Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/8 bl. 4-6
  • Waarom die behoefte aan nuwe krag?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom die behoefte aan nuwe krag?
  • Ontwaak!—2005
  • Soortgelyke materiaal
  • Energie—Waarom noodsaaklik vir lewe?
    Ontwaak!—2005
  • Olie—Hoe kry ons dit?
    Ontwaak!—2003
  • Aardgas—Energie vir jou huis
    Ontwaak!—2010
  • Olie—’n Vloek en ’n seën?
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/8 bl. 4-6

Waarom die behoefte aan nuwe krag?

“As ons dink dat olie nou ’n probleem is, wag maar net 20 jaar. Dit gaan in ’n nagmerrie ontaard.”—Jeremy Rifkin, Stigting vir Ekonomiese Tendense, Washington, DC, Augustus 2003.

BINNE sowat 20 jaar—wanneer jong Micah oud genoeg sal wees om ’n motor te bestuur—sal die wêreldwye energieverbruik “na verwagting met 58 persent toeneem”, sê die Amerikaanse regering se International Energy Outlook 2003-verslag (IEO2003). Die tydskrif New Scientist noem die voorspelde skerp styging “die grootste toename in die vraag na energie in die geskiedenis”. Kan konvensionele energiebronne veilig in hierdie aanvraag voorsien? Kyk na hierdie kommerwekkende feite.

STEENKOOL:

◼ Van al die fossielbrandstowwe is steenkool die oorvloedigste, met na raming genoeg reserwes vir 1 000 jaar. Wêreldwyd voorsien steenkoolkragsentrales byna 40 persent van die wêreld se elektrisiteit. Australië is die wêreld se grootste steenkooluitvoerder en voorsien amper ’n derde van al die steenkool wat in die wêreld verhandel word.

Maar ’n onlangse persverklaring van die Worldwatch-instituut sê: “Steenkool is die fossielbrandstof met die hoogste koolstofinhoud, en stel 29 persent meer koolstof per energie-eenheid vry as olie en 80 persent meer as aardgas. Dit is verantwoordelik vir 43 persent van die jaarlikse wêreldwye koolstofvrystellings—sowat 2,7 miljard ton.” Watter uitwerking kan steenkoolverbranding op die mens se gesondheid hê, buiten die impak wat dit op die omgewing het? Om maar een voorbeeld te noem, ’n onlangse Global Environment Outlook-verslag van die Verenigde Nasies het gesê: “In China veroorsaak rook en klein deeltjies afkomstig van steenkoolverbranding elke jaar meer as 50 000 vroeë sterftes en 400 000 nuwe gevalle van chroniese brongitis in 11 van sy groot stede.”

OLIE:

◼ Die wêreld verbruik alreeds 75 miljoen vate olie per dag. Van die wêreld se totale oliereserwes, wat volgens skatting sowat 2 biljoen vate was, is nagenoeg 900 miljard vate reeds opgebruik. Na raming sal die olievoorraad teen huidige produksiesyfers nog 40 jaar hou.

Geoloë Colin J. Campbell en Jean H. Laherrère het egter in 1998 beweer: “Binne die volgende dekade sal die lewering van ruolie nie by die vraag daarna kan byhou nie.” Hierdie deskundiges in die oliebedryf het gewaarsku: “Mense is onder die wanindruk dat die laaste drom olie net so vinnig uit die grond uitgepomp kan word soos die vate olie wat vandag uit die olieboorgate spuit. Trouens, die tempo waarteen enige boorgat—of enige land—olie kan lewer, neem altyd toe totdat dit ’n maksimum bereik en dan, wanneer sowat die helfte van die olie opgebruik is, neem dit geleidelik af totdat daar niks meer oor is nie. Uit ’n ekonomiese oogpunt beskou, is dit nie juis ter sake wanneer die wêreld se olie heeltemal opgebruik is nie: wat saak maak, is wanneer olieproduksie begin afneem.”

