Van melkwit na sonbruin—Veranderende beskouings oor die vel
WAT is vir jou die simbool van blakende gesondheid? Is dit ’n slanke, sonbruin liggaam? Vir baie Europeërs en Noord-Amerikaners is dit. Maar dit was nie altyd die geval nie. Jare gelede het Europese vroue breërandhoede gedra en parasols gebruik om hulle teen die son te beskerm. ’n Ligte vel is beskou as ’n teken van aristokrasie. ’n Bruingebrande vel was kenmerkend van ’n handearbeider.
In vervloë tye is bleikmiddels op die vel gebruik wat ons vandag weet giftig is. Die Grieke het byvoorbeeld reeds in 400 v.G.J. hulle vel gebleik met ’n gesigspoeier wat van loodkarbonaat gemaak is. Poppaea Sabina, die vrou van die Romeinse keiser Nero, het haar gesig met hierdie gifstof gebleik. In die 16de eeu het sommige Italiaanse vroue arseen gebruik om hulle gesigte ligter te laat lyk. Maar sedert die Franse klereontwerper Coco Chanel die sonbruin vel in die vroeë 1920’s gewild gemaak het, beskou baie mense ’n sonbruin liggaam as modieus. Mense bring ure in die son deur.
Maar nie almal wat lief is vir die buitelug, wil ’n donkerder vel hê nie. Sonbaai is nie deel van hulle kultuur nie. Hulle hou daarvan om buite te wees en die warm sonlig en ligte briese te geniet, maar hulle wil nie noodwendig ’n sonbruin vel hê nie. Waarom het hulle vel beskerming teen die son nodig?
[Prent op bladsy 3]
Strandtoneel uit die vroeë 20ste eeu
[Erkenning]
Brown Brothers