Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 4/8 bl. 24-27
  • Saadbanke—’n Wedloop teen die tyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Saadbanke—’n Wedloop teen die tyd
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n saadbank?
  • Doelwitte word bereik
  • Die sade word gestoor
  • Wie vind hierby baat?
  • Hoe sal die wedloop gewen word?
  • Verskeidenheid—Noodsaaklik vir lewe
    Ontwaak!—2001
  • Is die mens besig om sy kosvoorraad te vernietig?
    Ontwaak!—2001
  • Plantvariëteite verdwyn—Waarom?
    Ontwaak!—1998
  • Die komplekse web van die lewe
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 4/8 bl. 24-27

Saadbanke—’n Wedloop teen die tyd

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

ONS maak op plante staat vir ons oorlewing. Hulle is bronne van kos en klere. Hulle voorsien brandstof, boumateriaal en lewensreddende geneesmiddels. Diere, voëls en insekte is ook van hulle afhanklik. En tog, volgens party navorsers, bestaan die gevaar dat ’n kwart van die wêreld se plante binne die volgende 50 jaar sal uitsterf. ’n Voorloper in hierdie wedloop teen die tyd is die Millenniumsaadbank-projek.

Hierdie gebou in suidelike Engeland, wat al as ’n “Noag se ark vir plante” en “’n versekeringspolis vir die planeet” beskryf is en meer as ’n miljard rand gekos het, sal honderdmiljoene sade bewaar wat van die wêreld se mees bedreigde spesies versamel is.

Wat is ’n saadbank?

Het jy al ooit waardevolle besittings by ’n bank vir veilige bewaring ingegee totdat jy dit weer nodig het? ’n Saadbank verrig ’n soortgelyke funksie wanneer dit by plante kom. Dit is ’n maklike, ekonomiese manier om enige saaddraende plant te bewaar, van die kleinste kruieplant tot die grootste boom. Wanneer die sade eers gestoor is, het dit baie min aandag nodig. Die meeste neem nie baie plek in beslag nie. ’n Miljoen orgideesade kan in ’n glasflessie gestoor word! Wat verskeie ander spesies betref, kan daar net soveel sade in ’n gewone inmaakfles pas as wat daar mense in ’n stad is. Nadat hierdie potensieel nuwe plante op ’n gespesialiseerde wyse behandel is, kan dit dekades of selfs eeue lank veilig bewaar word, veel langer as wat dit in die natuur behoue sou bly.

Saadbanke is niks nuuts nie, hoewel dit in die verlede hoofsaaklik vir kommersiële gewasse gebruik is. In 1974 het wetenskaplikes van die Koninklike Botaniese Tuin in Kew, Londen, by hulle tak in Wakehurst Place in die platteland van Sussex, na maniere begin soek om veldplantsade te bewaar. Nadat hulle 4 000 verskillende spesies van regoor die wêreld gestoor het, het hulle besef dat hulle ’n baie groter poging moet aanwend om die wêreldwye verlies aan plante en hulle habitats te keer. In 1998 het Kew dus begin om ’n groter saadbank op die perseel van Wakehurst Place te bou.

Doelwitte word bereik

Die eerste doelwit, selfs voordat die saadbank voltooi is, was om teen die jaar 2000 die sade van al Brittanje se bome, braambosse, grassoorte, struike en veldblomme te stoor. Van die 1 440 inheemse spesies is 317 op die randjie van uitsterwing. Die saadbank in Kew het alreeds 579 spesies versamel, en ’n span van meer as 250 professionele en amateurplantkundiges het die land deurkruis om die res te vind. Geesdriftige ondersteuners het berge uitgeklim, teen kranse afgeklouter en deur yskoue water geloop op soek na hierdie moeilik bereikbare plante. Behalwe ’n handjie vol seldsame eksemplare is al die sade voor die vasgestelde tyd versamel.

Sedert die jaar 2000 is die hoofdoel om 1 uit 10, of meer as 24 000 spesies, van die wêreld se saaddraende flora teen 2010 te versamel en te stoor, veral dié uit droë lande. ’n Vyfde van die wêreld se mensebevolking lewe in hierdie warm, droë gebiede en maak op plante staat vir hulle oorlewing, en tog verander uitgestrekte gebiede elke jaar in woestyn. Ekspedisies om sade te versamel, het aan die begin van 1997 in party lande begin, en teen Februarie 2001 het Kew se saadjagters 300 miljoen sade van 122 lande versamel, wat beteken dat byna 19 000 spesies nog gestoor moet word.

Die sade word gestoor

Tuiniers en boere versamel en stoor sade al lank. Maar sade wat by die Millenniumsaadbank behandel word, sal baie langer as gewoonlik lewe. Die geheim lê in die manier waarop dit gedroog en gevries word.

Nadat genoeg sade versamel en skoongemaak is, word dit in papier- of materiaalsakke of selfs in koeldrankbottels gesit om uit te droog voordat dit na Brittanje gestuur word. Die versamelaars maak terselfdertyd geperste eksemplare van die plante sodat dit by Kew amptelik geïdentifiseer kan word, en die presiese plek waar dit gevind is, word deur middel van navigasiesatelliete opgeteken.

Wanneer die sade by Wakehurst Place aankom, gaan dit deur twee belangrike droogmaakstadiums, wat geskei word deur ’n skoonmaaksessie. Omdat die sade ’n tyd lank in twee vertrekke gesit word, waarvan die tweede ’n laer lugvoggehalte as die eerste het en albei droër as die meeste woestyne is, daal die sade se voginhoud van ten minste 50 persent tot ongeveer 5 persent. Dit verseker dat die sade nie beskadig word wanneer dit gevries word nie en bring die biologiese prosesse in die sade amper tot stilstand; ’n toestand waarin dit lank kan bly. Voordat die sade gestoor word, word daar x-strale van ’n paar geneem om te sien of dit gesond of deur insekte beskadig is. Ander sade word getoets om te sien of dit sal ontkiem. Trouens, elke tien jaar sal sade ontvries word om te sien of dit nog steeds lewensvatbaar is. As minder as driekwart daarvan ontkiem, sal nuwe sade versamel moet word.

Baie navorsing word gedoen oor die manier waarop sade reageer wanneer dit lank gestoor word en hoe om dit later te laat ontkiem. Laastens word die sade in lugdigte glasbottels gesit en na een van twee ondergrondse vrieskamers in ’n groot betonkluis geneem. Daar, waar hulle netjies op rakke gepak is, begin hulle hulle lang slaap teen ’n temperatuur van minus 20 grade Celsius.

Werk die proses? Ja, beslis. ’n Paar jaar gelede is 3 000 sade van verskillende plante wat ’n dekade lank gestoor is, getoets en het 94 persent van hulle ontkiem.

Party spesies skep probleme. Hulle sade gaan dood as die voginhoud te laag daal. Die sade van party soorte eike- (Quercus), kakao- (Theobroma cacao) en rubberbome (Hevea brasiliensis) is voorbeelde hiervan. Maar as die sade gevries word sonder dat dit uitgedroog word, gaan dit dood omdat die water uitsit en die selwande bars wanneer die water in ys verander. Wetenskaplikes werk aan tegnieke om hierdie probleem die hoof te bied. ’n Moontlike oplossing is om die saad se saadkiem uit te haal, dit vinnig te droog en dit in vloeibare stikstof teen ’n baie lae temperatuur te stoor.

Wie vind hierby baat?

Soos ’n finansiële bank, doen die Millenniumsaadbank ook betalings. Eksemplare van sade word vir navorsing gebruik. ’n Kwart van alle geneesmiddels is van plante afkomstig, maar vier vyfdes van die wêreld se flora is nog nie bestudeer nie. Watter nuwe geneesmiddels wag net om ontdek te word? Die boerboon (Vicia faba) het ’n bloedstollingsproteïen opgelewer wat seldsame bloedsiektes by mense help diagnoseer. Miskien sal nuwe kossoorte, brandstowwe of vesels ook ontdek word.

Oorsese wetenskaplikes werk by die Bank terwyl hulle leer oor die berging van sade en ontkiemingsmetodes sodat hulle saadbanke in hulle eie land kan oprig. Elke land wat sade aan die saadbank voorsien, behou ’n aansienlike hoeveelheid daarvan, en hulle sal ’n gelyke deel van enige voordele en profyt ontvang wat die navorsing oplewer.

Aangesien eksemplare van sade gebruik word om verarmde grond te herstel en om die aantal uiters bedreigde spesies te laat toeneem, word daar gehoop dat hierdie bewaringstrategieë sal help om die wêreld se flora, wat vinnig aan die verdwyn is, sowel as die talle lewensvorme wat daardeur onderhou word, te red.

Hoe sal die wedloop gewen word?

Niemand kan die ernstige situasie ontken wat die mensdom in die gesig staar nie. Roger Smith, hoof van Kew se saadbewaringsdepartement, gee drie redes vir die projek: “Die eerste rede is regstreekse gebruik. Weet ons so baie van elke plant dat ons weet watter potensiaal ons in terme van kos of geneesmiddels verloor het as een plant uitsterf? Die tweede rede is die web van die lewe. Stel jou voor dat al die spesies in die wêreld ’n net vorm en dat elke spesie ’n knoop in die net verteenwoordig. Hoeveel knope kan jy uitsny voordat die net nie meer werk nie? Die sterkste argument is bestuurderskap. Watter reg het die huidige geslag om toekomstige geslagte hulle opsies te ontneem deur nie die spesies wat hulle geërf het, as ’n erfenis aan die volgende geslag na te laat nie?”

Die uitdagings wat die toekoms bied, is enorm. Die projekkoördineerder Steve Alton sê: “Jy kan al die sade in die wêreld hê, maar as daar nie ’n habitat vir daardie plante is nie, help dit nie om dit te stoor nie.” Sal dit moontlik wees om hierdie verdwynende spesies te red en ook seker te maak dat ons planeet op ’n verantwoordelike wyse bestuur word?

Die gerusstellende antwoord is ja. Die Skepper belowe: “Die saad van vrede sal daar wees; die wingerdstok sal sy vrug gee, en die aarde sal sy opbrengs lewer, en die hemel sal sy dou gee; en ek sal die oorblywendes van hierdie volk beslis al hierdie dinge laat beërf.”—Sagaria 8:12.

[Venster/Prente op bladsy 25]

EEN VAN BAIE

Die tuine in Kew is net een van die 1 300 saadbanke regoor die wêreld wat hulle daarop toespits om sade in vrieskamers te bewaar. Steve A. Eberhart, hoof van die Nasionale Saadbewaringslaboratorium in Colorado, beskryf daardie fasiliteit as ’n soort “Fort Knox vir plante”.

[Prente]

Millenniumsaadbank-projek

[Venster op bladsy 26]

BENUTTING VAN DIE GENEPOEL

’n Belangrike funksie van saadbanke is om verskillende vorme van ’n gewas en variëteite daarvan te versamel. Hierdie versameling voorsien dan ’n genepoel wat gebruik kan word wanneer nuwe siektes beveg of plae in daardie gewas bestry moet word. Deur plante selektief te kweek, kan wetenskaplikes die opbrengs en voedingswaarde van gewasse verbeter en dit meer bestand maak teen siektes en insekte. Hierdie genepoel word al hoe belangriker.

Wêreldwyd is daar tans net 103 plantsoorte wat in meer as 90 persent van die mensdom se kilojoulebehoeftes voorsien, en meer as die helfte van die wêreld se energie-inname kom van slegs drie belangrike gewasse—rys, koring en mielies. Waarom is dit ’n probleem?

Wanneer ’n gewas wat oor ’n uitgestrekte gebied verbou word, geneties dieselfde is, word al die plante ewe vatbaar vir ’n siekte of plaag. Die bekendste voorbeeld van die gevaar wat genetiese eenvormigheid inhou, het in 1840 in Ierland plaasgevind. Destyds is die aartappeloes deur laatroes (Phytophthora infestans) uitgewis. Hierdie swam het aanleiding gegee tot wat soms die Groot Hongersnood genoem word en het tot die dood van 750 000 mense gelei.

[Venster op bladsy 27]

DIVERSITEIT WORD BEDREIG

Dr. Peter H. Raven het afgevaardigdes by die XVI Internasionale Botaniese Kongres, wat in die Verenigde State gehou is, gewaarsku: “Tot 100 000 van die geskatte 300 000 spesies kan teen die middel van die [21ste] eeu uitgewis of op die randjie van uitsterwing wees.” ’n Verslag van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie (VLO) sê dat die verlies aan diversiteit in ons voedselgewasse alreeds “aansienlik” is. Die grootste bedreiging vir plantdiversiteit kom uit ’n onwaarskynlike bron.

Die verslag van die VLO het gesê: “Die vernaamste oorsaak van die verlies aan genetiese diversiteit in ons tyd is die algemene toepassing van moderne, kommersiële landboukunde. Die grootliks onvoorsiene gevolg van die bekendstelling van nuwe gewasvariëteite was die vervanging—en verlies—van tradisionele, hoogs veranderlike landbouvariëteite.”

In 1949 is daar byna 10 000 koringvariëteite in China verbou. Vandag word minder as 1 000 nog verbou. In die Verenigde State het byna 6 000 appelboomvariëteite gedurende die afgelope 100 jaar verdwyn, en 95 persent van die koolvariëteite sowel as 81 persent van die tamatievariëteite het blykbaar verdwyn.

Oorlogvoering veroorsaak ook dat gewassoorte uitsterf wanneer boere gedwing word om hulle plase jare lank te verlaat en plaaslike gewassoorte dan uitsterf. Die UNESCO Courier het gesê: “Oorloë . . . het ’n uitwerking op elke land in Wes-Afrika se kusstrook gehad, waar rys al sedert antieke tye verbou word. Hierdie gebied is ’n vername sentrum vir genetiese diversiteit in Afrikarys (Oryza glaberrima), wat . . . nou met Asiatiese rys, een van die wêreld se vernaamste voedselgewasse, gekruis kan word. Dit sal van wêreldbelang wees as hierdie . . . Afrikagewas, waaroor daar nog so min navorsing gedoen is, ’n slagoffer van die streekoorlog moet wees.”

Iets beters as saadbanke

John Tuxill, ’n navorser vir die Worldwatch-instituut, het gewaarsku: “Ons skuif gene met al hoe groter vernuf rond, maar net die natuur kan dit skep. As ’n plant verdwyn wat ’n unieke genetiese eienskap het, is daar geen manier om dit terug te kry nie.” Miljoene rande word dus belê om te verseker dat sade in saadbanke bewaar word.

Wat selfs beter is, is die belofte van die Skepper van hierdie wonderlike sade, wat lank gelede hierdie versekering gegee het: “Al die dae dat die aarde bly staan, sal saaityd en oestyd . . . nooit ophou nie.”—Genesis 8:22.

[Prent op bladsy 24]

Sade word in Burkina Faso versamel

[Prent op bladsy 25]

Sade word onder vriespunt gestoor

[Prent op bladsy 26]

’n Plantkundige van Kenia leer hoe om die voginhoud van sade na te gaan

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Alle foto’s op bladsye 24-7: The Royal Botanic Gardens, Kew

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel