gekry het. Omdat hierdie banknote so haastig gemaak is, was dit ’n groot versoeking vir vervalsers, maar die straf was destyds swaar. Meer as 300 mense is gehang vir vervalsing.

Die bank het ook ’n noue ontkoming van ’n ander aard gehad. In 1780 het oproermakers in Londen die gebou probeer bestorm. Daarna het ’n afdeling soldate, elke nag tot in 1973, buite om die gebou gepatrolleer om seker te maak dat die land se goud veilig is.

Gedurende die 19de eeu het die Britse pond en die Bank van Engeland se note die sterkste geldeenheid ter wêreld geword. Die Eerste Wêreldoorlog het dít egter verander. Die hoë koste van oorlog het die land ’n ernstige knou gegee. Soveel beleggers het geskarrel om hulle banknote in goud om te sit dat goue munte vinnig verdwyn het. Dit is vervang met banknote wat ’n lae nominale waarde gehad het. Die algemene gebruik van goue munte het vir ewig verdwyn. In 1931 het Brittanje heeltemal van die goudstandaard weggebreek, wat beteken het dat die waarde van die pond sterling nie meer aan ’n vasgestelde hoeveelheid goud gekoppel was nie.

Deur sy geskiedenis heen was die bank ’n privaat maatskappy. Maar in 1946 is dit deur die regering oorgeneem.

Die “ou dame” bly besig

Die Bank van Engeland is ’n sentrale bank. Dit dien as die regering se bankier wat raad voorsien oor die finansiële beleid en wat die geldeenheid so bestendig moontlik hou deur gepaste rentekoerse vas te stel. Sy ander kliënte is handelsbanke asook sentrale banke van ander lande. In die ondergrondse kluise word die land se goudreserwes bewaar. Buite Londen, by ’n ander veilige perseel, hou dit toesig oor die druk van nuwe banknote.

Die stad Londen, wat na aan die sentrale punt van die wêreld se tydsones geleë is, slaap dus nooit nie. Binne die stad speel die bank ’n sleutelrol. Wat agter daardie vensterlose mure aangaan, het ’n verreikende uitwerking op die res van die finansiële wêreld. Ja, “die ou dame van Threadneedlestraat” is net so bedrywig soos altyd en hou goed toesig oor die land se geldkoffers.

[Prent op bladsy 24]

Bank se stigtingsakte, 1694

[Prent op bladsy 24]

Handgeskrewe £5-noot, 1793

[Prent op bladsy 24]

Threadneedlestraat, 1794

[Prent op bladsy 24]

’n Goue pond, 1911

[Prent op bladsy 24]

Deel van die eerste spotprent deur James Gillray, 1797

[Prent op bladsy 25]

Tiensjielingnoot, 1928

[Prent op bladsy 25]

Huidige gebou, sedert 1939

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel