Raak ontslae van gevaar- like rook
DIE syfers is ontstellend: Elke minuut van elke dag sterf drie mense in hulle huise. Die oorsaak—rook van brandende biomassa.
Wat is biomassa? Dit kan gedroogde dieremis, dooie hout, takkies, gras of oorblyfsels van gewasse wees. ’n Derde van die wêreldbevolking, dit wil sê meer as tweemiljard mense, gebruik biomassa om mee te kook en hulle huise te verwarm, berig The Kathmandu Post van Nepal. Dit is dikwels die enigste vuurmaakgoed wat beskikbaar is vir dié wat brandarm is.
Ongelukkig gee brandende biomassa dodelike gasse af. Wat kan dus gedoen word? “Die oplossing vir lugbesoedeling in die huis is redelik eenvoudig: voorkom dat rook in die huis inkom of raak ontslae van rook in die huis”, sê die Ontwikkelingsgroep vir Intermediêre Tegnologie, ’n organisasie wat mense in baie lande help om hulle lewe te verbeter.
Hulle eerste wenk is om buite te kook. Maar sê nou dit is nie moontlik of gewens nie? Verbeter dan die ventilasie in die huis, stel hulle voor. Daar is twee maniere om dit te doen—deur gate in die muur op dakhoogte te maak (sifdraad sal klein diertjies uithou) en deur vensters in te sit (hortjies sal privaatheid gee). Dit laat die lug sirkuleer en raak ontslae van die rook. Maar gate in mure is onprakties wanneer daar vuur gemaak word om die huis te verhit; dan kan ’n ander eenvoudige metode help.
’n Skoorsteen is een van die praktiesste en doeltreffendste maniere om ontslae te raak van rook, sê die Ontwikkelingsgroep vir Intermediêre Tegnologie. Skoorstene van metaal of selfs van bakstene en modder kan goedkoop gemaak word. Die wye deel kom oor die vuur, en die rook ontsnap met ’n pyp deur die dak. Wanneer daar beter ventilasie op dakhoogte is en ’n skoorsteen gebruik word, neem gevaarlike besoedelstowwe in die huis met omtrent 80 persent af, sê kenners. Mense wat skoorstene gebruik, sê dat hulle gesonder en skoner is, meer werk kan doen en dit meer geniet om in die huis te wees—bewyse dat iets baie eenvoudigs die lewe kan verbeter.
[Prent op bladsy 14]
’n Kombuis in ’n huisie in Kenia met ’n skoorsteen, genoeg spasie tussen die muur en die dak, en vensters
[Erkenning]
Dr. Nigel Bruce/www.itdg.org