Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 5/8 bl. 10-14
  • Na watter rolprente gaan jy kyk?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Na watter rolprente gaan jy kyk?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Standaarde word gestel
  • Van beperkings tot gradering
  • Wat ouderdomsbeperkings jou nie kan vertel nie
  • “Haat die kwaad”
  • Gepaste vermaak
  • Die voordele van ’n opgeleide gewete
  • Hoe kan ek ’n gepaste rolprent kies?
    Ontwaak!—1990
  • Van draaiboek tot silwerdoek
    Ontwaak!—2005
  • Maak dit saak na watter rolprente ek kyk?
    Ontwaak!—1990
  • Waar kan ek goeie vermaak vind?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 5/8 bl. 10-14

Na watter rolprente gaan jy kyk?

IN ONLANGSE dekades het die oormaat seks, geweld en vuil taal in films uiteenlopende reaksies uitgelok. Party sê dat ’n sekere sekstoneel skokkend is, terwyl ander meen dat dit kunstig is. Party hou vol dat die geweld in ’n rolprent sinloos is, terwyl ander sê dat dit geregverdig is. Party voer aan dat dialoog wat deurtrek is met vloektaal, aanstootlik is, terwyl ander beweer dat dit realisties is. Wat die een persoon onwelvoeglik noem, noem die ander vrye meningsuiting. As ’n mens na albei kante luister, klink dit dalk na ’n kwessie van jou beskouing.

Maar die inhoud van films is nie bloot ’n kwessie vir onbenullige woordestryde nie. Dit is ’n geldige rede tot kommer, nie net vir ouers nie, maar vir almal wat sedelike standaarde hoogag. “Elke keer as ek ’n kans vat en dit teen my beterwete weer in ’n bioskoop waag, voel ek dat ek ’n slegter persoon is wanneer ek daar uitstap”, het een vrou gekla. “Ek skaam my vir die mense wat sulke gemors maak, en ek skaam my vir myself. Dis asof die dinge waarna ek gekyk het, my ’n slegter mens gemaak het.”

Standaarde word gestel

Die besorgdheid oor die inhoud van rolprente is niks nuuts nie. In die vroeë dae van die filmbedryf het dit ’n hewige opskudding veroorsaak as rolprente seksuele temas of misdadige elemente bevat het. Uiteindelik, in die 1930’s, is regulasies in die Verenigde State neergelê wat streng beperkings geplaas het op die inhoud van films.

Volgens The New Encyclopædia Britannica was hierdie nuwe filmregulasies “uiters beperkend en het dit die uitbeelding van feitlik alles verbied wat met die ervarings van normale volwasse mense verband hou. ‘Hartstogtelike tonele’ was verbode, en daar kon nie eens gesinspeel word op egbreuk, ongeoorloofde seks, verleiding en verkragting nie, tensy dit absoluut noodsaaklik was vir die verhaal en teen die einde van die film streng gestraf is.”

Wat geweld betref, is films “verbied om moderne wapens te wys of te bespreek, om die besonderhede van ’n misdaad te toon, om te wys hoe geregsdienaars aan die hand van misdadigers sterf, om na uitermatige wreedheid of ’n slagting te verwys of om van moord of selfmoord gebruik te maak tensy dit onontbeerlik was vir die verhaal. . . . Onder geen omstandighede kon enige misdaad as geregverdig voorgestel word nie.” In ’n neutedop het die regulasies gesê dat “geen rolprent gemaak mag word wat die sedelike standaarde verlaag van diegene wat dit sien nie”.

Van beperkings tot gradering

Teen die 1950’s het baie Hollywood-vervaardigers die regulasies begin ignoreer, omdat hulle gevoel het dat dit verouderd was. In 1968 is die regulasies dus afgeskaf en met ’n graderingstelsel vervang.a Met die graderingstelsel kon die inhoud van ’n film eksplisiet wees, maar dit sou ’n simbool ontvang om die publiek te waarsku in watter mate die inhoud net vir volwassenes bedoel is. Volgens Jack Valenti, wat bykans vier dekades as voorsitter van die Rolprentvereniging van Amerika gedien het, was die doel daarvan “om ouers vooraf te waarsku sodat hulle self kon besluit watter rolprente hulle kinders kon sien of nie”.

Met die instelling van die graderingstelsel het die damwal gebreek. Seks, geweld en vuil taal het in Hollywood se hoofstroomdraaiboeke ingestroom. Die nuwe vryheid wat films gegee is, het ’n vloedgolf veroorsaak wat nie gestuit kon word nie. ’n Ouderdomsbeperking sou die publiek nietemin waarsku. Maar vertel ’n ouderdomsbeperking jou alles wat jy moet weet?

Wat ouderdomsbeperkings jou nie kan vertel nie

Party meen dat die graderingstelsel oor die jare heen minder streng geword het. Hulle vermoede word bevestig deur ’n studie van die Fakulteit vir Openbare Gesondheid van die Harvard-universiteit, want daar is gevind dat films wat as aanvaarbaar vir jonger tieners beskou word, nou gewelddadiger en seksueel meer eksplisiet is as dié van net ’n dekade gelede. In die studie is bevind dat “rolprente met dieselfde ouderdomsbeperking aansienlik kan verskil wat die hoeveelheid en soort potensieel aanstootlike dinge in die film betref” en dat “beperkings wat net op ouderdom gebaseer is, nie genoeg inligting voorsien oor die uitbeelding van geweld, seks, vuil taal en ander dinge nie”.b

Ouers wat hulle kinders doodluiters bioskoop toe laat gaan, is dalk onbewus van wat vandag as gepaste vermaak beskou word. Een rolprentresensent beskryf byvoorbeeld die hoofkarakter van ’n rolprent wat in die Verenigde State as gepas vir tieners gegradeer is. Sy is “’n ongebonde 17-jarige wat sonder om te skroom elke dag dronk word, dwelms gebruik, wilde partytjies bywoon en aggressiewe seks het met ’n seun wat sy pas ontmoet het”. Hierdie soort inhoud is alles behalwe ongewoon. Trouens, The Washington Post Magazine sê dat verwysings na orale seks blykbaar “algemeen aanvaarbaar” is in rolprente wat as gepas vir tieners gegradeer is. Dit is duidelik dat ’n ouderdomsbeperking nie die enigste maatstaf moet wees waarvolgens ’n film geëvalueer word nie. Is daar ’n beter riglyn?

“Haat die kwaad”

’n Graderingstelsel is geen plaasvervanger vir ’n Bybelopgeleide gewete nie. Christene probeer om in al hulle besluite—ook dié wat met vermaak verband hou—die Bybelraad toe te pas wat in Psalm 97:10 gevind word: “Haat die kwaad.” Vir iemand wat die kwaad haat, sal dit verkeerd wees om vermaak te word deur dinge wat God verafsku.

Ouers moet veral versigtig wees wanneer dit kom by die soort rolprente waarna hulle hulle kinders toelaat om te kyk. Dit sal naïef wees om bloot vlugtig na die ouderdomsbeperking te kyk. ’n Rolprent wat as gepas vir jou kind se ouderdomsgroep gegradeer is, bevorder dalk heel moontlik waardes wat jy as ouer nie goedkeur nie. Dit verbaas Christene glad nie, aangesien die wêreld ’n denkwyse en gedragspatroon aangeneem het wat strydig is met godvrugtige standaarde.c—Efesiërs 4:17, 18; 1 Johannes 2:15-17.

Dit beteken egter nie dat alle rolprente sleg is nie. Maar ’n mens moet versigtig wees. In hierdie verband het die Ontwaak! van 22 Mei 1997 gesê: “Elkeen moet die saak noukeurig oorweeg en besluite neem wat hom met ’n skoon gewete voor God en die mens sal laat.”—1 Korintiërs 10:31-33.

Gepaste vermaak

Hoe kan ouers selektief wees wanneer hulle rolprente kies waarna hulle gesin kan kyk? Kyk na die volgende kommentare van ouers regoor die wêreld. Hulle opmerkings kan jou help om heilsame vermaak vir jou gesin te vind.—Sien ook die venster “Ander vorme van ontspanning” op bladsy 14.

“Ek of my vrou het altyd saam met ons kinders bioskoop toe gegaan toe hulle jonger was”, sê Juan van Spanje. “Hulle het nooit alleen of net saam met ander kinders gegaan nie. Nou, as tieners, gaan hulle nie na die premières van rolprente toe nie; ons verkies dat hulle eerder wag totdat ons die resensies gelees het of gehoor het wat ander wat ons vertrou, van die film dink. Dan besluit ons as ’n gesin of ons na die film moet gaan kyk of nie.”

Mark, van Suid-Afrika, probeer om openhartig met sy tienerseun te kommunikeer oor die rolprente wat by die bioskoop vertoon word. “Ek en my vrou neem die inisiatief en vra sy mening oor die film”, sê Mark. “Dit gee ons ’n kans om te hoor wat hy dink en om met hom te redeneer. Ons het gevind dat ons gevolglik rolprente kan kies wat ons almal saam kan geniet.”

Rogerio, van Brasilië, neem ook tyd om saam met sy kinders die films waarna hulle wil gaan kyk, te ontleed. “Ek lees saam met hulle wat die resensente te sê het”, sê hy. “Ek gaan saam met hulle na die videowinkel om hulle te leer om na die omslag te kyk vir aanduidings dat ’n film dalk onvanpas is.”

Matthew, van Brittanje, vind dit voordelig om met sy kinders te praat oor die rolprente waarna hulle wil gaan kyk. “Van jongs af”, sê hy, “het ons ons kinders betrek by besprekings oor die inhoud van films waarin ons as ’n gesin belanggestel het. As ons besluit het om ’n sekere film te vermy, het ek en my vrou verduidelik waarom en nie net nee gesê nie.”

Sommige ouers het dit ook nuttig gevind om op die Internet navorsing te doen oor rolprente. Daar is ’n aantal webwerwe wat breedvoerige inligting gee oor die inhoud van films. Dit kan gebruik word om ’n duideliker prentjie te kry oor watter waardes ’n sekere rolprent bevorder.

Die voordele van ’n opgeleide gewete

Die Bybel praat van diegene “wie se waarnemingsvermoëns . . . geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Ouers moet derhalwe daarna streef om waardes by hulle kinders in te skerp wat hulle sal help om verstandige besluite te neem wanneer hulle die vryheid het om hulle eie vermaak te kies.

Baie jongmense onder Jehovah se Getuies het in hierdie opsig uitstekende opleiding van hulle ouers ontvang. Bill en Cherie, van die Verenigde State, geniet dit byvoorbeeld om saam met hulle twee tienerseuns te gaan fliek. “Ná die rolprent”, sê Bill, “gesels ons dikwels as ’n gesin daaroor—watter waardes dit bevorder en of ons met daardie waardes saamstem of nie.” Bill en Cherie besef natuurlik hoe belangrik dit is om selektief te wees. “Ons doen vooraf navorsing oor die rolprent, en ons skroom nie om uit te stap as die film onverwags dinge bevat wat afkeurenswaardig is nie”, sê Bill. Omdat hulle hulle kinders by verantwoordelike besluitneming betrek, meen Bill en Cherie dat hulle hulle seuns help om ’n skerp sin vir reg en verkeerd te ontwikkel. “Hulle neem verstandiger besluite wanneer dit kom by rolprente wat hulle graag wil sien”, sê Bill.

Soos Bill en Cherie, het baie ouers hulle kinders gehelp om hulle waarnemingsvermoëns te oefen wat hulle keuse van vermaak betref. Ja, baie van die vermaak wat die filmbedryf aanbied, is nie gepas nie. Maar wanneer Christene deur Bybelbeginsels gerig word, kan hulle goeie vermaak geniet wat heilsaam en verkwikkend is.

[Voetnote]

a Regoor die wêreld maak baie lande gebruik van ’n soortgelyke stelsel waarvolgens die ouderdomsgroep vir wie ’n film moontlik gepas is, met ’n graderingsimbool aangedui word.

b Daarbenewens kan die maatstaf waarvolgens rolprente gegradeer word van land tot land verskil. ’n Rolprent wat in een land as ongepas vir tieners beskou word, kan in ’n ander land ’n liberaler gradering ontvang.

c Christene moet ook in gedagte hou dat rolprente vir kinders en tieners elemente van towery, spiritisme of ander vorme van demonisme kan bevat.—1 Korintiërs 10:21.

[Venster/Prent op bladsy 12]

“ONS BESLUIT SAAM”

“Toe ek jonger was, het ons gewoonlik saam as ’n gesin bioskoop toe gegaan. Noudat ek ouer is, word ek toegelaat om sonder my ouers te gaan. Maar voordat hulle my laat gaan, wil my ouers weet wat die titel van die film is en waaroor dit gaan. As hulle nog nie van die rolprent gehoor het nie, lees hulle ’n resensie daaroor of kyk hulle na die film se voorprent op TV. Hulle kyk ook op die Internet na inligting oor die film. As hulle dink dat die rolprent onvanpas is, verduidelik hulle waarom. Hulle laat my ook toe om te sê wat ek dink. Die gesprek is openhartig, en ons besluit saam.”—Héloïse, 19, Frankryk.

[Venster/Prent op bladsy 13]

BESPREEK DIT!

“As ouers dinge verbied en niks heilsaams in die plek daarvan aanbied nie, sal die kinders dalk in die geheim doen wat hulle wil. Wanneer kinders dus na onheilsame vermaak wil kyk, verbied party ouers hulle nie sommer daar en dan nie, maar hulle gee ook nie toestemming daarvoor nie. Hulle wag eerder dat die gevoelens bedaar. Oor die volgende paar dae bespreek hulle dan die saak sonder om daaroor ontsteld te raak en vra hulle die kind waarom hy of sy meen dat hierdie soort vermaak goed sal wees. Omdat hulle dit bespreek, stem kinders dikwels met hulle ouers saam en bedank hulle hulle selfs. Dan, met die ouers se leiding, kies hulle ander vermaak wat hulle saam kan geniet.”—Masaaki, ’n reisende opsiener in Japan.

[Venster/Prente op bladsy 14]

ANDER VORME VAN ONTSPANNING

◼ “Jongmense het ’n natuurlike begeerte om saam met ander van hulle ouderdom te wees, en daarom het ons nog altyd heilsame omgang vir ons dogter voorsien, onder ons toesig. Aangesien daar heelwat voorbeeldige jongmense in ons gemeente is, het ons ons dogter aangespoor om met hulle vriende te maak.”—Elisa, Italië.

◼ “Ons is baie betrokke by ons kinders se ontspanning. Ons reël heilsame aktiwiteite vir hulle, soos om te gaan stap, braaivleis en piekniek te hou en gesellighede saam met mede-Christene van alle ouderdomme te geniet. Op hierdie manier beskou ons kinders ontspanning nie as iets wat hulle net saam met hulle portuurs sal geniet nie.”—John, Brittanje.

◼ “Ons het gevind dat gesellighede saam met mede-Christene seëninge meebring. My kinders hou ook daarvan om sokker te speel, en elke nou en dan reël ons om saam met ander aan hierdie sport deel te neem.”—Juan, Spanje.

◼ “Ons moedig die kinders aan om musiekinstrumente te bespeel. Ons neem ook saam aan baie stokperdjies deel, soos om tennis en vlugbal te speel, fiets te ry, te lees en saam by vriende te kuier.”—Mark, Brittanje.

◼ “Ons gaan speel gereeld kegelbal as ’n gesin en saam met vriende. Ons probeer ook om een keer per maand iets spesiaals te reël wat ons saam kan doen. As ouers probleme wil vermy, moet hulle wakker wees.”—Danilo, die Filippyne.

◼ “Dit is dikwels opwindender om ’n gebeurtenis in lewende lywe te sien as om net te sit en na ’n rolprent te kyk. Ons hou ons oë oop vir plaaslike gebeure, soos ’n kunsuitstalling, motorskou of musiekuitvoering. Dit is gewoonlik moontlik om gedurende hierdie soort uitstappies te kommunikeer. Ons is ook versigtig om nie te veel vermaak te voorsien nie. Nie alleen is tyd ’n faktor nie, maar te veel vermaak neem die nuwigheid en opwinding van die geleentheid weg.”—Judith, Suid-Afrika.

◼ “Nie alles wat ander kinders doen, is gepas vir my kinders nie, en ek probeer hulle help om dit te verstaan. Terselfdertyd probeer ek en my man om goeie vermaak vir hulle te voorsien. Ons doen moeite sodat hulle nie kan sê: ‘Ons gaan nêrens heen nie. Ons doen nooit enigiets nie.’ Ons gaan saam as ’n gesin na parke toe, en ons reël gesellighede tuis saam met ander in die gemeente.”d—Maria, Brasilië.

[Voetnoot]

d Vir verdere inligting oor gesellighede, sien ons medetydskrif Die Wagtoring, 15 Augustus 1992, bladsye 15-20.

[Erkenning]

James Hall Museum of Transport, Johannesburg, South Africa

[Prent op bladsy 11]

Gaan die rolprentresensies na VOORDAT jy besluit

[Prent op bladsy 12, 13]

Ouers, leer julle kinders om selektief te wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel