Winkeldiefstal—Wie betaal?
IN Japan het ’n winkeleienaar ’n jong seun betrap wat gesteel het, en die polisie ontbied. Toe die beamptes opdaag, het die seun weggehardloop. Die polisie het hom agternagesit. Die seun het oor ’n treinspoor gehardloop, voor ’n trein beland en gesterf.
Weens die publisiteit wat daarop gevolg het, het sommige die winkeleienaar veroordeel omdat hy die polisie ontbied het. Hy het sy onderneming gesluit totdat die gemoedere bedaar het. Nadat hy dit weer oopgemaak het, het winkeldiewe hom opnuut begin teister. Maar ná sy onaangename ondervinding was hy bang om die diewe te konfronteer. Sy winkel het bekend geword as ’n maklike teiken. Kort voor lank moes hy sy winkel permanent sluit.
Dit was weliswaar een van die tragieser gevalle, maar dit lig ’n belangrike waarheid toe. Winkeldiefstal is baie skadelik—in baie opsigte en vir baie mense. Kom ons kyk van naderby na die hoë prys van hierdie misdaad.
Hoe die winkels betaal
Winkeldiefstal kos die wêreld se winkeleienaars elke jaar miljarde rande. Party mense skat dat die verlies in die Verenigde State alleen meer as R240 miljard is. Hoeveel besighede kan dit bekostig om hulle deel van so ’n bedrag te verloor? Baie winkels vind dit oorweldigend. Wanneer diewe op ’n winkel toesak, kan dit ’n leeftyd se werk in gevaar stel.
“Buiten kompetisie, is daar nog winkeldiefstal ook waaroor ’n mens jou moet bekommer. Ek weet nie hoeveel langer ons nog sake sal kan doen nie”, sê Luke, ’n winkeleienaar in die stad New York. Hy kan nie ’n elektroniese veiligheidstelsel bekostig nie. Wat die diewe betref, sê hy: “Dit kan enigeen wees, selfs my goeie klante.”
Party meen dat Luke se probleem nie ernstig is nie. “Hierdie winkels maak ’n klomp geld”, sê hulle, “en wat ek dus neem, maak geen verskil nie.” Maar maak ’n kleinhandelaar werklik soveel wins?
Op party plekke voeg winkels 30, 40 of 50 persent by die prys wat hulle vir ’n artikel betaal, maar daardie persentasie is nie skoon wins nie. Die winkeleienaar gebruik die ekstra inkomste om bedryfskoste te dek, soos huur, belasting, werknemers se salarisse en voordele, instandhouding van die gebou, herstel van toerusting, versekering, elektrisiteit, water, brandstof vir verhitting, die telefoonrekening en veiligheidstelsels. Ná uitgawes is sy wins dalk 2 of 3 persent. Wanneer iemand dus in ’n winkel steel, verloor die winkeleienaar ’n deel van sy lewensonderhoud.
Wat van kleindiefstal?
Terwyl ’n seuntjie saam met sy moeder in ’n winkel is, loop hy na die rak met die lekkergoed. Daar maak hy ’n pakkie oop en steek ’n sjokoladestafie in sy sak. Raak die diefstal van sulke kleinighede die winkel?
Die Amerikaanse Kleinsake-administrasie het in hulle brosjure Curtailing Crime—Inside and Out gesê: “Kleindiefstal lyk dalk nie soos ’n groot misdaad vir die geleentheidsdief wat ’n balpuntpen hier en ’n sakrekenaar daar in sy sak steek nie. Maar vir die winkeleienaar wat sukkel om kop bo water te hou, is dit ’n doodsteek.” Omdat winsgrense so klein is, moet ’n kleinhandelaar elke dag ’n ekstra 900 sjokoladestafies of 380 blikkies sop verkoop om te probeer vergoed vir ’n jaarlikse verlies van R6 000 weens winkeldiefstal. Daarom is dit ’n groot verlies vir ’n sakeonderneming as baie seuntjies lekkergoed steel. En dít is eintlik die probleem.
Tienmiljoene mense, jonk en oud, ryk en arm en van alle rasse en agtergronde steel in markte en winkels. Wat is die gevolg? Die Amerikaanse Nasionale Raad vir die Voorkoming van Misdaad berig dat bykans ’n derde van alle sakeondernemings in die Verenigde State weens diefstal gedwing word om te sluit. Sakeondernemings in ander lande loop ongetwyfeld dieselfde gevaar.
Die klant moet betaal
Pryse styg wanneer mense in winkels steel. Gevolglik betaal verbruikers op party plekke R1 800 per jaar meer weens winkeldiefstal. As jy dus R360 per dag verdien, beteken dit dat jy elke jaar die ekwivalent van een week werk om te betaal vir wat ander steel. Kan jy dit bekostig? Vir mense wat van ’n pensioen lewe of vir ’n enkelmoeder wat sukkel om haar gesin te onderhou, kan dit rampspoedig wees om ’n week se inkomste op hierdie manier te verloor. Maar dit is nie al nie.
Die hele buurt kan daaronder ly wanneer die winkel op die hoek toemaak. Winkeldiefstal was blykbaar die rede waarom ’n apteek in ’n hegte Amerikaanse gemeenskap onlangs sy deure moes sluit. Om hulle medisyne te kry, moet talle bejaarde en siek inwoners nou na ’n ander apteek twee en ’n half kilometer daarvandaan gaan. “Probeer om dit in ’n rolstoel te doen”, het een amptenaar gesê.
Die hoë prys wat ouers betaal
Bruce is ’n man met hoë sedelike standaarde wat sy kinders leer om eerlik te wees. Op ’n dag is sy dogter betrap toe sy gesteel het. “Ek was verpletter”, sê hy. “Stel jou voor dat jy ’n telefoonoproep kry en hoor dat jou dogter vir winkeldiefstal gevang is. Ons het jare daaraan gewy om ons dogter goed groot te maak, en nou dit. Ons het nooit gedink dat sy op hierdie manier sou rebelleer nie.”
Bruce was oorweldig deur bekommernis oor sy dogter en haar toekoms. En hy wou nie langer as vrywillige godsdiensonderrigter dien nie. “Hoe kon ek voor die gemeente staan? Hoe kon ek hulle, met ’n goeie gewete, leer hoe om hulle kinders groot te maak? Dit het net nie reg gevoel nie.” Sy dogter het blykbaar nie eers gedink hoe haar misdaad hom sou raak nie.
Hoe winkeldiewe betaal
Wanneer winkelbestuurders in die verlede winkeldiewe gevang het, het hulle hulle dikwels ná ’n ernstige waarskuwing laat gaan. Vandag laat eienaars gereeld oortreders in hegtenis neem, selfs al is dit hulle eerste oortreding. Die diewe besef dan dat hulle misdaad ernstige gevolge het. ’n Jong vrou met die naam Natalie het dit eerstehands uitgevind.
“Hoe meer ek gesteel het, hoe meer selfvertroue het ek gekry”, het Natalie gesê. “Ek het gedink, selfs al vang hulle my, sal die prokureurs- en hofonkoste nog steeds minder wees as wat al die fantastiese klere my sou gekos het.” Natalie was verkeerd.
Sy is betrap toe sy ’n rok gesteel het, en die polisie het haar in boeie weggeneem. By die polisiestasie is haar vingerafdrukke geneem en is sy saam met ander misdadigers in ’n sel opgesluit. Daar het sy ure lank gewag terwyl haar ouers borg vir haar probeer reël het.
Vir enigiemand wat daaraan dink om te steel, sê Natalie: “Luister na my en koop eerder net die simpel rok of jeans.” As jy besluit om te steel, sê sy, “sal jy baie lank daaroor spyt wees”.
’n Kriminele rekord is iets om oor spyt te wees. Tot hulle ontsteltenis vind veroordeelde winkeldiewe dalk dat hulle oortreding nie in die vergetelheid raak nie, maar telkemale opduik om by hulle te spook, soos ’n vlek op ’n rok of ’n hemp. ’n Winkeldief moet dalk sy misdaad meld wanneer hy toelating tot ’n universiteit probeer kry. Hy kan dit moeilik vind om ’n beroep, soos geneeskunde, tandheelkunde of argitektuur, te betree. Maatskappye huiwer moontlik om hom in diens te neem. En hierdie probleme kan opduik al het hy die straf uitgedien wat die hof hom opgelê het, en al steel hy nooit weer nie.
Winkeldiefstal kan die oortreder duur te staan kom, al word hy nie skuldig bevind nie. Hector, wat vroeër in hierdie reeks genoem is, het dit uitgevind. “Ek het altyd daarmee weggekom”, sê hy. “Ek is nooit betrap toe ek gesteel het nie.” Maar hy moes die prys betaal. Hy sê ná oorweging: “Ek dink jongmense moet een ding verstaan: Jy maai wat jy saai. Selfs al vang die polisie jou nooit nie, jy sal daarvoor betaal.”
Winkeldiefstal is nie ’n misdaad sonder slagoffers nie, en dit wat winkeldiewe steel, is nie kosteloos nie. Enigiemand wat winkeldiefstal pleeg, moet daardie gebruik heeltemal staak. Maar hoe kan ’n winkeldief die krag kry om vir goed op te hou steel? Sal hierdie misdaad ooit met wortel en tak uitgeroei word?
[Prent op bladsy 7]
Winkeldiefstal veroorsaak dat sakeondernemings sluit
[Prent op bladsy 7]
Almal betaal vir winkeldiefstal
[Prente op bladsy 8]
Winkeldiefstal raak jou toekoms
[Erkenning]
Vingerafdrukke: © Morocco Flowers/ Index Stock Imagery