Van draaiboek tot silwerdoek
OOR die afgelope paar dekades het Hollywood die een lokettreffer na die ander uitgereik. Hierdie verskynsel het ’n wêreldwye impak gehad, aangesien talle Amerikaanse films binne weke—of soms dae—ná die Amerikaanse première in ander lande vrygestel word. Sommige rolprente is selfs al op dieselfde dag wêreldwyd vrygestel. Dan Fellman, president van Warner Brothers Pictures se Amerikaanse verspreidingsafdeling, sê: “Die internasionale mark is besig om te groei en is ’n baie opwindende plek. Wanneer ons dus rolprente maak, beskou ons dit as ’n internasionale geleentheid.” Wat in Hollywood gebeur, het nou, meer as ooit tevore, ’n uitwerking op die wêreldwye vermaaklikheidsbedryf.a
Maar om wins op ’n film te maak, is nie so maklik as wat dit dalk lyk nie. Baie rolprente moet meer as R600 miljoen maak net om die produksie- en bemarkingskoste te dek. En of hulle hierin sal slaag, hang geheel en al af van ’n onvoorspelbare publiek. “Dis onmoontlik om op enige spesifieke tydstip te weet wat die publiek opwindend of sensasioneel sal vind”, sê David Cook, ’n professor in filmstudie aan die Emory-universiteit. Hoe verbeter rolprentvervaardigers hulle kanse op sukses? Om dit te beantwoord, moet ons eers ’n paar basiese dinge oor die vervaardiging van films verstaan.b
Voorproduksie—Die grondslag word gelê
Voorproduksie is dikwels die langste fase van die rolprentvervaardigingsproses asook een van die belangrikste. Soos met enige groot projek is voorbereiding die sleutel tot sukses. Daar word gehoop dat elke sent wat aan voorproduksie bestee word, baie rande tydens verfilming sal spaar.
Die vervaardiging van ’n rolprent begin by ’n idee vir ’n storie, wat fiktief kan wees of gebaseer kan wees op werklike gebeure. Die draaiboekskrywer verwerk die storie tot ’n draaiboek. Die draaiboek, wat ook die filmmanuskrip genoem word, kan etlike kere hersien word voordat die finale weergawe—of die verfilmingsdraaiboek—gereed is. Die verfilmingsdraaiboek bevat die dialoog van die film, asook ’n kort beskrywing van die aksie wat sal plaasvind. Dit voorsien ook riglyne vir tegniese besonderhede, soos kameraposisies en die oorskakeling tussen tonele.
’n Draaiboek word egter reeds in sy vroeë stadium vir ’n vervaardiger aangebied.c In watter soort draaiboek sal ’n vervaardiger moontlik belangstel? Wel, ’n tipiese somerfilm is gerig op tieners en jong volwassenes—“die springmieliegehoor”—soos een rolprentresensent hulle noem. ’n Vervaardiger kan dus belangstel in ’n storie waarvan jongmense sal hou.
Wat egter selfs beter is, is ’n draaiboek wat alle ouderdomsgroepe sal trek. ’n Rolprent oor ’n strokiesverhaal-superheld sal beslis jonger kinders lok wat die karakter ken. En hulle ouers sal ongetwyfeld saam met hulle gaan. Maar hoe lok rolprentvervaardigers tieners en jong volwassenes? “Opwindende inhoud” is die sleutel, skryf Liza Mundy in The Washington Post Magazine. Wanneer kru taal, uiters gewelddadige tonele en ’n groot dosis seks by ’n rolprent gevoeg word, is daar “iets vir almal en vergroot dit die potensiaal om wins te maak”.
As ’n vervaardiger meen dat ’n draaiboek potensiaal het, sal hy dit dalk koop en ’n kontrak met ’n gerespekteerde regisseur en ’n beroemde akteur of aktrise probeer sluit. As ’n bekende regisseur en ’n beroemde ster by die film betrokke is, sal dit help om die skares te lok wanneer die film vrygestel word. Maar selfs op hierdie vroeë stadium kan beroemde name beleggers lok wat nodig is om die film te finansier.
Nog ’n aspek van die voorproduksie is die samestelling van ’n beelddraaiboek. ’n Beelddraaiboek is ’n reeks sketse wat verskeie opeenvolgende tonele in die film uiteensit, veral dié waarby aksie betrokke is. Die beelddraaiboek voorsien riglyne vir die kinematograaf en spaar baie tyd gedurende verfilming. Frank Darabont, regisseur en draaiboekskrywer, sê: “Daar is niks erger nie as om op die dag wanneer die film geskiet word, rond te staan en tyd te mors omdat jy probeer uitwerk waar om die kamera te sit.”
