Het jy ’n perlemoenvlinder in jou tuin?
INDIEN wel, sal sy skoonheid jou fassineer. Dit is een van die duisende soorte vlinders wat ons wêreld verfraai en een van die meer as 750 spesies wat in die Verenigde State en Kanada aangetref kan word. Die een wat hier verskyn, die silwerkolvlinder, is in ’n geil plattelandse tuin in die staat Virginië afgeneem. Aan die onderkant van die silwerkolvlinder se agterste vlerk is daar silwer skubbe te sien. Die tuinier het doelbewus ’n deel van die tuin met veldblomme beplant wat hoog groei en vlinders lok—daar was geel rudbeckias en ligpers floksies.
Daar is ’n groot verskeidenheid vlinders onder die vlinderfamilie, met sulke beskrywende name soos bosprag, vuurrooitjie, pêreldubbelstert, boskoningin, blouglans, fladderpapietjie, blougesiggie, saffier en persjuweeltjie.
As jy graag vlinders na jou tuin toe wil lok, kan jy gerus probeer om ’n lap veldblomme te laat groei. Miskien kan jy ’n pakkie veldblommesaad koop wat later so kleurryk soos ’n skilder se verfbord sal wees om hierdie delikate skepseltjies na jou toe te lok. As jy in die gepaste streek van die wêreld woon, sal vlinders soos ’n magneet na die vlinderstruik aangetrek word. Kry dan gerus ’n kamera en verkyker, en geniet dit!