Moet jy besorg wees oor sonblootstelling?
“Namate osoonvernietiging toeneem en mense regoor die wêreld meer tyd in die son deurbring, word die risiko om gesondheidsprobleme te ontwikkel weens oormatige blootstelling aan UV- [ultraviolet] straling, ’n wesenlike openbare gesondheidskwessie.”—DR. LEE JONG-WOOK, VOORMALIGE DIREKTEUR-GENERAAL VAN DIE WÊRELDGESONDHEIDSORGANISASIE.
MARTIN, ’n man van Noord-Europa met ’n ligte vel, het op die Italiaanse kus in die skaduwee van ’n sonsambreel aan die slaap geraak. Toe hy wakker word, het hy gesien dat die skaduwee geskuif het en dat sy bene nie meer wit was nie, maar bloedrooi. “Ek moes na die hospitaal se ongevalleafdeling gaan”, verduidelik Martin. “My bene was so styf en geswel soos twee worse. Ek was twee of drie dae lank in verskriklike pyn. Ek kon nie staan of my bene buig nie. Die vel was so styf gespan dat ek bang was dit sou bars.”
Baie dink dat net mense met ligte velle, soos Martin, versigtig moet wees vir blootstelling aan sonlig. Maar hoewel mense met donkerder velle groter beskerming teen sonbrand het, kan hulle nog steeds velkanker kry. En hulle kanker gaan dikwels ongemerk totdat dit ’n gevaarlike stadium bereik. Ander gevare verbonde aan oormatige sonblootstelling sluit skade aan die oë en die immuunstelsel in, probleme wat dalk eers kop uitsteek jare nadat die skade aangerig is.
Die vlak van UV-straling is natuurlik oor die algemeen hoër naby die ewenaar. Mense wat in die trope of die subtrope woon of wat na sulke gebiede reis, moet dus bykomende voorsorgmaatreëls tref. Een rede hiervoor is dat die atmosfeer se beskermende osoonlaag na berig in onlangse jare dunner geword het. Kom ons kyk na party van die moontlike gevare wat oormatige sonblootstelling inhou.
Oogskade
Tot 15 miljoen mense regoor die aarde is blind as gevolg van katarakte, die wêreld se vernaamste oorsaak van blindheid. Katarakte vorm wanneer proteïene in die lens van ’n oog uitrafel, deurmekaar raak en pigmente versamel wat die lens laat vertroebel. Katarakte is een van die langtermyngevolge van blootstelling aan UV-straling. Trouens, volgens skatting word tot 20 persent van katarakte deur langdurige sonblootstelling veroorsaak of vererger.
Ongelukkig sluit die sogenaamde katarakstreek naby die ewenaar ontwikkelende lande in, waar die meeste mense arm is. Miljoene arm mense in Afrika, Asië en Sentraal- en Suid-Amerika is dus blind omdat hulle nie ’n operasie kan bekostig om hulle katarakte te verwyder nie.
Velskade
Velkanker maak een derde uit van al die kanker wat wêreldwyd gediagnoseer word. Sowat 130 000 nuwe gevalle van melanoom, die gevaarlikste soort velkanker, word elke jaar aangemeld. En tussen twee- en driemiljoen nuwe gevalle van ander soorte velkanker, soos basaalselkarsinoom en plaveiselkarsinoom, kom elke jaar voor. Volgens skatting sterf sowat 66 000 mense elke jaar weens velkanker.a
Hoe beskadig sonlig jou vel? Die algemeenste en bekendste akute gevolg van oormatige sonblootstelling is sonbrand, of eriteem. Die onmiddellike gevolge daarvan kan dae lank duur en kan insluit dat die vel blase vorm en afskilfer.
Wanneer ’n mens sonbrand opdoen, vernietig UV-straling die meeste selle in die buitenste laag van die vel en beskadig dit die dieper lae. Enige verandering in die kleur van ’n mens se vel as gevolg van sonblootstelling is ’n teken van skade. Wanneer die DNS van gene wat die groei en verdeling van velselle beheer, beskadig word, kan dit kanker veroorsaak. Sonlig verander ook die tekstuur van die vel en maak dit minder elasties. Dit lei daartoe dat die vel voortydig plooie kry en hang, asook dat ’n mens maklik kneus.
Skade aan die immuunstelsel
Studies het getoon dat die werking van party dele van ’n mens se immuunstelsel benadeel word as die vel te veel UV-straling absorbeer. Dit kan die liggaam se vermoë belemmer om sekere siektes te beveg. Dit is bekend dat selfs matige sonblootstelling die risiko van infeksie deur bakterieë, swamme, parasiete of virusse kan verhoog. Baie mense het al opgemerk dat blootstelling aan die son hulle herhaaldelik koorsblare, of herpes simpleks, laat kry. ’n Verslag deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verduidelik dat een soort ultraviolet lig, wat as UVB bekend staan, “blykbaar die immuunstelsel minder doeltreffend maak—in die geval van koorsblare kan dit nie meer die virus Herpes simpleks onder beheer hou nie, wat tot gevolg het dat die infeksie weer aktief word”.
Wanneer dit by kanker kom, kan sonlig dus die liggaam ’n verwoestende dubbele slag toedien. Eerstens veroorsaak dit regstreekse DNS-skade en tweedens verswak dit die immuunstelsel se natuurlike vermoë om hierdie skade te herstel.
Dit sal dus verstandig wees om voorsorgmaatreëls te tref sodat ons nie aan te veel son blootgestel word nie. Ons gesondheid, en selfs ons lewe, kan daarvan afhang.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van velkanker, sien die Ontwaak! van 8 Junie 2005, bladsye 3-10.
[Venster op bladsy 11]
HOE OM JOU TE BESKERM
◼ Beperk jou blootstelling gedurende die middagure tussen 10:00 en 16:00, wanneer UV-straling baie intens is.
◼ Probeer in die skaduwee bly.
◼ Bedek jou arms en bene met klere wat dig geweef is en los sit.
◼ Dra ’n breërandhoed wat jou oë, ore, gesig en die agterkant van jou nek sal beskerm.
◼ ’n Omvousonbril van goeie gehalte, of ’n sonbril met sypanele, wat 99 tot 100 persent beskerming bied teen UVA en UVB (soorte ultraviolet lig), sal die risiko van oogskade grootliks verminder.
◼ Gebruik ’n breëspektrumsonskermroom met ’n sonbeskermingsfaktor van ten minste 15, en smeer elke twee uur weer ’n goeie hoeveelheid daarvan aan.
◼ Aangesien sonlampe, sonbeddens en sonbruinsalons gebruik maak van UV-straling, wat die vel kan beskadig, beveel die WGO aan dat dit vermy word.
◼ Maak seker dat babas en jong kinders, wie se vel besonder delikaat is, beskerm word.
◼ Moet nooit in die son aan die slaap raak nie.
◼ Raadpleeg jou dokter indien jy ’n moesie, sproet of vlek kry waaroor jy bekommerd is.