Baie ander dinge moet tydens die voorproduksie afgehandel word. Byvoorbeeld, waar gaan die verfilming plaasvind? Sal dit nodig wees om te reis? Hoe sal binnenshuise stelle gebou en ontwerp word? Sal kostuums nodig wees? Wie sal verantwoordelik wees vir beligting, grimering en haarversorging? Wat van die klank, spesiale effekte en waagtoertjies? Dit is net ’n paar van die talle aspekte van rolprentvervaardiging waaroor daar besluit moet word voordat ’n enkele raampie film afgeneem kan word. Kyk gerus na die lys van erkennings aan die einde van ’n hoëkosteprent en jy sal moontlik sien dat honderde mense agter die skerms betrokke was! “’n Stad vol mense is nodig om ’n rolprent te maak”, sê een tegnikus wat al by tallose rolprente betrokke was.
Produksie—Die rolprent word verfilm
Dit kan tydrowend, vermoeiend en duur wees om ’n rolprent te skiet. Trouens, elke minuut wat verlore gaan, kan duisende rande kos. Partykeer moet akteurs, spanlede en toerusting na ’n afgeleë deel van die wêreld geneem word. Maar, ongeag waar verfilming plaasvind, elke dag maak ’n groot hap in die begroting.
Die beligtingspan, haarversorgers en grimeerkunstenaars is van die eerstes wat by die rolprentstel opdaag. Dit kan elke dag van die verfilming etlike ure neem om sterre gereed te maak vir die kamera. Dan begin ’n lang dag van verfilming.
Die regisseur hou noukeurig toesig oor die verfilming van elke toneel. Selfs ’n relatief eenvoudige toneel kan heeldag neem om te verfilm. Die meeste tonele in ’n rolprent word met ’n enkele kamera afgeneem, en gevolglik moet die toneel oor en oor gedoen word vir elke kamerahoek. Daarbenewens moet elke toneel dalk baie keer herhaal word om die beste toneelspel te kry of ’n tegniese probleem reg te stel. Elkeen van hierdie probeerslae word ’n opname genoem. Vir groter tonele sal 50 opnames of meer dalk nodig wees! Later—gewoonlik aan die einde van elke verfilmingsdag—kyk die regisseur na al die opnames en besluit watter gehou moet word. Die verfilmingsproses kan uiteindelik weke of selfs maande duur.
Naproduksie—Die dele kom bymekaar
Gedurende naproduksie word die beeldmateriaal geredigeer om ’n samehangende rolprent te vorm. Eers word die klankbaan en die film gesinchroniseer. Dan sit die redigeerder die ongeredigeerde beeldmateriaal bymekaar in ’n voorlopige weergawe van die film.
Klank- en visuele effekte word ook op hierdie stadium bygevoeg. Spesiale effekte—een van die ingewikkeldste elemente van rolprentvervaardiging—word soms met behulp van rekenaargrafika verkry. Die resultaat kan skouspelagtig en baie lewensgetrou wees.
Die musiek word ook gedurende naproduksie bygevoeg, en hierdie aspek het in vandag se films baie belangrik geword. “Deesdae vereis die rolprentbedryf meer oorspronklike klankbaanmusiek as ooit tevore—nie net twintig minute of ’n paar musikale aanduidings van dramatiese tonele nie, maar dikwels meer as ’n uur se musiek”, skryf Edwin Black in Film Score Monthly.
Soms word ’n pas geredigeerde film vir ’n proefgehoor vertoon, wat moontlik bestaan uit die regisseur se vriende of kollegas wat nie by die vervaardiging van die film betrokke was nie. Na gelang van hulle reaksie kan die regisseur tonele weer verfilm of heeltemal uithaal. In sommige gevalle is die slot van ’n film heeltemal verander omdat die reaksie op die oorspronklike film tydens ’n proefvertoning ongunstig was.
Uiteindelik word die voltooide film aan rolprentteaters beskikbaar gestel. Eers op hierdie stadium word dit duidelik of die film ’n treffer of ’n mislukking—of iets tussenin—gaan wees. Maar meer is op die spel as net geld. ’n Reeks mislukkings kan ’n einde maak aan ’n akteur se werkvooruitsigte en kan ’n regisseur se reputasie verwoes. “Ek het gesien hoe heelparty van my tydgenote ná ’n paar mislukkings van die toneel verdwyn het”, sê die regisseur John Boorman oor sy vroeë jare in die rolprentbedryf. “Die wrede werklikheid van die rolprentbedryf is dat jy vir jou base moet geld maak of jy’s jou werk kwyt.”
Wanneer die algemene publiek voor ’n rolprentadvertensie staan, dink hulle natuurlik nie aan die werkskwessies van rolprentvervaardigers nie. Hulle stel waarskynlik veel meer belang in dinge soos: ‘Gaan ek hierdie rolprent geniet? Sal dit die toegangsgeld werd wees? Gaan ek dit skokkend of aanstootlik vind? Sal dit gepas wees vir my kinders om daarna te kyk?’ Hoe kan jy sulke vrae beantwoord wanneer jy besluit na watter rolprente om te gaan kyk?
[Voetnote]
a Anita Elberse, ’n professor aan die Fakulteit vir Handelswetenskappe van die Harvard-universiteit, meen “dat ’n rolprent se sukses in die VSA nog steeds ’n vername rol speel in wat oorsee gebeur, al is buitelandse loketinkomste vandag dikwels hoër as plaaslike inkomste”.
b Hoewel besonderhede van film tot film kan verskil, sit ons hier een moontlike prosedure uiteen.
c In sommige gevalle word ’n vervaardiger eerder ’n storieskets as ’n draaiboek aangebied. As hy in die storie belangstel, kan hy die filmregte koop en dit tot ’n draaiboek laat verwerk.
[Lokteks op bladsy 6]
“Dis onmoontlik om op enige spesifieke tydstip te weet wat die publiek opwindend of sensasioneel sal vind.”—David Cook, ’n professor in filmstudie
[Venster/Prente op bladsy 6, 7]
BEMARKING VAN ’N LOKETTREFFER
Die film is voltooi. Dit is gereed om deur miljoene gesien te word. Gaan dit suksesvol wees? Kom ons kyk na ’n paar maniere waarop rolprentvervaardigers hulle produkte probeer bemark sodat dit ’n lokettreffer kan wees.
◼ AFWAGTING: Een van die doeltreffendste maniere om afwagting vir ’n rolprent te skep, is deur mense aan die praat te kry. Soms begin die afwagting opbou maande voordat ’n rolprent vrygestel word. Daar word miskien aangekondig dat daar ’n vervolg van ’n vorige lokettreffer gaan wees. Gaan die oorspronklike sterre weer daarin speel? Sal dit so goed (of so sleg) soos die eerste een wees?
In sommige gevalle word afwagting geskep weens ’n omstrede element in ’n film—dalk is ’n sekstoneel buitengewoon eksplisiet vir ’n hoofstroomrolprent. Is die toneel werklik so erg? Het die rolprent “te ver gegaan”? Rolprentvervaardigers geniet die voordele van gratis reklame terwyl teenstrydige menings in die openbaar gelug word. Soms is die geskil wat ontstaan, feitlik ’n waarborg dat die film se première ’n groot gehoor sal lok.
◼ MEDIA: Konvensioneler maniere om te adverteer, behels reklameborde, koerantadvertensies, TV-advertensies, lokprente wat voor ’n hoofprent in rolprentteaters vertoon word en onderhoude waarin die sterre hulle nuutste rolprent bemark. Deesdae is die Internet ’n vername middel vir rolprentreklame. “As Dorothy [in The Wizard of Oz] met haar muis gekliek het, en nie haar hakke teen mekaar gekap het nie”, skryf die rolprentresensent Steve Persall, “sou sy haar in ’n reënboog van rolprentwebwerwe bevind het met skindernuus oor sterre, die nuutste lokprente, kaartjies en vertoontye.”
◼ HANDELSWARE: Promosie-artikels kan nog meer aandag op ’n film se vrystelling vestig. Byvoorbeeld, saam met ’n rolprent oor ’n strokiesheld is onder meer artikels soos kosblikke, bekers, juwele, klere, sleutelringe, wekkers, lampe en ’n bordspel uitgereik. “Gewoonlik word 40 persent van rolprenthandelsware verkoop nog voordat ’n film vrygestel is”, skryf Joe Sisto in ’n vermaaklikheidstydskrif van die Amerikaanse Balievereniging.
◼ VIDEO: ’n Rolprent wat nie juis by die loket suksesvol is nie, kan met videoverkope vergoed vir sy verlies. Bruce Nash, wat rekord hou van die wins van rolprente, sê dat die “videomark verantwoordelik is vir 40 tot 50 persent van die inkomste”.
◼ OUDERDOMSBEPERKINGS: Rolprentvervaardigers het geleer om ouderdomsbeperkings tot hulle voordeel te gebruik. Byvoorbeeld, materiaal kan doelbewus by ’n film gevoeg word sodat dit ’n hoër ouderdomsbeperking kry en lyk of die rolprent eerder vir volwassenes bedoel is. Aan die ander kant kan daar net genoeg aan die rolprent gesny word sodat dit nie slegs vir volwassenes is nie maar ook op tieners gerig kan word. Liza Mundy skryf in The Washington Post Magazine dat ’n ouderdomsbeperking wat ’n film vir tieners toeganklik maak, “in ’n soort advertensie verander het: Ateljees gebruik dit om ’n boodskap te stuur vir tieners—en jong kinders wat graag tieners wil wees—dat die rolprent cool gaan wees”. Die ouderdomsbeperking skep ’n soort “generasiespanning”, skryf Mundy, “wat die ouer waarsku terwyl dit die kind lok”.
[Prente op bladsy 8, 9]
HOE ROLPRENTE GEMAAK WORD
DRAAIBOEK
BEELDDRAAIBOEKE
VERFILMING
KOSTUUMS
GRIMERING
REDIGERING
VERFILMING VAN SPESIALE EFFEKTE
MUSIEK WORD OPGENEEM
KLANKVERMENGING
REKENAARANIMASIE