Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 5/22 bl. 3-6
  • Hoe nodig is oefening?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe nodig is oefening?
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tegnologie—’n Seën of ’n vloek?
  • Die gevare van ’n onaktiewe lewenstyl
  • ’n Wêreldwye probleem
  • Kry jy genoeg oefening?
    Ontwaak!—2005
  • Fisiese onaktiwiteit kan jou dood beteken
    Ontwaak!—1994
  • Hoe om jou gesondheid te beskerm
    Ontwaak!—1999
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 5/22 bl. 3-6

Hoe nodig is oefening?

“Oefen twee keer per week om fiks te bly. Oefen 30 minute per dag. Vermy alkohol en voorkom sodoende kanker. Drink alkohol om die risiko van hartsiekte te verlaag. Voel jy ooit oorweldig deur al die goeie raad? Die een dag sê die artikels een ding, die volgende week iets heeltemal anders. . . . Waarom kan wetenskaplikes nie saamstem nie? Waarom is koffie een week gevaarlik en die volgende week onskadelik?”—Barbara A. Brehm, D.Ed., professor in oefening en sportstudies.

GESONDHEIDSDESKUNDIGES verskil dikwels oor voedings- en fiksheidskwessies. Baie mense word verwar deur die stortvloed inligting oor die moets en moenies van gesondheid. Maar wanneer dit by die belangrikheid van matige fisiese aktiwiteit kom, is daar blykbaar volkome eenstemmigheid onder wetenskaplikes—as jy gesonder wil wees, moet jy gereeld oefen!

Die gebrek aan genoeg fisiese aktiwiteit het in ons tyd, veral in nywerheidslande, ’n ernstige probleem geword. Geslagte lank het baie mense in hierdie lande harde fisiese werk gedoen, of hulle nou plaasboere, jagters of bouers was. Maar die intense inspanning wat nodig was om net ’n bestaan te maak, het dikwels ons voorouers se kragte ooreis, en dalk selfs hulle lewe verkort. Volgens die Encyclopædia Britannica was “die gemiddelde lewensverwagting in eertydse Griekeland en Rome omtrent 28 jaar”. In teenstelling hiermee was die lewensverwagting in ontwikkelde lande teen die einde van die 20ste eeu omtrent 74 jaar. Waarom die verandering?

Tegnologie—’n Seën of ’n vloek?

Mense geniet vandag relatief beter gesondheid en ’n langer lewe as dié wat eeue gelede gelewe het. Dit is deels weens die tegnologiese omwenteling. Moderne uitvindings het die manier verander waarop ons dinge doen, en talle vermoeiende take het makliker geword. In die mediese beroep is groot vooruitgang gemaak in die stryd teen siektes, wat die gesondheid van die meeste mense verbeter het. Maar daar is ’n ironiese kant.

Hoewel die moderne tegnologie beter gesondheid bevorder het, het dit met die verloop van tyd ook bygedra tot ’n onaktiewe lewenstyl vir groot dele van die bevolking. Die Amerikaanse Hartvereniging het in hulle onlangse verslag getiteld International Cardiovascular Disease Statistics verduidelik dat “ekonomiese veranderinge, verstedeliking, industrialisasie en globalisasie gelei het tot lewenstylveranderinge wat hartsiekte bevorder”. Die verslag noem “fisiese onaktiwiteit en ’n ongesonde dieet” as van die vernaamste risikofaktore.

Net 50 jaar gelede was dit die geval in baie lande dat ’n hardwerkende man agter perd en ploeg geswoeg het, met sy fiets na die bank in die dorp gery het en saans herstelwerk aan die huis gedoen het. Die lewenstyl van sy kleinkinders is egter heeltemal anders. Die moderne werker sit dalk die grootste deel van die dag voor ’n rekenaar, ry met sy motor feitlik oral waar hy wil wees en bring die aand voor die TV deur.

Volgens een studie het Sweedse houtkappers in die verlede tot 29 000 kilojoule per dag verbrand deur bome af te kap en die stompe te laai, maar vandag kyk hulle toe terwyl gesofistikeerde masjiene die meeste van die harde werk doen. Baie van die wêreld se paaie is vroeër deur manne met pikke en grawe gebou en in stand gehou. Maar deesdae doen stootskrapers en ander swaarmasjinerie selfs in ontwikkelende lande die graaf- en laaiwerk.

In party dele van China is die bromponie geleidelik besig om die fiets te vervang as die vervoermiddel wat mense verkies. In die Verenigde State, waar 25 persent van alle ritte ongeveer een kilometer lank is, word tot 75 persent van hierdie kort ritte per motor gedoen.

Moderne tegnologie het ook ’n geslag van onaktiewe kinders voortgebring. In een studie is byvoorbeeld bevind dat “namate [videospeletjies] interessanter en realistieser [word], kinders . . . al hoe meer tyd aan hulle speletjies bestee”. Soortgelyke gevolgtrekkings is al gemaak oor TV-kykery en ander vorme van kindervermaak waarby geen fisiese aktiwiteit betrokke is nie.

Die gevare van ’n onaktiewe lewenstyl

Die drastiese vermindering in fisiese inspanning het tot talle probleme met fisiese, verstandelike en emosionele gesondheid gelei. ’n Gesondheidsinstelling in Brittanje het byvoorbeeld onlangs in ’n verslag gesê: “Onaktiewe kinders loop gevaar om minder selfvertroue, groter angstigheid en hoër stresvlakke te hê. In vergelyking met aktiewe kinders is die moontlikheid ook groter dat onaktiewe kinders sal rook en dwelms sal gebruik. Onaktiewe werknemers bly meer dae weg van die werk as aktiewe werknemers. In hulle latere lewe verloor onaktiewe mense die basiese krag en soepelheid wat nodig is vir daaglikse bedrywighede. Gevolglik verloor baie hulle onafhanklikheid en het hulle swakker geestesgesondheid.”

Cora Craig, voorsitter van die Kanadese Instituut vir Navorsing oor Fiksheid en Lewenstyl, verduidelik dat “Kanadese by die werk fisies baie minder aktief is as voorheen . . . Aktiwiteit het oor die algemeen afgeneem.” Die Kanadese koerant Globe and Mail berig: “Omtrent 48 persent van Kanadese is oorgewig, en dit sluit 15 persent in wat aan vetsug ly.” Die koerant voeg by dat 59 persent van volwassenes in Kanada ’n onaktiewe lewe lei. Dr. Matti Uusitupa, van die Universiteit van Kuopio in Finland, waarsku dat “gevalle van tipe 2-diabetes regoor die wêreld vinnig aan die toeneem is weens die toename in vetsug en ’n onaktiewe lewenstyl”.

In Hongkong het ’n onlangse studie daarop gedui dat omtrent 20 persent van alle sterftes onder mense van 35 jaar en ouer moontlik verband hou met ’n gebrek aan fisiese aktiwiteit. In die studie, wat onder leiding van professor Tai-Hing Lam van die Universiteit van Hongkong uitgevoer en in 2004 in die Annals of Epidemiology gepubliseer is, is bevind dat die Chinese bevolking in Hongkong “groter risiko’s weens fisiese onaktiwiteit loop as weens rook”. Navorsers voorspel dat die res van China “ook ’n soortgelyke groot probleem met sterftes sal ondervind”.

Is hierdie besorgdheid gegrond? Kan fisiese onaktiwiteit werklik ons gesondheid benadeel, selfs meer as rook? Daar word oor die algemeen aanvaar dat onaktiewe mense in vergelyking met aktiewe mense geneig is tot hoër bloeddruk, dat hulle ’n hoër risiko loop om beroertes en hartaanvalle te kry, ’n hoër risiko loop om sekere tipes kanker te ontwikkel, ’n hoër risiko van osteoporose het en meer geneig is tot vetsug.a

The Wall Street Journal berig: “Op elke vasteland van die aarde, selfs in gebiede waar ondervoeding algemeen is, is daar ’n onrusbarende toename in die aantal mense wat oorgewig is of aan vetsug ly. Die vernaamste probleem: dieselfde kombinasie van hoëkaloriediëte en onaktiewe lewenstyle wat die epidemie van vetsug in die VSA aanblaas.” Dr. Stephan Rössner, ’n professor in gesondheidsgedrag aan die Karolinska-instituut in Stockholm, Swede, stem hiermee saam en het selfs beweer: “Daar is geen land ter wêreld waar vetsug nie aan die toeneem is nie.”

’n Wêreldwye probleem

Dit is duidelik dat ’n program van matige oefening noodsaaklik is vir ons welstand. Maar al word soveel publisiteit gegee aan die gevare van fisiese onaktiwiteit, bly ’n groot deel van die wêreld se bevolking feitlik onaktief. Die Wêreldhartfederasie meen dat tussen 60 en 85 persent van die wêreld se bevolking, “veral meisies en vroue, nie fisies aktief genoeg is om gesondheidsvoordele te geniet nie”. Hierdie organisasie beweer dat “bykans twee derdes van kinders ook nie aktief genoeg is om goeie gesondheid te geniet nie”. In die Verenigde State lei sowat 40 persent van volwassenes ’n onaktiewe lewe, en omtrent die helfte van jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 21 neem nie gereeld deel aan bedrywighede wat fisiese inspanning verg nie.

