Is dit veldblomme of onkruid?
Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada
Veldblomme is fassinerend. Neem ’n oomblik en kyk mooi na hulle delikate blomme. Let op die verskeidenheid van pragtige kleure. Ruik hulle heerlike geur. ’n Mens kan beswaarlik die versoeking weerstaan om jou hand uit te steek en aan hulle sagte, delikate blomblare te raak. Hierdie asemrowende skoonheid prikkel ons sintuie. Selfs ons emosies word deur hulle prag geroer. Veldblomme verfraai beslis ons omgewing. Hulle dra op ’n unieke manier by tot ons genieting van die lewe. Hiervoor is ons aan hulle Skepper en Ontwerper dank verskuldig!
Hoewel ons blomme weens hulle helder kleure, vorms en geure bewonder, is hulle hoofdoel om saad voort te bring vir die noodsaaklike voortplantingsproses. Om hierdie rede is hulle ontwerp om insekte, voëls en selfs vlermuise te lok sodat hulle bestuif kan word. Veral sangvoëls en skoenlappers is lief vir veldblomme. “Hulle is ’n voedselbron vir hierdie vlieënde diere, terwyl gekweekte blomme nie is nie”, sê die tuinboukundige en skrywer Jim Wilson. Interessant genoeg, volgens The World Book Encyclopedia “was alle blomme oorspronklik veldblomme”.
Daar is derduisende blomplante regoor die wêreld. Hoe kan ’n veldblom dan geïdentifiseer word? Wat is ’n veldblom? Eenvoudig gestel, ’n veldblom is enige blomplant wat sonder menslike inmenging groei. In Noord-Amerika alleen is daar meer as 10 000 blomplante wat as veldblomme geklassifiseer word. “Hoewel die woord oor die algemeen verwys na plante wat sagte stingels en opvallende blomme het, sluit boeke oor veldblomme ook plante met houtagtige stingels hierby in. Hierdie teenstrydighede maak dit feitlik onmoontlik om ’n alomvattende definisie te gee van elke soort plant wat ons ’n veldblom noem”, sê die natuurkenner Michael Runtz, skrywer van Beauty and the Beasts—The Hidden World of Wildflowers.
Sade kan baie ver reis. Party kan oor groot afstande deur die wind of water vervoer word. Die meeste het egter natuurlike beperkings omdat hulle ontwerp is vir spesifieke gebiede. Winde kan fyn saadjies kilometers ver dra. Maar saadjies met “valskerms”, soos dié van die perdeblom, sal dalk net ’n kort afstand aflê.
Dit sal jou dalk verbaas om te weet dat baie veldblomme wat nou inheems in Noord-Amerika is, van verskillende lande af kom. Toe skepe die oseane begin bevaar het en nuwe plekke ontdek is, het baie plante en sade buite die lande versprei waar hulle oorspronklik voorgekom het. Baie van hierdie plante het van Europa en Asië af gekom. Party is “genooi” om te kom, en ander het as “verstekelinge” opgedaag. Trouens, baie plante wat nou die Noord-Amerikaanse landskap versier, het oorspronklik daar “gekom as onkruid in saad van landbougewasse; ander in graangewasse; in verpakkingsmateriaal soos strooi en hooi; in die ballas van skepe . . . Ander is as kruie gebring vir gebruik in geurmiddels, kleurstowwe, parfuums en geneesmiddels”, sê die boek Wildflowers Across America. Maar waarom word hierdie en baie ander blomplante soms onkruid genoem?
Wanneer ’n veldblom onkruid word
Oor die algemeen kan enige plant wat welig groei waar jy nie wil hê dit moet groei nie, onkruid genoem word, of dit nou in jou grasperk, jou tuin of tussen jou gesaaides opkom. “Baie plante wat as onkruid bekend staan, sou nie kon oorleef het . . . as hierdie kunsmatige habitats nie bestaan het nie”, sê die boek Weeds of Canada. Dit voeg by: “Ons is grotendeels daarvoor verantwoordelik dat die plante wat ons die graagste wil uitroei, ’n geskikte omgewing het om in te groei.” Party veldblomme wat ingevoer is, dring die habitat van ander minder aggressiewe, inheemse plante binne en verander die omgewing heeltemal. Op hierdie manier kan ’n veldblom wat ingevoer is, ’n onkruid word wat ander plante verdring.
As jy al probeer het om selfs ’n klein tuintjie te versorg, sal jy verstaan wat bedoel word met ’n indringing van ongenooide plante. Kaal grond is vatbaar vir vinnige erosie deur wind en water. Op enige gegewe tyd is daar letterlik miljoene rustende saadjies van ’n groot verskeidenheid plante in die boonste 3 sentimeter of wat van die grond te vinde. Wanneer ’n stuk grond ontbloot is, sal onkruid dit vinnig toegroei en die grond bind. Hoewel dié proses dalk ’n voortdurende stryd in ’n tuin sal veroorsaak, help ’n begrip daarvan jou om bewus te wees van die onderskeie rolle wat onkruid en veldblomme speel.
Geniet hierdie fassinerende deel van die skepping
Jy kan nie anders nie as om jou te verwonder oor die natuurlike prag van beboste hange wat bedek is met ’n tapyt van lentebloeisels, soos wit drievlerke of ligblou sigoreibloeisels wat soggens blom, die son volg en dan teen die middag op ’n helder dag hulle blomme toemaak. Dit kondig net die begin aan van ’n onophoudelike vertoning van natuurlike prag wat seisoen ná seisoen en jaar ná jaar voortduur en om jou aandag meeding. Party, soos die geelbruin daglelie, verskyn vir net ’n baie kort rukkie. Ander, soos die keëlblom, kan van laatlente tot in die somer in sonnige velde of langs paaie gesien word.
Die wêreld van veldblomme is beslis ’n fassinerende deel van die skepping. Wanneer party van hulle op jou grasperk of in jou tuin opkom of jy hulle langs die pad of in die bos sien, neem gerus die tyd om hulle delikate vorms, pragtige kleure en heerlike geure te geniet. Hulle is inderdaad ’n geskenk van hulle Ontwerper, ons vrygewige Skepper.
[Venster/Prent op bladsy 18]
Het jy geweet?
Daar was ’n tyd toe die gewone perdeblom glad nie in Noord-Amerika voorgekom het nie. Nou kry jy dit in amper elke land. Sommige deskundiges beweer dat dit van Klein-Asië af gekom het. Europese setlaars in die Amerikas, wat daaraan gewoond was om dit te eet, het dit saam met hulle geneem vir hulle nuwe tuine. Die wortel van die perdeblom is al in baie patente medisyne gebruik, terwyl die jong blare daarvan in slaaie gebruik word.
Gansblomme is van die algemeenste blomme wat langs die pad groei. Hulle is uit Europa afkomstig, en hulle vrolik werklik die natuurskoon op. Elke bloeisel is in werklikheid ’n versameling geel en wit blomme. Die middelste deel van die blom bestaan uit honderde klein, vrugbare, goue blommetjies wat omring is deur 20 tot 30 wit, onvrugbare straalblomme waarop insekte kan land.
Die geelbruin daglelie kom vermoedelik van Asië af en is na Engeland en uiteindelik na Noord-Amerika geneem. Hoewel elke stingel baie blomme voortbring, verwelk elke blom ná net een dag. Hulle gaan in die oggend oop en teen die einde van die dag maak hulle hulle blomblare vir goed toe.
Die brandbotterblom (Ranunculus acris) is ook van Europa af na Noord-Amerika gebring. Daar word dit gewoonlik in velde met klam grond en langs paaie gevind. Dit kan soms tot twee meter of selfs hoër groei. Min mense besef egter dat dit gevaarlik kan wees. Byna alle spesies van hierdie plant veroorsaak in ’n meerdere of mindere mate ’n brandende gevoel as ’n mens daaraan raak. Sommige botterblomme is al eeue lank daarvoor bekend dat hulle blase veroorsaak. Anne Pratt, ’n 19de-eeuse Britse skryfster, het gesê: “Baie voetslaners het al langs ’n paar van hierdie blomme gaan lê en slaap, en wanneer hulle wakker geword het, was hulle wange baie seer en geïrriteerd omdat hulle naby die blomme gelê het.”
[Erkennings]
Perdeblom: Walter Knight © California Academy of Sciences; brandbotterblom: © John Crellin/www.floralimages.co.uk
[Prente op bladsy 16]
Sigoreibloeisels
[Prent op bladsy 16]
Geelbruin daglelie
[Prente op bladsy 16, 17]
Wit drievlerke
[Prente op bladsy 17]
Keëlblomme
[Foto-erkenning op bladsy 16]
Links bo: www.aborea.se; middel bo: Courtesy John Somerville/www.british-wild-flowers.co.uk; geelbruin daglelie: Dan Tenaglia, www.missouriplants.com, www.ipmimages.org