‘Ek wou meer omtrent my godsdiens leer’
DIE 12-jarige Ciara, van Florida, VSA, het ’n interessante onderwerp vir ’n geskiedenistaak gekies—die vervolging van Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland. “Ek het hierdie onderwerp gekies, want ek wou meer omtrent die geskiedenis van my godsdiens leer”, sê sy. “Ek wou presies uitvind wat Jehovah se Getuies gedurende die Slagting deurgemaak het.”
Nadat Ciara heelwat navorsing gedoen het, het sy ’n pers houtpiramide laat maak om die pers driehoek te verteenwoordig wat aan die uniforms van Jehovah se Getuies vasgewerk is sodat hulle in die kampe geïdentifiseer kon word. Ciara het prente met byskrifte aan die kante van die piramide geplak. Die hartverskeurende, en tog geloofversterkende, brief van Wolfgang Kusserow, een van Jehovah se Getuies, wat hy net voor sy teregstelling geskryf het, was ook hierby ingesluit.—Sien Die Wagtoring van 1 September 1985, bladsy 14.
Ciara se taak het duidelik getoon dat die Getuies, anders as ander gevangenes, ’n keuse gehad het: As hulle ’n dokument geteken het waarin hulle hulle geloof verloën, sou hulle vrygelaat word. Die feit dat die oorgrote meerderheid nie die dokument geteken het nie, getuig van die onkreukbaarheid van Jehovah se Getuies.
Ciara sê dat sy daarby baat gevind het om hierdie onderwerp vir haar taak te kies. Dit het haar beslis gehelp om meer omtrent haar godsdiens te leer. “Hoewel Jehovah se Getuies destyds ’n klein groepie in Duitsland was”, sê sy, “het hulle sterk geloof gehad, wat hulle gehelp het om die vervolging wat hulle ondervind het, te verduur.”
Is daar maniere waarop jy, indien jy ’n jong skoolgaande Getuie van Jehovah is, oor die geskiedenis van jou godsdiens kan praat?