In ’n studie waarin die algemeenheid van onaktiewe lewenstyle in 15 Europese lande ondersoek is, is bevind dat die persentasie onaktiewe mense gewissel het van 43 persent in Swede tot 87 persent in Portugal. In São Paulo, Brasilië, is ongeveer 70 persent van die bevolking onaktief. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) berig dat die “gegewens wat versamel is met behulp van gesondheidsopnames in alle wêrelddele, baie dieselfde is”. Dit behoort ons dus nie te verbaas nie dat daar jaarliks volgens skatting tweemiljoen mense sterf weens oorsake wat met fisiese onaktiwiteit verband hou.

Gesondheidsdeskundiges in alle wêrelddele beskou hierdie neiging as kommerwekkend. In reaksie hierop het regeringsinstansies regoor die wêreld met verskeie programme begin om die publiek in te lig oor die voordele van matige fisiese aktiwiteit. Australië, Japan en die Verenigde State hoop om teen die jaar 2010 ’n vermeerdering van 10 persent in die vlak van fisiese aktiwiteit onder hulle burgers te sien. Skotland wil hê dat 50 persent van sy volwasse bevolking teen die jaar 2020 gereeld aan fisiese aktiwiteite deelneem. Volgens ’n verslag deur die WGO “is Mexiko, Brasilië, Jamaika, Nieu-Seeland, Finland, die Russiese Federasie, Marokko, Viëtnam, Suid-Afrika en Slowenië van die ander lande wat ook die aandag op hulle nasionale program vir fisiese aktiwiteit gevestig het”.

Maar ondanks die pogings van regerings en gesondheidsorganisasies rus die verantwoordelikheid uiteindelik op elkeen van ons om na ons gesondheid om te sien. Vra jou af: ‘Is ek aktief genoeg? Kry ek genoeg oefening? Indien nie, wat kan ek doen om weg te breek van my onaktiewe lewenstyl?’ Die volgende artikel sal toon hoe jy jou vlak van fisiese aktiwiteit kan verhoog.

[Voetnoot]

a Fisiese onaktiwiteit kan die risiko van sekere lewensgevaarlike gesondheidstoestande drasties verhoog. Byvoorbeeld, volgens die Amerikaanse Hartvereniging kan fisiese onaktiwiteit “die risiko van hartsiekte verdubbel en die risiko van hoë bloeddruk met 30 persent verhoog. Dit verdubbel ook die risiko van sterftes aan hartvatsiekte en beroerte.”

[Venster op bladsy 4]

Die koste van onaktiwiteit

Baie regerings en gesondheidsorganisasies is uiters besorg oor die finansiële druk wat fisiese onaktiwiteit op die samelewing plaas.

● Australië - In hierdie land beloop die jaarlikse koste van gesondheidsorg wat met fisiese onaktiwiteit verband hou, ongeveer R2,15 miljard.

● Kanada - Volgens die Wêreldhartfederasie het Kanada in net een jaar meer as R11 miljard bestee aan gesondheidsorg “weens fisiese onaktiwiteit”.

● Verenigde State - Gedurende die jaar 2000 het die Verenigde State die ontsaglike bedrag van R433 miljard bestee aan mediese koste wat direk met fisiese onaktiwiteit verband hou.

[Venster/Prente op bladsy 5]

Kinders het fisiese aktiwiteit nodig

In onlangse studies is bevind dat al hoe minder kinders gereeld aan fisiese aktiwiteit deelneem. Onaktiwiteit is algemener onder meisies as seuns. Dit wil voorkom of kinders se vlak van fisiese aktiwiteit afneem namate hulle groter word. Hier volg ’n paar van baie maniere waarop kinders by gereelde fisiese aktiwiteit kan baat vind. Hulle kan:

● Sterk bene en spiere sowel as gesonde gewrigte ontwikkel

● Oorgewig en vetsug voorkom

● Probleme met hoë bloeddruk voorkom of vertraag

● Tipe 2-diabetes mellitus voorkom

● Selfvertroue verhoog en angstigheid en spanning voorkom

● ’n Aktiewe lewenstyl ontwikkel wat ’n onaktiewe volwasse lewe kan voorkom

[Venster/Prent op bladsy 6]

Beter gesondheid vir bejaardes

Daar is al gesê dat hoe ouer ’n mens is, hoe meer sal jy baat vind by ’n matige oefenprogram. Nietemin huiwer baie bejaardes om aan gereelde fisiese aktiwiteit deel te neem uit vrees dat hulle beseer of siek sal word. Dit sal beslis goed wees as bejaardes eers hulle dokter raadpleeg voordat hulle met ’n program van strawwe oefening begin. Maar kenners meen dat fisiese aktiwiteit die gehalte van bejaardes se lewe dramaties kan verbeter. Hier is ’n paar dinge wat sal verbeter as bejaardes gereeld oefen:

● Skerpheid van verstand

● Balans en soepelheid

● Emosionele gesondheid

● Hersteltyd ná ’n siekte of besering

● Gastroïntestinale en lewerfunksies

● Metabolisme

● Immuunstelsel

● Beendigtheid

● Energievlak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel