Die Bybel se beskouing
Keur God huwelike tussen persone van dieselfde geslag goed?
GEDURENDE die kerkseremonie staan die twee mans hand aan hand voor ’n vooraanstaande Episkopaalse biskop. Hulle lê ’n “gelofte [af] . . . voor God en die kerk”. Geklee in ’n ryklik versierde goud-en-wit-ampsgewaad, seën die biskop hulle verbintenis in die openbaar. Daarna omhels en soen die paartjie mekaar en word hulle staande toegejuig. Sulke homoseksuele verhoudings, sê hierdie biskop, “verdien om geseën te word, . . . om heilig genoem te word”.
Ander godsdiensleiers spreek hulle egter sterk uit teen huwelike tussen persone van dieselfde geslag. “Ons is baie ontsteld oor hierdie [biskop se] besluit”, het Cynthia Brust gesê, woordvoerder vir die Amerikaanse Anglikaanse Raad, ’n groep konserwatiewe Episkopale. “Om huwelike tussen persone van dieselfde geslag te seën, is strydig met die duidelike Bybelse leer oor die huwelik en seksualiteit” het sy gesê en bygevoeg dat “geslagsgemeenskap . . . slegs toelaatbaar is tussen ’n man en ’n vrou wat in die heilige eg verbind is”.
Hierdie vurige geskil is nie tot godsdienskringe beperk nie. Internasionaal is daar hewige politieke debatte, aangesien dit groot maatskaplike, politieke en ekonomiese implikasies het wanneer dit by pensioene, gesamentlike gesondheidsorg en belasting kom.
Geskille waarby burgerregte en wetlike erkenning betrokke is, is dikwels baie ingewikkeld en lok teenstrydige opinies onder die publiek uit. Ware Christene handhaaf streng neutraliteit deur politieke debatte te vermy (Johannes 17:16).a Party mense wat die Bybel respekteer, is egter nie seker hoe hulle oor huwelike tussen persone van dieselfde geslag en homoseksualiteit moet voel nie. Hoe beskou jy sulke huwelike? Wat is God se standaard vir die huwelik? Hoe beïnvloed jou gesindheid jou verhouding met God?
Ons Skepper stel die standaard vas
Ons Skepper het wette vasgestel wat die huwelik rig, lank voordat regerings dié instelling begin reguleer het. Die eerste boek van die Bybel sê vir ons: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word” (Genesis 2:24). Die Hebreeuse woord vir “vrou”, volgens Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words, “verwys na iemand van die vroulike geslag”. Jesus het bevestig dat dié wat onder een juk saamgevoeg word, “man en vrou” moet wees.—Matteus 19:4.
Dit was dus God se voorneme dat die huwelik ’n permanente en intieme band tussen ’n man en ’n vrou moet wees. Mans en vroue is gemaak om mekaar aan te vul sodat hulle mekaar se emosionele, geestelike en seksuele behoeftes en begeertes kan bevredig.
Die welbekende Bybelverslag oor Sodom en Gomorra toon hoe God oor homoseksualiteit voel. God het verklaar: “Die klaaggeroep oor Sodom en Gomorra, ja, dit is hard, en hulle sonde, ja, dit is baie swaar” (Genesis 18:20). Die graad van hulle verdorwenheid op daardie stadium was duidelik toe die regverdige man Lot twee gaste ontvang het. “Die manne van Sodom [het] die huis omsingel, seun sowel as ou man, die hele volk in een oproerige skare. En hulle het na Lot bly roep en vir hom gesê: ‘Waar is die manne wat vanaand by jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit sodat ons met hulle gemeenskap kan hê’” (Genesis 19:4, 5). Die Bybel sê: “Die manne van Sodom was sleg en was growwe sondaars teen Jehovah.”—Genesis 13:13.
Die mans het “hewig in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand, mans met mans” (Romeine 1:27). Hulle het “vir onnatuurlike gebruik agter vlees aan geloop” (Judas 7). In lande waar veldtogte vir homoseksuele regte algemeen is, maak sommige dalk beswaar teen die gebruik van die woord ‘onnatuurlik’ vir homoseksuele gedrag. Maar is God nie die een wat uiteindelik moet besluit wat natuurlik is nie? Hy het sy eertydse volk beveel: “Jy mag nie by ’n manspersoon gaan lê soos jy by ’n vrou gaan lê nie. Dit is iets verfoeiliks.”—Levitikus 18:22.
Jou aanspreeklikheid teenoor God
Die Bybelse standpunt is duidelik: God keur nie homoseksuele gebruike goed nie en vergoelik dit ook nie. Hy keur ook mense af wat “hulle goedkeuring [skenk] aan dié wat dit beoefen” (Romeine 1:32). En die “huwelik” kan homoseksualiteit nie eerbaar maak nie. God se bevel dat “die huwelik onder almal eerbaar [moet] wees”, maak homoseksuele verbintenisse onaanvaarbaar, en dit is iets wat in sy oë verfoeilik is.—Hebreërs 13:4.
Met God se hulp kan enigiemand egter leer om hom te “onthou van hoerery”, wat homoseksuele dade insluit, en om “in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry” (1 Tessalonisense 4:3, 4). Dit is weliswaar nie altyd maklik nie. Nathanb, wat vroeër ’n homoseksuele lewenswyse gevolg het, het gesê: “Ek het nie gedink dat ek ooit daarmee sou kon ophou nie.” Maar hy hét verander, met die hulp van “die gees van ons God” (1 Korintiërs 6:11). Soos Nathan ontdek het, is geen probleem te groot vir Jehovah nie, wat ons die krag en hulp kan gee om aan Sy standaarde te voldoen sodat ons Sy seëninge kan ontvang.—Psalm 46:1.
[Voetnote]
a Selfs al is die wette van die land strydig met hulle Bybelopgeleide gewete, neem Jehovah se Getuies nie deel aan protesaksies of enige politieke veldtog om sulke wette te wysig nie.
b Nie sy regte naam nie.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Photo by Chris Hondros/Getty Images