’n Einde aan winkeldiefstal
“Om diefstal te bekamp, is nie net jou probleem nie, dit is die hele gemeenskap se probleem; almal vind baat daarby wanneer diefstal beëindig word.”—“Every Retailer’s Guide To Loss Prevention.”
WINKELDIEFSTAL, soos ander slegte gebruike, is geneig om mense se denke te beïnvloed, wat daartoe lei dat hulle hulleself probeer regverdig. Net soos ’n tuinier dus onkruid met wortel en al uittrek, moet diegene wat winkeldiefstal wil staak, slegte denke uitroei. ‘Hervorm julle verstand’, maan die Bybel in Romeine 12:2. En in 1 Petrus 1:14 waarsku dit: “Julle [moet] nie langer gevorm word volgens die begeertes wat julle vroeër . . . gehad het nie.” Die volgende vyf punte kan ’n winkeldief help om sy denke in verband met diefstal te verander.a
Hulpmiddels om denke reg te stel
◼ Eerstens, winkeldiefstal is teen die wet. Dalk is diefstal algemeen waar hy woon en kom hy daarmee weg, maar die winkeldief verbreek nogtans die wet.—Romeine 13:1.
Wat gebeur wanneer baie die wet verbreek? Volgens die Bybel “verloor die wet sy krag” (Habakuk 1:3, 4). Met ander woorde, die nuttige beperking wat die wet daarstel, word ondermyn, en dit lei tot die ineenstorting van burgerlike orde. Elke keer as iemand winkeldiefstal pleeg, verswak hy die fondamente van die wetsgehoorsame gemeenskap. Wanneer dit gebeur, ly almal daaronder.
◼ Tweedens, winkeldiefstal skend vertroue. Sulke oneerlikheid verswak menseverhoudings, wat dit vir mense moeilik maak om mekaar te verstaan en regverdig te behandel.—Spreuke 16:28.
“My grootste fout is dat ek almal vertrou.” Dit is wat ’n klerewinkeleienaar gesê het nadat sy weens diefstal bankrot gespeel het. Vroeër het sy vertrou dat haar klante en werknemers nie van haar sou steel nie. Nou meen sy dat haar vertroue misplaas was.
Een persoon vertel dalk vir iemand anders ’n leuen en bederf sy goeie naam by daardie persoon. Maar winkeldiewe maak dat almal wat ná hulle by die winkel instap, met agterdog beskou word. Hulle plaas eerlike mense in die rol van potensiële diewe. Het enigiemand die reg om dit te doen?
◼ Derdens, winkeldiefstal kan tot ernstiger misdade lei. Mettertyd kan winkeldiewe selfs groter kanse waag.—2 Timoteus 3:13.
’n Finale einde aan winkeldiefstal
◼ Vierdens, en die belangrikste punt, ’n winkeldief kom in opstand teen God die Almagtige. Sy Woord beveel die dief om “nie meer [te] steel nie”, en dit waarsku dat diegene wat Hom minag, geoordeel sal word (Efesiërs 4:28; Psalm 37:9, 17, 20). Maar Jehovah vergewe diewe wat verander. Hulle kan vrede met God geniet.—Spreuke 1:33.
◼ Vyfdens, winkeldiefstal sal, soos alle ander misdade, binnekort iets van die verlede wees. Wanneer God se Koninkryk volle beheer oor die aarde oorneem, soos in die Bybel belowe word, sal mense mekaar eerlik behandel. Dit sal verligting van die hoë prys van winkeldiefstal beteken.—Spreuke 2:21, 22; Miga 4:4.
[Voetnoot]
a Hoewel daar na die winkeldief as manlik verwys word, is hierdie beginsels net soveel op vroulike winkeldiewe van toepassing.
[Venster/Prent op bladsy 10]
GOEDKOOP METODES OM DIEFSTAL TE VOORKOM
Sommige klein sakeondernemings kan dalk nie duur veiligheidstelsels bekostig nie. Maar dit beteken nie dat hulle magteloos is teen winkeldiewe nie. Sakeondernemings kan dikwels hulle handelsware beveilig deur ’n paar eenvoudige stappe te neem.
In ’n publikasie wat hulle saam geskryf het, beklemtoon speurders Michael Brough en Derek Brown hoe belangrik dit is om te let op jou klante: “Hou almal dop. . . . Jy en jou verkoopspersoneel is die hoofverdedigingslinie.” Hulle stel voor dat ’n mens iemand wat van winkeldiefstal verdink word, op hierdie manier nader: “Het jy gekry waarna jy soek? Laat dit gerus by die kasregister, dan sal ek dit vir jou oplui.” “Kan ek dit vir jou toedraai?” “Is die trui die regte grootte?” “Kan ek vir jou ’n mandjie kry?” Die speurders sê: “Dit laat eerlike klante, sowel as diewe, weet dat jy hulle gesien het en in hulle belangstel.”
Wat ordelikheid betref, sê hulle: “Hou die rakke vol en netjies. As jy voortdurend aandag skenk aan die rakke, sal jy vertroud wees met die voorraad, en hoe netjieser die rakke, hoe makliker sal dit wees om te sien as iets geskuif of verwyder is.”—Every Retailer’s Guide to Loss Prevention.
Die speurder Russell Bintliff stel voor: “As die gange oop en die rakke vol is, help dit werknemers om te sien wat klante doen. Deur in ’n gangetjie af te loop waar ’n verdagte persoon opgemerk is, kan ’n werknemer vasstel wat weg is en dan, terwyl hy voorgee dat hy voorraad nagaan, kyk wat in die klant se kruidenierswaentjie of -mandjie is. . . . Winkeldiewe sal weet wat aangaan; eerlike klante sal nie eers agterkom dat die werknemer hulle dophou nie.” Wat die rangskikking van die rakke betref, sê hy: “Die rangskikking moet dit vir [die winkeleienaar] en sy werknemers moontlik maak om klante duidelik te sien.”—Crimeproofing Your Business—301 Low-Cost, No-Cost Ways to Protect Your Office, Store, or Business.
[Prent op bladsy 9]
Eerlikheid bevorder vertroue en vriendelike verhoudings