Wanneer sal olieproduksie na verwagting begin afneem? Petroleum-geoloog Joseph Riva sê dat “die beplande vermeerderings in olieproduksie . . . minder as die helfte is as wat nodig is om in die IEA [Internasionale Energie-agentskap] se geraamde wêreldwye vraag na olie vir 2010 te voorsien”. New Scientist waarsku: “As produksiesyfers daal terwyl die vraag na olie bly styg, sal oliepryse waarskynlik die hoogte inskiet of erg fluktueer, wat kan lei tot ekonomiese chaos, probleme met die vervoer van voedsel en ander voorrade en selfs oorlog as lande slaags raak oor die bietjie olie wat oor is.”

Hoewel sommige ontleders die kwynende olievoorraad as ’n probleem beskou, meen ander dat die einde van ons olie-afhanklikheid nie vinnig genoeg kan kom nie. Jeremiah Creedon skryf in die Utne Reader en sê: “Die enigste ding wat erger is as die moontlikheid dat olie sal opraak, is die moontlikheid dat olie nie sal opraak nie. Die koolstofdioksied wat ons skep deur olie te verbrand, hou aan om die planeet warmer te maak, en tog word die ekonomie en die omgewing oor die algemeen nog steeds as afsonderlike kwessies bespreek.” Die Australiese Uitsaaikommissie vestig die aandag op die gevolge van slegs een land se olieverslawing: “Die 26 miljoen voertuie in die Verenigde Koninkryk is verantwoordelik vir een derde van die VK se koolstofdioksied (wat tot aardverwarming lei) en een derde van die VK se lugbesoedeling (wat elke jaar om en by 10 000 mense se lewens eis).”

AARDGAS:

◼ Oor ongeveer die volgende 20 jaar “sal aardgas na raming die wêreld se snelgroeiendste primêre energiebron wees”, sê die IEO2003-verslag. Aardgas is die fossielbrandstof wat die skoonste brand, en daar word gemeen dat die aarde enorme aardgasreserwes het.

Maar “niemand weet presies hoeveel aardgas daar werklik is totdat dit ontgin word nie”, sê die Vereniging vir Aardgasvoorraad in Washington, DC. “Elke skatting is gegrond op ’n ander reeks veronderstellings . . . Dit is dus moeilik om ’n definitiewe antwoord te kry op die vraag van hoeveel aardgas daar is.”

Aardgas bestaan hoofsaaklik uit metaan, en metaan is “’n baie kragtige kweekhuisgas. Trouens, metaan het die vermoë om hitte byna 21 keer doeltreffender vas te vang as koolstofdioksied”, sê die vereniging wat vroeër aangehaal is. Hierdie bron sê nietemin dat daar in ’n belangrike studie deur die Omgewingsbewaringsagentskap en die Gasnavorsingsinstituut “bevind is dat die afname in gasvrystellings omdat meer aardgas gebruik word, die skadelike gevolge van ’n toename in metaanvrystellings verreweg oortref”.

ATOOMENERGIE:

◼ “Sowat 430 kernreaktors voorsien ongeveer 16 persent van die wêreld se elektrisiteit”, berig die Australian Geographic. Buiten hierdie bestaande reaktors sê die IEO2003-verslag: “In Februarie 2003 het die lande van ontwikkelende Asië 17 van die 35 reaktors wat tans oor die wêreld gebou word, besit.”

Die wêreld bly afhanklik van kernkrag ondanks die moontlikheid van rampe, soos wat in 1986 by Tjernobil in die voormalige Sowjetunie plaasgevind het. New Scientist berig dat “Amerika se bestaande reaktors geteister word deur krake en korrosie” en dat die Davis-Besse-reaktor in Ohio, in Maart 2002, “byna ’n rampspoedige smelting gehad het” as gevolg van korrosieprobleme.

Aangesien die bestaande energiebronne beperk en in wese gevaarlik is, ontstaan die vraag: Is die mensdom gedoem om die aarde te vernietig in hulle strewe om hulle skynbaar onversadigbare drang na energie te bevredig? Dit duidelik dat ons skoon, betroubare alternatiewe nodig het. Is sulke alternatiewe beskikbaar en bekostigbaar?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel