Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 6/22 bl. 11-14
  • Steenkool—Swart gesteentes uit die donker dieptes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Steenkool—Swart gesteentes uit die donker dieptes
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Meer met minder
  • In die donker skag af
  • Die strooksteenkoolsnyer
  • Uiteindelik weer in die sonlig!
  • Waarom die behoefte aan nuwe krag?
    Ontwaak!—2005
  • Energie—Waarom noodsaaklik vir lewe?
    Ontwaak!—2005
  • Redding is nodig!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Ontwaak!—2005
g05 6/22 bl. 11-14

Steenkool—Swart gesteentes uit die donker dieptes

Deur Ontwaak!-medewerker in Australië

“SWART—jy weet nie wat die woord beteken totdat jy in ’n mynskag af was nie”, skree my vriend Bernie bo die lawaai van masjinerie. Ek kyk na die gapende gat voor my en begin wonder of ek werklik wil uitvind wat Bernie bedoel. Ons is op pad na ’n steenkoollaag wat ’n halwe kilometer onder my voete is.

Ons loop verby ’n lang ry mynwerkers wat op pad is na die stortgeriewe. Die mans het breë skouers en swaar Australiese aksente. Wanneer hulle glimlag, steek hulle oë en tande skerp af teen hulle gesigte wat swart is van die steenkoolstof.

Kort voor lank klim ons op ’n treintjie wat ons neem na die steenkoolfront—die blootgestelde steenkooloppervlak. Omdat die spoor so steil is, is die bestuurder se sitplek, wat soos ’n swaai van die dak af hang, ontwerp om in die rondte te draai. Ek dra ’n vonkvrye battery aan my sy wat die lamp op my veiligheidshelm van krag voorsien, asook ’n noodasemhalingstoestel wat ’n selfredder genoem word, ’n onheilspellende naam. Terwyl die trein stadig afwaarts kruip, krimp die hemelruim agter ons totdat ons net ’n blou kolletjie omring deur swart kan sien.

Meer met minder

Die steenkoolmyn wat ek besoek, is een van tientalle in Suidoos-Australië. My gids, Bernie, is een van die 25 000 mynwerkers wat elke jaar steenkool ter waarde van 36 miljard rand uit Australiese myne ontgin. Wêreldwyd is daar tienmiljoen steenkoolmynwerkers wat ondergronds in donker myne of op die oppervlak in yslike oopgroefmyne werk. Maar hulle word al hoe minder. In die Verenigde Koninkryk het die getal steenkoolmynwerkers wat aan ’n vakbond behoort, dramaties gedaal van 1,2 miljoen in 1978 tot ongeveer 13 000 teen die einde van die eeu. In die Verenigde State het die getal gedaal van 705 000 mynwerkers in 1924 tot minder as 82 000. China het sy aantal steenkoolmynwerkers in ’n onlangse vyfjaarperiode met 870 000 afgeskaal.

Die afname in die aantal mynwerkers beteken egter nie dat daar ’n kleiner aanvraag na steenkool is nie. Trouens, daar word voorspel dat die aanvraag teen die jaar 2020 in nywerheidslande met 11 persent sal styg, terwyl China en Indië na verwagting altesaam meer as 750 nuwe steenkoolkragstasies in dieselfde tydperk gaan bou. Die vermindering van personeel is meestal as gevolg van nuwe tegnologie, wat maatskappye in staat stel om meer steenkool met minder werkers te ontgin. Die massiewe masjien wat Bernie vir my gaan wys, is een voorbeeld van hierdie verbeterde tegnologie.

In die donker skag af

“Dit is die skagbodem”, sê Bernie terwyl ons uit die trein klim. “Al die tonnels in die myn loop van hier af uit.” Daar is buisligte al teen die lae dak langs. Rye houtpale is tussen die vloer en die dak ingedruk om die smal dwarsbalke te dra. Daar is duisende boute in die dak. Hierdie uitdyboute word twee meter diep in die dak ingedruk en bind die rotse in die dak om rotsstortings te voorkom.

Ek is verbaas om te sien dat die wande van die tonnels nie swart is nie, maar wit. “Die wande word met kalksteenpoeier bedek”, verduidelik Bernie. “Die kalksteen verminder die gevaar van ’n ontploffing wat deur metaangas en steenkoolstof veroorsaak word. ’n Vonk kan die metaan laat ontbrand. Dan kan die metaan ’n groter ontploffing in die steenkoolstof in die lug veroorsaak. Ongeveer 70 kubieke voet [2 000 liter] metaan word elke minuut uit hierdie myn gepomp, en dit word gebruik om die myn van elektrisiteit te voorsien.” Om die gevaar van vonke te vermy, wat enige lekkende gas kan laat ontbrand, moes ek my kamera, my bandopnemer en selfs my batteryaangedrewe horlosie bogronds laat.

In een van die talle tonnelingange wat van die skagbodem af uitloop, vind ons ’n klein maar kragtige dieselvoertuig. Met die harde gedreun van die enjin in ons ore ry ons in een van die tonnels af. Die ligte verdof vinnig agter ons, en my helmlamp weerkaats teen die dak wat skaars sentimeters bokant my kop verbyflits. Terwyl ons vinnig verby baie sytonnels ry, sien ek vlugtig ander helmlampe wat soos vuurvliegies in die donker flikker. In ’n tonnel wat parallel met ons s’n loop, is ’n vyf kilometer lange vervoerband waarop steenkool van die steenkoolfront af vervoer word.

Die strooksteenkoolsnyer

Wanneer ons by die steenkoolfront kom, sien ek, deur ’n mis van waterdamp en steenkoolstof, drie figure wat pakke, helms en maskers dra. Hierdie manne werk as ’n span saam en is verantwoordelik vir die 250 meter lange masjien wat die strooksteenkoolsnyer genoem word. Twee roterende trommels, wat elk twee meter in deursnee is, beweeg stadig oor die volle breedte van die masjien teen die steenkoolfront. Hierdie trommels is toegerus met metaalbeitels wat ’n halwe meter diep in die steenkoolfront ingrawe wanneer dit daaroor beweeg. Die masjien het ’n vervoerband wat die steenkool vinnig met ’n sytonnel langs wegvoer, waar die stukke tot ’n eenvormige grootte opgebreek en op die hoofvervoerband gestort word.

Om rotsstortings te voorkom, word die dak gesteun deur middel van hidrouliese stutte wat groot staalplate bokant die operateurs se koppe ondersteun. Nadat die trommels met die metaalbeitels oor die breedte van die masjien beweeg het, skuif die hele masjien—die trommels, die hidrouliese stutte en die staaldak—’n halwe meter vorentoe. Wanneer die masjien vorentoe beweeg, is daar niks wat hierdie deel van die rotsdak ondersteun nie. Dit hang ’n oomblik daar, en dan val dit met ’n geweldige slag. “Ons ontgin duisend ton steenkool per uur op hierdie manier”, skree Bernie. “Sodra ’n steenkoolsektor verwyder is, word die masjien uitmekaargehaal en na die volgende sektor geskuif.”

Uiteindelik weer in die sonlig!

Ek en Bernie gaan terug na die dieselvoertuig en ry vyf kilometer ver deur stamperige tonnels voordat ons in ’n groot vertrek stilhou. ’n Vertikale skag, sowat tien meter in deursnee, verbind hierdie vertrek met die oppervlak. “Die hoofvervoerband stort sy vrag hier”, skree Bernie bo die oorverdowende lawaai van die steenkool wat in ’n groot metaalhouer val. “Die houer wat jy hier sien, word ’n steenkoolkas genoem. Dit hou 18 ton steenkool.” Terwyl Bernie nog praat, word die houer wat so pas volgemaak is, vinnig met ’n kabel opwaarts getrek. Sekondes later val ’n tweede houer deur die opening in die dak en word daar weer begin om dit vol te maak.

Noudat die toer verby is, klim ons op die trein, wat ons stadig na die ingang van die myn en in die heerlike sonlig bring—of so het ek gehoop. Maar ons was so lank onder in die myn dat die son gesak het, en die maanlose hemelruim is swart. Hoewel dit ’n baie donker aand is, verstaan ek nou Bernie se opmerking: ‘Jy weet nie wat swart is totdat jy in ’n mynskag af was nie.’

[Venster op bladsy 13]

Die toekoms van steenkool—’n Kontroversiële onderwerp

◼ Steenkool en besoedeling: “[In China] veroorsaak rook en klein deeltjies afkomstig van die verbranding van steenkool elke jaar meer as 50 000 vroeë sterftes en 400 000 nuwe gevalle van chroniese brongitis in 11 van sy groot stede”, sê ’n verslag van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram. Die Worldwatch-instituut sê dat steenkoolbesoedeling elke jaar verantwoordelik is vir meer as een en ’n half miljoen sterftes regoor die wêreld. Die tegnologie om van baie van hierdie besoedeling ontslae te raak, is beskikbaar, maar baie van die lande wat ’n ernstige elektrisiteittekort het, beskou dit as te duur.

◼ Steenkool en klimaatverandering: Tans word meer as tweemiljard ton koolstofdioksied elke jaar vrygestel weens steenkoolverbranding. En daar word voorspel dat steenkool die tweede grootste bron van koolstofdioksiedvrystelling sal bly; volgens skatting ongeveer 34 persent in 2020. Baie sien hierdie statistiek as ’n rede tot kommer.

“Dit is noodsaaklik dat ons steenkoolverbruik vinnig verminder as ons klimaatverandering in die volgende eeu wil vertraag”, sê Seth Dunn, medenavorser by die Worldwatch-instituut.

[Venster op bladsy 14]

Afhanklik van steenkool

◼ Meer as 70 persent van die wêreld se staal word met behulp van steenkoolgestookte hoogoonde vervaardig. Daarbenewens gebruik die vervaardigers van bakstene, teëls, sement, plastiekware, kleurstowwe en plofstowwe chemikalieë wat van steenkool verkry word.

◼ Maar verreweg die grootste steenkoolverbruiker is die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf. Australië wek 84 persent van sy elektriese energie op deur middel van steenkoolkragstasies. In China, Suid-Afrika en Denemarke word ongeveer driekwart van die elektrisiteit met steenkool opgewek. Die Verenigde State maak staat op steenkool vir meer as die helfte van sy elektriese energie. Wêreldwyd kom meer as ’n derde van die elektrisiteit wat opgewek word, van steenkool af.

◼ Met ander woorde, as jy ’n elektriese stoof het, gebruik jy ongeveer ’n halwe ton steenkool elke jaar. Twee ton steenkool sal jou elektriese geiser vir dieselfde tydperk van krag voorsien, en jou elektriese yskas sal jaarliks nog ’n halwe ton opgebruik.

◼ Wetenskaplikes skat dat daar eenbiljoen ton steenkool in die aarde se “kelder” oor is—genoeg om teen die huidige verbruikstempo nog honderde jare te hou.

[Diagram/Prente op bladsy 12, 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Ondergrondse steenkoolmyn

Toegangskag

Voorraadstapel steenkool

[Prent]

Strooksteenkoolsnyer

[Prent]

Dieselvoertuig

Gasdreinering

Steenkoolkas

Skagbodem

[Prent]

Deel van ’n vyf kilometer lange vervoerband

[Prent op bladsy 13]

Houtpale en dwarsbalke stut ouer tonnels

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel